Sushi en sjampanje. Kristel Loots
is almal dieselfde. Probeer altyd van hul dogters miniatuur-weergawes van hulself maak sonder om te weet dat ’n mens eerder dood wil wees as soos jou ma.
Ek weet nie hoe Pulani by die huis was en of sy kaalvoet op stofpaaie geloop het nie, maar deesdae is sy een van die African princesses wat net die duurste ontwerpersklere dra en handsakke met name wat met hoofletters geskryf word. Gladde hare en hair extensions wat oor haar skouers hang. Word gewine en ge-dine deur ’n hele string black diamonds met die meeste geld en die blinkste karre. By hulle gooi sy die Engels wat sy by haar pa geleer het wanneer sy vakansietye by hom in Johannesburg gaan kuier het. “The best of both worlds,” spog sy gewoonlik. “Met ’n plattelandse ma wat nie nonsens van my vat nie en ’n pa in die stad wat my tot in die afgrond bederf. En kyk vir my – ek is so gebalanseerd, jy kan my vir ’n skaal gebruik wat mikrogram afweeg.”
Gebalanseerd? Wie? Sy? Sy met haar los mond? Ag, ek weet nie, ek dink ons het almal ’n klap van die windmeul weg, party is net harder geslaan as ander. Pulani verbeel haar maar net sy is the last sane woman stand-ing. Het glo min van haar pa gesien toe die Noord-Kaap vir hom te warm geraak het en hy uitgewyk het Gauteng toe, maar nogtans met haar gat in die botter beland. Daddy Dearest het die een of ander joppie in die regering losgeslaan waar die voordele die nadele oortref en bly in ’n penthouse wat al op Top Billing gewys is. Glitz and glamour to die for!
Ons wil hom vra om Lukas van Wyk se koffietafelboek oor ’n herrese Johannesburg in sy penthouse bekend te stel. Dit sal ’n nice touch wees. Dan kan ons hele ou lotjie opsuiker Johannesburg toe vir ’n naweek. Dis wat Gary vandag doen, sover ek weet. Onderhandel met Lukas se uitgewers oor die helse BANG! waarmee ons sy boek wil launch. Whatever, whenever, wherever, dis nie net Beauty wat mooi sal moet lyk vir die okkasie nie, Brains gaan ook moet poeier en paint en titivate. Die baas ís after all my verloofde, al sal jy dit nie sommer sê as jy na ons kyk nie. En al weet ek nie aldag wat presies in my baas-cum-verloofde se lewe aangaan nie.
“Daar wás nogal movement op Gary se Facebook page vandat ek laas gekyk het,” fluister ek in Pulani se rigting. Harry hoef nie alles te hoor wat ons praat nie. Hy is in elk geval so verdiep in sy rekenaarspeletjies dat hy skaars van ons bewus is. Mans kan mos nie multi-task nie. Gelukkig nie.
“Wat? Enige bewonderaars wat hom wil bed toe sleep?”
“Nie hierdie keer nie. Maar hier ís ’n girl wat sy boek slegsê. Sy skryf sy verstaan nie ’n dooie woord daarvan nie.”
“Ek ook nie.”
“Ek nog minder.”
“Fênsie titel wat Gary uitgedink het, maar dis ook al.”
“Vreemde titel. Reënboogtoebroodjies vir ’n piekniekmandjie. Ek het dit nou eendag in ’n winkel tussen die kookboeke gekry.”
Ons het Gary se boek met ’n vreeslike fanfare bekendgestel, nogal met sushi en sjampanje asof hy ’n groot gees is. Maar ten spyte van die hype wat ons soos die Suidooster aangeblaas het, was die resensies maar so-so.
Pulani ry met haar wieletjiestoel nader om oor my skouer te kom loer hoe Gary op die kritiek gereageer het. “Dis jammer jy het nie die boek geniet nie,” lees Pulani. “Dit vra ’n gesofistikeerde leser om die simboliek te ontrafel.”
“Ag twak!” lug ek mý mening. “Die simboliek waarmee hy so smous, is verwarrend.”
“Hoekom sê jy dit nie vir hom nie?”
“Omdat ek nie ’n death wish het nie.”
“Hy hoef nie te weet dis jy wat sy boek kritiseer nie.”
Dis hoe Pulani is – vol planne. Die res van die middag leer ek by haar van knoei, konkel, korrupsie en soortgelyke aksies.
“Ons skep ’n fiktiewe profiel vir ’n fiktiewe meisie, Sally Smith. Dan kan jy uit Sally se mond praat sonder om die gevolge te dra,” lei sy my verder in die versoeking.
Dis toe nogal fun. Alles wat ons oor Sally Smith skryf, is ’n fantasie en ons gaan behoorlik mal daarmee.
“Waar gaan ons ’n foto vir die girl kry?” wil ek weet.
Pulani giggel. “Ons trek ’n foto van die een of ander oorsese sekskat van die internet af. Dan toor ons met Photoshop totdat ons ’n vrou geskep het wat Gary tot stilstand sal skok. ’n Vroulike wese wat enige man se oog sal vang.”
“Hoekom moet dit juis ’n sekskat wees?”
“Omdat ’n man eerder na ’n sexy girl sal luister as na een met ’n moesiemondjie.”
Ek kan nie met Pulani stry nie. Photoshop is die fantasie van die nuwe millennium, Photoshop is daar om die lewe soos hy werklik is vir ons te verander in iets wat die mense van vroeër net in hul drome en gedagtes gesien het. Daarmee kan jy plooie wegtoor, puisies met die klik van ’n muis laat verdwyn, kilogramme verwyder en ’n nare stiefmoeder in ’n beeldskone Sneeuwitjie verander.
Ons sit soos twee rekenaargeletterde hekse en konkel. Toe ons klaar is met ’n Skandinawiese blondine wat blykbaar ’n rolletjie as ’n ekstra in ’n pornografiese movie gehad het, het sy ’n Hannah Montana-pruilmond, die meisie wat Dove-seep adverteer se neus, is haar hare skokblond, haar oë ’n bietjie blouer as blou en spog sy met ’n lyf wat geen lewende wese kan hê en oorleef nie. So top-heavy kan geen vrou wees sonder om onderstebo te tuimel nie. Maar mans is mos nie logiese wesens nie, ook nie Gary nie. Hy sal na alle waarskynlikheid glo ’n vrou met daardie afmetings bestaan wel en leef hier op Moeder Aarde waar hy haar in Pick n Pay kan raakloop.
“Ons maak haar so in haar middel twintigs rond,” besluit Pulani. “Nie oud genoeg om al opgebruik te wees nie, maar darem ook nie jonk genoeg om heeltemal onkundig en onskuldig te wees nie.”
“Miskien kan sy ’n danser wees,” stel ek voor.
“Met ’n akrobatiese agtergrond, ja. Net om Gary se hormone behoorlik te kick-start.”
Ek weet nie wat neuk Pulani ál met Gary se hormone nie. Die idee is tog dat sy hom van sy troontjie af moet ruk, nie by die knieë moet knak nie. Daardie deel sal ék doen. “Sally Watsenaam kan nie ’n leëkoppie wees nie, want dan sou sy nie Gary se boek probeer lees het nie.”
“Nee, sy kan nie te blond in haar denke wees nie. Ons gee kamma vir haar ’n graad in Afrikaanse letterkunde, een wat sy op Stellenbosch verwerf het, haar Engelse naam ten spyt. Mans hou van meisies met sagte ou naampies soos Sally.”
“En waar bly onse Sally?”
“Sommer hier in die Kaap iewers. Net om Gary lekker ongemaklik te maak.”
Is goed so. As ons met Gary se kop wil smokkel, kan ons dit netsowel behoorlik doen.
“Onse Sally het ook ’n paar Facebook likes en Facebook friends nodig om geloofwaardig te wees.”
“Wat ons waar kry?”
“Dit behoort nie ’n probleem te wees nie. Hoeveel Facebook friends het jy?”
“So drie-, vierhonderd, dink ek.”
“En hoeveel van hulle ken jy? Hoeveel ken jou?”
“Beslis nie almal nie. Ek wonder nog steeds wie is Bin Well en of Johannes Johannessen regtig in Johannesburg bly. Hulle het versoeke vir my gestuur en ek het dit uit pure nuuskierigheid en goeie maniere aanvaar.”
“Daar hét jy dit. Facebook is soos ’n piramide, die moontlikhede is eindeloos. Ons klik links en regs op Add Friend. Sommer voor die voet, by enige naam, hier en oorsee. ’n Paar vrouename, maar hoofsaaklik mansname. Kyk na Sally Smith se foto. Dink jy daar is ’n man onder die son, lewend of dood, wat nie haar friend request gaan aanvaar nie?”
Ek spring weg en stuur dadelik namens die sexy Sally Smith friend requests na die mooiste mense wat ek opgespoor kan kry. Ook aan Gary van Heerden, eienaar van Die Boekhoek/The Book Nook. Hy met die sandkleurige kuif oor sy voorkop en sy silwerraam-brilletjie, hy wat nêrens op sy Facebook-blad noem dat hy ’n verloofde man is nie. Die bliksem! Dis nie dat ek desperaat