Dubbelspel. Wilna Adriaanse

Dubbelspel - Wilna Adriaanse


Скачать книгу
toehoorders maak klikgeluide, en Rika McKenna gee ’n diep snuif en druk met haar sakdoek teen haar oë.

      Ellie verskoon haarself en gaan haal vir haar ma ’n koppie tee en ’n driehoek-toebroodjie. Haar ma se hande bewe toe sy die koppie neem, maar Ellie is verlig om te sien sy drink dorstig en eet selfs die stukkie brood.

      Eenkant in die saal staan sy kollegas in groepies saamgekoek. Hulle lyk skoon ongemaklik, asof hulle nie daar hoort nie. Sy is verbaas om te sien hoeveel van háár kollegas ook gekom het. Hulle kom groet streep-streep. Skud haar hand. Brigadier Andile Zondi, haar bevelvoerder, raak aan haar skouer. Clive Barnard, haar kaptein, druk haar ’n oomblik ongemaklik teen hom vas. Clive het verlede jaar veertig geword, maar vandag lê daar kepe langs sy mond wat hom ouer laat lyk.

      Sy soek na Albert, maar sien hom nêrens nie. Sy is nie té verbaas nie. Sy ma se begrafnis was waarskynlik die eerste en enigste begrafnis waar hy al ooit was.

      Toe Melissa aanbied om vir haar ook tee te gaan haal, skud sy haar kop. Sy weet nie wat sy nou nodig het nie, maar sy weet dis nie tee en ’n toebroodjie nie.

      Melissa haak by haar in, en hulle staan stil langs mekaar. As iemand weet hoe haar binnegoed bewe, is dit Melissa.

      “Gaan jy vanaand huis toe?”

      “Nee, ek sal maar nog vanaand by haar slaap.”

      “Wil jy hê ek moet saamkom?”

      Ellie glimlag. “Miskien moet jy gaan, en ek sal by Antonie en die kinders gaan slaap.”

      “Miskien moet ek by jou kom slaap en dan stuur ons jou ma daar na my klomp toe. Ek weet nie wie ek die jammerste sal kry nie.”

      Stadig maar seker raak die simpatiebetoners minder en Ellie moet haarself keer om hardop te sug toe net hulle en Vader Frank oorbly. Sy soen hom op die wang.

      “Thank you, Father. I’m sorry that you had to do this – it couldn’t have been easy, but there was nobody else that I could ask.” Ellie glimlag. “Not that I had a choice. He always said that it has to be you or just a cremation. Finish en klaar.”

      Die gryskopman neem haar hande in syne. “I am so sad, and even a little angry for my friend, but I would have been very hurt if you didn’t ask me. I promised him long ago that if this day came, and I was still around, I would do this for him. He could have made it easier for me by not dying, but then again, he was never a man for making things easy.”

      Ellie knik. “Tell me something I don’t know.”

      Hy draai na haar ma, neem albei haar hande in syne. “He loved you very much.”

      Rika McKenna maak ’n geluid wat soos ’n grom klink en Ellie groet haastig.

      “Waarheen gaan ons nou?” wil haar ma weet toe hulle in die motor klim.

      “Ek gaan Ma by die huis aflaai. Tannie Vera-hulle sal by Ma kuier. Ek moet eers ry, maar ek sien Ma weer later.”

      “Ek weet julle gaan na Joe’s toe. Waarom kan ek nie saamgaan nie?”

      Moet my tog nie met tee en koffie begrawe nie, het haar pa in ’n brief geskryf. ’n Brief wat hy saam met sy testament in ’n koevert gebêre het, en wat al half verbleik is. Kyk in my kas, agter in my sokkielaai sal geld wees – vat die manne daar na Joe toe en koop vir hulle ’n ronde of twee.

      Die geld was daar, en Ellie het gewonder wanneer hy dit daar gesit het. Of hy dit maar met die jare aangevul het, soos alles duurder geword het?

      “Dit was ’n lang dag. Ek en ma kan een aand gaan, maar nie vandag nie.”

      By die huis het haar tante en dié se man steeds hulle begrafnisklere aan. Hulle is in die kombuis besig om tee te maak.

      “Kom drink ’n koppie tee,” nooi tannie Vera.

      Ellie sien hoe haar ma oor haar lippe lek en sy weet dit gaan nie skoon tee wees nie, maar sy kan haar nie nou daaroor bekommer nie.

      Hoofstuk 3

      Joe’s is volgepak toe Ellie daar kom. Die kroeg is ’n straat weg van Durbanweg, net voor jy van Bellville se kant af oor die N1 ry. Dis ’n gewilde kuierplek, en baie polisiebeamptes kom maak saans hier ’n draai op pad huis toe. Die stemme verdoof effens toe sy instap. Diegene wat nie by die begrafnis was nie, maak opmerkings oor haar donker hare. Ellie trek maar net haar skouers op.

      Joe kom agter die toonbank uit en neem haar hand. “Ek is bly om te sien jy het die dag oorleef.”

      Sy hande vou stewig om hare. Vir iemand diep in sy sestigs is hy ’n baie sterk man. Hy het in sy jong dae gestoei, en is steeds stewig gebou. Dis net sy hare wat nie gehou het nie. Behalwe vir ’n dun strepie grys hare agterom sy kop, is hy feitlik heeltemal bles.

      Ellie skud haar kop. “Moenie te gou praat nie.”

      Iemand raak aan haar skouer en toe sy omdraai, staan brigadier Ibrahim Ahmed agter haar.

      Sy knik stram. “Brigadier.”

      “It was a fitting farewell.” Toe sy nie antwoord nie, raak hy aan haar arm. “Ons twee kan annerdag ons differences uitsorteer, vandag is nie die tyd nie. Kom ons groet hom eers soos wat hy sou wou gehad het.”

      Sy knik. “Ek waardeer dit dat brigadier gekom het.”

      Hy maak sy keel skoon, terwyl hy op die kroegtoonbank kap. “As ons net ’n oomblik bietjie stilte kan kry.” Hy beduie na ’n paar jonges agter in die vertrek wat weer aan die gesels geraak het. “Shut up daar agter.” Hy draai na Ellie. “Mac, we don’t have words, en ek weet eintlik glad nie wat ek wil sê nie, behalwe dat dit ’n voorreg was om hom te ken. Veral om saam met hom te kon werk. As jy daai man agter jou gehad het, het jy nooit omgekyk nie. Dis vir ons almal ’n groot verlies. Ons kan seker vir mekaar sê as hy ’n keuse gehad het, sou hy dit so verkies het, maar dit maak dit nie beter nie. Dis moeilik genoeg as hulle enige onskuldige mens op so ’n manier uitvat, maar dit vat hard aan ’n mens as dit een van jou eie is.” Hy raak ’n oomblik stil, en toe hy weer praat, is sy stem dun. “Op die Ier.” Hy lig sy glas.

      Daar is ’n luide “hoor, hoor!” en dan praat een van die jonger manne. “Alles wat ek vandag van polisiewerk weet, het John McKenna my geleer.”

      “Hau, man, he could chew your ear when you fucked up,” laat ’n jong swart man voor teen die toonbank hoor. “But what I liked most, is that he was as straight as an arrow. You always knew where you stood with him.”

      “Onthou julle die aand wat ons daardie huis in Bonteheuwel moes gaan raid?” val ’n jarelange kollega ook nou in. “Ons het maande lank daaraan gewerk, almal was op hulle plek, en toe kry hy hierdie snaakse gevoel dat dinge nie reg is nie. Fok, die manne was darem kwaad vir hom.”

      “Ja, maar vir die Ier se sesde sintuig was ons banger as vir die duiwel self. Daarmee het niemand geneuk nie. Al hierdie handboeke oor profiling kom nie naby daai man se oog en instink nie.”

      Ellie laat hulle begaan. Laat elkeen sy stukkie onthou vertel terwyl hulle skouer aan skouer kuier. Wanneer hulle weer hier uitstap, dra elkeen sy eie vrese saam huis toe, en die wete dat dit jy kon wees. Haar eie woorde lê dik in haar mond.

      Sy is moeg, en drink diep uit die glas wat Joe in haar hand gestop het. Sy het nog nie vandag geëet nie en voel hoe die whiskey tot in haar maag val, waar dit ’n brandkolletjie maak.

      “Wat het hy altyd gesê wanneer hy sy eerste glas in die hand gehad het?” roep iemand na haar.

      “May your glass be ever full, may the roof over your head be always strong, and may you be in heaven half an hour before the devil knows you’re dead,” roep sy terug en almal lag. Daardie soort lag wat net ’n bietjie te hard is, en ietwat desperaat klink.

      Sy lig haar glas. “Here’s to you, old man. Ek hoop jy het die duiwel voorgespring.”

      “Oh Danny boy, the pipes, the pipes are calling,” begin haar pa se neef sing, en


Скачать книгу