Karnaval en lent. T.T. Cloete
die lyf se afstootlike uitskot
met sy giftige smeul afgesonder
menslike afval waarmee die opstandiges
selfs skrywers
vandag hulle monde dik maak
in ons land
die skatool lê in ons voedsel reeds gehaspel
met wat goed en geurig is en smaaklik
ek walg daarvan
anorexia nervosa is ’n opstand daarteen
bulimia nervosa die slagoffer daarvan
die koringkorrels lê ná eeue nog
in die Ysman van Ötzi se ingewande
en in Ramses s’n
ek braak daarvan
Twee
“’n Nuwe studie toon die moderne mens het sy ontwikkeling aan vuur en vleis
te danke . . . En dis heel waarskynlik waarom ons menslike voorouers se
breine omstreeks 2 miljoen [jaar] gelede drasties begin vergroot het . . .
‘Proteïen is breinkos,’ sê Thackeray.” – “Eerste braai steek die breinvuur aan”
(opskrif in Beeld, 2012-09-06, n.a.v. ’n artikel van F. Thackeray in Nature)
die gebraaide ivoorkissie
die palatum voed die gekoekte grys murg
wat stil en afgeslote
dánksy die braai
ná die braai
ontwaak in sy bros ivoorkoepel
dié mooi grys groeisel wat alles wil oopwring
oopwrik oopwurg ooppeil
oopvlam met sy weerlig
met sy boorwortels oopbeur soos geboortes
begryp homself nie en moet nederig swig
voor die insig dat sy self dit nie self gemaak het nie
dit huisves alles
– ook wat verwronge en veragtelik is –
paulinies en sag
Drie
die mandator die wilde tirannieke derde oksel
“How is your sex life now?”
“Hush, man, most gladly indeed I am rid of it all, as though I had
escaped from a mad and savage master.” – Sofokles
nóg later word die derde
vlesige krag in die derde oksel wakker
beenloos maar met murg se sagte geweld
eiers en semen dring oorweldigend
die ivoorkissie binne
bedwelm die grys stof maak dit magteloos
verlam dit en skakel dit uit
maak al meer semen al meer eierstokke
al meer binnegoed wat snak na braai en bry
al meer dors en honger
en ongemerkte grafte
wat alle name en selfstandigheid uitwis . . .
in die verfynde versteekte kannibalisme eet
die een mens die brood uit sy broer
en suster se mond
die libido die hiperpotente mandator
maak bedelaars wat broodkorsies soek
in vulliskonkas
ribbes en skouerknoppe wat uitsteek
soos gebalde vuiste wat beskuldig
die skootwalm van mense hyg kop toe
Brueghel bestry Descartes en Kant
God kon ons nie sonder ons vleis klaarmaak nie
op die tafel van Rembrandt se stramien lê ons
binneste na buite omgedop
prof. Tulp maak ’n gesofistikeerde gebaar
met die só menslike vyfvoudige duim en wysvinger
om die Vlees te prys en homself
Pieter Brueghel – die wysgeer van die kwas –
begin anders as Descartes en Kant heel vóór
by die leb
het ons vulgêre krop dan nie oortuigende
bewyskrag nie
ek éét
dáárom is ek
hy skilder sy walg van ons feeste
van ons tand en tong
van ons gulsigheid en vraatsug
straks om daarvan te genees
draagbare reuse-skinkborde is swaar belaai
met vleispasteie en reënboog-nageregte
in die eindelose onbesliste swaar
Geveg tussen Karnaval en Lent
kerk en kroeg
vismark en varkhok
soma en pleroma
Van Gogh se uitgehongerde gulsige
aartappeleters bestry die dood in die pot
die geneesmiddels teen ipekonders
in die ingewande van Molière laat hom sterf
in sy spel op die verhoog van die teater
die ingewikkelde chemie van ons binnegoed
bou broodfabrieke bou paleise vir Herodes
en Versailles vir Lodewyk XIV
op die agtergrond is krotte en tronke vir misdadigers
vel om vleeslose skelette van eenvoudige
opregte armes
qu’ils mangent de la brioche
laat hulle wat nie kos het nie dan maar koek eet
his subjects didn’t have enough rice to eat
why don’t they eat meat?
die leb en sy bry onderhou gimnasiums
en skoonheidsalonne
stig hele stede en verplig ons om van toeka af
die landbou te pleeg
dit laat mense swig onder die gewig van hulle vet
varkgriep ’n knap kranige virus
wat die oorlewingskuns volmaak beoefen
kan ’n volk uit sy Machu Picchu
dryf en ineen laat stort
in Carcasonne red ’n vet speenvark ’n hele volk
die groot Geveg tussen Karnaval en Lent
ken geen vredesverdrag of gewapende stilstand nie
my ontstoke dink is ’n langsoorlewende
kokkerot wat sedert genesis skarrel na kos
die uiteinde
death is the price we pay for having sex – Robert Winston
die onsigbare krag in sy onhoorbare afsondering
in ons porseleindakkie
goddelik