Die Laaste sewe dae. Murray Janson
Die opwinding van hierdie Sondag het soos ’n strooivuur uitgebrand toe Jesus nie na die Antonia-vesting nie, maar na die tempel gaan. So baie mense het dié indrukwekkende optog verlaat dat net ’n skrale dertien oorgebly het. Blykbaar het net Jesus en die twaalf by die tempel aangekom. En nadat Hy alles daar bekyk het, en omdat dit al aand was, het Hy en die twaalf na Betanië teruggegaan om weer daar te oornag (vgl Mark 11:11).
Jesus het geweet daar was net een manier om ware vrede tussen God en die mense te bewerkstellig: Hy wat die Koning is, sou bereid moes wees om hul Hoëpriester te word en Hom vir hulle te offer; Hy sou bereid moes wees om die kloof tussen God en mens met sy lewe te oorbrug. En Hy was bereid om dit te doen. Daarom het Hy die versoeking van hul geesdrif weerstaan, en daarom was Hy die volgende oggend terug in Jerusalem.
Die eerste dag van die laaste week wat so feestelik begin het, was vir Jesus dus eintlik ’n dag van onpeilbare smart: die dag van die begin van sy lyding en die eerste tree op die pylvak van sy Via dolorosa.
DIE MAANDAG
’n Sweep in sy hand
“Toe het Hy met toutjies ’n sweep gemaak en almal uit die tempel uitgejaag […]” (Joh 2:15).
Jesus het verkies om in Betanië te oornag, eerder as in die oorvol Jerusalem. (Die Joodse geskiedskrywer, Josefus, het bereken dat daar tydens die Paasfees oor die twee miljoen mense in Jerusalem byeengekom het. Miskien ’n oordrewe skatting; tog is dit waar dat baie mense die Paasfees bygewoon het.) Maar soggens het Hy telkens na die stad teruggekeer om sy werk te verrig – die werk van sy laaste week op aarde.
DIE VLOEK OOR ’N VYEBOOM
Die Maandagmôre het Hy sy eerste taak reeds buite die mure van die stad volvoer. Nog voor ontbyt is Hy al op pad. Skielik draai Hy na ’n vyeboom wat in die vroegsomer in ’n weelderige blarekleed uitgedos staan. Markus meld dat dit (nog) nie vyetyd is nie, maar dat Jesus desondanks hoop om vye aan die boom te vind. En toe Hy niks kry nie, vervloek Hy summier die vyeboom – en dit word onmiddellik van krag, want die volgende oggend merk die dissipels met verbasing dat die blaarryke vrugteboom van gister verdroog daar staan.
Sedert die vroegste tye is al probeer om die onverbiddelikheid in Jesus se optrede minder skerp en meer aanvaarbaar te maak. Soos dat sekere vyebome tog wel teen daardie tyd vrugte kon gedra het. Maar die evangeliste doen dit nie. Markus skryf dat dit nog nie die tyd vir vye was nie, maar dat Jesus nogtans verwag om vye te kry om te pluk.
Die probleem met ons en ons verklarings is dat ons soveel beperkings op die Here en sy evangelie plaas; dat ons ons so maklik by die sonde en die gevolge daarvan neerlê. Jesus het in elk geval nie so gedink nie, en die skrywers van die Evangelies het iets daarvan begryp. Daarom het hulle alles wat gebeur het, net so opgeteken, sonder om dit met allerlei verklarings meer aanneemlik te probeer maak.
God het die mens in ’n besondere verhouding tot die natuur geskape. Hy het die heelal onder die voete van die mens gestel sodat die mens daaruit kon lewe, dit kon onderwerp en die God se plan tot volvoering kon bring (vgl Gen 1; Ps 8).
Daarom dra bome vrugte: Dit is ’n Goddelike wonder. God wil nie hê dat daar ’n gebrek aan voedsel sal wees nie. Maar dat ons “die lewe kan hê, en dit in oorvloed” (Joh 10:10). Daarom sal die boom op die oewer van die kristalrivier op die nuwe aarde elke maand sy vrugte lewer (vgl Op 22:2). Niemand sal daar tevergeefs na ’n vrugteboom hoef te stap nie.
Wanneer Jesus die vyeboom vervloek, maak Hy daarmee beswaar teen die breuk wat die sonde in die wêreld veroorsaak het, sodat die verhouding tussen mens en natuur afgebreek is; sodat bome soms net met hul blare en dikwels net met kaal takke in die son sal staan, sodat mensekinders tevergeefs na voedsel sal hunker en van honger sal sterf.
Jesus maak beswaar daarteen net soos Hy met sy wondertekens in verset gekom het teen siektes en pyn en trane en die dood in hierdie mooi skepping van God. Hy gryp daarmee vooruit na die vrede en harmonie en versadiging van die nuwe wêreld, waarvoor Hy met sy kosbare lewe sal betaal. Hy verklaar daarmee dat Hy bereid is om aan ’n droë kruisboom weg van God vervloek te word, sodat die verhouding tussen God en mens, tussen mens en mens, en tussen mens en natuur weer herstel kan word sodat die nuwe aarde gouer kan kom.
Jesus vervloek ’n vyeboom. Maar in werklikheid kies Hy ook hier weer die kruis. Daarom word dit aangeteken as een van die treë op sy kruisweg.
’N SWEEP IN SY HAND
Nou haas Jesus Hom na die tempel. Volgens Markus het Hy die vorige middag by die tempel “alles daar bekyk” (11:11). Blykbaar het Hy toe reeds raakgesien wat die mense met die huis van sy Vader doen.
Dit was ’n ou verordening in Israel dat elke Jood en proseliet jaarliks ses gram silwer as tempelbelasting moes betaal en wel tydens die Paasfees. Dit was nie ’n groot bedrag wat die Here een maal per jaar as ’n offergawe vir sy saak gevra het nie – minder as twee dae se loon. Maar dié betaling moes “volgens die standaardgewig van die heiligdom” (Eks 30:13) geskied. ’n Heidense munt met heidense opskrifte en afbeeldings daarop – wat in Jerusalem volop was – is dus nie in die offerkis toegelaat nie. Dit kon ’n groot probleem vir die volk veroorsaak. Daarom het die tempelowerhede die mense op ’n heel besondere wyse tegemoetgekom deur kraampies met geldwisselaars beskikbaar te stel – sonder winsoogmerk, sou ’n mens aanneem. Maar ongelukkig was dit nie vanselfsprekend nie.
Omdat die tempelsikkel (soos die muntstuk destyds genoem is) later so skaars geword het dat dit die alleenbesit van die wisselaars was, was alle Jode verplig om van hul dienste gebruik te maak. En monopolie gaan maar alte dikwels met uitbuitery gepaard. Die wisselaars se kommissie het al meer geword en die volk moes dit gedweë aanvaar. Dit het later vir die tempel ’n betalende bedryf geword, en almal was daarvan bewus dat die vorige hoëpriester, Annas, ’n groot aandeel in alles gehad het – daarom is daar dikwels na hierdie stalletjies verwys as die “winkels van Annas”. En omdat dit onder die beskerming van die hoëpriester gestaan het, het die kraampies al nader aan die tempel gekruip totdat hulle later binne-in die tempel gestaan het.
Bowendien is nie net Joodse sikkels in die Annas-stalletjies te koop aangebied nie. Goedgekeurde verkopers het ook duiwe, skape en selfs osse uitgestal – dit alles binne-in die tempel. As ’n mens wou offer, kon jy jou offergawe wel baie goedkoper buite die tempel koop, maar dan het jy gevaar geloop dat daardie diere deur die priester-inspekteur afgewys sou word omdat hulle kwansuis nie aan die vereistes vir ’n offerdier sou voldoen nie.
’n Aardige bedrag moes op dié wyse vir jou geloof betaal word, en ’n aardige som is deur die tempelowerhede rondom die “geloof” ingevorder. Geen wonder nie dat ons in Josefus se geskrifte lees dat toe Krassus in 53 v.C. op sy tog na die Ooste die tempel geplunder het, hy minstens R5 miljoen buit gemaak het.
Niks sou seker verander het as Jesus nie op daardie Maandag so ’n storm in die tempel veroorsaak het dat die geldwisselaars se tafels en die duiweverkopers se stoele net nie meer kon bly staan nie. En niemand het dit durf waag om Hom teen te gaan nie, want Hy het met ’n sweep in sy hand gestaan – ’n sweep wat Hy gemaklik gevleg het uit die afvaltou wat oral in die tempel, soos in ’n boer se skuur, rondgelê het.
Jesus het dit tot binne-in die vyand se laer gewaag en sodoende sy eie doodsvonnis onderteken. Want wie aan ’n ander se beursie raak, bevind hom op die pad van die dood. ’n Onverskrokke daad. Daarom beskryf Johannes dit saam met die wonder by die bruilof voor in sy boek sodat hy rondom dié twee dade van Jesus sy hele Evangelie kon bou (vgl Joh 2:13-21).
Terwyl die verwonderde dissipels eenkant met groot oë staan en toekyk het, het enkele woorde uit die Psalms in hul gedagtes opgekom: “Die liefde vir u huis verteer my” (Joh 2:17; vgl Ps 69:10). En dié wat jare lank die slagoffers van hierdie priesterlike winsbejag was, kon glimlag omdat die uitbuiters op