Die dae van ons nietigheid. Ena Murray
as dié van ’n man!”
Nou glimlag hy openlik en hierdie keer misgis sy haar nie. Daar is meteens ’n lig in sy grys oë wat sy nooit gedink het sy weer sou sien nie.
“Vrouelogika word gewoonlik deur die hart beheer, nie deur die verstand nie. Kan dit werklik waar wees, Lizl?”
“Waar? Wat waar?” vra sy en klink hierdie keer regtig so normaal soos ’n doodgewone vroumens dat hy hom moet beheer om nie daar en dan op te spring en haar van die stoel af op te ruk in sy arms in nie.
“Dat dit jou hart was wat jou dit laat sê het?”
“My … hart?”
“Dan gee jy nog om … ’n bietjie?”
Twee paar oë pen mekaar vas. Eindelik knik sy, haar lippe skielik bewerig. “Ek het nog nooit opgehou omgee nie en … ek het nooit net ’n bietjie vir jou omgegee nie, Willem … ”
Hy sluk en sy adamsappel spring op in sy keel. “Sal jy met my trou, Lizl?”
“Trou? Jy bedoel … tróú?”
“Ja. Regtig. Wettig. Met ring, predikant, die lot. Maar daar is ’n voorwaarde.”
“Ja?”
“Ek wil die vrou trou, nie die dokter nie.”
“Wat bedoel jy?”
“Ek dink jy begryp. Jy was nooit onnosel nie,” probeer hy die erns van die oomblik ligter maak.
Hy sien die verstarring van die lieflike gelaat, van die blou oë.
“Jy bedoel … ek moet my mediese loopbaan prysgee en net jou vrou wees? By die huis bly en … ”
“En ’n ma vir ons kinders wees en ’n vrou vir my. Ja. Dis wat ek bedoel, Lizl.”
Dis ’n grafstilte wat volg.
“Hoekom wil jy met my trou, Willem?” Haar stemtoon vertel hom dat hy nie veel hoop moet koester nie.
So egalig en besadig as wat kan kom, antwoord hy: “Omdat ek … ”
“Moet my net nie vertel omdat jy my ook liefhet nie.” Sy trek haar asem swaar, stadig in. “Soos jy pas gesê het: ek was nog nooit só onnosel nie.”
“En as ek jou verseker dit is die rede?”
“Die een en enigste?”
“Watter ander rede kan daar wees? Hoekom sal ek ’n vrou vra om met my te trou as ek haar nie liefhet nie?”
Sy staar strak na hom, en hy weet wat hy gevrees het, gaan gebeur: Dit was ’n groot, ’n báie groot flater om vanaand hierheen te kom.
“Uit jou reaksie lei ek af dat jy my huweliksaanbod van die hand wys. Mag ek weet hoekom?”
“Jou voorwaarde is vir my totaal onaanvaarbaar.”
“Om net my vrou en die ma van ons kinders te wees? Ek verstaan. Is dit omdat jy nie gelukkig kan wees sonder om ook dokter te wees nie? Of het die senior pos iets hiermee te doen?”
“Dit het niks … ”
“Ek dink dit het, dokter Landman. Ek dink dit het alles daarmee te doen. Jy is natuurlik klaar oortuig dat jý die pos gaan kry, en natuurlik kan jy so ’n geleentheid om weer te bewys dat jy beter as ek is, nie onbenut laat verbygaan nie.”
“Willem, dis onregverdig! Dis nie waar nie … ” roep sy geskok uit, en hy staan vinnig op.
“Jammer dat ek jou gepla het, dokter. Goeienag.”
“Willem!” Sy is voor hom by die deur, druk haar rug daarteen vas. “Ek het nie eens aan die pos gedink nie, dit nie eens oorweeg toe ek jou huweliksaanbod gehoor het nie. Maar jý is behep met die pos. Is dit nie eerder waar dat dit by jóú die oorwegende faktor was toe jy besluit het om my skielik vanaand te kom vra om te trou nadat jy my ’n jaar lank as vrou geïgnoreer het nie? Is dit nie so nie, dokter Claassen?”
“Ek dink daar is genoeg gesê … ”
“Jy het, ja. Jý het beslis genoeg gesê. Maar ek het nog nie. Ek moes na jou beskuldigings luister, en nou luister jy na myne.”
“Goed dan. Laat ons dan eens en vir altyd presies weet waar ons met mekaar staan. Ek weet nou dat jy net so min in staat is tot liefde en om ’n vrou vir jou man te wees, as die man in die maan! Jou danige liefde vir my is selfliefde, egoïsme van die ergste graad. Jy mag ’n briljante dokter wees, Lizl Landman, maar ’n vrou sal jy nooit kan wees nie!”
“Dankie! En jy, Willem Claassen, het hierdie keer regtig my intelligensie onderskat. ’n Mens hoef ook nie eens regtig slim te wees om dwarsdeur hierdie danige huweliksaanbod van jou te sien nie. Met my uit die pad, veilig agter die kospotte in jou droomhuisie, is jy verseker van die pos. Maar om darem iemand te vra om met jou te trou net om haar uit die pad te kry, net om jou eie ego te streel … ”
Twee hande vat om haar middellyf, lig haar van die vloer af op, sit haar netjies eenkant neer.
“Nag, dokter Landman.” Halfpad deur die deur draai hy skuins terug. “Geluk met jou aanstelling. Ek is seker jy sal ’n groot sukses daarvan maak.”
“Hoe weet jy ek het die aanstelling gekry?” wil sy woedend weet.
“Natuurlik het jy. Hoe anders? Jy sal môre hoor.”
Toe sy haar woonsteldeur agter haar toedruk, is die woede skielik weg, is dit net die seer wat oorbly. Dit kom nie eens by haar op dat sy hom miskien verkeerd geoordeel het nie. Sy kan nie verkeerd wees nie. Die onmoontlike voorwaarde wat saam met sy huweliksaanbod gegaan het, vertel tog die volle waarheid. Willem het haar vanaand kom vra om met hom te trou om haar uit te skakel, en nie net vir die senior pos nie, maar vir die res van sy lewe. Geen kompetisie meer van Lizl Landman nie. Sy sit veilig tuis en kook kos en maak kleintjies groot … en natuurlik sou hy sorg dat daar elke nege maande een is sodat sy so besig bly dat sy nooit weer aan iets anders sou kon dink as vuil doeke en fopspene nie. O!
Dokter Luddick klink verbaas toe hy die stem aan die ander kant van die telefoon herken.
“Nee, ek is nog nie in die bed nie. Nee, jy hinder nie. Kan ek help, Willem?”
“Miskien moes ek u dit liewer persoonlik kom sê het, dokter, maar hoe gouer u van my besluit hoor, hoe beter. Ek wil u en die ander betrokkenes baie hartlik bedank vir die eer en die vertroue in my, maar ek sien nie my weg oop om die aanstelling te aanvaar nie. U kan dokter Landman maar laat weet dat sy aangestel is.”
“Willem, ek … weet nie wat om te sê nie … Ek hoop jy het die saak baie goed oordink. Wil jy nie maar nog weer … ?”
“Ek het klaar gedink, dokter, en ek het finaal besluit. Ek wil graag iets voorstel, as u my die vermetelheid sal vergewe.”
“Ja? Seker. Wat is dit?”
“Ek wil voorstel dat dokter Landman nie moet weet dat die pos eerste vir my aangebied is nie. Dit kan dalk krap, u verstaan? Geen mens wil graag weet jy was tweede keuse nie, al gaan dit ook bloot net om jou geslag. En aangesien sy hier gaan aanbly en ek padgee … ”
“Ag, nee, Willem!”
“Ek is bevrees so, dokter. Ek het reeds ander planne oorweeg voordat hierdie senior pos in die gedrang gekom het. Soos ek sê, laat dokter Landman maar dink sy was die eerste en enigste keuse. Wat maak dit tog saak, dan nie? Goeienag, dokter. Jammer dat ek so laat gesteur het.”
Dokter Luddick sit ’n rukkie peinsend agter sy lessenaar. Willem Claassen het gelyk. Aangesien hy glad nie in die pos belangstel nie, is daar geen rede hoegenaamd dat Lizl Landman moet weet dat iemand anders eerste die pos aangebied is nie. Soos hy tereg uitgewys het, kan dit dalk krap en toekomstige verhoudinge vertroebel … en vroumense is maar van nature krapperige goed. Nee, Lizl hoef nie te weet nie. Sy hand reik na die telefoon. Daar is ook geen rede hoekom sy nie vanaand al die goeie nuus kan verneem nie. Sy was tog die enigste alternatief.