Die uurglas loop leeg. Ena Murray
sy nou self. Hoekom het sy nie uit die staanspoor uit met hierdie begrypende mens kom gesels oor die vriendskap tussen haar en Arnold nie? Maar dan … so dierbaar as wat matrone is, is sy ook ’n mens met vaste beginsels en hoë norme. En sy is intens eerlik. Sy sou haar reguit gevra het of sy werklik niks meer voel as bloot suiwer belangstelling en begrip vir Arnold Lutz nie. Karien weet sy sou toe al moes erken dat Arnold dinge aan haar hart doen wat niks met ’n platoniese vriendskap te make het nie. Van daardie eerste dag af dat hy haar vervoer dorp toe aangebied het, het sy geweet sy beweeg op dun ys, want die waarskuwingsliggies het van daardie eerste oomblik af geflikker. Maar sy het dit geïgnoreer, wóú dit ignoreer.
“Ek is so jammer dat ek u rede tot kommer gegee het, matrone. Ek kan net sê dat … dat daar nooit iets gebeur het waaroor ek my hoef te skaam nie, maak nie saak wat die hele hospitaal dink nie. Ek verseker u.”
“Ek aanvaar jou versekering volkome, Karien. En onthou altyd, liewe kind, dat dit wel belangrik is wat mense van jou dink en sê; maar wat veel belangriker is, is wat jou eie hart wéét.” Sy glimlag. “Ek gaan nie stry dat ek jou geweldig gaan mis nie, maar ek wens jou uit my hart ’n baie, baie gelukkige huwelik toe. Jy was ’n puik verpleegsuster. Ek weet jy sal nog ’n puiker vrou en ma uitmaak. Baie hartlik geluk, Karien.”
Tydens Karien se kennismaand moet Arnold noodwendig weer in die saal verskyn. Karien moet hom in die oë kyk en hom aanspreek, en ter wille van die nuuskierige oë om haar moet sy so normaal en kalm optree soos almal haar ken.
Maar Arnold is geensins sy ou self nie. Die eerste keer sien die verpleegpersoneel ’n dokter Lutz sonder die hartebrekerglimlag.
Toe hy ’n week later onverwags in Karien se kantoordeur verskyn en dit agter hom toedruk, is die uiters formele front wat sy die afgelope dae aan hom voorhou aan die wankel.
“Maak asseblief die deur oop, dokter.”
“Nie voordat ek en jy eers gesels het nie.”
Sy is die toonbeeld van voorbeeldigheid toe sy ernstig vervolg: “Die suster se kantoor is nie ’n plek vir persoonlike gesprekke nie, dokter. Maak oop die deur!”
“Ek hoor jy gaan trou.” Sy antwoord nie, en hy kom vinnig nader, trek haar aan die skouers van agter haar lessenaar orent. “Is dit waar wat ek hoor, Karien? Gaan jy regtig trou?”
“Ja.”
“Doen jy dit om van my af weg te kom? Dan kan ek jou sê dis nie nodig nie. Ek sal my nie aan jou opdring as … Karien, ek is lief vir jou en ek weet jy is lief vir my. Moenie dit doen nie!”
“Dokter, ek … ”
“Na die duiwel met jou gedokter!” val Arnold haar in die rede. “Besef jy wat jy gaan doen? Besef jy wat dit is om getroud te wees met iemand wat jy nie liefhet nie? Weet jy hoe stadig die tyd dan verbygaan? Weet jy dat elke jaar ’n ewigheid kan word? Karien, besin! Odelia sal nie vir ewig lewe nie. Haar toestand verswak stelselmatig. Die een of ander tyd, miskien oor ses maande, oor ’n jaar, miskien oor twee jaar, sal sy dood wees. Is dit te lank om te wag?”
Sy kyk hom met ’n wasbleek gesig aan, ongeloof en teleurstelling in haar oë. “Vra jy my om te sit en wag totdat jou wettige vrou sterf?” Die woorde kom in ’n skor fluistering uit, en hy trek haar teen hom vas.
“Ja! Wat anders kan ek doen? Ek vra jou om saam met my te wag totdat ek jou my wettige vrou kan maak. Intussen … ”
“Ja, Arnold? En wat van intussen … terwyl ons wag?”
“Ons kan so gelukkig wees, my liefling. Ek beloof ek sal elke moontlike tydjie wat ek het by jou in die woonstel deurbring. Jý sal my vrou wees.”
“Die ander vrou … ”
“Nee. Dié vrou.”
“En … Odelia? Wat van haar?”
“Wat van haar? Ek kan niks meer gee as wat ek haar reeds gee nie. Sy kry die allerbeste behandeling … ”
“En ’n daaglikse besoekie … ”
“Ja!” Hy sug diep gefrustreer. “Wat moet ek méér vir haar doen? Wat kán ek meer vir haar doen? Kom, sê my! Ek kan nie haar hand dag en nag sit en vashou nie … ”
“Maar dit sal help as jy dit soms doen.” Sy kyk hom vas in die oë. “Arnold, ek begryp jou kant van die saak heeltemal. Ek het alle begrip en simpatie vir die situasie waarin jy jou bevind, en daarom is ek nie vir jou kwaad oor … oor jou voorstel nie. Maar die afgelope dae het ek ook baie aan Odelia gedink, háár prentjie gesien … en ek het gewonder of jý dit helder sien? Weet jy wat dit beteken om dagin en daguit op jou rug te lê met net jou oë wat kan draai? Het jy al werklik besef wat jou vrou elke dag deurmaak?”
Sy gesig verstrak. “Dan begin jy my nou ook verwyt oor haar toestand?”
“Nee! Ek glo aan beskikking. Dis so beskik dat alles so moes gebeur het. Maar dikwels staar ’n mens jou blind teen jou eie behoeftes in ’n moeilike situasie. Jy dink net aan wat dit jóú kos, hoe dit jóú raak, en jy vergeet van die hel waardeur die ander persoon gaan. Sou jy plekke met haar wou ruil, Arnold?”
Sy sien haar vraag tref, en hy is ’n oomblik stil, antwoord dan skor: “Nee, natuurlik nie, maar dit het niks met my en jou … ”
“Dit het alles met ons te doen, Arnold. Ek is nie bereid om te sit en wag dat ’n vrou moet sterf voordat ek my geluk kan opraap nie. Ek is nie ’n aasvoël nie.” Sy stap by hom verby en maak die deur beslis oop. Dan draai sy terug na haar lessenaar, gaan sit en buig oor die vorms voor haar op die blink blad sonder om dit regtig raak te sien. Haar hart bloei vir hom, vir hierdie man wie se lewe in so ’n onmoontlike web van omstandighede vasgevang is … maar ook vir ’n vrou, ’n mooi, jong vrou wat moet lê en wag om te sterf.
In die maande wat volg nadat Karien haar verpleeguniform vir oulaas uitgetrek het, word die hospitaal en dokter Arnold Lutz deel van ’n verlede wat sy soos met ’n mes afgesny het. Sy het doelbewus alle kontak met haar ou lewe verbreek. Dat ’n mens egter nie jou gedagtes en die dinge van die hart sommer net so kan agterlaat nie, weet net sy.
Hannes Eksteen, wat aanvanklik self vol twyfel oor die wysheid van hul vinnige trouplanne was, se onrus bedaar gou. Wanneer hy soms voel dat hy nog nooit regtig tot die ware Karien deurgedring het nie, probeer hy dit nie naspeur nie. Daar is dinge wat selfs tussen man en vrou liefs onbeantwoord en onaangeraak moet bly.
Op die oog af lyk Karien gelukkig, tevrede en rustig en dit is genoeg vir haar man. Dat hulle nooit oor die verlede praat nie, is ’n stilswyende ooreenkoms wat deur man en vrou eerbiedig word. As daar ’n knaende vraag in Hannes se hart bly vassteek, wys hy dit nie en noem hy dit nog minder. Hoe sy vrou vandag ná byna ’n jaar van getroude lewe saam met hom oor ’n sekere dokter voel, is die een vraag waarop die jong boer liewer onsekerheid as ’n antwoord verkies.
Karien weet dat haar man gelukkig is. Boonop weet sy dat sy sy liefde volkome besit en dat daar nooit ’n ander vrou vir hom sal wees nie. Sy word daagliks oorlaai met liefde en al die voordele wat daaruit voortvloei. Sy het al baie gewonder of daar ’n bedagsamer mens op hierdie aarde rondloop as haar man. Ook in hul intiemste oomblikke sal hy haar altyd eerste stel.
En dit alles laat die skuldgevoel in haar al meer aangroei.
Sy sien nou in dat sy na Hannes se huweliksaanbod gegryp het soos ’n drenkeling na enigiets wat dryf. Hannes was die naaste ding om na te gryp, om haar te red uit die stormwater waarin sy beland het toe die kompas vir haar gekantel het. Met ’n bykans verterende skuldgevoel besef sy dat dit suiwer selfsug en die ingebore drang tot selfbehoud was wat haar laat instem het om met Hannes te trou.
Daarom het sy doelgerig haar bes gedoen om ’n goeie vrou vir hom te wees. Sê nou net hy was nie destyds daar om na te gryp nie … Hoe maklik kon sy onder die golwe vergaan het – die golwe van begeerte en ’n ander soort selfsug, daardie selfsug wat net toe-eien en niks teruggee nie.
Namate die maande verbygaan, maak sy haarself wys dat sy ’n gelukkige vrou is. Hoe kan ’n vrou anders as om Hannes