Dubbelspel. Wilna Adriaanse
doen vir die pos as bestuurder van die klub. Tot almal se verbasing het hy die werk gekry, en Nick kan soms nie glo hoe gemaklik hy met hierdie dubbellewe geword het nie. Hy het ’n besonderse kop vir syfers en Nick verwag dat hy teen hierdie tyd die klub se boeke soos ’n storieboek kan lees.
Allegretti se geselskap is nou op die dansvloer, behalwe vir een meisie wat met haar kop op haar arms by die tafel lê, en Allegretti en die amptenaar. Hulle twee lyk druk in gesprek, maar toe Nick by hulle aansluit, raak die amptenaar haastig.
“Thanks for a great evening. I have to hit the sack now. But first I have to find my partner.” Hy kyk af op die dansendes. Allegretti stap saam met hom teen die trap af. Gabriella kom uit die kantoor en Nick sien hoe sy ook die wit poeier langs haar neus afvee. Haar lyf bewe liggies. Asof sy nie reeds genoeg energie het nie.
“Wonderlik, jy is klaar gewerk. Nou is dit my beurt.” Sy kom staan styf teen hom en hy voel haar lyf se hitte deur sy hemp. “Het jy na my verlang?”
“Soos ek na moeilikheid kan verlang, ja.”
Sy skud haar kop. “Asof jy vir moeilikheid skrik. You’ll have to do better than that.”
“Hoe gaan dit met Ken?”
“Ken?” Sy maak ’n beweging met haar hand. “How the hell should I know?”
“Hy is jou man.”
“If you want to see a mistake, there’s one for you. ’n Reuse fokop. I should never have married him.”
“Jy kon seker nee gesê het.”
“My hart was gebreek omdat jy my nie wou hê nie, en ek wou jou wys wat jy gaan mis.” Sy sug. “Jy het seker nie gedink ek het hom vir liefde getrou nie?”
“Moenie sulke goed sê nie.”
“Darling, everyone knows we are a very convenient business deal. Our families have been wheeling and dealing for many years. With the two families tied together in marriage, a lot of secrets stay in the family.”
“Daarom stel ek voor jy probeer die beste van die saak maak. Siende dat hy reeds eggenoot nommer twee is.”
“Jy is ’n codardo. ’n Lafaard.”
“En jy moet nou ophou drink en huis toe gaan. Dis al verby jou bedtyd.” Hy laat sit haar op een van die stoele, en vra ’n kelner om ’n bottel water te bring. Haar grimering is effens gesmeer en sy lyk skielik moeg.
“Net as jy saam met my kom.” Sy raak aan sy gesig. “Caro, you know you want me … en niemand hoef te weet nie.”
Ondanks sy goeie voornemens en alles wat hy homself elke keer vertel, voel hy tog hoe ’n oerlus in hom roer. Daai lus wat nie rede ken nie, wat nie somme kan maak nie en nie aan gevolge kan dink nie.
“Iemand weet altyd.”
“Banggat.” Sy staan op, tel haar handsak op en stap stadig met die trap af terwyl sy liggies heen en weer swaai.
Nick stap agter haar aan, en by die deur gee hy sy motorsleutels vir een van die veiligheidswagte. “Neem asseblief vir mevrou Visser huis toe, en kom dadelik terug.” Hy kyk na Gabriella. “Ek sal môre iemand met jou motor stuur.”
“Why don’t you just screw my sister?” Allegretti staan agter hom toe hy omdraai. “Jy weet sy gaan nie rus voor sy haar sin gekry het nie, and this is becoming very boring.”
Clara staan langs Allegretti, en selfs so laat in die nag, na ’n hele paar drankies en wie weet wat nog, lyk sy steeds jonk en vars.
“Sy sal môre weer beter voel.”
“Ons gaan nou huis toe.” Hy neem Clara se hand. “Dis tyd vir mooi jong meisies om in die bed te kom.” Hy soen haar in die nek en ’n oomblik lank verbeel Nick hom sy lyk verleë.
“Waar is Fritz?”
“Ek het hom die aand af gegee. Ek kan bestuur.”
Nick wil hom eers vererg, maar keer homself. “Dan sal ek julle huis toe neem.”
“Dink jy ek het nog nooit hierdie tyd van die aand huis toe gery nie?”
“Ek is seker jy het, maar op die oomblik is dit onverantwoordelik. Waar is jou motor se sleutel?”
“Sorry, we took the Ferrari. Daar is nie plek vir jou nie.”
“Dan neem ons die Range Rover sodra dit terug is. Gaan wag solank binne.”
“Ek gaan ’n fok weet nie dat jy so met my praat nie … Ek werk nie vir jou nie.”
Clara raak aan Enzio se arm. “Kom ons gaan wag binne.”
Nick is verbaas dat hy tog saam met haar loop, maar in die deur draai hy om. “As ek jy is, kry ek my shit agtermekaar. Die ou man kan nie vir ewig leef nie en as jy vorentoe ’n plek in die company wil hê, beter jy begin om nicer met my te wees.”
Nick antwoord hom nie. Dit sal nie die eerste dreigement wees wat hy die afgelope twee jaar gekry het nie, en dit sal ook nie die laaste een wees nie.
Toe die Range Rover terugkom, klim Allegretti en Clara agterin. Nick roep een van die sekuriteitswagte om saam te ry. Terwyl hy bestuur, hou hy oudergewoonte die truspieëltjies dop. En probeer vinnig die verkeersligte se ritmes uitwerk. Die strate is gelukkig redelik verlate en hulle kan vinnig ry.
Allegretti klim nie uit toe hulle by Nazeem Williams se huis in Rondebosch stop nie. Nick maak die deur vir haar oop, en stap saam met haar tot sy in die huis is.
Op pad terug raak Allegretti aan die slaap en Nick het moeite om hom by die huis wakker te maak. Tussen hom en die sekuriteitswag kry hulle hom uiteindelik bo in sy kamer. Nick trek sy skoene uit, maar laat lê hom met sy klere aan op die bed.
Hy gaan laai die ander man weer by die klub af en ry stadig terug Bantrybaai toe. Seepunt se strate is verlate, behalwe vir twee prostitute wat op ’n straathoek staan. Nick kyk na die horlosie voor op die paneelbord. Vyf voor drie. Hoe lank voordat ’n mens moet aanvaar niemand gaan jou vannag oplaai nie?
By die woonstel gaan sit hy eers op die balkon. Die ligte wind dra die geruis van die see tot hier. Hy dink aan almal wat hy gesien het. Speel weer die gesprekke in sy kop. Dis ’n vreemde, komplekse wêreld waar die belangrikste dinge dikwels verswyg word. Oor Gabriella wil hy nie te veel dink nie, maar oor Clara Veldman sal hy nog geruime tyd dink. Sy is nie die eerste mooi jong meisie wat vir ’n ouer man gaan nie, ook nie die eerste een wat kans sien vir ’n verhouding met ’n man met ’n reputasie soos Enzio Allegretti nie. Maar hy kan nie die gevoel afskud dat alles dalk nie so eenvoudig is nie. Hy betrap hom dat hy in sy broeksak voel waar hy altyd sy sigarette gebêre het. Bliksem, hy mis dit. Hoe moet hy dink as hy nie ’n sigaret in die hand het nie? Om nóú op te hou rook was ’n kak idee. Dalk het iemand ’n pakkie hier vergeet.
Hy staan op, maar toe drie laaie niks oplewer nie, besluit hy om te gaan slaap.
Hoofstuk 6
Donderdag kyk Ellie na die vroegoggendverkeer terwyl sy kantoor toe ry. Gesigte wat strak voor hulle staar, hier en daar iemand wie se kop asof op die maat van musiek ritme hou. Kinders in skoolklere, babas vasgemaak in stoeltjies, op pad na ’n dagmoeder. ’n Bekende pad, tonele wat sy al dikwels gesien het, maar sedert verlede week voel dit of sy niks werklik ken nie. Asof elke beeld en elke gebeurtenis skielik skakerings het wat sy nog nooit vantevore gesien het nie. Moontlikhede. Grense het verskuif. Die onmoontlike is nou moontlik. Hoe sy ook al in die verlede vir haarself die dood gerelativeer het, niks het haar voorberei op wat dit nou met haar kop doen nie. Sy het ’n meestersgraad in sielkunde en verstaan teoreties die prosesse, maar op die oomblik is niks daarvan op haar van toepassing nie.
Sy skrik toe ’n motor langs haar toeter. ’n Vrou met rooibruin getinte hare wys vir haar middelvinger toe sy verby ry. ’n Middelvinger met ’n lang rooi nael en ’n goue ring aan. Ellie glimlag. Dis dalk die oplossing. Sy dink net nie sy het genoeg middelvingers om haar beter te laat voel nie. En die