Satan van Zimbabwe. Ena Murray
Gustaf Lenard se gesig lyk grimmig in die halfskadu. “Nadat hulle hier weg is,” herhaal hy betekenisvol.
Die eerste keer dra Sandra tot die gesprek by.
“Jy bedoel . . . anders as oubaas Brijns?”
Haar stem klink geskok en ook Basson lyk asof hy geskok is oor hierdie bewering.
“Ek weet nie,” antwoord Gustaf met ’n sug. “Ek het nog geen bewyse om so iets te beweer nie, maar ek kan dink wat ek wil nie, waar nie? En dit klink vir my logies. Al die toeriste onder bespreking plus oubaas Brijns het skielik sonder klaarblyklike rede begin verswak. Sover bekend het beslis een geval, dié van Botes, herstel, en ons kan aanneem die ander het ook. Dit sal ons nog moet vasstel, maar ek dink ons sal van die ander presies dieselfde hoor. Sodra hulle die ruïnes verlaat het, het hulle begin beter word en heeltemal herstel van die vreemde aandoening. Maar oubaas Brijns het nie. Hy het gesterf – juis omdat hy gebly het! Dis tog so duidelik soos daglig . . . vir my, altans.”
Daar heers ’n oomblik stilte terwyl Sandra en Basson ernstig aan Gustaf se woorde herkou. “Jy het ’n punt beet, Lenard,” laat Basson ná ’n rukkie hoor. “Ek dink jy het gelyk. Die ander was toeriste wat kon weggaan . . . en so hul eie lewe kon red. Oubaas Brijns was permanent hier woonagtig. Dit is sy blyplek dié . . . en hy het gesterf.”
Sandra se oë lyk groot en rond in die skemerlig terwyl sy die twee mans beurtelings ontsteld aankyk.
“Maar besef jy, Gustaf, as jy gelyk het in daardie veronderstelling, wat dit werklik beteken? Dit beteken dat . . .”
“ ’n Hele klomp mense al sou gesterf het. Dit beteken, my liewe, knap misdaadverslaggeefstertjie, dat hier dan waarskynlik nie net een moord gepleeg sou gewees het nie, maar ’n hele klomp. Natuurlik besef ek dit.”
“Maar hoe kan jy sommer aanneem dis moord?” verweer sy heftig. Sy weet nie hoekom nie, maar dis of sy teësinnig, selfs bang is om die woord “moord” in verband met die vreemde gebeure te bring.
Ook Basson protesteer.
“Ek erken die feite lyk vreemd en agterdogtig, maar kan ’n mens dit sommer moord noem?”
“Ek gee nie om wat ander mense dit noem nie. Ek noem dit moord. Instink vertel my dat hier gemene spel aan die gang is.”
Sandra kyk hom skerp aan en Basson laat met ’n geamuseerde glimlaggie hoor: “Ek het nooit geweet dat onderwysers se instink so fyn ontwikkel is nie!”
Gustaf glimlag ook effens.
“Daar is ’n ou Afrikaanse gesegde wat ek by my leerlinge indril, doktor. ’n Mens raak nooit te oud om te leer nie! Met alle respek, natuurlik!”
Basson lag geamuseer, maar Sandra se gesig bly ernstig terwyl haar oë die man langs haar bestudeer.
“Ons sal moet terugdraai,” laat Gustaf dan hoor. “Ons kan nie te lank hier staan en gesels nie, anders sal dit miskien agterdog wek. Net een ding, doktor Basson. Hou asseblief jou oë en ore oop. Dit geld vir jou ook, Sandra. Ek dink ons het hierdie keer met die volmaakte moord te doen, of liewer, ’n volmaakte moordenaar. Maar ek sal hom nog betrap en uitlewer . . . al sterf ek ook.”
Daar word nie verder gepraat nie, want hulle is reeds binne hoorafstand van die gebou. Dis met somber gemoed dat hulle mekaar ’n geruste nag toewens en na hul onderskeie kamers afdraai.
Toe Sandra haar kamerdeur agter haar toedruk, het sy reeds die sleutel in die slot gedraai voordat sy besef dat sy dit gedoen het. Sy frons terwyl sy daarna staar. Nou hoekom het sy dit gedoen? Sy slaap nooit met ’n geslote deur nie. Tog, toe sy omdraai en haar begin verklee, is die deur nog steeds gesluit en dit bly gesluit toe sy enkele minute later die kamerlig doof.
Maar sy slaap nie. Sy lê met groot, oop oë en nugter verstand die donkerte en instaar. Haar verstand werk teen ’n blitsige verslaggewerspas. Maar toe sy aan die einde van al die feite, of halwe feite kom, moet sy met Gustaf Lenard saamstem. Iets is hier beslis nie pluis nie. Maar moord? Net op hierdie punt deins sy terug. Want ás dit moord is, dan het Gustaf Lenard volkome gelyk om te beweer dat dit volmaak is, en dat dit deur ’n volmaakte moordenaar beplan en uitgevoer is. Dit laat haar onrustig, selfs bang voel.
In haar loopbaan as misdaadverslaggewer het sy al met baie misdadigers, koelbloedige moordenaars, te doen gekry. Maar tog was hulle almal op die een of ander punt menslik, het hulle ’n kwesbare plek gehad, was daar nog genoeg mens in hulle met wie jy kon praat en redeneer. Maar ’n volmaakte moordenaar . . . Dis iets wat sy hoop sy nooit op haar pad sal teëkom nie, want so ’n mens moet werklik ’n satan wees. Daar moet ’n diaboliese verstand agter ’n volmaakte moord skuil en die slinksheid van Satan self moet in sy donker hart woon.
Nee wat, Gustaf Lenard slaan die bal mis. Hierdie onderwysertjie lees te veel slapbandrillers en speurverhale middae ná skool. Dis die fout met hom. Onderwyser? Sy frons in die donker, en roep sy gesig voor haar geestesoog op – ’n sterk gesig met hoekige kakebeen, ferm lippe, ’n haakneus, donker oë, ligte hare, lang, amper seningrige gestalte, vierkantige skouers en ’n stem met gesag asof hy weet waarvan hy praat wanneer hy van moord en volmaakte moordenaars praat. ’n Onderwyser?
Haar gedagtegang word skielik deur ’n geluid onderbreek en sy sit regop in die bed. Sy kan sweer sy het iemand hoor snik. Sy wil weer teruglê toe die geluid duidelik herkenbaar deur haar oop kamervenster kom. Dit ís ’n snik! Iemand huil!
Sandra byt haar onderlip vas. Een van die mans sal dit tog seker nie wees nie. Trouens, doktor Basson en Gustaf het in die ander gang afgedraai toe hulle naggesê het. Die here Powell en Dickens het lankal gaan slaap en dit sal tog sekerlik nie een van hulle wees wat in hierdie middernagtelike uur byna hardop lê en snik nie! Nina en haar man se kamer is dit ook nie. Sandra het opgemerk, terwyl hulle vanaand tee gedrink het, dat die eienaars van die vakansieplaas hul eie private woonstel aan die gebou het. Die enigste en waarskynlikste persoon wat dus die kamer langsaan het en nou so droewig snik, kan net Dianne Bougard, die argeoloog se sekretaresse, wees.
Sandra aarsel en sit besluiteloos. Normaalweg sou sy niks daarvan gedink het nie om nou na die kamer langsaan te gaan en te gaan hoor wat skort en of sy miskien kan help. Sandra is ’n lieftallige mens en haar hart is oop vir haar medemens se probleme en hartseer. Maar iets hou haar terug. Dianne Bougard het vanaand aan teetafel beslis vreemd opgetree. Sy het op die oog af bot en ongesellig voorgekom. Noudat Sandra egter tyd het om goed terug te dink, besef sy dat Dianne nie bot en onvriendelik was nie. Daardie meisie is diep ongelukkig. Sy was ook gespanne en bekommerd en, toe sy die vertrek so haastig en sonder verskoning verlaat het, beslis bevrees, amper beangs. Hoekom? En vir wie? En nou lê en huil sy hier langsaan!
Sandra onthou weer daardie betekenisvolle blik tussen Dianne en Phil Andrews. Sy kan sweer dit was ’n baie intieme blik, soos tussen twee mense wat ’n geheim deel . . . of verlief is op mekaar.
Sandra frons terwyl sy luister na die sagte geluide wat nog steeds deur haar kamervenster kom. Is sy ook nou besig om aan ’n oormaat verbeelding te ly, soos Gustaf Lenard, of is hierdie vermoede van haar juis? Is Dianne Bougard en Phil Andrews verlief op mekaar, of beteken daardie blik tussen hulle heeltemal iets anders? Nie dat die eerste vermoede vergesog is nie. Phil Andrews is op sy growwe, ongepoleerde manier aantreklik. Hy en Dianne is beslis nader aan mekaar se ouderdomsgroep as Andrews en sy vrou. Dis heeltemal moontlik dat hierdie twee op mekaar verlief geraak het.
Weer word haar gedagtegang onderbreek, hierdie keer deur ’n fluisterstem. Voordat Sandra haar kan bedink, is sy by die venster. Dianne Bougard is nie net aan die huil in die kamer langsaan nie. Sy is beslis ook besig om te pleit. By wie? Sandra hou haar verskuil agter die gordyn en sy verontskuldig haar gedrag met die gedagte dat Gustaf haar en doktor Basson tog gevra het om hul oë en ore oop te hou.
“Asseblief! Asseblief! Ek kan dit nie langer uithou nie! Ek gaan met haar praat. Ja, ek gaan! Ons kan nie so voortgaan nie!”
Sandra kan elke woord duidelik hoor en sy hou haar asem op toe ’n ander fluisterstem dringend waarsku: “Moenie dwaas wees nie, Dianne! Jy weet nie wat jy sê nie! Los Nina uit!”
“Maar