Susanna M Lingua Gunstelinge 3. Susanna M Lingua
Oom At is twee weke gelede oorlede.
“H’m, nogal aandoenlik,” hoor sy haar pa sinies agter haar sê, “ek hoop jy is nou klaar sodat ons kan ry.”
Onderweg na Johannesburg is Tina stil en afgetrokke. Die wete dat sy Renier miskien nooit weer sal sien nie, dreig om haar keel te laat toetrek. Sy beeld is op die oomblik so duidelik in haar geheue dat sy byna sy lippe teen hare kan voel. Sy dink aan die paar oomblikke in sy arms toe hy vanoggend vir haar tot siens gesê het, en dan voel sy hoe haar oë vol trane skiet. Sy doen egter geen moeite om die trane af te vee nie. Sy verlang net om alleen te wees – alleen met haar gedagtes, haar herinneringe en hierdie groot pyn en verlange in haar hart.
Om eenuur hou haar pa op ’n plattelandse dorpie voor ’n hotel stil.
“Kom,” sê hy, “laat ons gaan kyk of ons hier iets kan eet.”
Tina skud haar kop en sê afgetrokke, sonder om eens na hom te kyk: “Ek voel nie honger nie, dankie.”
Haar pa kyk haar onthuts aan. “Wil jy nou op ’n hongerstaking gaan?”
“Ek wil net alleen wees,” antwoord sy kortaf.
Hy skakel die motor met ’n ongeduldige gebaar aan en sit die reis sonder meer voort, maar ’n uur later hou hy voor sy eie deur stil en draai na Tina.
“Ek wil jou ’n paar oomblikke in my studeerkamer spreek,” sê hy effens kil. “Daarna kan jy jou die res van die dag in jou kamer toesluit as jy wil.”
Sy klim uit die motor en stap in stilte saam met hom na sy studeerkamer toe. Sy kan nie help om te wonder wat hy nog op die hart het nie. Het hy dan nog nie genoeg ellende veroorsaak nie?
In die studeerkamer neem sy afgetrokke op ’n stoel plaas en wag dat haar pa moet begin praat. Haar donker oë wat deur die venster na die weelderige tuin staar, is dof van pyn, hartseer en verlange.
“Ek wil met jou praat oor jou en Renier, Tina,” hoor sy haar pa na ’n rukkie sê. “Van die briefie wat jy vanoggend vir hom geskryf het, het ek afgelei dat jy vanaand vir hom ’n lang brief wil skryf. Nou ja, ek keur dit glad nie goed dat jy met hom in aanraking wil kom nie. Wat daar te sê is, sal die prokureur vanaand vir hom sê.”
“Die prokureur?” Sy kyk hom ontsteld aan. “Wat presies gaan Pa se prokureur by Renier doen?”
“Toemaar, dit is nie nodig dat jy jou so ontstel nie,” sê hy. “My prokureur gaan vanaand met hom onderhandel oor die egskeiding . . .”
“Wel, ek gee nie ’n flenter om wat Pa sê nie. Ek gaan vanaand vir Renier skryf en hom van al Pa se dreigemente vertel. Daarna kan hy self besluit of hy van my wil skei of nie.”
“Nou goed, as jy koppig wil wees, kan ek dit ook wees,” sê hy. “Van hierdie oomblik af sit jy nie weer jou voet buitekant die hek nie, en ek sal ook al wat ’n telefoon hier in die huis is, buite jou bereik plaas. Moenie dink ek maak grappies nie, Tina. Die dag wanneer jy ’n voet buite die hek sit, sal ek persoonlik sorg dat jou geliefde Renier uit sy werk ontslaan word. Trouens, ek ken een van die Orion-staalfabriek se direkteure baie goed, en met geld kan ’n mens baie dinge vermag.”
Tina is wasbleek toe sy vinnig van die stoel af opstaan. Sy kyk haar pa deur ’n tranewaas aan en sê met ’n onvaste stem: “Ek het al agtergekom dat Pa hard en gevoelloos is, maar ek het nooit geweet dat Pa ook genadeloos en gewetenloos is nie.”
Voordat haar pa weer iets kan sê, vlug sy na die privaatheid van haar slaapkamer toe. Sy sluit die deur agter haar en val snikkend op haar bed neer.
Terwyl Tina haar hart uitsnik, bel Gerhardus Eksteen sy prokureur, wat in ’n hotel in Meyerstad tuis is. Na sy oproep ontbied hy al sy huishulpe, die tuinier inkluis. Hy reik ’n paar streng bevele aan hulle uit, klim dan in sy motor en ry na sy kantoor toe.
Van skone uitputting en vermoeienis raak Tina eindelik aan die slaap. Sy word eers wakker toe ’n huishulp met haar aandete aan die kamerdeur klop.
“Gaan weg en laat my met rus,” sê sy van die bed af.
Noudat sy wakker is, dwaal haar gedagtes weer na Renier wat op die oomblik alleen in hul woonstel is. Sy wonder of hy al geëet het, of het haar briefie hom ook sy eetlus ontneem soos wat haar pa se gevoelloosheid haar hare ontneem het?
Daar is weer ’n klop aan haar kamerdeur, en dan hoor sy haar pa sê: “Maak nou dadelik hierdie deur oop, Tina, voordat ek iemand ontbied om dit oop te breek.”
Sy staan traag op, sluit die deur oop en dan staan haar pa reg voor haar. Sy stem is laag en sag toe hy ongeduldig sê: “Luister nou mooi, Tina, ek weet nie watter soort spel jy probeer speel nie, maar ek het vandag al heeltemal genoeg onsin van jou verdra. Ek wil jou oor vyftien minute aan tafel sien, en ek wil geen verskonings hoor nie. Is dit duidelik?” Hy kyk haar streng aan.
“Ek weet nie waarom ek aan tafel moet sit as ek nie honger voel nie . . .”
“Omdat ék so sê en omdat jy vandag nog niks geëet het nie,” maak hy haar dadelik stil. “Ek kan jou seker nie belet om oor die vent te huil en te treur nie, maar ek gaan baie beslis nie toelaat dat jy jou gesondheid met ’n hongerstaking ondermyn nie. Ek verwag jou dus oor vyftien minute in die eetkamer.”
Na die ete gaan Tina onverwyld na haar kamer toe. Haar pa het haar nou wel ten strengste belet om met Renier in verbinding te tree, maar sy gaan nogtans vir hom ’n brief skryf. Sy weet net nie hoe sy die brief sonder haar pa se wete gepos sal kry nie. Maar daaroor gaan sy haar nie vanaand bekommer nie, sy sal wel môre ’n uitweg vind.
Tina wag ook net totdat sy haar pa se motor by die hek hoor uitry, toe neem sy haar skryfblok en pen en begin die beloofde brief aan Renier skryf.
Sy vertel hom van haar pa se aankoms by die woonstel en van sy dreigement om sy, Renier, se hele toekoms te ruïneer indien sy weier om terug te gaan huis toe, of dit sou waag om met hom, Renier, in verbinding te tree, en dat sy feitlik hier in haar ouerhuis gevange gehou word. Sy vertel hom dat haar pa nog steeds van plan is om Thys Joubert aan haar af te smeer . . .
Sy hoor haar pa se motor by die hek indraai en bêre die skryfblok haastig in een van die spieëltafel se laaie. As hy haar betrap dat sy vir Renier skryf, sal hy sy dreigement uitvoer en dan was al haar opofferings nutteloos.
Sy hoor sy voetstappe toe hy met die trap opstap, maar sy wag totdat hy sy kamerdeur agter hom toemaak; toe haal sy weer die skryfblok uit die laai en sluit haar brief af.
My liefde vir jou sal nooit sterf nie, Renier. Sodra ek mondig is, sal ek weer met jou trou as jy my nog wil hê. Maar dit is nog so lank voordat ek mondig is – ’n volle drie en ’n half jaar. Kan ’n mens hartseer en verlange so lank verduur en nog dieselfde mens bly?
O, Renier, ek verlang so ontsettend baie na jou. My hart voel of dit wil breek wanneer ek daaraan dink dat ek jou etlike jare nie sal sien nie. Ons was so volmaak gelukkig die afgelope drie weke, waarom moes hierdie ontsettende ding oor ons gekom het? Het ons twee dan nie ook ’n reg op geluk nie, of is geluk net vir sekere mense bedoel?
My lewe voel vanaand so leeg en doelloos, maar in die gees is ek by jou en my gedagtes sal altyd by jou wees. Moet my asseblief nie te hard oordeel nie. Wat ek vandag gedoen het, het ek gedoen om jou en jou toekoms te beskerm . . .
Dit is al ver oor elf toe Tina eindelik haar bedlamp afskakel. Sy het reeds besluit dat sy die tuinier sal vra om die brief vir haar te gaan pos.
In die donker lê sy aan Renier en dink, wonder sy of hy al slaap, of lê hy ook in die donker aan haar en dink? Vanoggend nog het sy in sy arms wakker geword, en nou lê sy alleen in haar bed, baie kilometers van hom af weg. Haar oë skiet vol trane, en met sagte snikke huil sy haar later aan die slaap.
Tina se oë voel dik en koorsig toe sy die volgende oggend aan die ontbyttafel verskyn. Sy sê vir haar pa en mevrou Alberts, die huishoudster, afgetrokke môre en begin lusteloos aan haar ontbyt peusel.
Die stilte wat om die tafel heers, is byna tasbaar. Tina wip byna soos sy skrik toe haar pa skielik