Die uurglas loop leeg. Ena Murray
mens op die operasietafel nie, maar net om te sien wat hierdie dokter Willems nou eintlik gaan doen.
Voor sy oë het hy gesien hoe die hande met sekerheid orde uit die chaos begin skep het, tot op hierdie punt dat hy, saam met ’n bewonderende dokter Weich, begin glo dat hierdie nuwe dokter tog daarin gaan slaag om die eerste rondte te wen.
Hoewel Arnold help waar hy kan, is dit nie bewondering wat die botoon in hom voer nie. Hierdie dokter Willems weet nie wat hy aanvang nie. Sy vak ken hy, maar hy weet nie wat hy aan die mens binnekant doen nie. Hy weet nie wat dit is om nie ’n volwaardige mens te wees nie. Hy weet nie wat dit is om met ’n verminkte, gestremde mens saam te leef nie. Arnold weet nie wie dit is wat hier so weerloos voor hulle lê nie, maar sy hart gaan na hom uit as hy moet bly lewe.
“Hoe oud is die man? Is hy getroud?”
Dokter Weich aarsel net ’n sekonde. “Ja. Hy is jonk getroud en ek skat so agt-en-twintig jaar oud.”
“Liewe aarde, en julle wil hom deurhaal om só aan ’n jong vroutjie terug te gee!”
Die geboë rug aan die ander kant kom eindelik regop. “Ek kan nou niks verder doen nie. Ons sal maar eers moet kyk.” Dan lig die oë bokant die masker en kyk vas in Arnold s’n. “Ja, dokter. Dis presies wat ek besig is om te doen. Ek hoop net sy jong vroutjie sal haar plig beter ken as wat jy joune as dokter ken. Dankie vir jul hulp.” Hy draai weg en verdwyn in die skropkamer.
Arnold stroop die masker voor sy gesig af, kyk na dokter Weich en sê grimmig: “Ek ken my plig as dokter. Natuurlik moet ’n mens die arme drommel probeer deurhaal, al is hy so beseer. Dis maar net … Om so iets oor te kom ná ’n paar maande se getroude lewe … Wat van die jare wat voorlê?”
Weich knik, simpatie in sy oë. Hy druk vlugtig ’n hand op Arnold se skouer: “Ek weet, dokter. Ek begryp hoekom jy so voel. Maar dokter Willems weet nie … ”
“Nee, hy weet nie. Hy sal nooit regtig weet nie. Ek weet net nie wie ek die jammerste kry nie – vir hóm of vir sy jong vroutjie. Vir albei wag daar ná dese ’n hel op aarde … en vir daardie pyn is daar geen medisyne of operasiemes wat help nie.”
Dokter Weich sien hom wegstap, en daar is kommer in sy hart. Want Arnold Lutz het gelyk. ’n Marteling gaan dit wees, en soos hy suster Saayman leer ken het toe sy nog in beheer van die mansaal was, weet hy dat dokter Willems se hoop nie onbeskaamd sal bly nie. Karien sal by haar man staan … wat nooit weer regtig ’n man vir haar sal kan wees nie. En dokter Weich wonder wat Arnold Lutz gaan sê wanneer hy hoor dat dit Karien se man is wat hulle vandag na die lewe teruggehelp het … ’n lewe wat vir die gesonde, fris, volwaardige man wat hy was, net ’n marteling in die toekoms kan wees. Diep in sy hart is hy geneig om met die jong dokter Lutz saam te stem. Eties of oneties, maar die gedagte bly vassteek … dit sou beter gewees het as Hannes Eksteen liewer vannag gesterf het.
Hy is egter dankbaar dat die nuwe dokter nie hierdie laaste gedagte kan lees nie, want hy sal dit nie verstaan nie. Tog voel hy hy moet ’n lansie vir Arnold breek. Dié twee dokters het op ’n slegte voet weggespring, en dit is nie goed nie, want hulle moet heeldag saamwerk en teen mekaar vaskyk.
“Jy moet maar verskoon as dokter Lutz hom ’n bietjie kras uitgedruk het, dokter Willems. Wanneer jy sy omstandighede ken, sal jy verstaan. Sy vrou is al langer as ’n jaar verlam – van haar nek af ondertoe – ná ’n motorongeluk. Hy weet wat dit beteken om in ’n onnatuurlike huwelik vasgevang te wees.”
Toe die ander dokter niks daarop te sê het nie, vervolg hy: “Baie dankie vir jou hulp vannag. Ek is jammer ons moes jou sommer met die intrapslag inspan. Maar nou kan jy maar gaan rus en jou goedjies in orde kry.”
“Dankie, dokter, maar ek wil vannag by die pasiënt bly.”
Dokter Weich frons. “Maar jy moet moeg wees. Jy was ure lank op pad in die motor en toe ure gebukkend oor ’n operasietafel. Ek belowe ek … ”
“Ek bly by die pasiënt. Jy kan maar gaan rus, dokter Weich. Goeienag.”
Hy stap beslis weg en die superintendent kyk hom eers verslae, dan geamuseer agterna. Dank jou die duiwel! dink hy heimlik. Baie dankie vir jou toestemming om te gaan rus, dokter Willems. Dan lag hy saggies toe hy aanstap.
In die private kamer langs die mansaal vul sy groot gestalte oomblikke later die deur en die verpleegster maak plek vir hom langs die bed, maar hy kyk nie dadelik na sy pasiënt nie. “Neem haar weg.”
Suster Vermaak kyk hom fronsend aan. Sy en Karien was baie jare lank die twee susters wat in beheer van die vroue- en mansale was. “Dis sy vrou.”
“Ek weet. Neem haar weg.”
Suster Vermaak aarsel. Sy is nou op spesiale diens en is vannag uit haar bed ontbied om al haar aandag te kom gee aan ’n noodgeval wat ure lank in die operasiesaal was. Groot was haar skok toe sy Karien by die ongevalle-afdeling aantref en hoor dat dit Hannes is wat so ’n ongeluk gehad het. Sy het net gehoor ’n nuwe dokter is besig met die operasie. Dit moet dan hierdie man wees.
“Sy is ’n opgeleide verpleegsuster, dokter. Sy was tot ’n jaar gelede suster van hierdie saal.”
Hy kyk af na die pasiënt, en sy arendsoog neem alles waar. “Dankie vir die inligting, suster, maar ek het nie daarom gevra nie. Neem haar weg.” Net vlugtig flits sy blik omhoog na Karien se geskokte gesig. “Gee aandag aan haar. Ek sal self ’n oog hier hou. Baie dankie.”
Dit word op so ’n toon gesê dat suster Vermaak om die bed loop, Karien aan die arm optrek en uit die kamer lei asof sy ’n slaapwandelaar is. Hierdie dokter moet maar self môre aan matrone verduidelik hoekom sy, wat spesiaal ontbied is, toe nie die nag aan diens was by die pasiënt nie.
Dat dokter Willems die volgende oggend wel die saak aan matrone verduidelik, en dat hierdie lewenservare vrou hom innig dankbaar is vir sy besluit, weet nie Karien óf haar kollega nie.
“Dit was baie gaaf van jou om suster Vermaak af te staan om na Karien om te sien. Sy is nog steeds in ’n geweldige toestand van skok. Maar ons kon gereël het dat ’n ander suster … ”
“Onnodig, matrone. Ek wou self by die pasiënt bly.”
“Ek verstaan van dokter Weich dat jy gisternag ’n wonderwerk verrig het. Baie dankie … ”
“Ek weet nie van wonderwerke nie, matrone. Ek ken net genade. Moenie haastig wees met jou dank nie. Miskien sal jy later ook soos dokter Lutz voel om my te skiet oor wat ek gisternag gedoen het.”
“Dokter Lutz?” Daar is openlike kommer op haar gesig te lees. “Dan weet hy dis Karien se man wat … wat … ”
“Wat ontman is?” Die oë kyk skerp. “Het hy dan enige belang daarby?”
“Nee, natuurlik nie!” Matrone ruk haar reg. “Dis net … Hulle ken mekaar, natuurlik. Sy het tog hier gewerk. Dis maar net dat ons almal so innig jammer vir haar is, diep geskok voel … ”
“Natuurlik. Maar daar is baie skokkende dinge wat ’n mens maar net eenvoudig moet aanvaar … en moet leer om mee saam te lewe. Tot later, matrone.”
Karien weet nie hoeveel uur by haar verbygegaan het voordat sy eindelik weer sekere dinge begin registreer nie. Daar is net sulke flitsoomblikke wat sy onthou … reën en bloed wat meng … Elsa Vermaak se geskokte gesig bokant hare … Matrone se dierbare oë wat so vol trane is en hande wat hare vashou … en iemand uit die ver verlede wat net ’n oomblik lank in die deur kom staan en soos ’n wit spook na haar staar, haar naam op sy lippe.
Die eerste helder oomblikke is eers ’n dag of twee later toe ’n vreemde man voor haar verskyn. Sy gesig lyk bekend, asof sy hom al voorheen gesien het, maar sy kan nie onthou waar nie. Waar sy in haar eie hospitaalbed lê in die kamer net langs dié van Hannes – soos matrone en dokter Weich aangedring het toe sy van die ergste skok herstel het – lê en kyk sy heeltemal weerloos terug in die skerp, deurdringende blik.
“Ek is Christian Willems. Ek het jou net kom sê jou man gaan lewe.”