Susanna M Lingua Gunstelinge 3. Susanna M Lingua
woorde kom daar weer in ’n mate berusting in Tina se seer gemoed. Sy weet dat sy Renier nooit sal vergeet nie, dat haar verlange na hom altyd lewend sal bly, al het hy haar vergeet en al wil hy niks met haar te doen hê nie. Op die oomblik het sy darem die vooruitsig dat sy oor vyf maande haar en Renier se kindjie in haar arms sal kan hou, ’n lewende skakeltjie tussen haar en die man wat sy met haar hele wese bemin.
Tina plaas haar hand dankbaar oor Rita s’n wat stil in haar skoot rus, en gee dit ’n ligte drukkie.
“Dankie vir jou bemoedigende woorde, tannie Rita,” sê sy sag. “Ek is nou baie bly dat ek jou alles van my en my pa en Renier vertel het. Jy is die enigste mens met wie ek nog ooit hieroor gepraat het. In elk geval, jy het my nou weer moed gegee om ’n toekoms saam met my kindjie te bou . . .”
Hettie kom die sitkamer binne en sê dat haar skooltaak afgehandel is. Sy neem langs Tina plaas en kyk belangstellend na die illustrasie van die bababaadjie op die breiboek se buiteblad.
“O, tannie kan mooi brei,” sê sy met kinderlike eerlikheid. “Het tannie ’n babatjie?”
Dit is Rita wat verduidelik dat Tina nog nie kinders het nie, dat sy wel oor vyf maande ’n baba sal hê. Hierdie nuus laat Hettie dadelik opgewonde voel, want sy het al so dikwels gewens dat haar ma ook ’n baba moet hê soos die ander kinders se ma’s. Sy bied ook sommer dadelik aan om na die baba te kyk wanneer Tina besig is.
’n Ander gedagte tref Hettie. Sy kyk Tina met ’n stralende glimlag aan en sê opgewonde: “Ek verjaar oor vyf maande, dan is ek elf jaar oud. Dit sal wonderlik wees as ek en tannie se baba op dieselfde dag verjaar.”
Van hierdie oomblik af kan Hettie nie uitgepraat raak oor die verwagte baba nie. Vir haar voel dit asof ’n goeie engel die tannie na hul huis toe gelei het. Dis net jammer dat daar altyd so ’n hartseer uitdrukking in die tannie se mooi, donker oë is.
Die volgende vyf maande deel Tina in die weduwee en haar dogter se vreugde en kommer. Sy help Rita waar sy kan, veral met die voorbereiding van maaltye, en smiddags help sy Hettie weer met haar skoolwerk.
Sy en Hettie neem dikwels lang wandelings na die berg se kant toe. Ander tye stap hulle sommer net in die veld rond op soek na ’n velddiertjie wat Hettie kan afneem. Tina geniet hierdie uitstappies saam met die lewenslustige Hettie, want dit laat haar tydelik haar hartseer en verlange vergeet.
Die winter is lank en koud hier op Doringdal, maar ook daaraan kom geleidelik ’n einde. Vir Tina voel dit of die lente sommer net oornag sy verskyning gemaak het. Gister was dit nog stil hier op die dorpie, en vandag is die meeste inwoners besig om blombeddings om te spit, te plant en te saai. Hierdie dinge het Tina nooit by haar ouerhuis opgemerk nie, want hul tuin is gewoonlik winter en somer in blom, en die tuinier is ook die hele jaar besig.
“Wie gaan jou blombeddings omspit, tannie Rita?” vra Tina, hier waar sy en die ouer vrou tydsaam in die rigting van die winkels stap om vir Hettie ’n verjaardaggeskenk te koop.
“Ek en Hettie doen dit gewoonlik self,” vertel Rita.
Hulle gesels oor blomme en tuine, en eindelik bereik hulle die winkels. Tina stel voor dat hulle eers by die apteek aandoen, want dit is die enigste plek waar sy vir Hettie ’n goeie kamera en ’n kleurfilm te koop sal kry.
Rita maak dadelik beswaar toe sy die prys van die kamera verneem, maar Tina verduidelik dat sy graag vir Hettie iets wil gee wat sy baie jare sal kan gebruik. Daarom moet dit ’n goeie kamera wees.
Daardie aand, terwyl hulle in die kombuis voor die stoof sit, kan Hettie nie haar opgewondenheid bedwing omdat dit môre haar elfde verjaardag is nie.
“Dis net vreeslik jammer dat tannie Tina se baba nie ook môre my verjaardag kan vier nie,” sê sy later. “Ek het so gewens dat ons twee elke jaar op dieselfde dag moet verjaar.”
“Toemaar wat, die baba sal nou wel nie jou verjaardag kan help vier nie, maar as jy môreoggend na my kamer toe kom, sal ek vir jou ’n geskenkie gee wat jou hart net so bly sal maak,” troos Tina.
“O, maar die baba kan straks nog môre sy opwagting maak, en dan verjaar julle nog saam,” herinner Rita haar dogter.
“Ag, maar dit sal wonderlik wees!” roep Hettie vrolik uit. “Om te dink dat ons ook ’n ou babatjie in die huis gaan hê! Ek kan nie meer wag om die ou dingetjie te sien nie, tannie Tina.”
“Dit maak twee van ons, Hettie, want ook ek kan nie meer wag om my baba in my arms te hou nie. En as hy soos sy pappa lyk, sal hy die mooiste baba in die wêreld wees.”
Die volgende oggend is Hettie sommer vroeg uit die bed. Met haar kamerjas aan, gaan maak sy eers vir Tina ’n koppie koffie en neem dit vir haar kamer toe.
“H’m,” sê Tina vriendelik toe sy die koffie by Hettie neem, “party mense verjaar vandag, nè?” Sy wens die kind hartlik geluk, hou haar mond uit vir ’n soen en vervolg glimlaggend: “Jou geskenkie is in die boonste laai van die spieëltafel, my hartjie.”
Hettie is so bly en opgewonde oor die pragtige kamera dat sy eintlik uitasem is toe sy Tina bedank.
“Daar is ’n kleurfilm in jou kamera, en alles is gereed om die eerste foto te neem,” sê Tina. “Wat gaan jy eerste afneem?”
“Vir jou, tannie Tina,” sê Hettie met ’n breë glimlag. “Ek wil ’n mooi kleurfoto van jou hê wat ek vir altyd kan hou en waarna ek altyd kan kyk. Wanneer ek eendag getroud is, sal ek die foto vir my kinders wys en hulle vertel van die liewe tannie wat vir my so ’n duur kamera gegee het.”
“Wel, in daardie geval mag ek seker nie weier dat jy ’n foto van my neem nie, Hettie . . .”
Na die ontbyt kan dit nie hoër of laer nie, Tina moet langs die ou peerboom agter die huis gaan staan sodat Hettie ’n foto van haar kan neem . . . en dit is hier langs die ou peerboom dat Tina die eerste kraampyne ondervind.
Nadat sy Tina se foto geneem het, besluit Hettie dat die bure se kinders darem ook haar pragtige kamera moet sien.
Tina gaan egter haastig kombuis toe waar Rita besig is om die tafel vir ontbyt te dek.
“Tannie Rita,” sê sy effens senuweeagtig, “die vroedvrou, mevrou Pelser, het gesê ek moet haar sonder versuim laat weet wanneer ek pyne in my rug begin kry, en ek . . . wel, ek weet nie of dit die pyne is waarvan sy gepraat het nie, maar . . .”
“Ek sal mevrou Pelser gou van die kafee af gaan bel,” bied Rita aan. “Ek sal nie lank weg wees nie, Tina.”
Rita is pas terug van die kafee af, toe hou die middeljarige mevrou Pelser se motortjie voor die deur stil. Na ’n deeglike ondersoek kondig sy aan dat Tina haar baba so na vanaand se kant toe kan verwag.
“Ek sal maar eers jou pa gaan bel om die goeie nuus aan hom oor te dra, dan sal ek na die middagete weer kom kyk hoe dit gaan, mevrou Dreyer,” belowe die vroedvrou. Hierna sê sy tot siens en vertrek.
“Kom sit, Tina, dan skink ek vir jou ’n koppie tee,” nooi Rita toe Tina die kombuis binnestap. “Wat sê mevrou Pelser, sal dit gou wees?”
Tina trek vir haar ’n stoel onder die tafel uit en neem plaas. Sy kyk Rita met ’n glimlaggie aan en antwoord ingenome: “Sy sê ek kan my baba so na vanaand se kant toe verwag, tannie Rita. Is dit nie wonderlik nie? Ek sal my kindjie vanaand in my arms kan hou, en dan sal ek hom al die wonderlike drome vertel wat ek die afgelope nege maande om hom geweef het. O, ek weet sommer hy sal net soos sy pappa lyk . . .”
Hettie kom die kombuis binne en vra nuuskierig: “Wat het tannie Pelser hier kom maak, Mammie?”
“Sy het jou tannie Tina kom besoek,” lig haar ma haar in. “En raai wat? Sy sê tannie Tina kan haar baba vanaand verwag, op jou verjaardag. Maar jy moenie dit nou al vir die bure gaan vertel nie, my hartjie. Wag tot môre wanneer die ou dingetjie in sy mammie se arm lê.”
“O, maar dit is wonderlik!” Hettie klap haar hande van opgewondenheid. “Sal ek die baba kan sien voordat ek vanaand gaan slaap, Mammie?”
“Ek