Ena Murray Omnibus 40. Ena Murray
jammer oor … netnou. Ek weet nie wat my makeer het om so uit te bars nie.”
“Ag, my kind, jy hoef nie om verskoning te vra nie. Ons Jan Bommers ken trane. Maar ek moet sê, die meeste trane wat ons in hierdie kombuis ken, is uietrane, nè, ou Nel?”
Hoe, weet sy nie, maar sy slaag daarin om honderde wortels te skraap. En vervolgens kom sy agter wat tant Bes bedoel het met uietrane. Sy het gedink sy sal ná al haar ellendige ervaringe nie meer veel trane oorhê nie, maar dit stroom behoorlik.
“Jy moet by die gatkant begin skoonmaak. Dan brand dit nie so erg nie,” beduie die ervare Nellie.
Wanya kyk stromend en snuiwend na die ui. Watter kant sou dié kant wees?
Weer beduie Nellie: “Jy moenie by die skerp kant begin skoonmaak nie. Sien, só?”
Tussen Vitorie en tant Bes geskied die wonderwerk voor Wanya se oë. Teen twaalfuur is die kos gereed en reg vir opskep. In die agterplaas staan die rye plastiekborde reg vir inskep. Van die groot kastrolle word eenkant op ’n lang tafel gesit.
Wanya bly onseker in die kombuis staan. Sy is seker veronderstel om te gaan help inskep, maar ’n wilde vrees vir die vreemde mense vat haar skielik vas. ’n Nuwe gesig sal dadelik opgemerk word en vrae gaan gevra word. Sy bevind haar meteens in die ongelooflike situasie dat sy skaam is voor hierdie armsalige mense, skaam dat hulle moet weet wie sy is en hoekom sy hier is. Hulle is brandarm, maar hulle kan enige mens in die oë kyk. Dis sy, Wanya Cloete van Sandton, wat skaam is – nie net oor die hede nie, maar ook oor die verlede.
Maar gedagtig aan Roelof se opdrag, laat tant Bes dit nie toe nie.
“Kom, hartjie. Kom help. Dis nou eers die ou mense wat kom. Ná skool kom die kinders en hul ouers.” Wanya wil pleit dat sy verskoon moet word, maar nog voordat sy iets kan sê, trek tant Bes haar aan die arm by die deur uit. “Jy hoef nie skaam te wees vir die overall nie. Niemand sal dit raaksien nie. Hier lag ons nie vir mekaar se klere nie. Hier is ons net dankbaar as ons iets het om aan te trek.”
Die rye ou mense kom voor haar verby en sy sien die ellende op die ou gesigte. En tog … Elkeen het ’n glimlag en die dankbaarheid straal uit hul oë.
En terwyl hulle verbykom, stel tant Bes haar ongeërg voor: “En dis nou Wanyatjie. Sy help van nou af ook hier.”
Die ou vroutjie voor haar, klein en krom, met die bord bewend in die knopperige rumatiekvingers vasgeklem, gee haar ’n liefdevolle glimlag. “God seën jou, dogter.”
Wanya kyk vinnig af na die kastrol voor haar, voel hoe die knop in haar keel knellend groter word. God seën jou … En toe is die ander klomp daar en dis veral die kinders wat aan Wanya se hart ruk. Hulle neem die borde by haar, gaan sit eenkant en die manier waarop daar geëet word, vertel ’n eie verhaal. Hulle is stil totdat die bord leeg is, weet dat daar geen tweede skeppie kan wees nie.
En deurentyd gesels tant Bes met haar honger kuddetjie. “Pieta, jy moet mooi leer, gehoor? Ek wil ’n beter rapport sien hierdie kwartaal! Lettie, het Jan toe daardie werk gekry? Faantjie, jy moet kom dat ek ’n knoop aan daardie hemp werk. Jy moet jou hare wegsteek voor jou oë, Rita. Dis skelms wat met een oog na die wêreld loer. En hoe gaan dit vandag met jou ma, Hansie? Het die medisyne gehelp?”
En toe almal weer weg is, tel tant Bes soos ’n goeie skaapwagter al haar skapies en mis ’n paar. “Vitorie, skep maar ’n bord kos uit vir Jan Swanepoel. Hy het nie vandag kom eet nie. Longe is seker weer te gedaan. En Betta het ook nie opgedaag nie. Ek sal maar vir haar ook ’n bord neem. Seker weer die spatare wat lol. En waar is ons Pikkie dan vandag? A, hier kom hy aan.” Wanya sien hoe ’n seuntjie moeilik aangesukkel kom. Hy is so gebreklik dat haar hart in haar keel spring. Tant Bes verduidelik vinnig: “Dis glo van kroep wat hy so opgetrek het toe hy ’n baba was.” Dan aan die seuntjie van sowat agt wat uitasem teen die tafel tot stilstand kom en sy inmekaargetrekte liggaampie daarteen aanleun. “A, tant Bes se grootseun! Hier is jy! Hier is jou kos. Ek hoe gaan dit vandag met my grootman?”
Die kindergesiggie straal van liefde. “Goed, tant Bes. Ek het vandag ’n prent geteken.”
“Sowaar? Jý? Ek glo dit nie! Kan jy dan teken?”
“Ja, kyk hier. Ek het dit saamgebring vir tant Bes. Hier is dit.”
Wanya trek haar asem in. Dis uitstekend vir ’n seuntjie van sy ouderdom. Die plaastoneel laat haar hartseer wonder of hierdie kind, vasgevang in die strate van Jan Hofmeyr, al ooit op ’n plaas was.
“Maar dis pragtig, Pikkie!” laat sy spontaan hoor en tant Bes knik goedkeurend na haar.
Die seuntjie se breë glimlag wil haar verswelg. “Tannie kan dit maar vir tannie vat. Ek sal weer een teken.”
Tant Bes sien hoe haar helper se oë vol trane skiet en sy sê saggies: “Vat dit, hartjie. Hy gee dit uit sy hart.”
Sy sukkel om normaal te praat. “Dankie, Pikkie. Dis ’n baie groot geskenk. Ek wil dit baie graag hê.”
Hy knik tevrede, begin eet, en toe hy klaar is, kry sy weer daardie hartverowerende glimlag. “Tannie Hartjie, gaan tannie nou altyd hier wees?”
“Ja, Pikkie.”
“Dan sal ek nog prentjies vir tannie teken. Ek hou van prentjies teken.”
“Dankie, Pikkie. Ek sal hulle graag wil sien. Hierdie een is pragtig.”
“Tot siens, tannie Hartjie.”
“Tot siens, Pikkie, tot môre.”
Toe Roelof haar die middag kom haal, is alles in Sonneblomstraat 7 se kombuisie blinkskoon en op hul plek, en die vadoeke hang soos ’n ry wit vlae op die wasgoeddraad.
Dis stil in die motor op pad terug woonstel toe. Hy het dadelik die pleisters om die twee vingers gesien, maar geen kommentaar gelewer nie. Tant Bes moes twee keer dokter waar die skerp groentemes haar geraps het. Hy merk ook op dat die paniekerige vrees uit haar oë verdwyn het. Dat die hande nie meer inmekaargeklem op haar skoot lê nie.
“Wat het jy daar?”
Sy glimlag, vou die tekening oop en hou dit na hom toe uit. “ ’n Oorspronklike skildery deur ’n groot meester.”
Hy bring die motor voor die woonstelblok tot stilstand, kyk met aandag daarna. “Dis goed. Waar kry jy dit?”
“Pikkie het dit vir my gegee. Ken jy vir Pikkie?”
“Natuurlik ken ek vir Pikkie. In daardie verskrompelde liggaampie van hom skuil die moed en deursettingsvermoë van ’n reus.”
Hy volg haar die woonstel binne. “Ek kan jou gou na die hipermark neem. Ek het self ’n paar goedjies nodig.”
“Dankie.”
Terug in die motor spel hy haar program vir die volgende paar dae uit. En weer voel sy die skokgolwe deur haar gaan. Verleë en verneder protesteer sy met afgewende oë: “Maar ek is nie ’n alkoholis nie! Hoekom moet ek ’n kursus vir drankverslaafdes bywoon?”
“Die hof het so besluit, Wanya. Om jou beswil. Jy was sterk onder die invloed toe jy die ongeluk gemaak het.”
“Ja, maar … ” Skielik lê die trane weer vlak. Sy, Wanya Cloete, word as ’n drankverslaafde gebrandmerk! “Dit was net daardie een aand! Dit is nie my gewoonte om my te buite te gaan nie!”
“Ek weet, maar jy het geen keuse nie. Jy móét dit bywoon. Dis ’n hofbevel.”
Sy draai haar gesig weg, stry teen die woede wat die vernedering in haar opwek. Haar stem is skor. “Miskien sou dit beter gewees het as hulle my liewer tronk toe gestuur het.”
Hy hou stil by die hipermark, skakel die motor af, kyk na haar. “In die gevangenis word daar ook opheffingswerk gedoen. Daar word allerhande behandelingsprogramme toegepas om die gevangenes te help om weer menswaardig te voel en selfrespek te herwin – sodat hulle, wanneer hulle die dag vrygelaat word, mense kan wees wat die wêreld in die oë kan kyk en hul plek in die samelewing kan vol staan.