Verworpe silwer. Ena Murray
wanneer jy iemand se ideale, iemand se vertroue, iemand se geloof vermoor ...
Dis baie vroeg die volgende oggend, toe die oggendster nog blink aan die oop hemel hang, dat die laken van haar afgetrek word. Sy word uit ’n onrustige slaap gewek, hoor haar naam op sy lippe. Haar arms gaan spontaan om hom en dan onthou sy ... Sy verstyf instinktief, maar die man kom dit blykbaar nie agter nie. Sy wil hom eers wegdruk, maar sy drif en krag is groter as hare, en teen die end aanvaar sy die onvermydelike met ’n dooie gelatenheid. Sy het haar dit so heeltemal anders voorgestel ... so heeltemal anders ... Soos so baie van haar genote, word Santie in een nag ’n vrou ... ’n ontnugterde vrou. Verby is die jongmeisiedae met die ideale en drome. Toe hy haar eindelik alleen laat, is sy ’n vrou wat met strak oë na die realiteite van die lewe kyk.
Haar blik is ontwykend toe hy weer die kamer binnekom van die badkamer af.
“Jy kan maar nog ’n bietjie bly lê. Dis nie nodig dat jy soggens saam met my moet opstaan nie. Bet sorg vir ontbyt.”
Sy wil sê sy is gewoond vroeg opstaan, maar sy gryp na hierdie vergunning. Sy sien nie kans om vanoggend aan tafel te verskyn nie ... Sy kan Darius Mocke nie vanoggend in die oë kyk nie. Dit voel vir haar asof alles wat daar te wete is oor die veelbewoë nag oor haar geskryf staan ... en Darius se skerp oë sal alles raaksien.
Sy klim terug in die bed. “Dankie. Ek dink ek gaan nog so ’n bietjie lê.”
Sy hand is skielik onder haar ken; sy word verplig om in sy oë op te kyk ... en skielik lyk hy weer soos die Louis wat sy geken het.
“Luister, Santie, ek is jammer oor gisteraand. Dit was verkeerd van my. Ek moes nie dat Jan-hulle my omgepraat het nie. Wel, ek ... ek is jammer. Alles nou weer reg?”
Wat kan sy anders doen as knik, wat anders as om met bewende lippe sy soen te ontvang? Wat anders kan ’n vrou doen as om ná erkenning van skuld te vergewe ... tot die volgende keer?
Sy val terug teen die kussing toe die kamerdeur agter hom toegaan, knyp haar oë styf toe om die trane terug te pers wat eers in hierdie oggend ná ’n lang nag te voorskyn kom en kreun saggies soos ’n dier wat gewond is. Sy stuit die snikke met haar gebalde vuis teen haar lippe en roep woordeloos: Ag, liewe Heer, help my! Help ons!
In die dae wat volg, lyk dit egter asof Louis se swak gedrag van daardie eerste dag ’n geïsoleerde geval was. In alle eerlikheid moet Santie erken dat hy van sy kant sy bes doen om te vergoed daarvoor, en as daar iets haper aan die jonggetroudes se verhouding, moet sy ook in alle eerlikheid erken dat dit van haar kant af kom.
Sy verag haarself dat sy nie meer met die ou vertroue na hom kan opsien nie en dat sy daardie eerste dag en nag se gebeure nie heeltemal uit haar geheue kan verdryf nie. Sy durf nie toelaat dat een misstap tussen haar en haar man staan en ’n wig tussen hulle indryf nie. Sy doen haar bes om te vergeet wat verby is en slaag blykbaar goed genoeg daarin, want Louis toon geen teken dat daar iets met hul huwelik skort nie.
As die verhouding tussen die jonggetroudes oënskynlik heeltemal herstel is, is dit beslis nie die geval met dié tussen die twee broers nie. Dit verswak verder by die dag, in so ’n mate dat Louis, veertien dae nadat Santie op Eloffsdal aangekom het, met die voorstel kom dat hulle liewer na die hotel moet trek.
“Ek is nie van plan om op Eloffsdal te bly nie. Sodra ek my erfenis gekry het, gaan ons skoert. Ek is siek vir hierdie kleindorpie-mentaliteit. Ons sal dus net tydelik in die hotel wees.”
Santie voel iets in haar styftrek. Daardie eerste aand flits voor haar verby. Sy kan dit nie help nie. Sy het sedert daardie aand ’n intuïtiewe weersin in Eloffsdal se enigste hotel, en nou wil Louis ’n onbepaalde tyd daar gaan woon. Sy onthou ook dat Darius so iets verwag het. Hy het haar daardie eerste aand al daarteen gewaarsku. Hy het toe al verwag dat Louis met so ’n voorstel sou kom, en hier is dit nou.
Sy soek desperaat na ’n grondige rede om dit te weerstaan, terwyl sy weer eens skuldig voel. Dis nie te sê dat as hulle in die hotel woon, hy hom weer in die kroeg te buite sal gaan nie. En tog ... tog weet sy net hulle kan nie in die hotel gaan woon nie. Liewer nie ...
Louis was wonderlik die afgelope twee weke. Weliswaar was hulle selde saans tuis. Hy het haar geneem om sy vriende te ontmoet, en hoewel daar onder hulle wel diegene is van wie sy nie so baie gehou het nie, was daar ook genoeg van wie sy dadelik gehou het. En almal was baie gaaf en gasvry soos net ’n boeregemeenskap kan wees. Ook is daar drankies gedrink, maar Louis het matigheid voor oë gehou, en daar was werklik geen rede vir die onrus wat in haar hart agtergebly het nie.
Darius het nooit saam met hulle uitgegaan nie. Hy is blykbaar nie ’n baie sosiale mens nie. Mense het wel met die grootste respek van hom gepraat, het sy agtergekom, maar hy is ’n eenkantmens, soos Bet dit ’n slag gestel het. Hy verkies blykbaar om saans tuis te bly en tot laatnag aan die onderneming se boeke te werk.
Santie het soms skuldig gevoel wanneer hulle die aand laat inkom en sy hom nog oor die lessenaar gebuig sien. Louis het gepraat dat hy nou net soveel baas is as Darius, maar dit is onteenseglik so dat Darius die man is wat die leeueaandeel op sy skouers dra.
Die verhouding tussen haar en haar swaer is dié van uiterste beleefdheid teenoor mekaar. Sy kan nou kwalik glo dat hy daardie aand so amper gemoedelik met haar gesels het, haar selfs op die voorkop gesoen het.
Deesdae gesels hulle net met mekaar as dit noodsaaklik is, en dis selde meer as om aan tafel iets vir mekaar aan te gee ...
Een aand besluit sy dat sy vir hom koffie sal gaan maak voordat sy en Louis gaan slaap. Soos altyd gebruik hulle die buitedeur wanneer hulle saans inkom, maar op pad badkamer toe het sy die studeerkamerlig steeds sien brand.
Sy sit die koffie langs hom neer. Hy kyk op, sy gesig geslote. “Dankie, dit was nie nodig om moeite te doen nie.”
“Dis geen moeite nie. Jy werk saans baie laat.”
Hy sit terug, vee moeg oor sy oë. “Ja. Ek het geen keuse nie.” Hy staan op, neem sy koffie en gaan staan by die venster, kyk uit op die nagtoneel. “As dit net wil reën ...”
“Ja. Oral waar ons kom, kla die mense maar. Hulle kry swaar.”
“Ja. Almal kry swaar; die besighede ook. Die mense moet bly lewe, al reën dit nie. Hulle moet eet en drink en goed hê om mee te werk, al bly die reën weg. En jy kan nie vir ’n man nee sê omdat hy nog vir jou skuld nie, want jy weet hy sal betaal as hy het, maar hy het nie. Jy weet hy sal jou eendag betaal wanneer die reën gekom het en hy weer ’n inkomste het, maar intussen moet jy hom dra.” Hy sluk sy koffie weg, gee die koppie aan haar terug. “Dis dinge wat jou man nie verstaan nie. Dankie. Dit was lekker.”
Sy neem die koppie, kyk bekommerd na hom op. “Jy bedoel ... Louis se erfenis waarop hy aandring?”
“Ja. As ek hom nou sy deel moet uitbetaal soos hy aandring, moet ek die mense in die middel van ’n knellende droogte dagvaar. Hoe anders kan ek hom in harde kontant betaal soos hy verlang? En watter sin is daarin om mense te dagvaar wat jy weet jou nie kan betaal nie? Al wat sal gebeur, is dat mense bankrot sal raak, maar die geld sal jy nie kry nie. Ek sal van die ondernemings moet verkoop, en wie sal dit koop? Teen watter prys? Solank dit só droog is ...” Hy sug, gaan weer agter die lessenaar sit. “Jammer. Ek het nie bedoel om jou hiermee te belas nie.”
Sy frons. “Ek is bly jy het my gesê. Ek het geen idee hoe sake regtig staan nie. Ek sal met Louis praat. Daar is tog seker nie dringende haas nie. Ons moet eers wag dat dit reën ...”
“En ’n hele ruk daarna. Dit reën nie geld nie. Die boere moet eers op die been kom en dan ... Vergeet daarvan. Louis luister nooit na rede nie. Hy sal ook nie hierdie keer nie.”
Sy kyk hom ongelukkig aan. “Ek sal met hom praat. Hy sal nie onredelik wees nie.”
Daar is ’n grimmige glimlag om sy mondhoeke toe hy na haar opkyk.
“Jy dink omdat dit veertien dae goed gegaan het, dit so sal voortgaan. Moenie jouself bluf nie, Santie. Dit is net ’n verposing.”
Sy swaai vinnig om. O, sy kan hom amper haat wanneer hy só van sy broer praat!