Susanna M Lingua Gunstelinge 3. Susanna M Lingua
soveel as al my vingers . . . Kan ek nie saam met jou gaan nie?”
“Nee, my skat, jy kan nie. Die skool sluit eers elf dae na my vertrek, en jou onderwyseres sal jou nooit so lank voor die tyd laat gaan nie. Trouens, sy mag nie, want dit is nou eksamentyd. En as jy nie hierdie halfjaarlikse eksamen skryf nie, sal jy nooit die einde van die jaar oorgaan na graad vier toe nie.”
“Jy het nog nooit weggegaan nie, tannie Tina, hoekom wil jy nou weggaan?” vra hy weer na ’n rukkie.
“Omdat ek nie so ryk soos jou pappa is nie, ou grootman. Ek kan net met vakansie gaan na plekke toe waar ek nie nodig het om losies te betaal nie, en nou het my tante my genooi om by haar op die plaas te kom kuier,” verduidelik sy.
Hulle bereik die woonstelgebou, en soos gewoonlik nooi sy hom vir ’n koppie tee. Hulle praat nie weer oor haar vertrek nie, en pas voor sononder sê hy dat hy sal moet gaan.
Tina het pas die volgende oggend by haar kantoor aangekom, toe Walter sy verskyning in die vertrek maak.
Hy bespreek ’n paar sake met haar en sê dan: “Die oubaas se prokureur het my gisteraand gebel om te sê dat sy vrou hom opdrag gegee het om die fabriek te verkoop. Van volgende week af sal ons dus oorval word deur aspirantkopers wat die plek sal wil besigtig. Jy kan bly wees dat jy Saterdag vertrek en nie hier sal wees om deur die spul lastig geval te word nie . . . Ek bedoel nou, met vrae en sulke dinge.”
“Ek sou jou nogtans wou bystaan, Walter, maar alles is reeds vir my vertrek gereël. Ek moet nog net inpak, maar dit doen ek Saterdagoggend. Maar wat ek wou sê . . . die fabriek sal stellig al verkoop wees wanneer ek terugkom, of hoe?”
“Dis moontlik, en vir jou onthalwe hoop ek dat die nuwe eienaar ’n aangename kêrel sal wees om mee saam te werk. Ek glo daaraan dat ’n mens se personeel gelukkig in hul werk moet wees. Trouens, dit was ook oubaas Meiring se leuse. Maar wag, ek moet nou gaan. Sien jou weer later, ou kinta.”
’n Groot aantal van die personeel woon die oubaas se begrafnis die volgende middag by. Dit is egter so laat toe hulle van die begraafplaas af terugkom dat Tina nie teruggaan kantoor toe nie.
Sy is so diep ingedagte toe sy deur die dorp stap, sy ruk eintlik soos sy skrik toe Kobus Liebenberg skielik langs haar praat.
“Waarom loop jy woonstel toe, Tina? Was jy dan nie saam met jou swaer en suster by die begrafnis nie?”
“Ja, ek was, maar Walter moes teruggaan kantoor toe, en ek is gewoond daaraan om te stap. Ek loop tog elke dag werk toe en terug,” verduidelik sy bedaard.
“As jy my sal toelaat, sal ek jou gou woonstel toe neem, Tina. My motor staan net hier om die hoek,” sê hy hoopvol.
Maar Tina skud haar kop. “Ek sal liewer stap, Kobus. Dankie in elk geval vir jou vriendelike aanbod. Ian wag elke middag vir my op die hoek van die straat, daar naby die woonstelgebou, en soms kom hy my ’n entjie van die hoek af tegemoet. Ek wil hom nie graag misloop nie, want dit is al ’n instelling dat hy daar vir my wag.”
“Ja-nee, jy kan die kind nie teleurstel deur hom verniet in die koue vir jou te laat wag nie,” glimlag hy goedig. “Weet jy, ek is oortuig daarvan dat Ian meer geheg is aan jou as aan sy pleegouers.”
“Wel, ek sal dit nie sê nie,” weerspreek sy hom. “My suster het baie sosiale verpligtinge wat sy moet nakom, en om daardie rede soek Ian maar altyd my geselskap op. Ek stry nie, hy is baie geheg aan my en ek het ’n baie teer gevoel vir hom. Maar ek sal nie sê dat hy meer geheg is aan my as aan my suster nie.”
“O, nou goed, ek sal nie met jou stry nie, ou kleintjie . . . Dan sê ek maar tot siens.”
“Tot siens, Kobus!”
Soos gewoonlik, wag Ian reeds op die hoek van die straat toe Tina daar aankom. Sy seunsgesiggie helder dadelik op toe hy haar sien. Hy bied haar sy koue lippies aan en plaas sy handjie vertroulik in hare.
“Het jy na my verlang, ou grootman?” vra sy. Haar donker blik streel oor sy mooi seunsgesiggie en kyk vas in sy lewendige blou oë.
“Ek verlang elke dag na jou, tannie Tina,” bieg hy. “Hoekom kan ek nie by jou bly nie, hè?”
“En wat van jou mamma en pappa, hulle sal mos baie na jou verlang, my skapie!”
“Die kinders by die skool sê hulle is nie my regte mamma en pappa nie,” sê hy effens gelate. “Hulle sê ek het nie ’n mamma en ’n pappa nie.”
Tina plaas haar arm liefdevol om sy skouertjies en druk hom saggies teen haar vas. Op hierdie oomblik bloei haar hart vir hom . . . Ja, ook vir haar eie seuntjie wat moontlik dieselfde uittarting van sy skoolmaats verduur.
Ag, Vader, laat daar tog iemand wees wat my kindjie kan troos en bemoedig, bid sy saggies, maar sê hardop: “Daar is nie een kindjie in die wêreld wat nie ’n regte mamma en ’n pappa het nie, my skat; almal het ’n regte mamma en ’n pappa. Dis net . . . wel, soms gaan ’n mens se mamma en pappa dood, en dan neem ander mense jou omdat hulle jou liefhet en graag wil hê jy moet hul seuntjie wees . . . Jou mamma en pappa het jou baie lief, weet jy?”
Ian antwoord nie hierop nie, en na ’n rukkie sê hy opgewonde: “Mamma het gesê dis môre Vrydag en ek kan by jou kom slaap, tannie Tina. Gaan ons weer slangetjies en leertjies speel?”
“O ja, en jy gaan natuurlik weer lekker lag as die ou groot slang my insluk, nè?”
Ian se blou oë straal al weer van pret en plesier toe hulle die woonstelgebou bereik.
Die volgende dag het Tina dit baie druk op kantoor. Haar verlof begin môre, en sy wil graag vandag alles in orde bring sodat Walter nie in haar afwesigheid hoef te sukkel nie. Maar sy is tog bly toe dit eindelik tyd is vir haar om huis toe te gaan, want die dag was lank, koud en bedrywig. Sy sien uit na die stilte van haar woonstel, waar sy heerlik kan ontspan en aan haar vakansie kan dink.
’n Yskoue wind waai teen haar gesig, hier waar sy deur die dorp stap. Sy dink aan Ian wat elke middag in die koue vir haar wag, die blydskap op sy gesiggie wanneer hy haar sien . . . Dis waar, sy sal hom baie mis wanneer sy op die plaas is. Hy het so ’n teer plekkie in haar hart ingeneem. Dis asof hy gestuur is om vir die gemis aan haar eie kindjie te vergoed.
Sy is egter nie verbaas toe sy Ian nie op die gewone plek aantref nie. Sy weet dat Santi hom eers sal laat bad en eet voordat sy hom na die woonstel toe sal laat kom om daar te slaap.
Tina het pas aandete genuttig, toe Walter en Santi met Ian daar opdaag. Hy is reeds in sy slaapklere en ’n warm winterjas geklee. Hy groet haar so hartlik asof hy haar weke laas gesien het en wil dan sommer ook dadelik weet of sy na hom verlang het.
“Natuurlik het ek na jou verlang, asjas,” verseker sy hom en neem op die rusbank plaas. Hy krul hom langs haar op, gelukkig en tevrede toe sy haar arm om sy skouertjies plaas en hom teen haar vashou. Walter kyk hulle met ’n sagte blik aan, Santi met ’n geslote blik, en selfs in haar wildste drome sal Tina nooit kan raai wat op hierdie oomblik deur haar swaer en suster se gedagtes gaan nie.
Walter en Santi vertoef egter nie lank nie. Met die belofte dat hulle haar môreoggend stasie toe sal neem, groet en vertrek hulle.
Soos gewoonlik wanneer Ian in die woonstel oornag, verwyl hy en Tina die aand met speletjies. Daarna maak hy vir hulle tee, terwyl sy die kampbedjie in die balkonvertrek vir hom opmaak.
Later, in die bed, lê Tina weer lank aan die verlede en dink. Sy het tante Louise met haar pa se begrafnis laas gesien, en dit is meer as agt jaar gelede. Sy was so verbaas toe sy haar uitnodiging ontvang het, want na oom At se dood het sy hul huis verkoop en nooit weer iets van haar laat hoor nie . . . En nou woon sy op ’n plaas in die Laeveld.
Ian maak Tina die volgende oggend met ’n koppie koffie wakker wat te min melk en te veel suiker in het. Maar hy is nog so jonk en so gewillig dat sy nie die hart het om hom daarop te wys nie. Gevolglik drink sy maar die koffie en sê dit smaak baie lekker.
“Ek wens ek kan vir altyd by jou bly, tannie Tina,” sê hy en kom sit langs haar op die rusbank wat snags