Susanna M Lingua Gunstelinge 3. Susanna M Lingua
Die res van die oggend verwyl Tina in die kombuis by Rita waar sy middagete voorberei. Sy is stil en afgetrokke, want vanmôre verlang sy weer oneindig baie na Renier. As hy tog maar net vandag by haar kon wees, net saam met haar kon wees wanneer sy vanaand die lewe aan hul kindjie skenk. Hulle was drie weke lank so wonderlik gelukkig bymekaar, en noudat sy hom so bitter nodig het, staan sy heeltemal alleen.
As hy net betyds my brief beantwoord het, dink sy weemoedig. Maar wat help dit tog om nou weer daaraan te dink? Ek moet liewer die feit aanvaar dat hy my nie werklik liefgehad het nie, daarom dat hy nie eens moeite wou doen om my brief te beantwoord nie . . . Ja, ek moet ophou om na ’n droom te verlang en liewer die werklikheid aanvaar. My kindjie en sy toekoms is die werklikheid, my huwelik net ’n droom wat in die niet verdwyn het.
Tina bly bewus van die pyn wat kom en gaan. Na die middagete kom die vroedvrou weer. Sy ondersoek haar en sê dat sy haar pa vanaand kan verwag. Sy stel voor dat Tina ’n paar uur lank moet rus sodat sy haar kragte kan spaar vir die groot oomblik wat voorlê. Hierna vertrek sy weer.
Tina het die hele middag rustig geslaap, totdat die pyn haar om sesuur wakker gemaak het. En hier waar sy nou besig is om die nodige kleertjies vir haar baba uit die laai te haal, oorval ’n martelende pyn haar wat haar haastig na haar rug laat gryp.
Sy stuur ’n kort gebedjie na bo en is nog besig om haar rug vas te hou, toe die vroedvrou die kamer binnestap.
“Jou pa het pas hier aangekom, mevrou Dreyer,” sê die vroedvrou toe die pyn eindelik bedaar. “Ek dink ons moet hom maar eers toelaat om jou te groet, want die dokter sal ook aanstons hier wees om jou te ondersoek.”
Gerhardus Eksteen druk sy dogter saggies teen sy bors vas toe hy haar soen. Sy blik vee oor haar moeë gesiggie, toe vra hy sag: “Was jou huwelik werklik al hierdie pyn en ellende werd wat jy nou moet deurmaak, Tinatjie?”
“Ek sal my lewe vir Renier en vir ons kindjie gee. En al was ons huwelik van so ’n korte duur, regverdig dit alles wat ek nou moet deurmaak . . .”
’n Vlaag van pyn oorval haar, en die vroedvrou versoek Gerhardus om liewer te gaan.
Toe die dokter se motor voor die deur stilhou, loop Gerhardus hom haastig tegemoet, en hulle gesels ’n rukkie baie ernstig met mekaar. Dokter Serfontein is bitter omgekrap toe hy Tina se kamer binnestap. Hy ondersoek sy pasiënt, en dan neem die gang van die natuur so ’n vinnige tempo aan dat Tina net bewus is van die pyn waarin sy verkeer.
Dit is byna tienuur toe die skril stemmetjie van haar pasgebore kindjie opklink en sy die dokter hoor sê: “H’m, ’n fris en gesonde seun. Ek skat hy weeg niks minder as vier kilogram nie.”
Blydskap en verligting spoel soos ’n golf oor haar, en van skone uitputting raak sy dadelik aan die slaap.
Nadat dokter Serfontein se taak afgehandel is, dien hy Tina ’n ligte inspuiting toe om te verseker dat sy ’n goeie nagrus geniet. Hierna gaan praat hy weer met Gerhardus Eksteen.
Hy skud sy kop. “Ek is jammer, meneer Eksteen, maar ek beskou myself nie as God wat oor die wel en wee van ander besluit nie. Ek wil inderdaad niks met die hele aangeleentheid te doen hê nie. En onthou net dit: die leed wat jy ander aandoen, kom later op jou eie kop neer. Die een of ander tyd moet ’n mens verantwoording doen vir jou dade . . . Goeienag, meneer Eksteen!”
Nadat die vroedvrou se take afgehandel is en ma en baba albei rustig slaap, ontbied Gerhardus haar na die sitkamer waar hulle privaat kan gesels. Hy vind háár meer ontvanklik vir sy voorstel as wat die dokter was, en dit gee hom die vrymoedigheid om openlik met haar te praat.
Na hul gesprek keer die vroedvrou terug na Tina se kamer, en ’n halfuur later vertrek sy saam met Gerhardus Eksteen.
Toe Rita die motor hoor vertrek, sit sy haar naaldwerk sorgvuldig weg. Sy sluit die voordeur en loer vlugtig by Tina se kamer in om seker te maak dat sy nog slaap. Toe, meteens, tref dit haar dat die baba se wiegie nie meer op die stoel langs die bed staan nie. Sy trek die laaie saggies oop waarin Tina die baba se klere gepak het en dan word sy doodsbleek. Sy het aanvanklik gedink dat die vroedvrou die baba saam met haar geneem het omdat Tina ’n inspuiting gekry het om te slaap en dus nie sal hoor as die baba vannag huil nie. Maar ook die laaie is leeg en die een groot tas is weg.
Rita se blik dwaal na die slapende Tina, en dan voel sy hoe die trane oor haar wange begin stroom, trane van medelye vir hierdie jong vrou en ma wat reeds so baie hartseer verduur het.
Daardie aand huil Rita haar aan die slaap, want sy het lief geword vir Tina met die weemoedige glimlaggie en die uitdrukking van hartseer in haar oë. Sy weet ook dat dit Hettie se hart sal breek wanneer sy môre hoor dat die baba gedurende die nag van sy ma af weggeneem is.
Toe Tina die volgende oggend wakker word, sit haar pa stil en ontspanne op ’n gemaklike leunstoel langs haar bed. Die vroedvrou kom die kamer binne met twee koppies koffie op ’n skinkbord.
“Lekker geslaap, Tina?” vra haar pa.
“Soos ’n klip . . .”
“Ek was net van plan om jou met ’n koppie koffie wakker te maak, mevrou Dreyer,” praat die vroedvrou tussenin voordat Tina die vraag kan vra wat hulle weet sy brand om te vra. “Die dokter sal aanstons hier wees om te kyk hoe dit vanoggend met jou gaan –”
“Mevrou Pelser, vergeet asseblief die dokter en bring my kind vir my,” val Tina haar ongeduldig in die rede.
“Drink eers jou koffie, mevrou Dreyer . . .”
“Die koffie kan wag, ek wil nou my kind sien,” dring Tina ernstig aan. “Hy het gisteraand al sy verskyning gemaak, en ek het hom nog nie eens gesien nie.” Sy kyk in die kamer rond, maar sien nie ’n teken van haar baba of die wiegie nie. “Waar is my kind, mevrou Pelser?”
Nie een van die drie in die kamer merk op dat dokter Serfontein in die deur staan nie.
“Ek vrees jy kan nie jou kind sien nie, mevroutjie,” sê die vroedvrou nou duidelik senuweeagtig. “Jou kindjie is . . . is . . . doodgebore . . .”
“Dis ’n leuen!” roep sy bleek van ontsteltenis uit. “Ek het my kindjie pas na sy geboorte hoor huil, en ek het ook gehoor toe dokter Serfontein gesê het dat hy ’n fris en ’n gesonde seun is en niks minder as vier kilogram behoort te weeg nie. Waar is my kind? Wat het jy en my pa met hom gemaak?”
“Ek dink die tyd het aangebreek dat julle my pasiënt die waarheid vertel,” sê dokter Serfontein meteens. Hy stap die vertrek binne en gaan langs Tina staan. Hy kyk Gerhardus en die vroedvrou beurtelings aan en vervolg dan met ’n kil stem: “Onthou net een ding – ek hou julle verantwoordelik vir alles wat met my pasiënt gebeur.”
Daar is eindelose verwyt in Tina se donker oë toe sy haar pa aankyk en met ’n onvaste stem vra: “Waar is my kind?”
“Tina, my kind, jy is nog te jonk om nou al met die verantwoordelikheid van ’n kind belas te word. Jou hele lewe lê nog voor . . .”
“As jy my nie nou dadelik sê waar my kind is nie, sal ek uit hierdie bed uit opstaan en hom self gaan soek,” dreig sy. Haar gelaat is nou wasbleek en dit lyk of sy enige oomblik gaan flou word.
“Ek het jou kind gisteraand na ’n inrigting toe geneem waar hulle vir hom geskikte ouers sal vind . . .” begin Gerhardus. Toe voel Tina meteens hoe iets in haar breek.
“Jy . . . jy het my kind soos ’n klein hondjie weggegee!” roep sy geskok en gebroke uit. “O, ek haat jou! Ek haat jou met ’n wrewelrige haat! Eers het jy my lewe geknak toe jy my huwelik vernietig het, maar nou het jy dit finaal gebreek. Gaan weg van my af, ek wil jou nooit weer sien nie. Van hierdie oomblik af erken ek jou nie meer as my pa nie . . .” Toe sink sy in ’n diep beswyming weg.
Daar is ’n blik van veragting in die dokter se oë toe hy met ’n effens kil stem sê: “Jy kan nie sê dat ek jou nie gewaarsku het nie, meneer Eksteen. Ek wonder of jy besef dat jy vandag hierdie jong vroutjie se gees gebreek het en haar vertroue in jou vir altyd vernietig het?”
“Ek