Die tuiskoms lê ver. Ettie Bierman

Die tuiskoms lê ver - Ettie Bierman


Скачать книгу
geen trane in die groen oë nie. Miskien, as daar was, sou hy besef het wat sy van plan was om te doen. Maar niemand het gedink dat sy so drasties sou reageer en verbitterd genoeg was om weg te gaan nie. Of bang genoeg … Martin stoot met inspanning die skaduwees van die verlede opsy en plaas ’n simpatieke arm om Elizabeth Verster se skouers.

      “Wat makeer, Ila?” vra hy sag.

      As hy weer met haar rusie gemaak het, sou dit vir Ila makliker gewees het. Maar die onverwagte simpatie is opeens vir haar te veel. Sy is nie van nature iemand wat maklik huil nie. Té veel het egter in ’n te kort tyd met haar gebeur en Ila moes haar trane te lank opkrop. Nou stroom hulle oor haar wange terwyl sy haar gesig in haar hande laat sak.

      “Ila!” roep Martin bekommerd uit. “Wat is dit, meisie? Is dit ék wat jou so ontstel het?”

      Die kop met die blinkblonde hare word heen en weer geskud.

      “Wat skort dan?” probeer Martin weer. “Wil jy my nie vertel nie? My skouer is breed …”

      “Dis …” Ila kan die woorde nie uitkry nie. Sy huil asof haar hart wil breek.

      Martin laat haar begaan, staan net hulpeloos en toekyk en bied haar na ’n rukkie sy skoon sakdoek aan.

      “Daardie flentertjies kant wat julle vroumense ’n sakdoek noem, is nie veel werd nie. Huil jou goed uit, meisie, dan sal jy beter voel en dalk vir my kan sê wat die probleem is.”

      Ila vee haar gesig af, blaas haar neus en dan breek ’n waterige glimlaggie deur die trane.

      “Ek … ek is jammer. Wat moet die mense van my dink?”

      “Nie van jou nie – van mý. Hulle dink seker ek is ’n nare boelie wat klein meisietjies bang maak. En hulle is dalk reg …” Martin haal ’n paar keer diep asem, byt senuweeagtig aan sy duimnael en wil dan weet: “Of … wás dit ek wat jou omgekrap het, Daniela?”

      Anders as netnou, maak dit Ila nie meer kwaad dat hy haar nog steeds nie glo nie.

      “Ek is jammer, Martin Niehaus,” sê sy sag. “Ek weet hoe bitter graag jy wil glo dat ek jou stiefsuster is.”

      Martin word rooi. Hy is ’n rukkie stil, dan vra hy: “Hoekom het jy gehuil, Elizabeth?”

      Daar is weemoed en verlange in Ila se stem toe sy antwoord.

      “Tot nou toe was ek moedig. Selfs by haar oop graf was ek sterk. Op die begrafnis het ek nie so onkeerbaar gehuil soos netnou nie. Maar … maar enigeen bereik seker breekpunt. Dit was soos ’n damwal wat in my padgegee het …”

      “Wie was sy?” vra Martin sag. “Was dit jou moeder?”

      “My werkgeefster. Nee, sy was meer as net dit. Sien, sy was Maria Meintjies, die bekende skryfster van reisverhale. Ek weet nie of jy van haar boeke gelees het nie, maar jy herken seker die naam. Ek het vier jaar saam met haar gewerk en die voorreg gehad om Maria Meintjies as mens te leer ken. Sy was ’n wonderlike persoon. Maria was vir my ’n moeder, ’n vriendin en ’n maat. Haar heengaan het ’n leemte in die letterkunde en samelewing gelaat wat nooit gevul kan word nie. Veral vir my was dit ’n onherstelbare verlies. Haar dood het my eensaam en verlore agtergelaat.”

      Martin begryp Ila se hartseer. Hy vra nie verder uit nie.

      “Kom, ek sal jou na ’n hotel toe neem,” bied hy simpatiek aan.

      “Dankie, maar … nee. Ek wil liewer alleen wees.” Ila gee hom nie kans om haar te probeer oorreed nie, tel net haastig haar tas op en begin blindelings oor die perron aanstap.

      Martin besef dat hy nie op hierdie tydstip sy geselskap aan Elizabeth Verster moet opdring nie. Dit kan skade doen, haar afskrik. Hy staar die skraal figuurtjie peinsend agterna totdat sy tussen die mense verdwyn. Maar selfs dan maak hy nie aanstaltes om na sy motor toe op die parkeerterrein agter die stasie te stap nie. Hy steek tydsaam ’n sigaret aan, blaas die rook stadig uit en bly fronsend op die perron staan, onbewus van die mense om hom.

      Hy onthou hy het vir Elizabeth Verster gesê dis die noodlot wat hulle twee by mekaar gebring het en dat elke ding met ’n bepaalde doel gebeur. Die geluksgodin, het hy die noodlot genoem. Op hierdie oomblik is Martin oortuig dat Daniela se dubbelganger nie sonder ’n rede in sy pad geplaas is nie. Hy moet van die toeval gebruik maak en die geleentheid met albei hande aangryp. Dit wil sê ás dit toeval was … Dit maak nie saak dat sy weg is sonder dat hy weet na watter hotel toe sy is nie. Hy sal klein, blonde Ila maklik weer kan opspoor. En natuurlik sal hy eers vasstel of haar naam werklik Elizabeth Verster is. Hy hoop so. Met sy hele hart hoop hy dat dít haar naam is …

      2

      Ila let nie op dat sy deur die hoofuitgang van die stasie gestap het nie. Sy sien alles om haar deur ’n tranewaas – Nelspruit se hoofstraat en sakesentrum, die mense om haar op die sypaadjie en die verkeerslig wat van rooi na groen oorgeslaan het. Sy is oorspanne en die ontmoeting met Martin Niehaus het haar meer ontsenu as wat sy gedink het. Sy is afgemat, en sy het nie so ’n onsmaaklike situasie verwag die oomblik wat sy op hierdie rustige Laeveldse dorp aangekom het nie. Wat het haar makeer om soos ’n skooldogter in trane uit te bars?

      Ila word ru tot die hede teruggeruk. Daar is die klank van skreeuende bande, ’n verskrikte uitroep en dan ’n harde slag teen haar regterbeen en -skouer. Waar die motor so vinnig vandaan gekom het, weet Ila nie. Sy was net vaagweg van ’n donkergroen flits bewus en toe van die slag van iets wat haar tref. Verder weet sy nie wat gebeur het nie.

      Alles kantel skielik om haar – die seringboom op die hoek van die straat, die blou lug en die nuuskierige mense wat aangehardloop kom. Dit lyk asof die grys teerstraat oplig en nader kom. Ila steek haar hande uit om dit weg te stoot, maar dit voel asof sy in ’n donker put wegsink. Sy probeer gil en teen die wande van die afgrond vasklou, maar sy kan geen geluid uitkry nie en dit klink asof iemand lag terwyl sy oor die kranse stort – lag en haar uitkoggel …

      Toe Ila haar bewussyn herwin, is die grys teerstraat, die gapende afgrond, die seringboom en die kring starende mense weg. Sy kan ook nie meer die gelag hoor nie. Daar is dowwe kolletjies voor haar gesig en haar oë kan nie behoorlik fokus nie. Dit voel asof sy op ’n bed lê met haar kop teen ’n kussing en ’n kombers oor haar bene. Eers het sy gedink dis bloekombome wat sy ruik; nou kom sy agter dis ontsmettingsmiddels. En iewers klink die geluid van skottelgoed, en van ’n klokkie wat lui … soos in ’n … in ’n hospitaal? Ila vee verdwaas oor haar oë terwyl sy probeer regop kom om te sien waar sy haar bevind. Wat het gebeur? Was sy in ’n … ongeluk betrokke?

      “Lê stil, Elizabeth,” beveel ’n stem wat vaagweg bekend klink – dieselfde persoon wat netnou bly was omdat sy oor die afgrond gestort het?

      Ila frons. Sy herken nie dadelik haar naam nie en besef nie dat die persoon met háár praat nie. Waar het sy daardie stem al tevore gehoor? Sy probeer haar kop draai om te kyk wie dit is.

      “Hoe voel jy? Mislik? Duiselig? Dubbele visie?”

      Dis dieselfde stem, maar nou is dit koel en saaklik, nie so warm en vriendelik soos dit die vorige keer geklink het nie. Was dit … Waar was dit? Op die stasie?

      “Kan jy my hoor, Elizabeth?”

      Die gebeure van die afgelope tyd spoel skielik soos ’n golf oor Ila. Haar verstand voel nie meer so afgestomp nie en sy onthou wat gebeur het. Sy byt die agterkant van haar hand vas terwyl sy woordeloos knik.

      “Hoe voel jy? Het jy pyn?”

      “Nee, geen pyn nie.” Ila is verbaas omdat haar antwoord so normaal klink. Dit voel asof sy sweef, asof die bed nie op vaste grond staan nie en asof die wêreld nou-nou weer gaan begin kantel.

      ’n Figuur in ’n wit oorjas stap om die bed en betrag haar fronsend. Dis die jong man wat vanoggend – of was dit gister of eergister? – aangebied het om haar met haar tas te help. Ila se verstand voel beneweld. Wanneer het sy van die trein afgeklim? Hoe lank lê sy al hier? Sy probeer orent beur om rond te kyk.

      “Jy is gelukkig. Die x-straalplate toon geen gebreekte bene


Скачать книгу