Dubbelspel. Wilna Adriaanse
sy kop. “Ons gaan nie nou weer daai gesprek hê nie.”
“Kyk na my, en sê jy dink nooit oor die moontlikheid van ons twee nie.”
Hy kyk na haar kaal lyf en voel hoe sy vingerpunte tintel. “Enige man sal na jou kyk, en droom.”
“Jy hoef nie te droom nie.”
“Ek werk vir jou pa.”
“Jy gebruik my pa as verskoning, maar jy weet so goed soos ek hy sal my op ’n silver platter vir jou gee.”
“Hy hou van my omdat ek my werk doen. Werk en plesier was nog nooit goeie maats nie.”
Sy glimlag. “Dis so ’n cliché.”
“Wat wil jy hê moet ek vir jou sê?”
“Dat jy ons twee ’n kans sal gee.”
“Moenie jou lewe so kompliseer nie. Probeer dinge met Ken uitwerk.”
“En as ek vir Ken los?”
Hy skud sy kop. “Moenie dit doen nie.”
“Jy weet ek kan nie help wie ek is nie. Dis nie asof ek gekies het om ’n Allegretti te wees nie.” Haar oë blink.
“Ek weet, maar dis nie noodwendig ’n vonnis nie. Kry iets om met jou lewe te doen. Hou jou besig. Geen mens kan so ledig wees nie.”
“Moet ek ook in ’n nail bar gaan werk?”
“So ’n dag se eerlike werk kan jou dalk goed doen.”
Sy lag hardop. “Jy weet ek sal nooit moed opgee nie.”
Hy stap hysbak toe. ’n Man kan ook net soveel verduur. Terwyl hy wag dat die hysbak se deure toegaan, sien hy hoe sy opstaan en haar uitstrek voor sy haar rok oor haar kop gooi. Sy glimlag vir hom toe sy sien hy kyk na haar.
“Kry ’n job!” roep hy voor die deure toegaan. Hy sit ’n oomblik lank sy voorkop teen die spieël binne die hyser. Hy kan gevaar en spanning hanteer, maar hy haat marteling.
Hoofstuk 10
Vrydagoggend sewe-uur sluit Nick die woonstel se voordeur en stap in die rigting van Seepunt. Hy is ’n rukkie te vroeg vir die bus en val agter in die kort ry wat reeds wag.
Toe die bus kom, klim hy op en gaan sit heel agter. Hy kyk na die ander mense wat opklim. Skoolkinders, jong mense wat soos studente lyk, werkendes. Twee bejaarde vroue, met hulle handsakke styf onder hulle arms geknyp. ’n Netjiese man met ’n pet en ’n kierie.
Die bus ry stadig en hy bekyk die omgewing. Hy hou nie van die kolossale nuwe stadion in Groenpunt nie en wonder hoe die stadsvaders ooit daarvoor kon ja sê. Hulle ry verby die Galgeheuwel-verkeersentrum. Volgens oorlewering was dit die plek waar die misdadigers in die vroeë Kaapse tyd vir hulle oortredinge gehang is. Dis vreemd dat niemand deur die jare die plek se naam verander het nie. Dalk is dié plek se geskiedenis so donker dat niemand kans sien om aan die naam te torring nie. In Somersetweg flank moderne winkels die straat.
Hy klim in die middestad by die stasie af en stap in die rigting van die Goue Akker, waar hy ’n taxi neem. Hy het nooit omgegee om in Londen van openbare vervoer gebruik te maak nie, maar sedert hy terug in Suid-Afrika is, wil hy ’n stuurwiel in die hand hê. Die Range Rover het egter ’n opsporingstelsel in en hy wil nie onnodige kanse vat nie. Net nadat hy vir die Allegretti’s begin werk het, het hy ’n keer of wat iemand op sy spoor gewaar. Daarna het dit stil geword. Sedert hy in die Kaap aangekom het, het hy nog niemand gewaar nie, maar Paul is vreesbevange dat hulle betrap sal word en daarom moet hy altyd dubbel seker maak wanneer hulle twee ontmoet.
“Ek gee nie om of jy seker is niemand verdink ons nie. Jy gaan nie ’n hero probeer wees as my kop op die spel is nie,” was sy opdrag.
Hulle ry met die N1 noordelike voorstede toe. Nou en dan kyk Nick om, maar nie een voertuig trek sy aandag nie. Hy klim by ’n winkelsentrum in Durbanville af, betaal die taxibestuurder en stap die blok na die restaurant. Paul wag reeds by ’n tafeltjie agter in die hoek, ’n koppie koffie voor hom.
“Was jy versigtig?”
“Ja.”
“Is jou selfoon af?”
“Ja, ontspan.”
Paul sit merkbaar verlig agteroor, maar frons steeds. “Ek hoop jy is hier om vir my te sê my job is klaar.”
Nick bestel ook ’n koppie koffie. Skud sy kop. “Wil jy werklik so ’n opwindende lewe verruil vir een agter ’n lessenaar in ’n vaal kantoor?”
“Jy vergeet ek hou van vaal. Ek vrek oor eentonig. Kleur is totaal overrated.”
Nick glimlag. “Sorry, jy gaan nog vir ’n rukkie moet vasbyt. As jy moeg raak, dink net aan jou kleinkinders. Jy gaan hulle held wees as hulle hoor wat jy in jou lewe gedoen het. Jy kan hulle tog nie net vertel jy het jou lewe lank syfers heen en weer geskuif nie.”
“Kleinkinders.” Paul skud sy kop. “Waarom sal ek ook nog tot die oorbevolking van die planeet wil bydra?”
Die kelnerin kom vra of hulle gaan eet. Nick bestel die boere-ontbyt. Paul kies die vrugte, jogurt en muffin met heuning.
Nick sit agteroor toe die meisie wegstap. “Jy het in ons laaste gesprek gesê jy het min of meer nou die klub se prentjie uitgewerk. Laat ek hoor.”
Paul frons. “Ek het lanklaas sulke dom mense teëgekom. Jy kon ’n agtjarige gehuur het om dit uit te figure.”
“Is dit soos ons vermoed het? Kom daar vuil geld deur die klub?”
“Ek kon dit vir jou gesê het sonder om my siel daar te gaan verkoop. Waarom anders sal hulle ’n klub koop?”
“Ek weet jy het dit gesê, maar dit help my niks. Sonder bewyse is my hande vasgebind. Hoe doen hulle dit?”
“Eerstens deurgeld. Die klub se kapasiteit is seshonderd. As jy egter na die inkomste uit die toegangsgeld gaan kyk, moet daar gemiddeld elke aand van die week tussen aghonderd en ’n duisend mense deur die deure gaan. En Vrydae en Saterdae nader aan tweeduisend.”
“Dis seker nie onmoontlik dat daar meer mense toegelaat word nie?”
“Nee, maar volgens die klub se lisensie, brandweer- en gesondheidsertifikaat is die plek net goedgekeur vir seshonderd. Dis moontlik dat hulle meer kan toelaat, maar dis nie moontlik om dit elke aand te doen nie. Die kanse dat hulle hul lisensie gaan verloor, raak net te groot.”
Die kelnerin bring hulle kos en albei vat eers ’n hap of twee voor Nick verder praat.
“Hoeveel kán hulle nou op dié manier plaas?”
“Dis ’n baie eenvoudige som. Toegangsgeld is R200 per persoon. Maal dit met seshonderd mense. Dit gee vir jou R120 000 per aand. Maal met vyf aande per week en gemiddeld vier weke per maand. Dit bring ons by ongeveer R2,4 miljoen per maand. Om twee- of driehonderdduisend daar in te glip, is ook nie rocket science nie. Dan kyk ons na ’n moontlike R3,6 miljoen wat per jaar versteek kan word. Not bad. En dan praat ons nog nie eens van die drank- en kosverkope nie.”
“Wil jy vir my sê die ouditeure tel dit nie op nie?”
“Is jy dom of hou jy nou net so? Dink jy ek weet nie wat om met die boeke te doen nie?”
Albei vat eers weer ’n paar happe.
“Jy sê hulle kan ook geld deur die kroeë versteek?”
“Weet jy hoeveel shots is daar in ’n drankbottel?” vra Paul.
Nick skud sy kop. “Ek behoort seker te weet, want ek het al in my lewe ’n paar leeggemaak.”
“Dit maak nie saak nie, maar kom ons sê jy het min of meer vier bottels tequila vir die aand. Dan kan jou boeke nie wys jy het twee keer meer shots verkoop nie.” Paul sit terug en vee sy mond af. “Soos ek sê, dit klink na kleingeld, maar as ’n mens dit aan die einde van die