Die uurglas loop leeg. Ena Murray
gebruik maak wanneer dit hom pas? Is dit nie bloot menslik nie? Is dit sy skuld as die verpleegsters se harte allerhande vreemde toertjies begin uithaal wanneer hy glimlag? Hoe kan sy dit teen hom hou dat selfs die suster van die mansaal se hart al vreemde draaie gemaak het?
Maar daar was al praatjies dat hy ’n paar verpleegsters uitgeneem het … hy, ’n getroude man, baklei die waarskuwingsliggies flitsend terug.
Sy frons diep en neem ’n slukkie van haar koue tee. Maar is hierdie feite werklik so erg as wat dit klink? Daar is ’n verhaal agter die feite – ’n man wat eensaam is, miskien nog met ’n swaar skuldgevoel rondloop, ’n man wat maar net soms geselskap wil hê. Dis nie te sê dat hy ’n verhouding aanknoop met elke meisie wat hy uitneem nie. Om die waarheid te sê, dit klink asof hy nooit dieselfde meisie twee keer uitneem nie. Dit kan ook wees omdat hy nie na ’n ongeoorloofde verhouding soek nie, maar bloot na geselskap en begrip. Soos wat hy ook vandag, helder oordag, in ’n vol restaurant oor ’n koppie tee net na geselskap en begrip wou soek, en hom toe teen ’n preutse oujongnooi vasgeloop het wat oënskynlik verwag het om die naaste bosse ingesleep te word!
As hy nie te kwaad vir haar is nie, moet hy haar seker nou in sy hart uitlag … en Karien voel hoe ’n verleë blos in haar nek opkruip.
Daardie aand saam met Hannes Eksteen, die jong boer wat onder die vriende tel na wie sy verwys het in haar gesprek met Arnold Lutz, is sy stil en ingetoë en die jong man se moed wil hom begewe. Hy doen nou al maande sy bes om meer as net ’n vriend vir hierdie verpleegsuster te word, maar hy kon nog nie daarin slaag nie. Sy gevoel vir haar is geen geheim vir Karien nie, en dikwels het sy al gedink sy moet die vriendskap liewer verbreek. Sy kan net nie meer as platoniese vriendskap vir hom voel nie. Maar Hannes klou soos ’n neet. Hy is slim genoeg om hom nie op te dring nie, en omdat sy regtig sy geselskap geniet, stel sy dit maar elke keer uit om hom die trekpas te gee. Sy weet Hannes glo, of hoop, dat hy haar hart eindelik sal wen.
Hy kyk haar teer aan toe hulle ná ’n rolprentvertoning by die verpleegsterstehuis instap.
“Jy lyk moeg en bekommerd, my meisie. Nee, ek sal nie inkom vir koffie nie, dankie. Ek kan sien jy het rus nodig.”
Sy kyk hom dankbaar aan. Voel oor hóm ook skuldig. O, as hy net minder gaaf en begrypend wil wees, sal sy maklik hierdie vriendskap kan verbreek. Maar dis juis sy bedagsaamheid wat Hannes Eksteen bo die ander laat uitstaan. Sy weet dat hy die aand nie soveel kon geniet het nie. Sy kyk verskonend na hom op.
“Ek is jammer, ou Han. Ek was vanaand ’n regte droë stoppel.”
“As alle droë stoppels soos jy moet wees … ” Hy trek haar liggies nader, en sy weet by die geringste beduidenis dat sy nie geneë voel nie, sal hy haar onmiddellik laat gaan. Maar vanaand laat sy toe dat hy haar vas teen hom aantrek, leun selfs uit haar eie teen hom aan. Karien het skielik so ’n behoefte aan ’n begrypende hart, al weet sy nie self mooi wát Hannes nou juis moet begryp nie.
“Jy trek jou jou pasiënte te ernstig aan, Karien. Jy is te veel van ’n gevoelsmens vir hierdie soort werk. Ek het ’n ander betrekking om jou aan te bied.”
Sy glimlag, skud haar kop en onttrek haar uit sy omhelsing, want ’n ander paartjie is ook in aantog deur toe. Laat hom maar glo dat dit een van haar pasiënte se toestand is wat haar vanaand ontstel.
“Eendag gaan ek jou nog op jou woord neem oor daardie ander betrekking en dan sal ons sien hoe ’n jong boer die hasepad kies!” probeer sy skerts.
Maar hy skud sy kop, sê ernstig: “Ek wens met my hele hart jy sal dit nog eendag ernstig oorweeg, Karientjie. Dis ’n aanbod wat pal bly staan. Sal jy dit onthou?”
Sy sug diep. Dis juis wat sy nie wil hê nie! Dan lê sy haar hand ’n oomblik teen sy wang en sê waarderend: “Ek sal onthou, Hannes. Dankie, my vriend. Goeienag.”
Karien is nie haar beheerste, kalm, professionele self toe dokter Arnold Lutz die volgende oggend die mansaal binnestap nie. Inteendeel, sy laat selfs een keer die pasiëntkaart uit haar hande val, en toe hulle albei buk om dit op te tel en mekaar byna omstamp, is sy heeltemal verbouereerd. Wat makeer haar?
“Dankie.” Sy neem die kaart by hom en weier om hom, soos van die begin van die saaldiens af, in die oë te kyk. Maar hy hou die kaart vas en sê gedemp: “Jy kan maar ’n slag vir my kyk, Karien. Ek sal jou nie opeet nie.”
Sy is verplig om haar oë te lig, en toe hy stadig glimlag, het dit ’n bedwelmende uitwerking op haar. Heeltemal onvanpas en ongehoord vir dié saalsuster, vra sy iets wat niks met ’n pasiënt te doen het nie: “Dan … dan is jy nie kwaad vir my nie?”
“Nee. Ek verstaan.”
“Maar jy verstaan nie! Dis nie wat jy dink nie!”
Sy wenkbroue lig en hy tree voor haar in sodat die res van die saal agter sy rug inskuif. “Wat dink ek?”
“Dat … dat ek my soos ’n … ’n ware kinderagtige oujongnooi gedra het … ”
Sy lag klink skielik helder in die saal op en Karien voel hoe sy bloedrooi word.
“Jy is dierbaar! Ons sit hierdie gesprek in jou kantoor voort sodra die saaldiens klaar is. Volgende: meneer Verkuil. Galblaas … ”
Sy volg sy opmerkings en opdragte werktuiglik en het geen ander keuse as om in te stap in haar eie kantoor toe hy beleef opsy staan vir haar om voor te stap nie. Hy verbreek eerste die ongemaklike stilte. Sy stem is ernstig en daar is geen teken van die joviale glimlag nie.
“Jy is ver van ’n oujongnooi af en allermins kinderagtig. Hoe kan ek vir jou kwaad wees oor feite waaraan geen mens iets kan verander nie? Jy het geweier omdat ek ’n getroude man is. Daaraan kan ek minder as ooit tevore iets verander. En daarvoor respekteer ek jou nog net meer. Ek wou maar net soms … net soms ’n bietjie met jou gesels, maar ek begryp dis te veel gevra en ek vra verskoning dat ek jou in ’n verleentheid gestel het. Dis jy wat my moet vergewe.”
Nou voel sy nog skuldiger. Nes sy gedink het! Hy wou maar net ’n luisterende oor gehad het, en sy … “Ek sal graag soms ’n bietjie wil … gesels, Arnold. Ek is jammer oor my kinderagtige gedrag van gister.”
Sy gesig verhelder. “Dan sal jy vanmiddag êrens saam met my iets gaan geniet? Ek bely dat ek reeds jou rooster nagegaan het. Ek weet jy is vir middagete vry.”
Karien glimlag. “Graag, Arnold.”
’n Verpleegster kom verby om die koorskaarte te kom wegpak en hy bring sy stemtoon terug tot op professionele vlak. “Dankie, suster. Dan kyk ons maar hoe dit vanmiddag gaan.” Met ’n glimlaggie wat die junior verpleegster se hart laat ruk, stap hy by die kantoor uit.
Wat die verpleegster nie weet nie, is dat haar suster in bevel se hart ’n oomblik lank gaan staan het. Dit is egter die gewone saalsusterstem wat dissipline afdwing wat die jong verpleegster na die aarde terughelp, en haar eie hart weer tot sy ritmiese klop laat terugkeer: “Verpleegster Marais, wanneer jy klaar is met die koorskaarte, wil ek hê jy moet meneer Stander in private kamer tien gereed kry vir die operasiesaal. Hy moet om halftwaalf ingaan. Sorg dat … ” gaan sy voort en sy verbaas haar heimlik hoe ’n mens in staat is om al die regte dinge te doen en te sê terwyl jou verstand in werklikheid glad nie funksioneer nie. Maar hoe sy vir haarself ook al redes opnoem waarom daar geen kwaad in skuil om vanmiddag saam met dokter Lutz te gaan eet nie, is die tergende geflikker van ’n waarskuwingsliggie nie uit te blus nie.
Natuurlik is Karien dankbaar vir sy keuse van eetplek toe hy die motor daardie middag net buite die dorp by die padkafee tot stilstand bring. ’n Oorvol restaurant is seker nie die beste plek om te gesels nie, en dit is hoekom hulle vanmiddag saam gaan eet – sommer net om te gesels.
“Ek is bly ons het hierheen gekom. Dis soveel lekkerder as ’n volgepakte restaurant.”
Hy knik. “Ek het gedink jy sou hiervan hou. My opsomming van jou was nog elke keer in die kol.”
Sy kyk hom betigtend aan. “Jy moet ophou om alles wat ek doen of sê of van hou so te ontleed, dokter … Arnold. Daar kan teleurstellings wag. Geen