Die Laaste sewe dae. Murray Janson
Die laaste sewe dae
Die betekenis van Jesus se lyding vir ons wêreld vandag
Murray Janson
Lux Verbi
Vooraf
TWEE WEKE IN GOD SE JAAR
As die tyd bloot ononderbroke sou voortgaan, sou ons dit nie kon verduur nie. As elke dag so lank was soos Josua s’n en die son doodstil soos ’n elektriese lig bo ons gehang het, sou ons naderhand gebid het dat hy moet voortgaan op sy reis na die aand, sodat ons op ’n nuwe môre gister se sorge met ander oë kan bekyk en met ander hande kan aanpak. Maar God is so genadig dat Hy die tyd vir ons in stukkies verdeel het, soos ’n onderwyseres die vyfsyfergetal vir haar leerders in faktore verdeel. Sodat ons dit kan aandurf.
Die Bybel praat van eeue en jare en maande en weke en dae. Maar meestal van dae, omdat selfs die eeue tog ook maar dae is. Net baie daarvan bymekaar, soos ’n koringveld niks anders is nie as ’n menigte wuiwende koringare. En God doen dit omdat ons eintlik net met dae kan werk. Daarom sê die Bybel selfs van Adam se hoë ouderdom: “So was dan al die dae van Adam wat hy geleef het, negehonderd-en-dertig jaar” (Gen 5:5, 1953-hersiening).
Tog lees ons in die Bybel ook van weke wat stadig verbygegaan het omdat hulle so vol was, of wat eintlik nooit verbygegaan het nie. Die Bybel praat van veral twee sulke weke: die eerste week en, ’n mens kan sê, die laaste week.
Die sinnebeeldige week van die skepping, toe God die son en die maan en die sterre gemaak het. Toe Hy die bande van die Sewester en die toue van die Orion geknoop en die Diereriem uitgebring het en ook die Beer met sy kleintjies. Toe God die waters uit die land gekeer, die lig uit die duisternis laat voortkom en die vrou na haar man gelei het. Die eerste week.
En dan is daar die laaste week, die laaste week van Jesus se lewe op aarde, toe Hy al die pyn en smart, al die hoon en haat van hierdie wêreld gely het.
Twee weke: die een vol van God se blydskap, van die plante en diere, van die see wat die strande kus en van die man en sy vrou; die ander week vol van God se smart, van die son wat duister geword het, van die aarde wat geskeur het, van die Man van smarte.
Tog was die laaste week uiteindelik net so vol blydskap soos die eerste.
Want die son het weer opgekom – oor die nuwe môre van die opstanding. En uit die skeur in die aarde het die Lewensvors gestap, vol genade vir ál ons weke. Omdat Hy in daardie week vir alles gely het, kom Hy om ons uit te lei uit ons weke van smart na sy weke van genade, na sy ewige liefde.
Nou kyk ons terug op daardie laaste week. Maak ons dié week weer dae. Want dit was oorspronklik dae, sewe dae van Sondag tot Saterdag, sewe dae van gebeurtenisse en smart.
Net soos die Bybelskrywer die eerste week van die skepping volledig soos in ’n dagboek opgeteken het, het die vier evangeliste Jesus se handel en wandel gedurende hierdie laaste week só lewendig beskryf dat ons as ’t ware van uur tot uur kan volg hoe dié week ontvou het. Van die ouverture van die Sondag, die crescendo van die Maandag tot die Donderdag, tot die klimaks van die Vrydag en die finale van die Saterdag – ’n week van smarte met sewe lydensdae, sewe dae sonder son.
SY AANGESIG GERIG OP JERUSALEM
Wanneer gevaar dreig, vlug ’n mens gewoonlik na ’n veiliger oord – dit het Moses en Elia gedoen; ook Luther en Calvyn.
Maar met Jesus was dit anders. Lewensgevaar was deel van sy daaglikse lewe op aarde. Skaars was Hy gebore of Hy moes voor die moordende hande van koning Herodes weggegryp word. Toe kom daar ander hande, altyd weer hande met dieselfde begeerte: om sy lewe te neem. Selfs die bewondering in die hart van sy stadsgenote in Nasaret verander in haat: Hul hande word na Hom toe uitgesteek om Hom oor die krans te stoot. So gaan dit voort, totdat hulle ’n kruis in die groen bedding van sy lewe plant.
Jesus het dit altyd geweet, maar nooit daarvan probeer wegkom nie. Inteendeel, elke oomblik het Hy sy koers weer ingestel met die naald gerig op Jerusalem, op Getsemane, Gabbata en Golgota.
En toe kom die wonder van die berg van verheerliking, waar die hemel Jesus deurdring en met heerlikheid omgewe. ’n Wonderlike oomblik: As Moses en Elia uit genade die graf en die dood kon ontkom, dan kon Hy, die Sondelose, dit uit verdienste doen. Maar Hy draai op die berg van verheerliking om en gaan na die vlakte waar die pad na Jerusalem kronkel. Lukas skryf dat Jesus vasbeslote was om na Jerusalem te reis (vgl Luk 9:51).
Op die berg het Moses en Elia met Hom gepraat “oor sy uittog [letterlik: eksodus] wat Hy in Jerusalem sou voltooi” (v 31). Moses het ook ’n eksodus voltooi – ’n uittog uit die slawehuis van Egipte, ’n eksodus uit lyding en ’n ingang in die blydskap van die vryheid van Kanaän. Jesus se eksodus sou anders wees. Dit sou ’n uittog wees waarin Hy soos ’n dier uit die heilige stad en onder die mense uit weggevoer sou word, en ’n ingang in die eensaamheid en uitsigloosheid van Godverlatenheid. Daaroor het hulle met Hom op die berg gepraat.
Hy het geweet wat in Jerusalem op Hom wag, tog het Hy nie teruggedeins nie.
Toe Hy daar aankom, vlam die vyandigheid dadelik op. Hulle probeer selfs om Hom te stenig – met dieselfde klippe waarvan Hy ’n egbreekster vrygespreek het (vgl Joh 8:10, 59). Die Joodse Raad, die Sanhedrin, neem die drastiese besluit dat almal wat hulle aan Jesus verbind uit die sinagoge geban sou word (vgl 9:22, 34).
Jesus het Jerusalem verlaat en na die oorkant van die Jordaan vertrek (vgl 10:40). Hy kom eers later terug, en nou is die teenstand veel erger: Die Sanhedrin kondig plegtig aan dat as iemand weet waar Jesus is, hy dit bekend moet maak sodat hulle Hom kan gevange neem. En weer trek Jesus Hom terug na ’n afgeleë plek, Efraim, vlak by die woestyn, en het Hy “nie meer in die openbaar onder die Jode rondgegaan nie” (11:54).
Beteken dit dat Jesus se moed Hom telkens in Jerusalem begewe het?
Allermins. Hy het gekom om in Jerusalem te sterf. Maar nie met ’n dood waarin sy lewe van Hom weggeneem sou word nie; ook nie op ’n wyse wat die mense verkies het, soos deur Hom te stenig of deur ’n sluipmoord nie; en ook nie op ’n willekeurige tyd nie. Hy sou self sy lewe in die dood gee (vgl 10:18) en alleen ná ’n regsitting op die Paasfees, omdat Hy gekom het om die ware Paaslam te word, die Lam wat die sondes van die wêreld wegneem. Hy sou net sterf wanneer sy tyd (“uur” – 1953-hersiening) gekom het (vgl 2:4; 7:30; 17:1). En toe die Jode die uur te gou wil laat slaan, beheers Hy die situasie en verlaat Jerusalem.
Maar toe die paasvure tot in Galilea aangesteek word om die volk na die Paasfees te nooi en die massas begin nader kronkel aan Jerusalem, sluit Jesus by hulle aan. Markus beskryf sy dissipels se verbystering oor hul Meester se optrede: Jesus stap alleen voor hulle uit en hulle volg aarselend en bang op ’n afstand, te beskroomd dat hulle hul dalk aan die Leidsman opdring. Hoe kan Hy dit waag om weer na Jerusalem te gaan? (vgl Mark 10:32). Maar dan bly Jesus staan sodat hulle Hom, met bang gemoedere en al, kan inhaal, en vir die soveelste keer begin Hy vir hulle vertel wat alles met Hom in Jerusalem sou gebeur (vgl v 33). Die woorde “begin vertel” sê baie. Want Markus het reeds by ’n vorige geleentheid aangeteken: “Hy het sy dissipels geleer en vir hulle gesê: ‘Die Seun van die mens word in die hande van die mense oorgelewer, en hulle sal Hom doodmaak; en drie dae nadat Hy doodgemaak is, sal Hy opstaan’ ” (9:31). Maar vir die dissipels sou alles wat gesê word oor hul Heiland wat gekruisig sou word – en dit nogal gewillig – wees soos iets wat hulle vir die eerste keer hoor. Eers nadat die kruisiging werklikheid geword het, kan Lukas sy pen in vreugde doop en skryf: “Toe het hulle sy woorde onthou” (24:8). Sy woorde het voorheen vreemd en ontuis in hul harte gelê – tot ná die kruisiging. Toe kon die dissipels aan dié woorde van Hom ’n ereplek in hul lewe gee.
Jesus was by die aanvang van die Paasfees ’n medepelgrim op pad na Jerusalem. Saam met die ander pelgrims het Hy die mooi bedevaartpsalms gesing, soos Psalm 122:
Ek was bly toe hulle vir my gesê het:
“Kom