Ridder in 'n wit jas. Amelia Strydom

Ridder in 'n wit jas - Amelia Strydom


Скачать книгу
is verlate en sy kyk besluiteloos rond. Sy moet seker eet, maar is lus vir niks. Die muffins lyk droog, die vleispasteie olierig. Die mislikheid wat sedert die begrafnis soos ’n skootbrak op haar hakke bly, stoot in haar keel op. Nee wat, dis te vroeg vir eet. Sy sal later stilhou.

      Vir “Brekfis op Bloemfontein”, soos Laurika sing.

      Buite balanseer sy die geriffelde kartonkoppie op die enjinkap terwyl sy die petrolgeld aftel. Twee luiperds en ’n buffel. Sy sluk swaar toe sy die geld in die joggie se hand stop. Vervlakste petrolprys wat so aanhou styg. Sy sal wéér moet volmaak ook, dis nie altemit nie. Én daar’s tolhekke . . . Eish, hierdie maand gaan sy elke rand tien keer omdraai.

      Alles het so vinnig gebeur. JP het haar bas gered met die ekstra salaristjek uit die boedel, maar haar bank­balans krimp vinniger as ’n strandbal met ’n speldeprik. Wie sou kon raai ’n trekkery is so duur? Haar nuwe vergoedingspakket sluit wel ’n gemeubileerde kothuis in, maar sy kon dit nie oor haar hart kry om Em se antieke meubels te verkoop nie. Stoorplek kos ’n fortuin, en haar kar moes gediens word vir die lang pad. Nuwe bande kry. Ag, ’n duisend dingetjies. Totdat dokter Eben Greyling haar betaal, sal sy van bruinbrood en groente­sop moet leef.

      Skuldig proe sy aan haar wegneem-koffie. ’n Onnodige luukse, sy moes tuis gemaak het. Maar haar ketel was ingepak en sy was haastig om in die pad te val. Dokter Greyling verwag haar eers môre, maar sy het klaar gegroet dié kant en wil nie sit en wag nie. Nee wat, as sy vandag ry, kan sy môre al by die mobiele kliniek inval en haar nuwe baas met haar fluksheid beïndruk. Of sommer ontspan, die plaas verken waar sy die volgende jaar gaan bly. Rustigheid is presies wat sy nodig het ná al die hel.

      Sy neem nog ’n slukkie koffie en wens sy kon haar treurigheid saam met die bitter vloeistof wegsluk. Sy gaan nié nou tjank nie. Nie hier op die snelweg agter die stuur nie.

      Aargh! Sy klap die paneelbord dat haar handpalm brand. Emmari en Jak is haar trane nie werd nie. Nie noudat sy weet wat hulle aangevang het nie. Lafaards. Banggatte. Sy draai die radio met mening aan. Sing saam met ’n boy band wat sy nie kan verdra nie. Solank sy nie hoef te dink nie.

      Sy vorder goed tot op Bloemfontein, toe begin die geneuk. Eers padwerk. Nie soos mens hulle in Gauteng kry nie. Nie die ry-’n-bietjie-stadiger-en-kom-’n-halfuur-laat-soort nie. Nie een-baan-is-toe-padwerk nie. Aikôna. Hier staan jy ’n halfuur lank botstil terwyl die aankomende verkeer deurry. Toe sy die derde keer agter die geel bordjie stilhou, wil Carli gil van frustrasie.

      Haar boude is deurgesit, haar blaas wil bars, en haar kop is suf.

      Asof daar nie genoeg vertragings was nie, begin dit net voor Springfontein sous. Reënvlae waai wit teen haar voorruit vas. Haar skouerspiere kramp. Toe Colesberg se bordjies voor haar opdoem, is sy gedaan. Sy kan nie wag om van die besige hoofweg af te draai nie.

      Maar die N1 se verkeer en vragmotors was kinder­speletjies teen die plaaspad se seepgladde modderpappery. Oral blink onheilspellende damme water wat wie weet hoe diep is. O vrek! Sy weet net genoeg van grondpaaie om te verstaan dat die goed verraderlik is, selfs vir ervare bestuurders.

      Sý is ’n grondpadgroentjie.

      Wat nou? Terugdraai dorp toe? In ’n motel oorslaap en môre, wanneer dit lig en droog is, plaas toe ry? Oornag­verblyf gaan minstens driehonderd rand kos – driehonderd rand wat ’n hoop bruinbrood en groente kan koop. Nee wat, eerder moed hou en versigtig aanry. Of wag, sy sal dokter Greyling bel en vra hoe die pad vorentoe lyk.

      Hoekom lui dit nie? Sy loer na die skerm. Dêm, nie eens een balkie nie! Sy moes dit seker verwag het, simpel stads­japie wat sy is. Nou ja, dan maar deurdruk. Só erg kan dit nie wees nie.

      Asof Moeder Natuur vasberade is om haar verkeerd te bewys, begin dit harder reën. Sy kan boggerôl deur die reën­gordyn sien en het weinig beheer oor die kar.

      Sy snak na asem toe sy deur ’n besonder diep poel spat. Yskoue water stroom oor haar voete. Dit loop by haar kar in. Sou die enjin droog bly? Of gaan dit begin stotter en stik en hier in die middel van nêrens vrek?

      Iewers vanuit ’n stowwerige hoekie van haar langter­myngeheue onthou sy Jak se woorde toe hy haar leer bestuur het: “As dit by modder kom, moet jy rý, sussie. Hou jou kar in tweede, jou voet op die petrol en moet om vadersnaam nie briek nie. Jy wil nie in die middel van ’n modderpoel momentum verloor nie.”

      Die raad maak ’n reuseverskil. Haar selfvertroue groei soos die kilo’s verbykruip en haar Fiat bewys sy’s meer as ’n mooi gesiggie. Iets roois trek haar aandag ’n entjie vorentoe.

      ’n Spoorwegkruising. Haar moed plons in haar nat skoene. Dit trein sal letterlik bo-op haar wees voor sy dit sien. En nou? Terugdraai Colesberg toe en nog ’n paar honderd ophoes? Die risiko neem dat sy vasval met die omdraaiery? Liewers nie. Maar om darem blindelings oor te jaag . . . Oukei, dis nie Russiese roulette nie. Dit wemel seker nie hier van treine nie. Vir die soveelste keer sien sy daardie opgefrommelde wrak op die rotse. Ugh, sy moes nooit na die foto’s gekyk het nie. Buitendien is wat sy nou doen geensins soos Jak en Em se keuse nie. Met ’n laaste futiele blik na weerskante gee sy vet. Die agterwiele wip veilig oor die spoor en sy fluit verlig tussen haar tande deur.

      Veertig senutergende minute later sê haar GPS in ’n snobistiese vrouestem: “Destination on left”. Die reën het genoeg bedaar dat sy die naam op die uithangbord kan lees. Sielerus. Aha, presies wat die spreekwoordelike dokter voorgeskryf het. Maar hierdie verkluimde dokter met die nat voete het eers dringender behoeftes. Soos ’n badkamer, droë sokkies, en ’n koppie koffie. In dié volgorde. Ou Maslow was reg: die lewe draai om die basiese behoeftes.

      Sy volg die klipperige paadjie – kwalik twee uitgetrapte spore – teen ’n slakkepas. Eindelik bereik sy ’n okerkleurige plaashuis. Sy parkeer en rek haar stywe nek vir enige teken van die inwoners. Maar die vensters sit klein en hoog teen die mure asof die huis sy geheime bewaar. Haar oë gly oor die plaaswerf. Nêrens ’n roering nie. Dan maar bel. Sy klim nie ’n sekonde vroeër uit as wat absoluut nodig is nie.

      Steeds geen sein nie. Sy smyt die foon terug in haar sak. Hoe leef mens sonder selfoonopvangs? Sy dog haar nuwe baas is die enigste dokter vir myle? Moet sy toeter blaas? Seker te ongeskik. Sy sug en skakel die enjin af. A girl’s gotta do what a girl’s gotta do. Sy háát natreën, maar sal gaan klop. Sy kners op haar tande, pluk die motordeur oop en nael deur toe. Haar skoene gly byna onder haar uit en sy skakel oor na ’n drafstap. ’n Modderige agterent is die laaste ellende wat sy nou wil oorkom.

      Die bo-deur staan oop en sy hamer daaraan. “Hallo? Dokter Greyling?” Geen antwoord nie. Sy druk aan die binneste gaasdeur. Oop, nes sy gedink het. Etiket vereis seker dat sy om die huis draf en iemand op die werf gaan soek. Dan klik sy haar tong en maak die deur oop. Sy is doodmoeg en bevrore.

      Binne loer sy nuuskierig rond. Die huis is oud en skemerig, maar gesellig. Al druppend stap sy verby ’n spens en waskamer tot in ’n ruim leefarea. ’n Kombuis, eet­kamer en woonkamer alles in een. ’n Geelhouttafel glim in die lig van ’n staanlamp. Sy loer verlangend na die rusbank voor die knetterende vuurtjie. Stap dan maar roep-roep gangaf.

      Grafstil. Nog ’n gaasdeur. Dié is ook nie gesluit nie en maak oop op ’n lang stoep. Die rooi politoer kielie haar neusgate sodat sy onvroulik nies.

      “Verskoon my,” sê sy hardop. Niemand antwoord nie. Die enigste teken van lewe is ’n oopgevoude slapbandboek op ’n rottangstoel. Op die voorblad glinster ’n sinistere skalpel, kompleet met ’n straaltjie bloed.

      Jig, is dit die baas van die plaas se idee van ontspanningslektuur? En waar de hel is hy? Alet, die agent wat haar aanstelling gehanteer het, het gesê hy boer deeltyds met skape en . . . nog iets. Daai swart-en-wit melkkoeie as sy reg onthou.

      ’n Beweging by die klipskuur trek haar aandag. ’n Tengerige figuur in ’n helderblou oorpak kom by die deur uit, laag gebuk teen die gietende reën.

      “Haai!” roep Carli. “Hallooo!” Het hy haar gehoor? Jip, hy raak aan sy pet en wink haar nader. Agge nee! Wil hy sowaar hê sy moet wéér deur die reën hardloop?

      “Ek soek na dokter Greyling!”


Скачать книгу