Goue gerf. Tryna du Toit
oorleef, maar miskien sal hy ’n tweede keer nie so gelukkig wees nie. As sy met hom wil praat, moet sy dadelik gaan. Sy moet uitvind wie die dokter is. Moontlik laat sy die saak net daar, maar voor haar pa sterf, moet sy daardie inligting by hom kry.
Sy het dadelik vir haar pa geskryf om te sê dat sy kom, en gister die telegram gekry om te sê dat hy terug op die plaas is en dat hulle haar verwag. ’n Oomblik het sy gedink dat die telegram slegte nuus bevat, dat die noodlot haar weer eens ’n wrede poets gebak het, maar hierdie keer het sy dit gelukkiger getref.
Sy het nog nie juis vantevore gedink hoe haar pa se siekte sy eie lewe en dié van sy gesin sal raak nie. Sal hy in staat wees om ná ’n rukkie weer sy plaaswerk te hervat, of sal hy die res van sy lewe ’n semi-invalide wees? En as hy nie kan nie, wie gaan die plaas bestuur? Maybelle is teen hierdie tyd al byna sewentien, maar Kleinjan is maar ses en Lena twee jaar jonger. Dit sal nie so ’n maklike taak wees om die twee alleen groot te maak nie. Maar dié keer sal dit nie weer vir Cora nodig wees om te gaan skoolhou nie. Dié keer sal Cora Leeufontein hê, en al kla hulle gedurig oor die droogtes, swak oeste en swaar belastings, is Leeufontein seker vandag ’n mooi sommetjie werd. En Cora sal sorg dat sy en haar kinders alles kry wat daar te kry is. Nie dat sy, Elizabeth, iets van hulle wil hê nie. Sy kan vir haarself sorg; aan die einde van volgende jaar behaal sy haar graad. Sodra sy haar hospitaaljaar voltooi het, wil sy Engeland of Amerika toe gaan om daar te werk en verder te studeer. Eendag sal sy ’n beroemde vrouedokter wees na wie almal sal opsien. Dan sal die vraag “wie is jou pa” haar nie meer kan raak nie.
Trou? Sy het vroeër gedink dat sy nooit sal trou nie. Die liefde is ’n bedrogspul en ’n illusie en die een wat sy huis op daardie fondament bou, sal bedroë daarvan afkom. Maar so stadigaan kom sy tot ander insigte. ’n Alleenlopende vrou is ’n eensame wese. In die sosiale lewe het sy geen status nie; ander vrouens kyk met jammerte of agterdog na haar. Geen mens, ook nie ’n beroemde vrouearts nie, kan vier-en-twintig uur van die dag met werk vul nie. Al presteer sy ook ver bo verwagting in haar beroep, bly sy nog ’n vrou, met die verlangens en behoeftes wat eie aan elke vrou is. Sy glo nie aan liefde nie, maar daar is ander, stewiger fondamente as liefde waarop ’n vrou haar lewe kan bou. Eendag sal sy ’n man ontmoet na wie sy in alle opsigte kan opsien en met wie sy graag die jare wat nog voorlê, sal wil deel. Dit is om haar vir daardie dag voor te berei dat sy vandag Leeufontein toe gaan.
Hoofstuk 3
Leeufontein is ’n entjie van die grootpad af geleë, sowat vyftien myl noord van Oudendal. Die wit woonhuis met die groen luike lê bo teen ’n bult en op hierdie mooi herfsoggend lyk dit vriendelik en gesellig. Daar is skielik ’n knop in Elizabeth se keel toe sy dink aan die gelukkige jare wat sy hier op die ou plaas deurgebring het, en sy dink weer hoe anders haar lewe sou gewees het as Engela Bornman nie so onverwags te sterwe gekom het nie.
Die plaaspad is stowwerig en ongelyk en terwyl sy ’n bietjie stadiger aanry na die huis teen die bult, dink Elizabeth aan daardie jare toe sy en Engela en Jan Bornman alleen hier op Leeufontein gewoon het. Die Bornmans was lief en goed vir haar, hulle was gelukkig saam en Leeufontein was die wonderlikste plek op aarde. Engela kon natuurlik nie haar dood voorsien het nie, maar Elizabeth dink nou sy kon haar aangenome dogter beter vir die lewe en die harde, onvriendelike wêreld daar buite toegerus het as sy haar van die begin af die waarheid vertel het. Dan sou die skok en ontnugtering nie so groot gewees het nie. Want van al die seerkry is daardie wond die diepste en neem dit die langste om te genees: die wrede ontdekking dat die Bornmans nie haar eie ouers is nie en dat sy, soos Ria dit gestel het, maar net ’n optelkind is wat nie eens weet wie haar eie ma en pa is nie.
Sy blameer nie vir Engela nie. Wanneer sy aan Engela dink, is dit met liefde. Sy sal daardie vroeë jare op Leeufontein voordat die ongelukswolke om haar saamgepak het altyd met vreugde en dankbaarheid onthou. Dis net dat sy so totaal onvoorbereid was op wat later gevolg het.
Maar die verlede is verby, net soos Engela vir altyd weg is; dis aan die hede, aan die mense wat nou op Leeufontein woon en die rede vir haar besoek, dat sy moet dink.
Op die huis se breë stoep, in ’n diep, gemaklike stoel met ’n ligte reisdeken om sy bene, sit Jan Bornman. Hy het nog nie heeltemal herstel van sy onlangse siekte nie. Hy is nog bleek en lyk moeg en gespanne, maar hy voel beter en die dokter het uiteindelik toegestem dat hy elke dag ’n uur of twee lank regop in ’n stoel kan sit. Dit is warm en sonnig hier op die stoep en van hier af kan hy hom verlustig in die mooi herfslandskap wat voor sy oë uitgesprei lê. Ná sy siekte is Leeufontein vir hom dierbaarder as ooit vantevore, en hy dank opnuut die Goeie Vader dat hy ’n seun het wat in sy voetspore kan volg as hy die dag wegval. Dit sal nog baie jare wees voordat Kleinjan die boerdery self kan behartig, maar net die wete dat sy geliefde Leeufontein nie eendag ná sy dood na vreemdes hoef te gaan nie, is al ’n groot troos en gerusstelling.
Hy dink weer aan Engela, sy eerste vrou. Sy was die afgelope weke, vandat hy siek geword het, nogal dikwels in sy gedagtes. Hoe vreemd en onpeilbaar is die weë van die Here nie, dink hy. Engela was vir hom ’n wonderlike vrou en as dit so bestem was, sou hy tot die einde van sy dae gelukkig saam met haar gelewe het. Dan sou Elizabeth eendag Leeufontein geërf het. Maar Engela se dood het alles verander. Hy is weer getroud en hy het vandag ’n eie seun wat grootword in die wete dat hy eendag hier op Leeufontein baas sal wees. Hy sal natuurlik sorg dat Maybelle en klein Lena ook hulle deel kry, maar dit is Kleinjan, sy seun, wat eendag Leeufontein sal erf.
En Elizabeth? Sy gewete kwel hom dikwels oor Elizabeth en dis met ’n swaar hart dat hy aan haar dink. Hy sou graag aan haar ook ’n klein erfporsie wou nagelaat het, maar Cora wil nie daarvan hoor nie. Elizabeth het goed van haar eie mense geërf, sê Cora, en ná die manier waarop sy hulle behandel het, het hulle geen verdere verpligting teenoor haar nie. Hy is nog altyd hartseer oor die vervreemding wat daar tussen hom en sy aangenome dogter gekom het, maar Cora het hom oor en oor verseker dat dit alles Elizabeth se skuld is. Hulle het geen aandeel daarin nie. Elizabeth is ’n harde, moeilike, trotse kind wat geen raad of leiding wou hê nie – nie van hom nie en ook nie van Cora nie. Sy was gedurig in opstand teen hulle en het hardnekkig geweier om Cora in Engela se plek te aanvaar.
Dit is heeltemal waar. Elizabeth is ’n moeilike, onverstaanbare dogter; sy het herhaaldelik sy en ook Cora se pogings tot toenadering verwerp. Tog is hy nog altyd bewus van ’n skuldgevoel teenoor die kind, ’n gevoel dat hy haar gefaal het juis toe sy hom die nodigste gehad het.
’n Oomblik is die beeld van sy oorlede vrou helder voor sy oë. Engela was ’n mooi vrou, kalm en statig, met rustige blou oë en gladde geel hare wat sy in ’n vlegsel om haar kop gekam het.
“Elizabeth lyk nes Engela,” het die mense altyd gesê en dan het Engela net geglimlag en haar hand ’n oomblik liefkosend op Elizabeth se goue krulle gelê. Wat Engela betref, was Elizabeth haar eie kind. Geen eie ma kon haar beter en met meer liefde versorg en vertroetel het as Engela nie. Wat ’n stukkie sonskyn was die klein Elizabeth met haar laggende blou oë, goue krulle en bloesende wange nie. Leergierig, nuuskierig, altyd aan die gang – ’n regte klein ribbok vir wie geen boom te hoog en geen rantjie te steil was nie. Op skool het sy pragtig presteer en hy kan nog onthou hoe trots hy en Engela op haar rapporte was. Engela veral het die kind aanbid en hulle het haar natuurlik ’n bietjie bederf, en daardeur, soos Cora sê, vir hulle almal later ’n hele boel moeilikheid op die hals gehaal. Is dit omdat hulle te sag en toegeeflik was dat Elizabeth later so verander het? Hard en koppig, vol bitterheid – hy kan nie glo dis dieselfde klein mensie wat met haar koms soveel vreugde in hulle huis en hulle harte gebring het nie.
Engela se dood was natuurlik vir die kind ’n kwaai skok en sy huwelik met Cora het die eerste wig tussen hulle geslaan. Daarna kon hulle mekaar nooit weer vind nie, hoe hard hy ook al probeer het.
Cora sê hulle moes Elizabeth van die begin af die waarheid vertel het. Moontlik is sy reg, maar aangesien hulle tog die waarheid verswyg het, moes hy seker die geheim ’n rukkie langer bewaar het, al was dit net totdat Elizabeth ’n bietjie ouer en ryper was. Maar die wete dat Cora ’n kind verwag, dat hy miskien ná al die jare ’n seun sal kry, het nuwe betekenis aan sy lewe gegee, en in sy geluk en opwinding het hy eendag toe hulle oor die toekoms gesels het die geheim vir Cora vertel. Hy het nooit bedoel dat sy vir Ria moes vertel nie, of dat Ria dit so aan Elizabeth moes