Ena Murray Omnibus 40. Ena Murray

Ena Murray Omnibus 40 - Ena Murray


Скачать книгу

      Sy behou haar selfbeheersing, knik net. “Jy kan haar maar laat weet sy kan jou kry net wanneer dit haar en jou pas. En Alfred kan ook maar intussen uitkyk … ”

      “Hy het reeds werk gekry, madame. Hy begin volgende maand as hoofkelner by die Park Lane Hotel.”

      Dis nie ék wat húlle die trekpas gee nie. Dis hulle wat my in die pad steek, dink sy met ’n groeiende histerie in haar. Maar haar kalm, byna doodse stem verraai niks nie. “Dan is dit goed so, Thomas.”

      Haar hand huiwer op die telefoon. Sy wil nie, maar sy het geen keuse nie. Sy het nêrens om heen te gaan nie. Dis net by haar ouers waar daar vir haar skuiling is tot tyd en wyl sy uit hierdie chaos weer rigting gekry het.

      Maar ook hier het daar onverwags komplikasies ingetree.

      “Ek wou jou al gebel het, maar ek was so besig met inpak. Ek … ”

      “Inpak?”

      “Ja, my kind. Thys het besluit dis beter as ons nader aan hom kom bly. Hy het vir ons plek in ’n tehuis vir bejaardes in die Kaap gekry.”

      “ ’n Tehuis vir bejaardes?” Dis nie moontlik nie! Haar pa sal liewer sterf voordat hy na ’n oumensplek gaan! “Maar hoekom, Ma? Julle het nog altyd gesê julle bly in jul huis totdat julle die dag doodgaan.”

      Haar ma is vaag met die verduideliking, en skielik dring dit tot haar deur wat werklik aan die gang is. Haar pa se belegging in Rock Trust het veroorsaak dat hy sy huis moes verkoop! Haar broer moet nou vir hulle sorg, vir hulle ’n dak oor die kop soek. Watter bitter pil moet dit nie vir hulle wees nie, vir hierdie twee mense wat nog altyd so trots was op hul onafhanklikheid! En dis hul eie skoonseun wat hulle dit aangedoen het … vir hulle en duisende ander soos hulle. Vir hulle is daar darem nog ’n seun wat kan omsien. Vir hoeveel is daar niemand nie? Haar stem wurg in haar keel.

      “Ek weet nie of ek sal kan kom groet nie, Ma. Ek is self baie besig op die oomblik. Moet ook inpak … ” Sy kan nie vir haar ma sê sy sit van môre af sonder ’n motor nie! Op haar ma se vraag antwoord sy sommer blindelings: “Ek kry ’n woonstel. Ek gaan nie alleen in hierdie groot huis bly nie.” Sy kan haar mos nie vertel sy sit van môre af op straat nie! “Nee, Ma, alles is reg. Moet asseblief nie oor my bekommerd wees nie. Ek kan nie nou hier weg nie. Daar is Niel … Ek moet hom besoek … ” Ja, sy sal haar man seker soms in die tronk kan besoek … moet besoek.

      Haar ma beaam haar gedagtes: “Dis nou die tyd dat jy by jou man moet staan, Wanya. Jy is reg. Jy kan nie nou daar weg nie. Maar sodra jy kan, kom kuier vir ons. Thys … ”

      Sy hoor die aarseling in haar ma se stem, weet sonder dat sy ingelig word. Haar broer is woedend. Die feit dat sy nog niks van hom gehoor het nie, het haar dit reeds vertel. Hy is bitter teenoor Niel … soos so baie ander mense … en hoe durf sy hom verkwalik?

      Heer, waar dan heen? wonder sy vaag en stom toe sy van die telefoon af wegdraai. Van Niel se familie is daar geen hulp te wagte nie. Sy ouers is reeds dood, en hy het die afgelope jare, namate hy die suksesleer geklim het, vervreem geraak van sy ander familie. Niel, besef sy nou, het die afgelope jare net een ding voor hom gesien: geld. Niks anders het meer saak gemaak nie. Nie sy vrou nie, nie sy familie nie, niks nie … nie eens eerlikheid en betroubaarheid nie.

      Dit word donker en baie stil om haar. Sy gaan sit agter die lessenaar in Niel se studeerkamer. Hier het hy seker sy planne beraam … en in die proses ook sy eie vrou en homself verwoes. Sy staan op, stap na die drankkabinet. Sy kies ’n bottel tussen die wye verskeidenheid, tel ’n glas op. Waarheen moet sy gaan? vra sy weer tevergeefs toe sy dit na haar mond bring. Wat gaan van my word? wonder sy toe sy die bottel weer omkeer.

      Haar blik dwaal deur die vertrek, kyk met nuwe oë na alles. Duur goed. Hoe het die een vrou histeries oor die telefoon in haar oor gegil? “Die kos uit my en my kinders se monde geneem!” En ’n ander, bewerige ou stem vol radelose kommer. “Die dak oor ons koppe weggevat. Ons is in die sewentig. Ons sit op straat!”

      Sy keer die bottel weer om, maar die stemme skreeu al harder … en die duur meubels begin al nader na haar skuif. Sy moet wegkom hier! Hulle gaan haar vasdruk, versmoor, dooddruk! Sy moet uitkom, wegkom!

      Haar motor se ligte gooi ’n ligbaan met die rylaan af. Die bande skreeu toe sy by die straat indraai, maar sy hoor dit nie. Dis net stemme in haar ore … deurmekaar stemme wat skree en huil en skel.

      En dan, skielik, is daar ’n harde stamp, die geluid van glasskerwe, ’n gil op die agtergrond … en weer stemme.

      “Ek het gesien hoe sy soos ’n besetene deur die rooi lig jaag en die kind tref!”

      “Hy is dood. Dit lyk of sy nek gebreek is.”

      Sy klim uit, staan langs die motor, hou daaraan vas, luister en kyk soos iemand wat nie weet waaroor die bohaai gaan nie.

      “Sy is dronk! Kyk hoe hou sy vas!”

      Daar beweeg iets blinks voor haar gesigsveld, en ’n streng stem ruk haar tot haar sinne: “Wat is u naam, dame?”

      “Wanya.”

      “U van, asseblief.”

      “Cloete.”

      Daar is ’n beroering onder die geskokte omstanders.

      “Ek wou sê jy lyk bekend! Dis daardie bedrogman, Niel Cloete, se vrou!” sê ’n vrou opgewonde en skril.

      “Mevrou, kan u onthou wat gebeur het?”

      Wanya skud haar kop heen en weer. Sy was in die studeerkamer … en die meubels het meedoënloos na haar toe begin aanskuif asof hulle haar wou dooddruk … “Kom saam, asseblief.”

      Die wêreld draai om haar en alles is dof en onwerklik.

      In die aanklagkantoor is die bevel kortaf en saaklik: “Ons sal vanaand niks met haar uitgerig kry nie. Sluit haar maar toe.”

      Die jonger man se oë rek. “Adjudant … ?”

      Die ouer man kyk hom bedaard aan. “Die feit dat sy dié mevrou Cloete van Sandton is, maak geen verskil nie. Sy is ’n dronk vrou wat ’n kind doodgery het. Dis al. Vat haar sel toe. Ek stuur die dokter.”

      Die distriksgeneesheer is dit eens met die senior polisie­man. Wanya Cloete makeer fisiek niks nie. Sy is bloot dronk.

      “Dan slaap sy dit maar vannag af. Ek dink nie dit maak eintlik op hierdie oomblik vir haar saak waar sy haar roes uitslaap nie. Môre is nog ’n dag.”

       3

      Môre breek aan.

      Wanya sukkel om haar uit die newels los te trek, skuifel orent op haar elmboog en gryp met haar ander hand haar kop vas. O, haar kop! Sy dwing haar oë oop, maak hulle weer toe. Sy slaap nog. Sy móét wakker word! Sy sper haar oë weer oop, knip hulle vinnig, sper hulle weer oop, laat haar blik stadig om haar dwaal. Dis nog deel van die nagmerrie. Sy sukkel heeltemal orent, kyk weer om haar. Waar … ?

      Sy probeer terugdink. Sy was in Niel se studeerkamer, onthou sy met ’n kloppende brein. Sy het benoud geraak asof sy vasgedruk word … Sy het in haar motor geklim, begin ry … waarheen weet sy nie. En toe … Daar was ’n slag … en ’n gil … en stemme.

      Sy kom op haar voete, kyk nou met wydgesperde oë om haar rond … en sonder dat sy nog ooit die binnekant van ’n tronksel gesien het, weet sy instinktief waar sy haar bevind.

      Dis nie waar nie! Dit kan nie wees nie! Maar dit is, vertel haar oë haar terwyl sy na ’n toneel kyk soos dié waarna haar man kort gelede gekyk het – die smal bedjie, die wasbak in die hoek, die toilet … “Here, dis nie waar nie!” Dis net ’n fluistering. “Asseblief, liewe Here, dis nie waar nie!” pleit sy. Maar oomblikke later knars die slot en toe die polisieman voor haar staan, weet sy dit is waar. Dit is geen nagmerrie nie. Dit is die werklikheid. En hoe groot die omvang van hierdie werklikheid is, hoor sy uit die adjudant se mond.

      Sy was onder die invloed


Скачать книгу