Die dae van ons nietigheid. Ena Murray
het nie gevra nie.”
“En as ek gevra het?” Hy bly stil en die ontsteltenis klim al hoër in haar op. “Besef jy deur stil te bly, het jy amper van my ’n moordenaar gemaak?”
Hy kyk haar vinnig aan, frons hewig. Sy oorreageer. “Nou is jy belaglik. Daar was nog nooit ’n dokter, en daar sal nooit een wees, wat nooit in sy lewe ’n verkeerde diagnose maak nie. Dan moet jy alle dokters moordenaars noem. Ruk jou reg, Lizl! Jy ruk hierdie ding heeltemal uit verband. Ons bly mense, hoe briljant ons ook al mag wees.” Hy het nie bedoel om so streng te praat nie; ook nie om miskien selfs ligweg sarkasties te klink nie. Maar hy is meer ontsteld oor Lizl se reaksie as wat hy op hierdie oomblik self besef. Een van die gevaarlikste dinge wat met ’n dokter kan gebeur, is om selfvertroue te verloor. Dan word hy of sy beslis ’n potensiële moordenaar. Om die altyd so beheerste Lizl só te sien is ontstellend.
Dat hierdie ding veel dieper gaan as wat hy aanvanklik vermoed het, word die volgende dag bewys toe hy aan diens kom en Lizl hom inwag.
“Ek wil asseblief jou opinie oor hierdie pasiënt hê, dokter,” sê sy en stap om die afskorting.
Hy volg fronsend, kyk ná ’n rukkie op, sy oë skerp. “Ek dink nie jy het ’n probleem met hierdie geval nie, dokter. Ek kan nie verstaan hoekom jy nog nie met die aangewese behandeling begin het nie.”
Sy volg hom vinnig toe hy begin aanstap. “Dokter … Willem, asseblief … ”
“Ja, dokter Landman?”
Haar oë pleit. “Ek wou net seker maak dat my diagnose … ”
“Beteken dit dat jy van nou af elke keer aan jou eie oordeel gaan twyfel, selfs as jy ’n verkoue moet diagnoseer, dokter? Of is jy met ’n ander speletjie besig?”
“Speletjie?”
“Ja.” Sy stem en oë is beslis kil. “As dít jou manier is om my jou meerdere te laat voel, kan ek jou nou al sê dit gaan nie slaag nie. Jy hoef nie tot sulke uiterstes te gaan nie. Ek het betyds gekeer dat ek nie heeltemal deur jou opgeslurp word nie.”
Hy sien die skok in haar oë – en die seer – voordat sy dit kan verbloem, maar sy gesig versag nie.
Maar ’n paar dae later, toe dieselfde soort ding weer opduik, besef hy Lizl se selfvertroue het ’n geweldige knou weg. Dit kan maklik hand uitruk en in ’n sielkundige probleem ontaard. ’n Uitstekende dokter sal vir die mediese wêreld verlore gaan as hy nie nou wal gooi nie.
Hy roep haar eenkant toe hy van die pasiënt af wegdraai.
“Wat gaan met jou aan? Hierdie pasiënt moes al in die operasiesaal gewees het!”
“Ek weet, maar … ”
“Maar wat?”
“Ek wou net eers jou opinie hoor. Asseblief, Willem, moenie weer kwaad word nie. Dis geen speletjie nie.” Toe hy in haar oë kyk, besef hy dis die waarheid. Lizl is nie met ’n speletjie besig nie. Hierdie vrou voor hom ís so onseker van haarself as kan kom! “As jy my net sal belowe … ”
“Wat belowe?”
“Dat jy asseblief in die toekoms met my sal stry as jy nie met my saamstem nie! Asseblief, Willem!”
Hy glimlag, sy oë skielik sag. “Ek belowe jou plegtig, dokter Landman, van nou af gaan ons soos kat en hond baklei.”
2
In die maande wat volg, is dit presies wat gebeur. Willem en Lizl baklei soos kat en hond – hoe later hoe kwater.
Wat Lizl nie besef nie, is dat sy nou ’n langtermynpasiënt van dokter Willem Claassen is. Hy het daardie dag onmiddellik besef dat wantroue in haarself, in haar gesonde oordeel, in haar kennis en opleiding, ’n uitstekende dokter stadig maar seker laat verbrokkel. Dit kon hy nie toelaat nie. Dit mag nie met Lizl Landman gebeur nie. Daar was net een soort behandeling wat sou help, wat haar weer vertroue in haarself sou gee: om haar deur en deur reg te bewys.
En daar was net een manier om dit reg te kry: om van haar te verskil. Die jong dokter Willem bevind hom in ’n onbenydenswaardige posisie. Ten spyte van sy minderwaardigheidsgevoel teenoor Lizl, is hy self ’n dokter van bogemiddelde formaat. En nou moet hy dikwels van Lizl verskil, teen sy eie beterwete in, sodat sy reg bewys kan word. Dis geen grap nie, nog minder om hierdie rol oortuigend te speel. Natuurlik sorg hy dat hy nooit ’n pasiënt se lewe daardeur in gevaar stel nie. Hy verskil net lank en heftig genoeg van dokter Lizl om haar daarvan te oortuig dat háár diagnose die regte een is. Dan kapituleer hy gewoonlik met ’n ongeërgde optrek van die skouers en sê gedwee: “Jy is reg, dokter Lizl. Reg soos altyd. My fout.”
Wat Willem nie weet nie, is dat hy ’n bron van diepe kommer vir háár word. Feit bly, soos een van hul professore eendag in die lesingsaal uitgewys het, ’n briljante student beteken nog nie ’n briljante dokter nie. Om ’n magdom boekekennis te hê beteken nog nie sukses in die praktyk nie. Dis wanneer daardie kennis prakties toegepas moet word, dat die koring van die kaf geskei word. Dit is dus ’n ontstellende gedagte vir Lizl dat die briljante student – volgens haar eerlike mening – miskien nie in staat is om sy kennis in die praktyk toe te pas nie. Sy weet daar is dokters wat baie goed kan diagnoseer, maar dan soms sukkel om op die regte behandeling te besluit. Daar is ook die uitsonderlike geval waar ’n dokter presies weet wat om te doen as hy net eers kan vasstel wat die pasiënt makeer, maar die regte diagnose is die groot kopseer. Dit is blykbaar die geval met Willem. Sonder dat hy dit besef, begin sy hom beskerm, gee sy soms voor teenoor die personeel en dokters met wie sy saamwerk, dat die regte diagnose dokter Willem se bevinding was, nie hare nie – natuurlik nooit só dat hy dit hoor nie.
Al wat hy weet, en waarvan hy oortuig is toe hulle die einde van hul hospitaaljaar nader, is dat Lizl nie meer veel respek vir hom as medikus kan oorhê nie. Sy het hom darem te veel keer verkeerd bewys. Hoe meer hy haar vertroue in haarself herstel het, hoe meer moes hy haar respek vir hom inboet. Maar daar was niks wat hy daaraan kon doen nie. As sy moet agterkom dat hy eintlik ’n rol aan die speel was – al het hy dit ook met die beste bedoelinge en uit liefde gedoen – sal sy hom nooit vergewe nie.
Sy word byna hierop betrap teen die einde van die jaar. Daar het ’n uiters moeilike geval ingekom. Willem en Lizl is toevallig albei aan diens en, soos altyd, moes hy haar tweede opinie wees.
Hy stem met haar bevinding saam, maar soos dit nou gewoonte geword het, verskil hy eers van haar. Hierdie keer is dit eintlik maklik, want die simptome is verwarrend. Lizl hou egter voet by stuk en uiteindelik moet Willem maar weer saamstem. Die volgende dag loop sy ’n senior dokter raak. “Meer ervare dokters sou maklik met hierdie geval ’n verkeerde diagnose kon maak, dokter Lizl. Knap gedaan. Baie geluk.”
Sy aarsel net ’n oomblik. “Die eer kom eintlik dokter Willem toe, dokter. Dit was sy diagnose.”
“O? Nietemin. Dra my gelukwensing dan aan hom oor.” Die gryskopman kyk haar goedig aan. “Dit gaan vir die raad baie moeilik wees om te besluit aan wie hulle die pos moet aanbied.”
Sy lewer liefs geen kommentaar nie. Dis ook iets wat ’n bron van geheime kommer geword het: die vakature wat ontstaan het vir ’n senior hospitaaldokter. Almal het reeds geweet daar is net twee kandidate. Normaalweg word so ’n pos nie aan sulke junior dokters gegee nie, maar albei jong dokters het hulle in die loop van die jaar deur en deur bewys. Een van hierdie twee gaan beslis die belangrike pos aangebied word.
Natuurlik sal dit ’n baie groot eer wees vir die een wat dit kry. Maar hoekom moet die keuse nou juis weer tussen haar en Willem lê? Kry sý die pos, gaan dit Willem vir ewig van haar verwyder. Geen man se ego sal dit seker kan sluk nie. Hy sal haar junior wees, ondergeskik aan haar. Selfs nie sy liefde sal so iets maklik kan verwerk nie. Nie dat sy meer so seker is dat daar nog ’n tikkie van die ou gevoel vir haar in hom oorgebly het nie. Gedurende hierdie hele jaar het hy nie een keer die geringste teken getoon dat hy hul verhouding wil hervat nie. Hy was nie eens een keer in haar woonstel nie! Buite die hospitaal het hy onwrikbaar ’n aparte lewe van haar bly