Engele by ons. Susanna S.J. Wiese
wat na Jesus se graf gegaan het en met wie die twee engele gepraat het (vgl. Luk 24:1-12).
Mense wat die verskyning probeer beskryf, het gewoonlik nie woorde om die voorkoms van die engele en die energie wat hulle omring, te beskryf nie. Dit maak my opgewonde en bevestig maar net dat mense nog nie oor die terminologie beskik om die geestelike dinge mee te kan beskryf nie. Hoeveel te meer sal ’n mens sukkel om te probeer beskryf wat jy in die hiernamaals tegemoetgaan? Dit gaan baie mooier en heerliker wees as enigiets wat mense nou kan bedink of waarvoor daar woorde is.
Die ander vorm waarin engele mense besoek, is dié van doodgewone mense. Dit is hulle na wie die Bybel verwys as gesê word dat mense soms engele huisves sonder dat hulle dit besef (vgl. Heb 13:2). Onthou jy nog die mans vir wie Abraham en ook Lot kos berei en slaapplek vir die nag aangebied het (vgl. Gen 18-19)? ’n Engel sal byvoorbeeld as ’n sterk man ’n taak kom afhandel wat vir iemand anders onmoontlik is, of hy sal as metgesel saam met jou loop om jou vrees te verdryf as iemand anders nie beskikbaar is nie. Daar is nie ’n beperking op die vorms waarin hulle kom hulp verleen nie. As daar verpleeg moet word en geen verpleegster beskikbaar is nie, sal ’n engel as verpleegster optree. As ’n polisieman ’n kind oor die straat moet help en daar is nie een beskikbaar nie, sal ’n engel dit as ’n polisieman kom doen.
Mense vra dikwels hoe hulle sal weet wanneer hulle deur ’n goeie of ’n slegte engel besoek is, siende dat die duiwel hom soms as ’n engel van die lig voorstel (vgl. 2 Kor 11:14). Jy sal dit herken aan die gevolge van so ’n besoek. Die uitwerking wat ’n gevalle engel op ’n mens het, is angs, sweet, oorhaastigheid, benoudheid, vrees en onrustigheid. Die gevolg van ’n goeie engel se besoek is net mooi die teenoorgestelde – rustigheid, vrede, liefde, kalmte en vrees wat verdwyn.
’n Goeie voorbeeld hiervan is ’n geval waar die kleuter van ’n gelowige egpaar snags angsaanvalle gekry het. Hy het gesê die Here Jesus sit op sy bed en maak hom bang. Dit het die ouers laat wonder wat aan die gebeur is, totdat hulle ontdek het daar bly Sataniste in die woonstel bokant hulle. Hierdie kleintjie se ouers het hom geleer om Jesus lief te hê en dat Jesus hom liefhet, maar Satan wou hom probeer wysmaak dat daardie Jesus iemand is wat slegte dinge aan jou doen. Wat ’n genade dat daardie kleintjie ouers gehad het wat hom liefdevol na die waarheid kon begelei.
’n Geval is aan my gerapporteer waar diewe ’n motor voor ’n skool wou kaap terwyl die ma ’n paar treë weg met vriendinne gestaan en gesels het. Haar kleuter het reeds in die motor gesit. Toe die ma uiteindelik omkyk en besef wat aan die gebeur is, wou sy ’n geraas maak en hulp ontbied, maar die kapers het skielik die hasepad gekies – sonder om die kleuter skade aan te doen. Toe sy ma by hom kom en vra hoekom hy nie geskree het nie, sê hy doodluiters dit was nie nodig nie, want hy het geweet die polisiemanne met die blink klere aan wat rondom die motor gestaan het, sou hulle wegjaag en hom veilig hou. Dis onnodig om te sê die ooggetuies het geen ander mense buiten die kapers naby die motor gesien nie.
Christene mag nie behep raak met ’n begeerte dat ’n engel aan hulle moet verskyn nie. Gelowiges se saak is met die Here, nie met engele nie. As ’n mens enigiets nodig het, vra jy dit van die Here. Jy ontvang dit van die Here en agterna dank jy Hom daarvoor. Op watter manier God daardie hulp aan jou wil verskaf, is God, en God alleen, se besluit. Ek het al mense ontmoet wat nie tot rus kan kom nie omdat hulle oortuig is hul beker van geluk sal eers oorloop nadat ’n engel hulle besoek het. Mense doen moeite en gaan uit hul pad om engele te probeer “aktiveer” omdat hulle verteer word deur ’n begeerte om ’n engel te sien. Die feit dat ek hulle aanmoedig om op die Here Jesus te konsentreer en nie op engele nie, stel hulle nie tevrede nie.
Aan die ander kant word mense in werksessies wat byvoorbeeld deur Nuwe Era-proseliete aangebied word, aangemoedig om self kontak met ’n engel te bewerkstellig. Sodoende word die onus vierkantig op die beoefenaar geplaas om kontak met ’n engel te maak en wanneer hulle nie slaag nie, beleef hulle dan groot onvervuldheid. Hulle worstel met die vraag oor hoekom ’n vriendin byvoorbeeld met haar engel kontak kon maak, maar hulle dit nie reg kry nie. Wat dan veronderstel was om ’n opheffende ondervinding te wees, word ’n eindelose las.
Ek kan dit nie genoeg beklemtoon dat mense hulle met God en sy Woord besig moet hou en nie met engele nie. Mense moet hulle wel bemagtig met kennis rakende goeie en slegte engele sodat hulle nie deur elke wind rondgewaai word nie. Die besluit of engele aan ’n mens sal verskyn, al dan nie, word ten volle aan God oorgelaat. Hy wend sy engele aan soos Hy dit nodig ag. Ek herhaal: God laat nie toe dat die eer van sy Naam aangetas word nie. God se eer staan primêr – selfs bo die liefde. Wanneer mense begin konsentreer op die skepsels (engele) pleks van op die Skepper, doen hulle presies wat God verbied: Hulle tas die eer van sy Naam aan (vgl. Ps 29:2; 1 Tim 6:1; Eks 24:14; Lev 18:21; Lev 19:21; Lev 20:3; Lev 22:2; Fil 2:9).
Die belangrikste en allerbeste ding wat met enigiemand se geestelike lewe kan gebeur, is dat hy ’n persoonlike verhouding met Jesus Christus ontwikkel. Jesus is ver bo ’n engel verhewe (vgl. Heb 1:4, 6). Hy is die Woord van God wat vlees geword het. Jesus is God. Wat krag en gesag betref, is Jesus onvergelykbaar groter as die engele. Engele se krag en gesag kom van God; hulle het nie uit eie reg krag en gesag nie. Jesus was van ewigheid af daar en is nie soos engele geskape nie. Jesus is die Heerser, engele is dienaars. Selfs gelowiges is nou ondergeskik aan die engele, maar eendag gaan hulle engele se meerderes wees. Hulle gaan erfgename wees, terwyl engele hul status as dienaars gaan behou.
5
Gebedsverhoring: engele of die Heilige Gees?
Hoe weet ek wanneer ’n engel of die Heilige Gees betrokke is by die beantwoording van ’n gebed?” is ’n algemene vraag. Voordat ’n mens op fyn onderskeidings begin let, is dit uiters belangrik om twee verskille tussen engele en die Heilige Gees uit te wys. Eerstens woon die Heilige Gees in mense terwyl engele hulle van buite bedien. Tweedens is die Heilige Gees as een van die Drie-eenheid die ewige God, terwyl engele ondergeskikte, geskape hemelwesens is.
Laat ek dadelik sê dat God nie engele nodig het om mense se gebede te beantwoord nie. Hy is ook nie van die hulp van engele afhanklik om dinge gedoen te kry nie. God is algenoegsaam. God is almagtig. Soos Charles C. Ryrie dit in Basic theology stel: “Natuurlik is God nie verplig om engele te gebruik nie; Hy kan alles self doen, maar dis duidelik dat Hy telkemale verkies om engele as tussengangers te gebruik.”
Wat ook al mense se omstandighede, jy kan verseker wees van God se betrokkenheid omdat gelowiges die blywende teenwoordigheid van die inwonende Heilige Gees van God in hul lewens het.
Maar God het in sy alwysheid besluit om hemelwesens te skep om vir Hom tot diens te wees. Onthou, hier op aarde is mense as die Here se kinders as ’t ware die voorste linie in sy werkerkorps. As iets vir ’n medegelowige gedoen moet word, is ek die een wat dit moet doen. Gelowiges is almal lede van dieselfde liggaam en het die opdrag om mekaar te bedien. As hulle dit nalaat, ly die liggaam skade.
Waar mense egter nie kan help nie, sal God engele inspan om die taak af te handel. Wanneer dit nie vir mense fisiek moontlik is om iets te doen nie, as daar nie ’n mens beskikbaar is nie, of as die omstandighede dit onmoontlik maak dat ’n mens kan help, sal God engele gebruik. Let daarop dat dit in alle omstandighede korrek is om te sê “God het dit gedoen”, want God is in beheer van die engele; hulle luister net na sy opdragte en nie na wat mense sê nie. Dis dus heeltemal in orde om in een asem van God en engele te praat as dit kom by die uitvoer van dade, want dit is bloot God se woord wat uitgevoer word.
“Hoe weet ek of ’n engel of die Heilige Gees dit vir my gedoen het?” Ek kan slegs ’n baie breë riglyn hiervoor gee en uiteraard sal elke antwoord wat iemand op ’n gebed ontvang het nie binne hierdie raamwerk val nie.
As iets fisieks gedoen moet word, kan ’n mens aanvaar dat God engele daarvoor gaan gebruik, soos toe ’n engel Jesus se geboorte vir die skaapwagters aangekondig het (vgl. Luk 2:8-12), ’n engel die klip voor Jesus se graf weggerol het (vgl. Matt 28:2) en ’n engel die tronk oopgesluit het sodat Petrus kon uitgaan (vgl. Hand 12:6-11).
Wanneer dit egter iets is