Katrientjie. Sarah du Pisanie

Katrientjie - Sarah du Pisanie


Скачать книгу
lag hard en vol vreugde.“Om watter rede, Ouma? Dink Ouma dalk daar sal ’n man los rondloop wat vrou soek?”

      “Ag, moenie vir jou snaaks hou nie! Ek het nog nooit tyd gehad vir verspotte meisiekindertjies nie!” Sy draai vererg om en stap met ’n stywe ruggie wat die plomp postuurtjie potsierlik laat rol by die deur in.

      Katrien gaan sit weer op die muurtjie en kyk oor die stil, vreedsame plaas. Dit sal lekker wees om met die beeste te trek. Aan die stories van die veediewe steur sy haar min. Sy hou net nie van die idee om in Windhoek te moet vertoef nie. Sy het tog geen sinnigheid in die lewe daar nie.

      “Katrien.”

      “Ja, Oupa?” Sy kom sit naby hom, want sy kan sien dat hierdie praatjie nie vir Stien se ore bedoel is nie.

      “Jy moet versigtig wees, my kind.”

      “Ja, Oupa. Oupa weet mos ek sal!”

      “Die stories van die veediewe is waar. Daar is glo twee wit mans en ’n paar swart helpers. Hulle slaan gewoonlik toe op die boere wat so met hul vee trek, want dan weet hulle daar is nie hulp naby nie.”

      “Ag, Oupa, ek glo dit darem nie. Dit is maar sommer net stories.”

      “Ek hoop regtig so, my kind. Maar jy moet tog versigtig wees. Oupa weet dat jy beter kan skiet as enige van hierdie mans, maar jy is en bly net ’n vrou. Jou krag is baie minder as die mans s’n wanneer dit op ’n skermutseling uitloop.”

      “Moenie bekommerd wees nie, Oupa. Ek sal die beeste veilig in Windhoek kry. Ons sal nie een van hulle verloor nie.”

      “Dit is nie oor die beeste wat ek bekommerd is nie, my kind; dit is oor jou!”

      Sy buk vorentoe en soen hom liggies op sy wang. “Ek sal versigtig wees, Oupa.”

      Sy stap dan diep ingedagte kombuis toe om ’n bietjie om Stien te gaan draai. Sy weet dat dié nou behoefte het aan haar nabyheid en nie nou alleen wil wees met haar kwellende gedagtes nie.

      “Gee, dan skil ek vir Ouma die aartappels.”

      Stien vee ongemerk oor haar oë met haar voorskoot se punt en Katrien maak maar of sy dit nie raaksien nie.

      “Ek sal nie so lank weg wees nie, Ouma. Wanneer ons eers die beeste afgelewer het, kom ons baie vinniger terug. Die osse wat die wa trek, trek baie vinniger, want ’n mens het mos nie nodig om hulle te spaar nie.”

      Stien sug net diep, maar praat niks nie.

      “Ek sal sommer vir Lukas vra om vir ons lekker vars mieliemeel te maal. Veral wanneer hy so ’n bietjie geelmielies bysit, is dit darem baie lekker.”

      Katrien sien hoe haar ouma stadig opstaan terwyl sy haar gedagtes begin organiseer en sy begin beplan wat sy alles vir haar enigste ou ooilammetjie moet inpak.

      “Ek wil net gou weer ’n draai daar by die krale gaan maak, Ouma. Ek sal nou-nou terug wees.”

      “Goed, hartjie!”

      By die deur draai Katrien eers weer om met ’n stout glimlaggie op haar gesig. “Hoe lyk dit met ’n ou poedinkie, Ouma?”

      “Stout kind! Jy soek darem altyd net ’n verskoning om ’n soetigheidjie uit my te kry.”

      “Maar Ouma is darem ook so snoep met die soetgoedjies.”

      “Ek wil nie hê jy moet soos daardie ou jong meisietjies lyk wat in Jan Prinsloo se winkel werk nie.”

      “Ag, nee wat, Ouma, daarvoor werk ek te hard. Ek sal nie kans kry om so te stoel nie.”

      “Ja, wees maar versigtig! Ek was ook so maer en dun soos jy toe ek jou ouderdom gehad het, en kyk net hoe lyk ek vandag!”

      “Ag, Ouma is pragtig en die lekkerste, sagste ouma in die hele wêreld.” Katrien druk ’n soentjie op die verrimpelde ou wangetjie en draf by die agterdeur uit.

      2

      Ritmies skommel die wa agter die blinkvet osse aan. Die ritme maak Katrien lomerig en sy sit slap en lui voor op die bankie. Haar hele liggaam is ontspanne, oorgegee aan die tydsame eindeloosheid van die groen landskap om haar.

      Die opgeskote Hereroseun sing ’n wysielose liedjie waar hy gedagteloos met die leiriem in sy hande in die rooi stofspore voor die osse uitstap.

      Katrien sien sy kaal voete breë spore langs dié van die osse trap en dit fassineer haar etlike minute lank. Sy rek haar uit en spring dan rats van die bewegende ossewa af.

      “Filemon, trek daar voor onder die groot boom in. Ek gaan met Bes terugry en help om die beeste aan te jaag. Ons gaan vannag hier kamp opslaan.”

      “Is dit nie nog baie vroeg nie?” Filemon kyk na die son en skud sy kop onbegrypend.

      “Ja, dit is nog vroeg, maar ek wil hulle nie die eerste dag te veel aanjaag nie. Ons sal die skofte maar elke dag ’n entjie langer maak. Die beeste is vet en lui.”

      Filemon is tevrede met die verduideliking en hervat sy eentonige liedjie terwyl hy met die osse aanstap na die koelte van die groot maroelaboom wat uitnodigend wink.

      Katrien spring rats op die getroue Bes wat ook slenterend saam met die wa stap. Op ’n stadige stappie beweeg hulle al met die spore langs terug tot by Lukas en Andreas en die ander twee beeswagters wat die beeste aanjaag.

      “Is hulle nog almal bymekaar, Lukas?”

      “Ja, juffrou Katrien. Hulle is net lui. Hulle wil kort-kort eers gaan staan, en party wil sommer gaan lê.”

      “Ja, ek het so gedink. Ons gaan net hier voor kamp opslaan. Ons sal môre probeer om ’n bietjie verder te trek as vandag.”

      “Ja, dit sal goed wees, juffrou Katrien. Ons is nog op Kameeldrif. Hulle kan sommer hier by hierdie plaasdam suip.”

      “Ja, ons het dit so beplan.”

      Katrien spring van die perd af en oorhandig die teuels aan Lukas. Sy stap ’n draai deur die trop pragtige, vet afrikanerbeeste en haar hart swel van trots terwyl sy na hul blink, gladde lywe kyk wat knop maak van die vet onder die velle.

      Hierdie beeste gaan hulle weer op die been bring. Dit het die afgelope klompie jare nie so goed gegaan nie. Daar het altyd iets opgeduik wat hulle ’n klomp geld uit die sak gejaag het. Hierdie spannetjie behoort egter ’n goeie sommetjie in te bring. Oumeneer Lewis van Windhoek het reeds sy prys gemaak en dit is baie beter as wat hulle hier in hul onmiddellike omgewing kan kry. Sy moet hulle net stadig aanjaag en gereeld laat oorstaan om te rus, sodat hulle nie te veel kondisie verloor nie.

      Sy en haar oupa het die hele trek na Windhoek tot in die fynste besonderhede uitgewerk. Daar is oral langs die pad plase waar hulle die beeste kan laat suip. Verder aan is daar nog die Omaruru-rivier. Dit was ’n goeie jaar en water is volop.

      Katrien kyk na die groen veld en digte ruigtes om haar en in haar hart is ’n groot dankbaarheid teenoor die Skepper wat aan hulle soveel milde gawes uitgedeel het. Hoe lief het sy nie hierdie wêreld met sy warm son en groen-groen velde nie!

      “Lukas, nadat die beeste klaar gesuip het, kan hulle sommer daar op die kaal kol langs die dam oorstaan vir die nag.”

      Katrien praat oor haar skouer met Lukas wat amptelik in bevel van die beeste is, terwyl sy weer in die saal wip.

      “Ja, juffrou Katrien. Die oumeneer het gesê ons moet waghou vannag, so ons sal maar moet beurte maak. Die oumeneer is glad nie gerus nie.”

      “Dit sal darem nie vannag al nodig wees nie, Lukas. Ons is mos nog sommer hier by die huis.”

      “Almiskie! Ons sal maar waghou. Ons wêreld is te naby die berge en hulle sê juis daardie skelms hou hier naby die berge rond waar hulle kan wegkruip.”

      Katrien lag net. Hierdie veediefstalstorie bekommer haar glad nie. Dit is darem taamlik vergesog en sy blaker die eerste een wat aan haar beeste wil vat vol lood. Lukas knyp sy mond op ’n stywe


Скачать книгу