Ridder in 'n wit jas. Amelia Strydom
Carolus, wat toe eintlik Carolien is. Dêmmit. Een of ander idioot het seker die dokumente – of fotostate daarvan – ingescan met ’n stuk gemors. Hoe kon Hennie so aanjaag? Hy het tog verstaan waarom dit ’n man moes wees, al kon hulle nie só adverteer nie.
Wel, dis sý fout, die bliksem kan dit regmaak. Hy gryp die huisfoon en tik die nommer in. ’n Vrouestem antwoord. “U het die stempos van Hennie Fourie bereik. Hennie is met siekteverlof tot verdere kennisgewing. Skakel asseblief vir Alet by . . . ”
Hy luister nie verder nie. Mystery solved. Net jammer sy probleem gaan haar nie so maklik laat oplos nie. Wat Carli Cloete se storie is, weet hy nie, maar hy ken ’n desperate girl as hy een sien.
In die woonkamer kry hy haar byna binne-in die kaggel. Sy het haar nat skoene uitgetrek en rooster haar tone oor die vuur. Salig onbewus dat hy haar staan en dophou. Dis eers toe sy haar kop teen die leuning rus dat hy besef hoe gedaan sy lyk. Gedaan, halfverkluim, en seker vaal van die honger. Pretoria is hel-uit ver, en sy kon nie ’n maklike trip gehad het nie . . . Hy kon sagter gewerk het, dis nie haar skuld dat sy hier is nie.
Hy moes hardop gesug het, want sy vlieg orent. “My voete was ysblokke,” verdedig sy. Slaggereed vir nog baklei. Dan kan sy darem nie té moeg wees nie. “Dis vrek koud vir April. Baie kouer as in Pretoria.” Beskuldigend, asof hy die weer spesiaal so bestel het.
“Dit ís kouer hier. Dit begin nou al ryp en hou eers Oktober se kant op. Ons winters is ysig. Om uit jou warm bed gebel te word wanneer dit buite onder vriespunt is . . .” Hy laat die dreigement in die lug hang, maar sy hou haar doof.
“Kyk hier.” Hy hou die onduidelike faks na haar uit. Lê vir haar die gemors van begin tot einde uit. Sy luister aandagtig – onderbreek hom nie een keer nie.
“Raait,” sê hy toe hy klaar verduidelik het. “Hier’s wat ons gaan doen.”
“O, sommer net so, nè? ‘Hier’s wat ons gaan doen?’ Het ek geen sê nie?”
“Luister eers, jy sal wel jou sê sê as jy nie hou van my voorstel nie.”
“Nou praat, laat ek hoor.”
Guts. Dís wat sy het. Sy’s die vreemdeling, die gas in sy huis, maar mens sou sweer dis andersom. In die skuur het hy gedink sy’s ’n verskrikte veldhaas. Wys jou net, eerste indrukke kan verkeerd wees.
Hy gaan sit langs haar, ’n veilige ent weg. Liewer nie onthou wat sy verbeelding netnou op dié einste bank met haar gedoen het nie . . . Ook maar goed sy kan nie gedagtes lees nie.
“Eers . . .” En as hy nou so hees klink? Hy maak keel skoon. “Eers gaan ek vir ons van Maggie se sop warm maak. As ons gelukkig is, het sy brood gebak.”
“Wie’s Maggie?”
“My huishulp. Sonder wie ek lankal sou vergaan het.”
“Is jy een van daai mans wat nie eens eiers kan bak nie?”
“Darem nie so erg nie. Maar die Naked Chef is ek beslis nie.”
“Phew!” Sy vee oor haar voorkop, kastig verlig. “Ek sweer, as jy jou klere voor die stoof begin uittrek, ry ek. Ek sal my kanse vat met die modder en my kar wat jy so sleggesê het.”
“O, dís hoe ek van jou ontslae kan raak?”
“As jy seksuele teistering by die diskriminasieklag gevoeg wil hê, ja.” Maar sy glimlag, en hy kan sweer dis stoutigheid wat in haar oë blink. Kan ’n triek van die vlamme ook wees.
“As ek begin strip . . .” Hy rek die pouse lank uit. “Mag jy my four-by-four se sleutels vat en dáármee ry.”
Sy lag saggies.
Raak hy nou sertifiseerbaar gek, of is hierdie ding wat hulle doen, gevaarlik naby aan . . . Hy soek na die woord. Flirt? Hulle oë ontmoet. Hou nét te lank vas.
Haar lag droog op asof ’n kraan toegedraai is.
Hy dwing sy oë vlamme toe. “Ons maak ’n deal. Môre-oggend doen ek ’n EFT. Drie maande se salaris plus petrolgeld. So tienuur wanneer die pad droër is, ry ek agter jou aan tot by die N1.” Wat was daar nog? “O, en ek betaal vir ’n gastehuis op Bloemfontein. Dan hoef jy nie weer op een dag so ver te bestuur nie.”
Hoekom sê sy niks? Sy kyk net skewekop na hom, so half onder haar wimpers deur. Hy wens sy wil nie.
“Jou CV ís great. Jy sal vinnig ander werk kry.”
Haar mond gaan oop. As sy nou mooipraat, is dit tickets. Dit was ’n lang dag – perde beslaan is moordende werk. Dis ál verklaring hoekom sy hart nou putty is. Goeie donner, dis vir haar eie veiligheid. Mens sou sweer hy’s Jack the Ripper wat met ’n mes oor haar staan. Dat sy om haar lewe pleit, nie vir ’n job nie.
“Wil jy my . . .”
Hy druk sy vinger op haar mond. Net ’n sekonde, om haar stil te maak. Lank genoeg om te voel hoe sag haar lippe is.
“Slaap daaroor,” sê hy, harder as wat hy wou. “Ek dink dis fair, maar ek sal luister as jy verskil. Môre, wanneer dit lig is.”
Sy staar dikmond na die vlamme.
“Wat vanaand aanbetref, slaap jy in die huis.” Hy sluk droog. “In die gastekamer. Dis veiliger.” Wag, dit klink nie reg nie. Die huis is veiliger, dís wat hy bedoel het. Die huis se gastekamer. Hy wou dit nie laat klink of . . .
“Ek slaap in die kothuis, dankie. Ek sal veiliger daar voel.”
Hemel, sy social skills is verroes. Kan hy nie meer met ’n vrou gesels sonder om sy voet daarin te sit nie? “Moenie moeilik wees nie. Ek sal jou nie aan die hare kom wegsleep nie.” Nie vannag nie. Maar die vader weet, as sy nie môre ry nie . . .
“Moet jouself nie vlei nie, dokter. Ek laat my g’n wegsleep nie. Veral nie deur jou nie.” Sy lig haar ken. “Ek slaap in die kothuis, finish en klaar. Ek sit nie my voete in jou gastekamer nie.”
“Jy’t hulle klaar binne-in my kaggel, dókter. Pas op dat jou broekspype nie brand nie.”
Sy versit haar tone. ’n Millimeter of so.
“Jy onthou nog daar’s nie elektrisiteit nie, nè?”
“Whatever. Ek soek net ’n warm bad en ’n bed.”
“Daar’s ook nie warm water nie.”
Dít lok ’n reaksie uit. “Nee!”
“Sorry, geen geiser nie. As ek geweet het jy kom vandag, en nie môre soos ons afgespreek het nie, het ek Jantjie vroeg al in die donkie laat vuur maak.”
“In die donkie?” Haar oë is pierings in haar bleek gesiggie. “Ek dag jy boer met perde. Enne, vúúr maak?”
“Hemel, maar jy’s groen.” Hy skud van die lag. “Hierdie donkie is ’n plaasgeiser. ’n Groot drom water waaronder mens vuur maak.”
“In daardie geval sal ek in die huis bad, maar in die kothuis slaap, dankie.”
“Suit yourself. Ek gaan daai sop warm maak.”
Sy loer skuins na hom toe hy opstaan asof sy nie kan glo hy’t haar ’n argument laat wen nie. “Kan ek help?”
“Asseblief nie. Ek’s te honger vir verder baklei. Jy hou dalk nie van die sopborde nie, of jy stry oor hoe lank die sop moet kook.”
Sy laat haar kop sak. Haar hare is nie vaalblond wanneer dit droog is nie, sien hy. Dis goud. Soos die grasveld in die winter daardie halfuur voor die son ondergaan. Net gladder. Blinker. Hy druk sy hande in sy sakke voor hy ’n gat van homself maak. Môre ry sy. Môre, dan’s dit verby. Hierdie . . . wat dit ook al is.
Sy mompel iets onverstaanbaars.
“Wat sê jy?”
“Dankie,” herhaal sy. “Ek sê dankie, oukei?”
Carli is trots op haarself. Sy het