Satan van Zimbabwe. Ena Murray
’n Sagte kreuntjie klink op en aan die geluide kan Sandra agterkom dat die man Dianne in sy arms moet geneem het. Daar heers ’n hele rukkie stilte. Dan hoor sy die man se pleitende fluisterstem.
“Dis nog net jy wat my moed gee om van dag tot dag voort te gaan. Was jy nie daar nie, het jy nie so wonderlik in my lewe ingestap en weer betekenis daaraan gegee nie, sou ek lankal ’n einde aan alles gemaak het. Hoe kan jy sê ek sal dit verkies dat jy weggaan?”
“Maar jy wil ook niks doen om sake vir ons op te los nie!” hoor Sandra die heftige protes. “Jy wil nie met jou vrou praat nie, en jy verbied my om reguit met haar te gaan praat.”
’n Sug ontsnap die man se bors.
“Dianne, dit sal nie help nie. Hoeveel keer moet ek dit vir jou sê?” Dis asof sy stem wil breek. “Jy sal net . . . die duiwel loslaat. Dis al. Asseblief! Asseblief, dit moet jy my belowe. Jy praat geen woord met Nina oor ons twee nie!”
Sy stem klink nou ietwat duideliker en Sandra kom agter dat die man deur die venster na buite klim. Sy hoor die dowwe plof toe hy op die grond spring. Dianne se stem klink ook nou helderder op. Sy het nader aan die oop venster beweeg.
“Soms kan ek jou amper haat vir die vernederende posisie waarin jy my plaas, Phil. Ek voel al goedkoop en sleg en ek wil dit nie wees nie. Ek het jou lief en ek wil jou openlik liefhê . . . nie op hierdie manier nie!”
“Miskien sal dit beter wees as jy my liewer werklik kan begin haat, Dianne. Dis miskien die enigste oplossing vir ons,” klink Phil Andrews se stem somber op, sodat Sandra hom op hierdie oomblik amper jammer kry.
“Ek besef al meer en meer hierdie ding tussen ons moet liewer end kry. Ja, dit moet ’n stil dood sterf voordat . . .” Hy swyg en vervolg dan vinnig: “Ons sien mekaar weer. Ek moet nou gaan. Slaap lekker, my skat.”
Van agter die veilige skuiling van die gordyne sien Sandra hoe Phil Andrews digby haar venster verbykom en met geboë skouers aanstap totdat hy om die hoek verdwyn. Sy staan roerloos, want sy weet Dianne staan nog by haar venster. Sy wag ’n lang ruk voordat sy dit waag om na haar bed terug te keer. In die kamer langsaan het dit doodstil geword. Sandra neem versigtig plaas op die kant van haar bed. Van slaap is daar nou geen sprake nie.
Dan was haar vermoede reg! Daar is ’n geheime liefdesverhouding tussen die baas van Ruined Paradise en Dianne Bougard. Sou Phil Andrews se vrou daarvan bewus wees? Die fyn, smartbespoorde gesiggie van Nina Andrews verskyn voor haar geestesoog. Sonder dat iemand haar dit hoef te vertel, weet Sandra intuïtief dat Nina van hierdie feit bewus is. Daar is ’n weemoed en ’n hartseer in die fyn gelaatstrekke afgeëts wat dit verraai. Dis nie net liggaamlike smart wat hierdie vrou dra nie. Weer voel Sandra haar hart in medelye saamtrek. Die arme Nina!
Maar dan, verbasend, is daar ook medelye in haar hart vir Dianne Bougard en die grof geboude Phil. Ook hulle moet deur hel gaan. Die ewige driehoek! Sandra sug. Ai, ’n mens is so magteloos om in so ’n situasie te help. Phil Andrews het gelyk gehad. Dit sou vir almal beter gewees het as Dianne Bougard die man wat sy nou so liefhet dat sy haar verneder en goedkoop maak, eerder kon leer haat. Dit sal beslis ’n oplossing vir ’n onmoontlike situasie wees.
Sandra voel diep in haar hart hewig ontsteld. Sy het gekom om vakansie te hou, om te ontspan en te vergeet van al die grusame dinge waarmee sy die afgelope jaar in haar werk in aanraking gekom het. Sy glimlag nou skeefweg. Maar dit lyk asof sy, soos ’n vlam ’n mot, intrige na haar toe aantrek. Sy het nog nie behoorlik aangeland nie, of dit is bloedlose lyke, vreemde aandoenings, moordstories en, les bes, ’n geheime liefdesverhouding! Sy kyk na die wekkertjie op die bedkassie. Twaalfuur. En sy is maar presies vier uur lank hier!
Nugter wakker, besef sy dat sy dors voel. Daar is egter geen kraffie met water te siene nie, en sy besluit om maar gou badkamer toe te gaan. Baie versigtig om geen geraas te maak nie, draai sy die sleutel terug in die slot en trek die deur oop. Skielik lyk dit vir haar so ver na die badkamer aan die onderpunt van die gang. Sy staan nog besluiteloos toe ’n sagte geluid haar aandag in die teenoorgestelde rigting trek. Dit klink soos papier wat liggies in die voorportaal kraak.
Wat gaan in hierdie plek aan? wonder sy ’n oomblik benoud. Slaap die mense dan nooit hier nie? Alle lus vir water het haar verlaat. Sy luister fyn. Daar is dit weer – soos ’n blad wat versigtig omgeblaai word.
Sandra voel kriewelrig, maar haar nuuskierigheid kry die oorhand. Sy sal vannag nooit ’n oog toemaak as sy nie gaan vasstel wat daardie geluid veroorsaak nie. Biddend dat die vloer nie onder haar ligte voetstappe moet kraak nie, sluip sy die gang af. Dit voel soos ’n oneindigheid voordat sy die ingang tot die voorportaal bereik. Sy trek haar asem in en hou dit op toe sy baie versigtig om die hoek loer. Haar oë rek.
Iemand is besig om in die besoekersboek te blaai! Sy frons. Dis ’n man, maar dis nie Phil Andrews nie, daarvan is sy seker. As dit hy was, sou hy die lig aangeskakel het en nie met ’n sakflits in die donker sukkel nie. Sy kan die man nie duidelik sien nie, want die res van die portaal is in donkerte gehul. Dis net die ronde ligkol op die besoekersboek wat te siene is. Sandra staan roerloos. Sy is te bang om asem te haal.
Dan sien sy hoe die man nader oor die boek buk asof hy op iets afgekom het en nou is die buitelyne van sy gesig herkenbaar. Sy snak na asem en die man reageer soos blits. Dis soos ’n weerligstraal wat op haar afskiet sodat sy reeds stewig vasgevat is en ’n hand knellend om haar mond sluit voordat sy weer ’n asemteug kan trek. Dan word sy stadig gelos en sy kyk in die donker na hom op.
“In hemelsnaam, wat gaan met jou aan – jy sal dat ’n mens jou boeglam skrik!”
“Sagter! Wil jy die hele plek wakker hê?”
“Die hele plek ís wakker. Lyk my hier slaap g’n mens nie,” brom sy gedemp en vee oor haar lippe waar sy vingers met ruwe geweld gekneus het.
“Wat soek jy hier?”
“En wat krap jy om twaalfuur die nag in ander mense se goed rond?” is haar parmantige weervraag en Gustaf trek haar met min ontsag die voorportaal binne. Hy kners liggies op sy tande.
“Dit het niks met jou te doen nie, verstaan?”
“Dit het iets met meneer en mevrou Andrews te doen, en ek is van plan om hulle môreoggend hiervan te vertel.”
Daar heers ’n oomblik stilte.
“Jy’s tog seker nie ernstig nie!”
“Natuurlik is ek, behalwe natuurlik as jy my vertel wat so interessant in daardie besoekersboek is dat jy dit om twaalfuur die nag met ’n sakflits moet deursoek . . . speurder Lenard.”
“Jy praat twak!”
“Ek mag twak praat, maar jy is maar ’n twakkerige speurder, Gustaf Lenard. ’n Mens kan jou op ’n afstand uitruik. Speurders het ’n reuk van hul eie, en my neus ken daardie reuk. Jy stink behoorlik van intrige!”
’n Oomblik is hy stil. Dan gee hy die stryd gewonne.
“Nou goed dan. Ek is ’n speurder. Wat wil jy daarmee maak?”
“Niks. Nie nou nie. Maar, Gustaf, wanneer hierdie saak opgelos is, wil ek die scoop hê, hoor?”
“O, julle joernaliste! Julle sal ’n mens selfs afpers om jul sin te kry!”
Sy lag saggies, tevrede. Haar skoot in die donker het getref!
“My liewe Gustaf, jy kan my nie kwalik neem dat ek jou sommer uitgeruik het nie. Jy lyk darem te onnosel vir ’n onderwyser!” terg sy.
“Meisiekind! Jy moet . . .” Dan sluk hy sy woorde terug, neem haar hand en trek haar nader na die ontvangstoonbank. “Ek sal jou later kry vir daardie belediging. Nou is daar werk. Kom help.”
“Wat doen jy?” vra sy nuuskierig.
“Ek soek na die name van die toeriste wat doktor Basson vanaand opgenoem het – dié wat skielik swakheidseienskappe geopenbaar het. Ek het al drie gekry. Soek jy in hierdie boek. Dis die een wat nou gebruik word. Ek vermoed dat ek al die ander name in ’n vorige