Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 8 Huistaal. Henk Viljoen
Kies die versamelname wat by die volgende pas:
stel • bende • span • klas
a. ’n Klomp sokkerspelers wat altyd saam oefen en wedstryde speel, vorm ’n . . .
b. Wanneer iemand sê ’n mens het mooi tande sê hulle: “Ai, maar jy het darem ’n mooi . . . tande!”
c. ’n Klomp skollies wat saamwerk om ander skade aan te doen is ’n . . .
d. In die begin van die jaar verdeel hulle die leerders. ’n Klomp leerders saam vorm ’n . . .
2. Party selfstandige naamwoorde het twee verskillende meervoude wat soms verskillende betekenis het. Kies die woord wat in die volgende sin pas:
a. ’n Mens kan die vliegtuig se motors/motore skaars hoor.
b. Ons woon langs die snelweg en die motors/motore lawaai vreeslik.
c. Die skepe se motors/motore dreun wanneer hulle in die nag verbyvaar.
3. Skryf die verkleinwoorde en meervoude van die woorde tussen hakies:
’n Klein (tandmuis) het vir my boetie twee (muntstuk) in sy klein (skoen) gelos. Hy was só bly dat hy albei sy (hand) geklap het en sy (haasbek) het van oor tot oor geglimlag. Ons het die piekpklein (muis) se twee rye (spoor) deur die botter gevolg. Maar wat ons gesien het, is twee yslike (oor) wat agter die kas weggekruip het.
4. Skryf die teenoorgestelde geslag van die woorde tussen hakies neer:
Op die plaas is daar ’n (bul), ’n (hen), en ’n (hings). Die boer is ’n (oujongkêrel) omdat hy nie graag ’n (skoonma) wil hê nie.
In hierdie aktiwiteit gaan jy
luisterbegrip doen
groepbespreking hou
groepbegeleide lees doen
die byvoeglike naamwoord ondersoek.
Luisterbegrip: luister fyn.
Jou onderwyser gaan ’n teks voorlees waar ’n dokter ’n paar vrae wat tieners oor draadjies het, beantwoord. Jy moet net luister en dan die vrae beantwoord.
Gaan soos volg te werk:
Die luisterteks gaan een keer aan die klas voorgelees word sodat jy ʼn geheelbeeld van die inhoud kan kry. Jy mag geen aantekeninge maak nie.
Daarna gaan die onderwyser die vrae saam met die klas deurlees. Jy mag nog steeds geen aantekeninge maak nie.
Wanneer die onderwyser die luisterteks vir ʼn tweede maal aan die klas voorlees, mag jy aantekeninge op ʼn aparte stuk papier maak.
Hierna moet jy die vrae skriftelik beantwoord. Dit sal deur jou onderwyser geassesseer word.
Vrae
Vrae oor die inhoud
1. Vir hoe lank is ’n mens se mond sensitief nadat jy draadjies gekry het? (1)
2. Watter dele van ’n mond raak sensitief direk ná ’n mens draadjies gekry het? (2)
3. Som kortliks drie van die vrae op wat in hierdie teks beantwoord word. (3)
Maak afleidings
4. Wie is die “draadjiesdokter” na wie die opskrif verwys? (1)
5. Hoekom is dit belangrik dat ’n mens jou tande moet vlos as jy draadjies het? (2)
6. Kan ’n mens die afleiding maak dat mense wat draadjies dra in die verlede “vasgehaak” het as hulle gesoen het? Hoekom?/Hoekom nie? (2)
7. Wanneer kan draadjies ’n mens se stem beïnvloed? (1)
Hoe voel jy daaroor?
8. Wat is jou gevoel oor draadjies aan die tande? Dink jy dit is ’n goeie ding of nie? Verduidelik jou antwoord. (1)
9. Dink jy hierdie inligtingsteks is belangrik vir tieners? Hoekom?/Hoekom nie? (1)
10.Dink jy tieners let op hoe ander se tande lyk? Verduidelik jou antwoord. (1)
Totaal: 15 punte
Wat is ortodonsie?
Ortodonsie is die tandheelkundige veld wat spesialiseer in die behandeling van skewe tande, skewe of onderontwikkelde kake en sekere gesigdefekte.
Groepbespreking
Hou ’n dinkskrum oor die onderstaande vrae. Elke groeplid móét ’n antwoord op elke vraag gee. Skryf die antwoord van die groep op elke vraag neer. Wanneer almal klaar is, moet groepe terugvoering gee.
Hoe gereeld besoek julle die tandarts?
Hoe belangrik is ’n mooi glimlag regtig?
Hoe gereeld borsel julle tande?
Wie van julle vlos julle tande?
Dra mense draadjies net om mooier te lyk of is dit soms nodig vir gesondheidsredes? Verduidelik.
Wie van julle het draadjies of ken iemand wat draadjies dra?
Hoe ervaar mense wat draadjies dra dit: is dit moeite, ongemaklik; laat dit hulle lelik en skaam voel?
Dink julle dit is die moeite werd om vir ’n ruk ongemak te ervaar en lelik te voel wanneer ’n mens draadjies in jou tande het? Is die beloning die moeite werd?
Wat van kinders met misvormde tande wat nie ’n ortodontis kan bekostig nie? Wat dink julle is die oplossing?
Formele assessering
Julle groepdeelname gaan deur julle onderwyser geassesseer word.
Lees In ’n neutedop om ’n paar nuwe dinge oor die byvoeglike naamwoord en lidwoorde te leer. Raadpleeg ook die Taalgids agter in jou boek vir verdere inligting.
Woordsoorte: Die byvoeglike naamwoord
Die byvoeglike naamwoord beskryf ’n selfstandige naamwoord. Ons beskryf, byvoorbeeld, ’n spotprent as humoristies: Die humoristiese spotprent het ’n groot opskudding veroorsaak.
Byvoeglike naamwoorde wat vóór die selfstandige naamwoorde staan wat hulle bepaal, word attributief gebruik, byvoorbeeld: Die stukkende taxi.
Byvoeglike naamwoorde wat ná die selfstandige naamwoorde staan wat hulle bepaal, word predikatief gebruik, byvoorbeeld: Die taxi lyk stukkend.
Die byvoeglike naamwoord het trappe van vergelyking. Hou die volgende in gedagte by trappe van vergelyking:
Byvoeglike naamwoorde wat op ’n -s eindig, kry steeds -ste in die oortreffende trap, byvoorbeeld: snaaks – snaakser – snaaksste.
Byvoeglike naamwoorde wat uit meer as een greep bestaan en op ’n -e eindig, kry die woorde meer en mees in die vergelykende en oortreffende trap onderskeidelik, byvoorbeeld: tevrede – meer tevrede – die mees tevrede.
Byvoeglike naamwoorde wat op ’n -u eindig, kry in die oortreffende trap ’n dubbel -uu, byvoorbeeld: sku – skuer – die skuuste.
Die lidwoord die word altyd in die oortreffende trap gebruik, byvoorbeeld: die mooiste meisie; die mees tevrede persoon.
Die byvoeglike naamwoord kan ook ’n versterkte vorm (intensiewe vorm) hê. Die intensiewe vorm word altyd as een woord geskryf, byvoorbeeld: wawydoop; kuikenswak; purperpers; potblou; goudgeel; piepklein.
Die byvoeglike naamwoord kan letterlik of figuurlik gebruik word, byvoorbeeld:Die gesin is baie arm. (Letterlik: hulle het nie geld nie.)Die arme gesin het dit maar swaar. (Figuurlik: die gesin word bejammer).