Karnaval en lent. T.T. Cloete
getroetel
word die dupe van sy eie doepa wat hy brou
in opdrag van die genitalieë
’n selfmoord
deur die geweld van semen en ovum
testosteroon dopamien
estrogeen serotonien
’n paar sekondes flikker
sterre in ons oë dan stort ons oor in
la petite mort
terug aarde toe in ’n akute oksitosien
die chemie van seks
is vrylik en kosteloos beskikbaar gestel
ook aan die armstes van die armes
en maak van die armes ’n plaag
lastig knaag
die onromantiese ánder boelie
ook kranig bedenk
die leë gepynigde ingewande
God wou ons deur ons verhemelte
die smak van ons lippe vas aan sy aarde heg
die geniale semenvissie en die eier
waarmee Hy ons vertroulik toegerus het
vat ons sewende hemel toe
laat val ons op afvalhope in vulliskonkas
vol korsies brood
ons voer ’n skelet-en-vleesbestaan
agter die ploeg en planter aan
en in die tien vuilste smeulende stede wat ons ná
die migrasie uit Afrika dwarsoor die aarde gestig het
jy sal tot met uiteindelik ’n vermoeide penis
en uitgeholde eierstok jou brood verdien
jy sal werk en aanhoudend werk
tot jy moeg is werk in die sweet en aas
van jou genitalieë en anus
jy sal jou oor ’n mik
werk as jy van brood
van manna en kwartels
en die konfyt van die libido alleen lewe
die groot dood
die einde van ’n sinlose wrede bestaan
sal opdaag
op ’n volle maag
die nuwe teologie
ons gee mooi name aan
the feeding frenzy in search of a meal
ons wat dit beoefen noem onsself ekonome
noem dit ’n wetenskap
verbruikersteoloë waarsonder
die Khoesaan en Khoekhoen
nie eers woorde gehad het nie
so tussen hakies hoor ek gister oor die radio
ons God se prima primaat ons
maak ons blou albaster oorgewig
ook dié wat blote fok is
wat uitgedun is tot been en vel
krul van honger
hyg van dors
drink water vol cholera
– ’n skerpsinnig beplande gif –
en sterf
kán dié mense wolke van die Heilige sien
waarin die weerlig snags driedimensioneel
neon speel
wat kom en weer verdwyn in al die kleure
van die spektrum
kán hulle die potpourri-werklikheid waardeer
polei ruik
polfyntjies proe
die sonbesies hoor sing
dronk gedraai
dit maak my weerloos
dit vang my onkant
hoe het die Idiopaat
tussen dit wat heilig en suiwer is beland
i diere
die giro draai my dronk
om sy lewe te vier pronk
die springbok in die gras
sy speelveld wei
hy morsmors word sy kittels uitgeskei
op sy kos hy vreet
hom vas in die jagluiperd die sierlike
sagmoedige atleet se wrede
tande en maag
hoeveel tande
van meer as een baaskok
is in hierdie onverteerbare gehaspel
gebrou fraai spel atletiese agteropskop
sappige gras sierlike
jagter en jag
die prag
van die mooi dierlike
giro wat eindig in ’n doodsbleek
drollige walglike afrondsel
ii ek
ek eet en drink die aarde
ek lyf haar daardeur in
neem haar so in besit
ek bevestig my afhanklikheid van haar
ek maak jolyt van my ondergang
deur die smaaklike Boerekosresepte
ons groot trotse kultuurbesit
ons Boerewors ons biltong
pannekoek koeksisters
en afval
ek reinig my
en gee die giftige oorskot
– voor sy my heelhuids terugvat –
aan die aarde terug
iii die gemeenskap
die tafels van die ondernemende jakkalse
die slim smouse wat die kloot besit
en sorg vir handelsbalanse
van die global village van la dolce vita
sak holrug onder hulle vrag
ons vleis wat uit Texas kom
is gesout met die sout van Israel
ons piesangs kom uit Honduras
ons voer druiwe in uit Egipte
olywe uit Italië
en appelsap uit Singapoer
ons drink tee uit Sri Lanka
met suiker van Suid-Amerika
en sojamelk uit die Kameroen
ons rook ná ete sigare uit Holland en Kuba
alles in een multinasionale broederlike maaltyd
iv die verbruikersgemeenskap
die verbruikersgemeenskap word gevoed
met gemanipuleerde kosse
behendige artse stop ons voos gevrete tande
met goud deur ingenieurs uitgetonnel