Susanna M Lingua Gunstelinge 3. Susanna M Lingua
Tina beleef. “Kan jy my asseblief meneer Dreyer, een van jul ingenieurs, se adres en kontaknommer gee?”
“Meneer Dreyer werk die afgelope jaar nie meer hier nie,” hoor sy die stem in haar oor sê. “Hy het bedank, en ek weet regtig nie waar hy nou werk nie. Hy het iets gepraat van ’n aanbod wat hy ontvang het met beter vooruitsigte.”
Tina sê dankie en lui af.
Santi is effens bleek van onrus en afwagting toe Tina haar verskyning in die sitkamer maak.
“Het jy toe vasgestel waar Renier woon?” vra sy.
Tina skud haar kop. “Die vrou in die kantoor sê hy het ’n jaar gelede al bedank en hom elders gaan vestig. Ek het dus geen hoop om hom of my kindjie ooit weer te sien nie. Ek het hulle albei nou vir altyd verloor.”
“Ek dink dit is beter dat jy die onvermydelike aanvaar, Tina,” sê Walter. “Jy sal in elk geval nie nou vir ’n baba kan sorg nie, want jy sal moet gaan werk om in jou eie behoeftes te voorsien.”
Tina antwoord nie hierop nie, en na ’n rukkie word hulle met namiddagkoffie bedien.
Die begrafnis is vir tienuur gereël. Tina is geensins verbaas omdat daar so min mense is nie. ’n Verslaggewer se kamera flits op haar, Santi en Walter, en sy vererg haar terstond vir die kêrel se voorbarigheid. Haar pa was nou wel nie ’n engel nie, maar hy het met sy lewe betaal vir al sy dwalinge en sy sien ook geen sensasie in sy begrafnis nie. Sy wens die kêrel wil liewer padgee met sy kamera as hy hom dan nie stigtelik kan gedra nie.
Tina is bly toe hulle eindelik weer tuis is, want almal om die graf het haar vreemd aangekyk omdat sy nie ’n enkele traan gestort het nie. Haar hart voel nog te rou en seer oor die verlies van haar kindjie om nou trane oor haar pa te stort. Miskien sal sy hom later mis en oor hom huil – later wanneer daar berusting in haar hart en in haar gemoed gekom het.
Na die middagete pak sy haar persoonlike besittings in terwyl Santi en Walter haar pa se klere inpak. Nou, vir die eerste keer, dring dit werklik tot haar deur dat sy met ’n nuwe lewe op Groenbaai sal begin, die lewe van ’n werkende meisie wat net ’n salaris sal hê om in al haar behoeftes te voorsien en dat sy vir daardie salaris sal moet werk.
Hierdie gedagte skrik haar nie af nie. Sy was nooit ’n verwende rykmansdogter nie. Haar ma het vir haar en Santi geleer dat ’n mens die dinge waarvoor jy hard gewerk het, gewoonlik meer waardeer, en dat dit geestelik sowel as liggaamlik gesond is vir ’n mens om te werk.
Sy neem haar en Renier se huweliksfoto uit die laai, kyk lank na sy dierbare gesig en pak dit dan versigtig tussen haar klere in. Haar hand gaan werktuiglik na haar trouring wat sy deesdae aan ’n goue kettinkie om haar nek dra. Haar huweliksfoto en haar trouring sal altyd haar kosbaarste besitting bly, want dit is die dinge wat haar nog altyd na aan Renier laat voel.
Haar gedagtes kring nou om Renier, en sy dink aan die dinge wat kon gewees het. Hulle kon so ’n gelukkige gesinnetjie gewees het as . . . Sy sug weemoedig.
Dit sal my hoegenaamd niks baat om langer aan die verlede te dink nie, bestraf sy haar. Wyle oom At het altyd gesê as is verbrande hout. My lewe is ook net ’n hopie vaal, koue assies, die oorblyfsels van gister se warm, koesterende vuur van liefde en verwagtinge.
Tina is nog besig met inpak, toe Santi haar by haar aansluit en op die voetenent van die bed gaan sit.
“Jy lyk hartseer, Tina,” sê Santi simpatiek. “Is dit omdat jy hierdie huis nou vir goed moet verlaat?”
Tina skud haar kop, haal haar huweliksfoto uit die tas en hou dit na Santi uit.
“Dis my huweliksfoto,” sê sy. “Renier se hare is die kleur van goud en sy oë is byna viooltjieblou.”
Santi kyk ’n lang ruk na die man op die foto en sê dan baie versigtig: “As dit jou so hartseer stem om na sy foto te kyk, waarom vernietig jy nie die foto nie, Tina?”
“Ek sal dit seker eendag doen, ousus. Op die oomblik maak dit nog te seer om van daardie foto afskeid te neem. Dit is die enigste foto wat ek van Renier het, en een van my kosbaarste besittings.”
Tina pak die foto weer tussen haar klere in, sodat dit nie beskadig kan word nie, en sit dan weer die inpakkery voort. Na ’n rukkie kyk sy moedeloos na die hoop klere wat nog ingepak moet word. Sy het reeds vier yslike groot tasse vol gepak.
“Ek weet eerlikwaar nie waarin jy al daardie goed gaan pak nie, Tinatjie,” hoor sy Santi sê.
“Ek weet ook nie,” kom dit ietwat verwese. “Maar ek waarsku jou sommer nou – as ek nie nog twee tasse in die hande kry nie, gaan ek alles net so in die deken toevou en dit agter in Walter se motor sit.”
“Wel, ek moet sê, jy sal ’n baie lang tyd nie nodig hê om iets te koop nie, kleinsus.”
“Dis juis om daardie rede dat ek alles saamneem,” sê Tina. “Al is ek op die oomblik arm, wil ek darem netjies en ordentlik geklee werk toe gaan.”
Die son hang reeds in die weste toe Tina eindelik die laaste tas toeknip. Sy weet nie hoe Walter al haar bagasie in sy motor sal kry nie. Die helfte sal bepaald per spoor vervoer moet word.
Tina was egter verkeerd, want toe hulle die volgende oggend gereed is om te vertrek, merk sy dat al haar bagasie in die motor is. Sy het reeds van die huis en van die tuine afskeid geneem toe Walter die voordeur sluit.
Dis eienaardig, dink sy, hier waar sy met die stoeptreetjies afklim, maar aan alles kom daar ’n einde. Vandat ek myself ken, woon ons al in hierdie huis. As dogtertjie het ek in hierdie tuin gespeel, hier grootgeword, en nou het daar ook ’n einde aan gekom. Voortaan sal die plek nie meer aan die Eksteens behoort nie . . .
“As jy gereed is, Tina, kan ons maar gaan,” hoor sy Walter agter haar sê.
Sy werp ’n laaste blik oor die tuin, dan klim sy in die motor, en na ’n rukkie ry hulle by die groot hek uit, weg van die plek af waar sy lief en leed in oormaat geken het.
6
Onderweg na Groenbaai wonder Tina waarom Walter so haastig was om huis toe te gaan. Hy het Santi nie eens kans gegee om Johannesburg se winkels te besoek nie, maar dan val dit haar by dat hy die bestuurder by die Unika-staalfabriek is en dus nie lank van sy kantoor af kan wegbly nie.
Hulle kom pas voor sononder in Groenbaai aan. Walter ry al met die strand langs en hou eindelik voor ’n nuwe tweeverdiepinghuis stil.
“Ek het nie geweet dat julle verhuis het nie,” sê Tina verras.
“Ons het hierdie plek al ’n jaar gelede gekoop,” lig Walter haar in. “Santi wou nader aan die strand woon, en ek moet sê ons het ’n baie mooi uitsig van hier af.”
Hulle klim uit en stap binnetoe. Walter ontbied die tuinier en vra hom om die bagasie te help inbring.
“Kom, laat ek jou eers gaan wys waar jou slaapkamer is, Tina,” bied Santi aan. “Daarna kan jy kom kyk hoe ek Ian bad. Maar ek waarsku jou vroegtydig om ’n sambreel saam te bring, want by hierdie mannetjie is daar geen aansiens des persoons nie. As hy eers op sy stukke is, verdrink hy almal in die badkamer.”
“Ek sal hom graag in die bad wil sien,” sê Tina. “Hy is so sag en mollig, ’n mens voel sommer lus en druk hom teen jou vas.”
Geselsend bestyg hulle die trap. Tina is aangenaam verras toe sy merk dat haar slaapkamer so ’n mooi uitsig oor die baai bied. Dit is hoogwater. Sy kan duidelik sien hoe die golwe teen die rotse breek en die een wit skuimrand na die ander op die strand uitstoot.
Sy is bly dat haar kamer oor die see uitkyk. Sy hou van die see se diep dreuning, veral wanneer dit hoogwater is.
“Klaas, die tuinier, sal aanstons jou bagasie na jou kamer toe bring,” hoor sy Santi sê. “Ek hoop jy hou van jou kamer, Tina.”
“Dit is ’n baie mooi vertrek,” sê sy sag. “Dankie dat jy hierdie kamer aan my afgestaan het, ousus.” Sy draai van die venster af weg. “Ek dink ons