Sushi en sjampanje. Kristel Loots
ek en Pulani wat hier mag wees. Laat die baas maar wonder waarom ek so lank wegkruip. Of ek nie dalk naar is nie. Pregnant is nie. Dít sal sy vlerkies vir hom knip.
Jong, is jy single? wil Sally Smith by Gary weet voordat sy instem vir ’n koffiedrinkery. Want sy weet baie goed waarheen ’n koffiedrinkery kan lei.
Natuurlik is ek single, laat Gary weet.
Hy wat ’n ring aan my vinger gesteek en my laat verstaan het ons gaan trou en kinders kry.
En jy? wil hy by Sally Smith weet. Is jý single?
Alles hieraan is fake. Alles! Die een leuen op die ander en ek is net so skuldig soos Gary. Dis tog ek wat met die virtuele liegery begin het – wel, ek en Pulani. My vingers huiwer bo die toetsbord toe ek hom wil antwoord. Single? Sally Smith is single, ja. Maar ek nie, ek sit met ’n diamantring aan die vinger. Selfs al het Gary blykbaar daarvan vergeet. My ingebore goeie mens, die een wat nog die meeste van haar Sondagskool-versies kan opsê, sukkel om prontuit vir hom te lieg.
It’s complicated, tik ek toe maar.
Klink interessant, vorm Gary se vingers die woorde wat binne sekondes op my skerm beland, hier neffens my. Ek skrik nie vir complicated nie, ek ontrafel dit nog voor brekfis.
Hy klink so manlik, so lekker macho. Ek sou ook op hom verlief kon raak as ek hom só leer ken het.
Hoe klink Vrydagaand by The Orchid Room in Kampsbaai? wil hy weet. Ek sal vir ons plek bespreek.
Die Orchid Room? Die flippen Orchid Room waarheen ek maande lank al so graag wil gaan. Peperduur en feitlik onmoontlik om plek te kry. Hy wil haar sowaar soontoe neem.
Ek sal nie verbaas wees as daar vlamme bo my kop uitslaan nie.
Klink lekker, verseker die voorbarige Sally Smith hom. En wie kan haar kwalik neem? Watter girl in her right mind sal nie ’n uitnodiging na die Orchid Room in Kampsbaai aanvaar nie?
Wat is jou selnommer? vra Gary. Sodat ek jou kan bel as daar dalk iets voorval.
Soos wat? Soos sy verloofde wat dalk daarop aandring om saam te kom wanneer hy sy skelmpie ontmoet?
My verstand gaan in overdrive. Selfoonnommer? Ek onderbreek die heen en weer e-pos-gesprek vir eers. Hy kan maar dink wat hy wil, Sally sal later ’n verskoning uitdink waarom sy so skielik van lyn af moes gaan, sy’s vindingryk genoeg.
“Waddehel doen ek nou?” wil ek by Pulani weet toe ons etenstyd afstap ondertoe om ’n bietjie onder Gary se oë uit te kom.
“Nou gaan koop jy vir jou ’n cheap foon by Pep en laai die ding se battery sodat jy ’n nommer het wat hy kan gebruik. Jy kan tog nie jou eie nommer vir hom gee nie.”
“Het jy ’n kursus in verneukery geloop, dat jy so bekwaam is daarin?”
“My pa is sy lewe lank al ’n womanizer. Hy’t van lieg ’n nasionale sport gemaak. Ander girls se pa’s leer hulle motor bestuur, myne het my ander lewensvaardighede geleer.”
“Wat doen ek as Gary my bel? Hy sal mos my stem herken?”
“Jy antwoord nooit jou foon nie. Laat die blikstem hom antwoord en luister agterna na sy boodskappe.”
Dis eers toe al hierdie voorbereidings getref is, dat die realiteit my behoorlik tref. “Flip, Pulani! Besef jy wat hier aangaan? Sally Smith en Gary het ’n date vir Vrydagaand!” Ek gaan aan die giggel van pure senuwees. “Terwyl ek droëbek by die huis gaan sit.”
Ek voel soos Alice in Wonderland gone wrong. Die fantasie wat ek geskep het, begin my inhaal.
“Ek besef nou eers dat Gary ’n volbloed affair aanhet met die flerrie van ’n Sally,” verwoord ek die gedagtes wat soos dronkaards in ’n oorvol bus teen mekaar stamp. “Hoe nou gemaak?” En weer gaan ek aan die giggel, kort duskant histeries.
“Ek wens ek kan ’n vlieg teen die muur wees,” lag Pulani.
Vir haar is dit ’n groot grap. Maar nie vir my nie. Al giggel ek ook, is ek so depro jy kan ’n veldbrand met my blus. Waar is die Dear Abby-troostannies as ’n mens hulle die dag nodig het? Ek soek ’n regte outydse troostannie, nie een wat jou teen die kop gaan gooi met allerhande New Age-idees nie. Ek wil nie hoor die oplossing vir die probleem lê in myself nie, ek wil nie hoor ek moet my sokkies optrek, my maag intrek en myself wees nie. Ek soek troos, nie kritiek nie.
En ek kry dit ook nie by Pulani nie. “Get real, Jacki,” vermaan sy. “Die man is ’n paloeka. Don’t get mad, get even. Skop hom onder sy gat en kry klaar. Good riddance to bad rubbish, dis wat ek sê.”
Dis maklik vir haar om te praat, háár telefoonnommer is in ’n horde swartboekies geskryf of op die selfoon gelaai. Sy kan kies en keur tussen die mansmense met hul blinkswart Mercs wat toustaan. As dit nie by ’n politieke rally is nie, is dit by een van daardie plekke waar sushi van kaal vrouelywe af geëet en met peperduur sjampanje afgesluk word.
Ek weet nie hoe ek dit gaan handle nie. Ek weet net ek wil daar wees wanneer Gary vir Sally die eerste keer in die Orchid Room ontmoet. Ek wil sy gesig sien!
“Ek moet laatmiddag deurry Franschhoek toe om iemand vir werk te ontmoet,” kondig Gary daardie Vrydagmiddag aan sonder om my in die oë te kyk. Hy mompel so, ek kan skaars hoor wat hy sê. Maar dit maak nie saak nie, hy praat in elk geval gibberish. Vir my kom vertel hy gaan iemand vir werk ontmoet. Ja, sure, en die maan is van soetmelkkaas en ek is die een wat daarvan ’n toebroodjie gaan maak. Franschhoek nogal. Daar waar al die inwoners soos hul peperduur Pekinese poedels lyk en met net sulke lang pedigrees spog. Gary liég selfs snobisties wanneer hy die slag oor Sally Smith lieg.
“O, dis lekker. Ek ry sommer saam.”
“Saamry?” Gary se stem versplinter toe hy die vraag vra.
“Ja. Vir ’n joyride. Dit sal ’n lekker drive wees.”
Ek sien hoe hy verbleek. Wat het hy miskien gedink? Dat ek dit vir hom gaan maklik maak om my te verneuk?
“Ek gaan iemand ontmoet oor . . . e . . . oor boeke, jy weet?”
“Ek weet, Gary, natuurlik weet ek.” My stem is so vriendelik soos mevrou-dominee s’n. “Dis tog waaroor ons hele bedryf gaan. Boeke.”
“Ja. Ek wil . . . e . . . ons wil dalk . . .” Gary sug. “Dalk kan ons uitbrei soontoe, dalk ’n tak daar oopmaak.”
“Dis ’n wonderlike idee. Ek sal graag wil by wees tydens die bespreking. Dalk kan ek selfs daaraan deelneem.”
Teen hierdie tyd het Gary asemnood. Hy pluk sy das af, knoop sy hemp oop en neem ’n slukkie water uit die kraffie op sy lessenaar. Die water kan nie baie lekker wees nie, hierdie tyd van die middag het al die ysblokkies ure gelede al gesmelt, maar hy sluk dit asof dit nektar van die gode is.
Wat gaan ek doen as die man ’n hartaanval van pure benoudheid kry? Skuldig voel? I don’t think so!
“Miskien ’n volgende keer,” antwoord hy lamlendig. “As ek nie so haastig is nie.”
“Ek is reg om te ry,” verseker ek hom.
“Dis . . . nie nodig nie.”
“Ek weet, maar ek gee glad nie om om jou geselskap te hou nie. Miskien kan ons sommer ietsie daar eet wanneer julle klaar gesels het.”
“Ek is nie seker hoe laat ek . . . ons gaan klaarmaak nie.”
Ek bly vriendelik. Inskiklik. “Moenie worry nie, Gary. Ek gee glad nie om om vir jou te wag nie.” Ek kan ook nice wees as dit die dag nodig is.
Hoe lank wil ek nog met die charade volhou? Wat probeer ek doen? Dalk tog vir Gary van Sally af weghou. Sodat hy hom sal bedink.
“Nou goed dan,” gee Gary bes. “Wag vir my hier. Ek kry jou hier. Ek gaan net gou . . . ek moet net gou . . .” Hy is bloedrooi in die gesig. “Ek is nou-nou hier.”
Hy gryp na sy sleutels soos na ’n reddingstou.
“Ek