Engele by ons. Susanna S.J. Wiese
toenemend bewus van hoe sensitief die brein vir enige chemiese ingrype is. Sommige wetenskaplikes beweer selfs dat alle ervarings en selfs gevoelens, ook geestelik, toegeskryf kan word aan chemiese skommelings. Dit maak egter nie saak wat ’n mens omtrent die feite van verskillende wetenskaplike velde leer nie; geestelike ervarings kan nog altyd op geloof berus. ’n Mens sal nooit God se verhouding met mense wetenskaplik kan bewys nie, en gelukkig hoef ’n mens ook nie daarvoor ’n wetenskaplike bewys te vind nie. Hierdie wetenskaplike terreine is dus nooit in konflik met die geestelike wêreld nie; alles dra by tot die groter prentjie.
Verder moet ook voorsiening gemaak word vir die onomstootlike feit dat sommige mense bloot meer geneig is tot en ontvankliker is vir die spirituele as ander. Diegene wat met hul voete stewig op moederaarde staan en boonop meer prakties ingestel is, moet dus versigtig wees om nie skepties te verwys na diegene wat fynbesnaard en sensitief is teenoor die geestelike nie. Praktiese mense sal maklik ’n bonatuurlike ondervinding as onsin afmaak of dit aan verbeelding toeskryf. Mense moet altyd daarvan bewus wees dat hul verstand dikwels die grootste hindernis vir kinderlike geloof is. Die feit dat ’n mens nie elke klein detail in die Skrif verstaan of kan verklaar nie, maak die Bybel nie minder waar of betroubaar nie.
Dan is daar nog die feit dat sommige mense wel oor heldersiendheid beskik, of soos vroeër daarna verwys is, met die helm gebore is. Daar is dinge soos voorbodes waarmee ’n mens rekening moet hou. Mense doen ongelooflike dinge deur hul breinkrag in te span en die resultaat daarvan is nie oëverblindery nie. Soos voorheen gesê is, is daar feitlik geen beperking op wat ’n mens met breinkrag kan vermag nie. Dit is belangrik om te onthou dat alles binne hierdie doolhof van spirituele vermoëns ver van engele verwyderd is. Engele is nie gedagtes of besluite nie, hulle is geskape hemelwesens.
4
Engeleverskynings
Sedert die eerste verskyning van Engele by ons in 1996 is daar letterlik nog honderde gevalle aan my gerapporteer van mense wat ondervindings met engele gehad het. Dit het gebeur met diep gelowiges wat eerlik en opreg is in hul weergawe van wat gebeur het en wie se woord ek nie vir een oomblik in twyfel trek nie. Maar daar is ook gevalle waar nie-Christene ervarings gehad het en dit was nie minder eg of geloofwaardig nie. Om dus te beweer dat engele net in Bybelse tye aan mense verskyn het, is om die werklikheid te ignoreer. Die getuienis tot die teendeel is te oorweldigend.
Mense kan met reg vra hoekom daar lank feitlik geen aandag aan engele gegee is nie; daar was ’n tyd toe die verskyning van ’n engel aan iemand hier op aarde feitlik ongehoord was. Ook die kerk het deur siklusse gegaan waar aandag geskenk is aan engele en waar hulle geignoreer is, soos ook met ander dogmatiese sake gebeur het. Hiermee saam ontstaan die vraag hoekom daar nou ewe skielik ’n engelemanie posgevat het wat oral uitslaan – onder Christene sowel as die res van die wêreld.
Miskien was die verskyning van engele aan mense tog nie so seldsaam nie; mense het net nie die vrymoedigheid gehad om daaroor te praat nie uit vrees dat hulle as liggelowig, of erger nog, as ketters of fanatici gebrandmerk sou word. Ek het dikwels mense wat hul ondervindings aan my vertel, hoor sê: “Ek het niemand daarvan vertel nie, want dit was so ongelooflik dat niemand my in elk geval sou glo nie. Toe die eerste mens aan wie ek dit vertel, sê dit is my verbeelding, het ek my ondervinding diep in my hart gebêre en dit met niemand anders bespreek nie.”
Ander faktore is dat inligting nie so vryelik gevloei en met ander gedeel is nie. Minder boeke is geskryf en oorlewerings het verlore gegaan. Daarmee saam het die vertel van sulke stories of ondervindings ’n kort lewe gehad, veral as die ondervinding so ongelooflik was soos ’n engel van God wat met jou praat. Dalk het mense ook net verkeerde benamings aan die ware Jakob gegee sodat dit as minderwaardig afgemaak is.
Die oorgang van een millennium na ’n ander het sonder twyfel ’n groot impak op die kollektiewe psige gehad. Met die vorige oorgang het die hele Christelike wêreld verval in ’n donker, bygelowige tydperk wat honderde jare geduur het. Dit het bekend gestaan as die Middeleeue, en hierdie donker tydperk is eers verbreek met die Verligting tydens die Renaissance. Tydens die vorige oorgang van die millennium het mense ook geglo dat die wêreld gaan eindig. Mense het baie eng en konserwatief begin dink, en baie het fanaties godsdienstig begin raak. Sommige het ook heeltemal misties en esoteries geraak. Dieselfde verskynsel is opgemerk tydens die oorgang van hierdie millennium. Die impak was egter kleiner as gevolg van meer konkrete wetenskaplike kennis en beter kommunikasie wêreldwyd.
Nogtans het bygelowe, esoteriese tegnieke en ander mistiese verwagtings ’n bloeitydperk beleef. Engele is in die geskarrel weer in Jan Alleman se bewussyn afgestof. Dit het die positiewe gevolg gehad dat engele, soos die Skrif ’n mens van hulle leer, weer op die voorgrond gekom het. Gelowiges se taak is nou net om die ware skriftuurlike feite te onderskei van die fantasie-elemente wat aan engele gekoppel is.
Tesame hiermee is die kerk ook deur ’n fase waarin daar weinig, indien enige, aandag aan engele gegee is. Daar is baie goeie (en ook minder goeie) redes hiervoor, maar dis beslis ’n bydraende faktor in die sweepslageffek wat vandag ondervind word. Daarbenewens is ’n mens in jou gereformeerde denke bang om te veel aandag aan enige leerstellige sake te gee uit vrees dat jy iemand aanstoot sal gee as dié nie met jou saamstem nie. Mense verloor uit die oog dat mense mag verskil oor leerstellige kwessies – dit is oor die Evangelie van verlossing wat daar nie verskil mag word nie.
Die ontwikkeling van die inligtingsera het skielik groot eise aan die kerk gestel. Mense is skielik wetenskaplik baie goed ingelig, daar is meer kontak met ander gelowe en kulture en verskillende sielkundige en filosofiese denkrigtings het verder ontwikkel. Die uitdaging aan die kerk is om die onnodige dooiehout van sekere dogmas uit te sny en opnuut die suiwer, helder boodskap van God se genade en verlossing deur die soendood van sy Seun, Jesus Christus, na die wêreld uit te stuur.
Hiermee saam is diepgaande Bybelstudie nou binne elkeen se bereik danksy die vrye vloei van kennis en die beskikbaarheid van inligting. Die predikant is nie meer die enigste bron van Bybelkennis nie en sy woord is nie meer ongekwalifiseerd wet nie.
Enige student wat die volledige Bybel bestudeer, sal die een of ander tyd aandag moet skenk aan engele, aangesien daar in vier en dertig van die ses en sestig Bybelboeke meer as driehonderd uitsprake oor hulle bestaan.
Met die toename van kennis was dit dan ook moontlik om ’n naam te gee aan ’n onbeskryflike ondervinding wat iemand gehad het. Soos ’n sewentigjarige boer aan my gesê het: “Vandag weet ek presies wat met my gebeur het toe ek twaalf jaar oud was. Ek het altyd daaroor gewonder, maar namate my kennis van die Woord van God toegeneem en ek nader aan Hom begin leef het, weet ek vir seker dat ’n engel my bygestaan het. Dit was nie maar net ’n noue ontkoming nie, soos ek as kind gedink het toe ek van die perdekar af geval en tussen die speke van ’n draaiende wiel beland het.”
Aangesien die beskerming van mense ’n belangrike taak van engele is, moet ’n mens verwag dat hul aktiwiteite in krisistye sal toeneem. In haar boeke skryf Corrie ten Boom oor talle voorvalle waar engele Jode tydens die oorlog help beveilig het. In ander geskrifte word verskeie gevalle beskryf waar engele tydens die oorlog sigbaar betrokke was by die bewaring van byvoorbeeld vegvlieëniers. Wanneer jy weer krisistye tegemoetgaan, kan jy verwag dat die sigbare bedrywighede van engele sal toeneem.
Daar word aanvaar dat dieselfde ondervindings wat mense nou het, ook destyds met mense gebeur het, maar dat ’n mens nou net danksy gevorderde kennis ’n naam daaraan kan gee. Vroeër sou iemand God net gedank het oor hierdie onbegryplike ding wat met hom gebeur het. Vandag kan hy ’n naam daaraan gee en weet dat engeleverskynings, drome of visioene steeds deel van God se werkswyse is.
Dis allermins ’n manier om dié gebeure te veralgemeen of te verkleineer. ’n Mens kan dit vergelyk met die toename in gesondheidskennis: Hoewel die pyn wat mense deur die eeue heen ervaar het dieselfde gebly het, kan daar danksy groter kennis nou meer spesifieke name aan siektetoestande gegee word. Net so kan doodgewone mense nou met die beskikbare kennis ’n naam aan ’n ondervinding gee wat hulle met ’n engel gehad het.
Dit is ook