Dubbelspel. Wilna Adriaanse
en af stap.
“Wat bedoel jy as hy die krane toedraai? Waarmee is hy besig?”
“As een van julle ’n gevaar vir julleself of die besigheid raak, kan hy besluit om ander mense te kry om die besigheid te help bestuur. Hy kan selfs ’n voorwaarde stel dat julle terug Johannesburg toe gaan.”
“Jy maak seker ’n fokken grap!”
“Ek sê nie hy gaan dit doen nie. Ek wil net hê julle moet verstaan hoe ernstig hy is. Hy gaan dit nie duld dat julle ’n risiko word nie. Nie vir julself óf die besigheid nie.”
Nick sien hoe Allegretti se oë al helderder word, en teen hierdie tyd ken hy die simptome. Volgende gaan die bravade kom.
“Hy dink dalk ek het hom nodig, maar dis hy wat mý nodig het. Hy verstaan nie tye het verander nie en weet nie hoe dinge deesdae werk nie. As hy nie oppas nie, vat ek die besigheid oor, met óf sonder sy toestemming.”
Nick knik sy kop en staan op. “Jy kan seker.” Hy tel die motorsleutels op. “Hy is oud, Enzio. Gun hom ’n paar rustige jare. Hy het nie meer die energie en die drif vir soveel konflik nie, maar moet hom nie onderskat nie. Sy brein makeer niks en moenie dinge vir hom probeer wegsteek nie.”
“Dit is juis een van die redes waarom ek moet oorvat. Hy het nie meer die balls nie, en as ons nie oppas nie, verloor ons ons aandeel in die bedryf, en dan neem niemand ons meer ernstig op nie.”
“Hy het hard gewerk en baie risiko’s geneem om te verseker jy en Gabi hoef nie eendag oor julle skouers te kyk nie. Waarom sê jy nie net dankie en maak ’n sukses van die klub nie? Jy is reg as jy sê tye het verander. Daar is nuwe spelers, en baie min lojaliteit. Dink jy regtig jy is opgewasse teen ouens soos Barkov en kie?” Nick staan effens terug en kyk hoe die woorde die regte knoppies vind. Met Enzio is dit soms net té maklik.
Allegretti wys ’n vinger na Nick. “Dink jy ek is bang vir ’n vark soos Barkov? Dink jy ek het nodig om agter my pa weg te kruip? Fok jou. En jy kan dit maar vir hom ook gaan sê.”
Nick lig sy hand. “Ek sien jou weer later. Ek wou net eers kom groet het.”
“As jy in die woonstel gaan bly, beteken dit jy is nie net vir een of twee dae hier nie,” laat Allegretti kalmer hoor.
Nick trek sy skouers op. “Ek is nog nie seker nie.”
“Kom vanaand klub toe.”
“Ek sal.”
“Net vir jou inligting … sy het nie geweet wie ek is toe sy my ontmoet het nie.”
“Maar jy het geweet wie sy is.”
“Nee, nie dadelik nie.”
Minute later ry Nick stadig teen die steil strate af en kyk na die paar vissersbote wat agter die breekwater dobber.
Hy het nog nooit ’n gemaklike verhouding met die Kaap gehad nie. Sy eerste vrou het van die Kaap af gekom, en hom dit nooit laat vergeet nie. Asof dit die een of ander get-out-of-jail-kaart is. En die keer of wat wat hulle vir haar familie kom kuier het, het ook nie sy verhouding met dié stad verbeter nie. Hy weet nie of die probleem haar familie of die plek was nie.
Hy kon nog altyd redelik vinnig ’n dorp of stad lees. Agterkom wie is wie, en hoe die verskillende verbintenisse patrone maak. Maar die Kaap is soos ’n goeie kulkunstenaar wat jou kul om net te sien wat sy wil hê jy moet sien.
Hy het dieselfde gevoel oor sy eks-skoonfamilie gehad. Asof alles nie is wat hulle voorgee nie, maar dit kon ook maar net sy ingebore sinisme en agterdog wees.
Die drie jaar in Londen was opwindend, interessant en leersaam, maar Nick was verlig toe hy terug Johannesburg toe kon kom. Dis ’n stad wat hy verstaan. Dis waar hy sy eerste lewenslig aanskou het en min of meer al sy eerstes beleef het. Eerste tand, eerste pak slae, eerste vry, eerste kar, eerste job en alles tussenin.
Die langste wat hy al op ’n slag in die Kaap vertoef het, was drie weke. Hierdie keer het hy twee tasse. Een vol klere en ’n ander vol boeke. Tans die somtotaal van sy besittings. Toe hy twee jaar gelede teruggetrek het Johannesburg toe, het hy homself belowe hy gaan darem ’n paar goed aanskaf, selfs al woon hy in ’n gemeubileerde woonstel. Dalk ’n skildery. Of ’n mat. ’n Stoel sal ook goed wees. Een wat die vorm van sy lyf verstaan. Maar na al die tyd is dit steeds net hy en die vreemde meubels. Selfs die bed waaronder hy saans sy skoene inskop, is nie syne nie.
Sy tweede vrou was ’n verpleegster. Hy het haar in ’n hospitaal in Londen ontmoet toe hy ’n getuie gaan besoek het. Sy was ’n goeie, gawe mens wat hom aan sy ma herinner het. Met haar was alles presies soos dit gelyk nie. No surprises there. En tog het dit ook nie gewerk nie. Nes die een of twee verhoudings sedertdien. Hy herinner hom gereeld daaraan dat net ’n malle dieselfde ding keer op keer doen en ’n ander uitkoms verwag.
Hoofstuk 5
Daar is nuwe sekuriteitswagte by die deur toe Nick tienuur die aand by die klub in Groenpunt aankom, maar een van die oues herken hom en laat hom ingaan. Binne is dit stampvol en hy moet vir hom ’n pad oopbeur. Die musiek pols deur die groot saal. Drie DJ’s maak beurte om te gesels, grappe te maak, musiek te speel. Toe Nick eindelik by die trap kom, sien hy Allegretti waai van sy privaat balkon af. Daar is ’n paar ander mense saam met hom op die balkon. Nick herken een van die meisies as Clara Veldman. Sy is selfs mooier as op haar foto’s, en aansienlik jonger as die ander meisies by die tafel. Meisies by wie Allegretti waarskynlik al almal geslaap het.
Hy is seker een van die mans het hy al in die koerant gesien. Dit neem ’n rukkie om te onthou waar. Hy is ’n senior amptenaar by die departement van binnelandse sake, en daar was al gerugte oor hom, maar niemand kon tot dusver enigiets bewys nie. Dit het te doen met die uitreik van verblyfpermitte en paspoorte.
“Nick, my man, ek het al begin dink jy kom nie meer nie.” Allegretti beduie na ’n stoel. “Kom, maak jouself tuis, jy is ver agter.”
Terwyl Nick gaan sit, word hy aan die res van die gaste voorgestel. Hier en daar skud iemand sy hand, maar die meeste knik net. Behalwe Clara. Sy kyk hom in die oë, steek haar hand uit en glimlag.
“Aangename kennis.”
Nick glimlag terwyl dit voel of hy sy kop wil lig en die lug wil snuif. Hy kan eintlik die moeilikheid ruik, maar is net nie seker uit watter rigting dit op pad is nie. Want moeilikheid is op pad, so seker soos sy naam Niklaas Joachim Malherbe is.
Hy skat Clara Veldman nie ouer as drie-en-twintig nie, met ’n byna ongekunstelde voorkoms. Hy hoop sy is sterker as wat sy op die oog af lyk.
Hy weet nie regtig wat om te sê nie. “Ek verstaan nou waarom ons hom al minder in Johannesburg sien.”
Haar glimlag laat haar nog jonger lyk. Sy soen Allegretti op die wang. “Ek is bly om dit te hoor.”
Allegretti se oë blink al te veel, en Nick onderdruk die impuls om haar te vra of sy weet wat sy doen. Die kanse is dalk goed dat sy presies weet wat sy doen. Dis nie asof hy meer meisies van haar ouderdom ken nie. En as jou oom Nazeem Williams is, is jy sekerlik nie meer ’n babe in the woods nie.
’n Kelner kom neem sy bestelling en hy vra vir ’n whiskey.
“Bring vir hom van die Macallan in my kantoor,” laat Allegretti hoor. “En bring vir ons drie bottels Bollinger.”
Toe die kelner omdraai, kyk Allegretti na Nick. “Wat dink jy?”
“Ek is beïndruk. Sedert ek laas hier was, het die plek ’n metamorfose ondergaan.”
“Jy en die ou man het nie gedink ek sal dit kan doen nie, maar ek het julle gesê ek sal hierdie plek omdraai. Vra enigeen wat jy wil, en hulle sal vir jou sê dit is op die oomblik dié plek in die Kaap.”
“Jou pa sal trots wees.”
Die kelner bring hulle bestelling, en toe Nick sy eerste sluk neem, moet hy homself keer om nie behaaglik te sug nie. Daar is tog sekere voordele aan die job wat hy sal mis.
“Nick