Dubbelspel. Wilna Adriaanse
van my lewe in ’n godverlate dorpie onder ’n ander naam gaan bly, kom ek eerste vir jou. And I’m not joking. Julle moet seker maak julle het ’n waterdigte saak. Ek vlug nêrens heen met ’n pruik op my kop en ’n vals snor op my bolip nie.”
“Ek sien Allegretti het ’n paar nuwe karre gekoop. Waar kom die geld vandaan?”
“Dis hoe hulle die geld verskuif. Hy het ’n paar polo-perde ook gekoop, ’n huis in Val de Vie buite die Paarl waar sy perde versorg word, ’n motorboot, en dan het hy sy aandeleportefeulje vergroot. Heel konserwatief, en hy sorg dat die bedrag nie ooreenstem met enige bedrag wat via ’n ander roete ingekom het nie. Die truuk is hierdie integrasie. Sodra dit gedoen is, is dit moeiliker om die geld te volg, maar nie onmoontlik nie. Daar is dikwels krummels wat ’n mens kan volg. Is jy bewus daarvan dat hy die laaste paar maande honderde duisende op die dobbeltafels verloor het?”
Nick knik. “Jy het my oor die foon gesê.”
“Dis ’n maklike manier om die geld te versteek, maar as jy nie versigtig is nie, byt daai gogga jou en voor jy jou kom kry, kan jy nie wegbly nie.”
“Dan is dit waarom hy op die oomblik so edgy is. Hy weet hy sal daai geld moet terugkry voor die ou man dit uitvind. Dinge begin skielik meer sin maak.”
“Soos ek sê, dis nie rocket science nie.”
“Gewaar jy soms cops by die klub?”
“Hulle kom maak redelik gereeld ’n draai, maar dis nie asof hulle hul kom voorstel nie. Die gesigte wissel ook.”
“En jy is seker dis cops?”
“Ek het jou al gesê ’n mens kan julle op ’n myl uitken. Dink jy nie jy moet jou gaan voorstel en ’n bietjie notas uitruil nie? Sal dit nie dinge aansienlik vergemaklik nie?”
Nick skud sy kop. “In geen omstandighede nie. Hier was al te veel leaks, en ek vertrou op die oomblik niemand nie.”
“Êrens moet jy nog iemand ken wat jy kan vertrou.”
“Ons het nie nou tyd om die skape en die bokke te probeer skei nie. Aanvaar maar eers alle cops is dirty, of ten minste shades of dirty.”
Paul kyk op sy horlosie. “Ek moet gaan.”
“Ek ry sommer saam met jou terug stad toe.”
“Jy maak seker ’n grap.”
Nick staan ook op en gooi ’n paar note op die tafel neer. “Hier is nie taxi’s nie.”
“Maar hier loop busse stad toe.”
“Bliksem, Paul … Weet jy hoe lank gaan dit my vat?”
“Jou tyd versus my nek – not even a contest. Sien jou later.”
Nick stap tot op die hoek by Standard Bank. Toe daar ’n minibus-taxi stop, vra hy waarheen hulle ry.
“Bellville station.”
Hy klim in. Sy kanse is seker beter om daar ’n taxi in die hande te kry, anders sal hy die trein stad toe vat. Hy vloek onderlangs.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.