Dubbelspel. Wilna Adriaanse
kyk na die deur in die hoek en glimlag. “Ons het net ’n lekker geselsie gehad. Ons twee is ou tjommies.” Hy raak aan haar hand. “Toe, sê jy sal vanaand kom eet.”
“Ek weet nie. Ek moet eers huis toe, en gaan kyk hoe dit met my ma gaan.” Sy onthou skielik sy wou nog haar ma gebel het. “En Clive het my vir ’n dop geskiet.”
Albert kyk na Clive. “Wil jy hê ek moet rang trek hier?”
Clive kyk na Ellie. “Sorry, daai dop sal moet wag.”
“The story of my life.” Sy kyk na Albert. “Ek móét eers na my ma toe gaan.”
“OK, maar kom wanneer jy klaar is.” Hy kyk na die bord. “Is julle nog steeds met die klomp etterkoppe besig?”
“Ek weet julle deel nie graag nie, maar jy het nie dalk êrens ’n stukkie skinder raakgeloop nie?” wil Clive weet terwyl hulle al drie na die bord kyk.
Albert skud sy kop. “Die probleem is dat hulle semi-permanent besig is om kak aan te jaag. ’n Mens is nooit regtig seker wat is ou nuus en wat is vars nie. Maar ek belowe as ek iets hoor, sal ek julle laat weet.”
Clive steek skielik sy hand uit. “O ja, baie geluk met die bevordering. Ek het nog nie kans gehad om dit persoonlik te sê nie.”
Albert skud sy hand. “Dankie. Dalk sal ek nou ’n verloofring kan bekostig.”
“Is julle …?”
Ellie skud haar kop. “Ignoreer hom. Hy yl.”
Hy mik om weer aan haar sitvlak te vat, maar sy tree weg en hy lag hardop. “Sy is net skaam.” Hy kyk na die ander leë lessenaars, en soen haar dan vlugtig op die wang. “Sien jou later. Clivie, kyk mooi na haar.”
Clive kyk hom agterna toe hy wegstap. “Jy gaan jou nog eendag so hardegat hou, dan stap ’n ander girl met hom weg.”
“Ja, Pa. Kom, konsentreer nou.”
Toe hulle na ’n uur nog nie veel gevorder het nie, besluit Clive om eers ’n paar ander take te gaan afhandel. “As ek jou nie weer vandag sien nie, praat ons môre verder. Ek sal intussen ’n paar kontakte bel en hoor of hulle nie iets nuuts het nie.”
Ellie sit die pen neer en stap na die kantoor in die hoek. Sy klop en wag tot daar ’n antwoord kom voor sy haar kop om die deur steek.
“Ek is eers weg. Ek wil gou iemand in Seepunt gaan sien.”
Zondi kyk nie op nie. “Orraait.”
Ellie is besig om die deur toe te trek, toe Zondi na haar roep. “Did Greyling talk to you?”
“About what?”
“Never mind. See you later.”
Hoofstuk 7
Hoofweg in Seepunt is besig. As kind het hulle dikwels Sondae hierheen gekom. Hulle het roomys gekoop en op die promenade gestap. Haar pa het nooit oor geld gepraat nie, maar sy het instinktief geweet mense wat hier woon, het meer geld as hulle. Deesdae is dit vir haar ’n plek met twee verskillende gesigte. Die voorkant wat see toe kyk, lyk steeds duur en eksklusief. ’n Straat hoër op is jy nie seker of jy reg gekyk het nie. ’n Paar ou bekende bakens is steeds daar, maar die gesigte op straat het verander. Die kind in jou sê vir jou dié met die see-uitsig is die goeie mense, die hardwerkendes, en die agterstrate behoort aan die minder goeie mense. Die mense wat hulle besigheid in die donker bedryf. Maar niks is meer so eenvoudig nie. Sy is nie eers meer seker dit wás ooit so eenvoudig nie. Kinders vind allerhande kortpaaie om sin uit ’n deurmekaar wêreld te maak, en dis hartseer wanneer jy die dag jou kortpaaie begin bevraagteken. Dit is waarskynlik wat grootword beteken.
Ellie kry parkering voor ’n restaurant, haal twee note en ’n paar munte uit haar beursie, druk dit saam met haar selfoon in haar broeksak. Sy sluit haar skouersak in die kattebak toe en begin stap. Weg van die stad af.
Op een of twee straathoeke sien sy ’n paar prostitute. Met die eerste oogopslag lyk dit of hulle vir ’n bus wag – dis eers as ’n mens hulle ’n rukkie dophou dat jy die lyftaal sien. Toe sy naby kom, sien sy die dik grimering. Die een se swart sykous is geleer.
“Het een van julle vir Brenda gesien?”
Die groepie kyk na mekaar. “En jy is?”
“Haar suster.”
Twee lag hardop. “Nice try.”
“Komaan, ek het nie heeldag tyd nie.”
“Ek ken nie vir Brenda nie.” Die een met die rooiste mond kyk na die ander, maar hulle skud ook hul koppe.
Ellie haal ’n honderdrandnoot uit haar broeksak.
“Oe, jy meen miss Fassie … plaas jy sê. Hierdie tyd van die dag is sy seker nog daar onder, besig om te eet.”
“Waar?”
“By die Griek. Hy het ’n bleeding heart. Gee vir haar kos.”
Ellie draai terug en begin in die teenoorgestelde rigting stap. Sy is ’n entjie van die hoek af toe sy vir Brenda gewaar. Sy dra ’n kort swart romp, goue blinkleer-sandale en ’n mooi swart-en-groen toppie. Brenda het nog altyd beter as die res aangetrek. Die oomblik toe sy Ellie gewaar, swaai sy weg, maar Ellie draf nader en val langs haar in.
“Komaan, Brenda, jy skuld my.”
“Dis die problem met julle. ’n Mens kry net nooit klaar betaal nie. Wat wil jy hê?”
“Enige interessante mense gesien?”
Brenda bly stap. “Is alle mans nie interessant nie?” Sy rek haar oë.
Ellie moet glimlag. “Dis ook weer waar.”
“Ek het niks gehoor nie. Of niks nuut nie. Same old, same old.”
“Jy is ’n ou hand, Brenda. Die manne praat graag met jou.”
“Ja, maar die meeste van die tyd is dit kakpraatjies. Dis nie asof hulle vir my van al hulle business vertel nie. Dis eintlik maar net as hulle dit nie opkry nie, dat hulle oor die geld en die contacts brag. Jy weet mos hoe’s mans.”
“Wat van die vreemde girls? Ken jy van hulle?”
“Hulle koek meesal saam, maar hier en daar is een wat soms gesels soek. Voel seker ook maar vreemd. Veral die Russians. En die local girls like hulle net niks. Die manne soek daai grou oë, en hulle kan net ‘yes’ sê.”
“Wat sê hulle as hulle praat?”
Brenda se wenkbroue lig. “Dink jy nou rêrig hulle sal in volsinne kan vertel what’s going on where? Die shit gaan dalk voor hulle aan, en hulle sal nie weet wat dit is nie. Hulle weet niks van die context nie.”
“Maar jy verstaan die konteks baie goed. En dis waarom ek jou vra … Enigiets sal help.”
Hulle stop by ’n verkeerslig, en wag saam met die ander voetgangers dat die lig groen slaan. “Ek sal luister, maar ek promise niks.”
“Dankie.” Ellie haal ’n tweehonderdrandnoot uit haar sak en druk dit in Brenda se hand.
“Jy moenie meer so kom rondvra hier nie. Die girls raak senuweeagtig en as hulle die pimps vertel, kan dit dangerous raak. Gee my jou cell.”
Ellie gee haar selfoon en Brenda druk ’n paar knoppies. “Bel my by dié number as jy my soek, maar moenie ’n oorlas wees nie.”
“Dankie.”
Ellie bly staan en kyk die ander meisie agterna. ’n Skraal, regop figuur. Eintlik te mooi en slim vir die strate. Haar voorgeslagte se uiteenlopende bloedlyne sorg vir ’n interessante gesig. Fyn neus, intelligente oë. ’n Vol mond met hoeke wat oplig, asof sy altyd glimlag. ’n Vel soos ryk melksjokolade.
Toe Ellie ’n jaar gelede met hulle eerste ontmoeting vir haar vra waarom sy op straat is, het sy haar skouers opgehaal.