Wag-'n-bietjie-liefde. Susan Pienaar
van die kosgeure wat sy tot hier kan ruik.
Mandie kom uitgestap met Paul op haar hakke, en met die groetery agter die rug, tou hulle aan stoep toe. Binne gekom, begin Mandie vir Amber aan ’n spul wildvreemde mense voorstel.
Sy knik, glimlag en gesels. Sy gaan die helfte se name nie onthou nie, maar dis oukei wat.
Alex drink ’n slukkie wyn terwyl hy die meisie dophou wat saam met Mandie loop. Dit moet Amber Young wees, die vriendin van wie sy suster so baie praat. Toe Mandie gesê het sy is mooi, het hy dié stunning meisie nie verwag nie.
Sy vang die windverwaaide ligbruin hare met albei hande agter haar nek vas, draai na hom toe en laat dit dan los. Hy was nog altyd mal oor lang hare aan ’n vrou. Sy is fyn gebou en van middelmatige lengte, met rondings wat by haar lyfie pas. Sy dra jeans en ’n gaterige, strooikleurige top of ’n ding wat van een skouer afgegly het. ’n Kuiltjie duik in ’n wang wanneer sy lag . . . en dit trek sy aandag na haar sensuele mond en mooi tande.
Mandie en die meisie stap nader. En nou kan Alex haar gesig met die fyn gelaatstrekke en amandelvormige oë beter sien. Die ligbruin oë wat omraam is deur digte swart wimpers, vonkel lewendig terwyl sy groet en gesels.
Mandie sê iets vir haar, stap dan tussen die gaste deur na die tafel met drinkgoed. Alex volg die meisie met sy oë, sien hoe sy gaan stilstaan en om haar rondkyk. Sy glimlag skielik en slaan ’n teenoorgestelde rigting in. Hier stap sy nou vlak verby Markus, Jan en Anton – drie van sy ingenieurspelle wat haar kwylbek aanstaar – maar dit lyk nie vir hom asof sy bewus is van die aandag nie.
Alex drink ’n slukkie wyn. Mandie sê sy swot sielkunde. Dié meisie en Cynthia se voorkoms verskil soos dag en nag, maar net die gedagte aan sielkunde laat hom al geïrriteerd voel. Cynthia het sommer al binne die eerste drie maande opgeskop, ’n regte Miss Know-it-all wat almal wat sou luister, wou vertel hoe mense se koppe werk.
Hy voel sy mondhoeke lig. Hy wed as Amber Young haar begeerlike mond oopmaak, gaan sy hom dadelik vertel sy swot sielkunde. Maar nee, hy moenie onregverdig wees nie . . .
Hy kyk ondersoekend en klinies na die meisie, dan na die mense rondom haar, en skielik kliek iets in sy kop in plek. Dit lyk maar net asof sy totaal onbewus is van haarself en van die indruk wat sy op mense en veral die ouens rondom haar maak. Hy gee ’n blaaslaggie. Dis ’n truuk van die skoner geslag wat hy teen dié tyd goed ken. Die girl is duidelik al van haar tienerjare af bewus van die effek wat sy op mans se testosteroonvlakke het – so seker van haar skoonheid en gewoond aan aandag dat dit nou soos water van ’n eend se rug afrol.
Sy pa kom met ’n glimlag orent, soen die meisie en verdwerg haar in ’n omhelsing. Daar buk sy nou by sy ma, gee haar ’n drukkie en hulle soengroet. Sy ma-hulle lag en verwelkom haar soos ’n lang verlore dogter. Sy ma beduie na die patio in die rigting van die tafels met eet- en drinkgoed en hy sien hoe sy knik en omdraai. Sy gee ’n paar treë, strek dan op haar tone om beter te kan sien. Sy soek natuurlik nou na Mandie.
Alex hoor hoe die groep ouens hier langs hom uitbars van die lag, en sien hoe die meisie in hulle rigting kyk. Uit die hoek van sy oë merk hy op hoe Mandie haar pad tussen die gaste deur na haar baan, ’n glas wyn in elke hand. Die meisie draai haar kop soekend in sy rigting, en soos ’n magneet trek sy oë hare en hou hulle vas.
Vir Alex staan die tyd oomblikke lank stil.
Sy lig haar ken en die glimlag verdwyn in ’n oogwink uit haar oë terwyl sy byna uitdagend na hom kyk. Dadelik voel hy hoe ergernis in hom opstu. Hy ken die vroumens van g’n kant af nie, hoekom kyk sy so kil en hooghartig na hom?
Amber voel hoe Alex se donker oë hare soos ’n magneet trek en vashou. Sy herken hom onmiddellik, en teen haar sin voel sy hoe haar maag omrol. Alex was nog altyd treffend met sy donker hare en oë, en met sy lengte en breë skouers het hy bo al die ander ouens rondom hom uitgestaan, maar noudat hy ouer is, is sy voorkoms nog meer oorrompelend manlik en selfversekerd. En die impak wat hy op haar het is . . . verlammend. A nee a, sy moet haar regruk. Sy’s mos lankal nie meer die ou bakvissie van destyds nie. Sy lig haar ken, kyk koeltjies terug en hou Alex se oë gevange terwyl sy haar doelbewus onverskillig hou.
Mandie kom staan langs haar. Amber breek oogkontak. “Jislaaik, dit was nou omtrent ’n mission om ’n bottel oop te kry. Ek kon nêrens ’n kurktrekker kry nie, toe loop soek ek een in die kombuis.”
Amber neem die glasie by Mandie. “Ag, thanks, man.” Sy drink ’n groot sluk wyn om te probeer kalmeer. Net een eindelose kyk in Alex se oë en sy reageer soos die ou skooldogtertjie wat sy jare gelede was. Sy hoop maar sy’t dit reggekry om vir hom te wys dat sy aantreklikheid haar nie in die minste raak nie.
“Nou waarheen sou Alex verdwyn het?” Mandie kyk rond. “Wag, daar’s hy. Kom, Amber, ek wil jou aan my broer gaan voorstel en hoor of hy jou onthou.”
“Nee, wag ’n bietjie, man, gee my darem net asseblief ’n rukkie kans om my droë keel nat te maak.” Amber drink gou twee slukke wyn ná mekaar.
Mandie knik na die groep mans wat weer uitgelate lag. “Daai spul ouens is pelle van Alex. ’n Paar van hulle het sy ingenieursfirma hier en op ander plekke aan die gang gehou terwyl hy sy ding met brûe en wolkekrabbers in Manhattan gedoen het. Nee wat, ek dink regtig hulle het nou genoeg van sy tyd in beslag geneem. Hy behoort mos darem ’n slag te mingle.” Sy glimlag. “Wag, daar loop staan hy nou weer by Kobus en gesels.”
Amber sit haar leë glas sommer so in die loop op ’n tafeltjie neer. Laat sy die groetery met Alex liewer agter die rug kry, want groet sal sy hom móét, en hoe gouer sy dit doen, hoe beter. Sy stap uiterlik gedwee agter Mandie aan, maar innerlik staal sy haar.
“Haai, Alex?” Mandie sit ’n hand op sy bruingebrande arm en Alex kyk af na haar. “Onthou jy my vriendin Amber?”
’n Glimlag helder sy gesig op terwyl sy donker oë lewendig en terselfdertyd intens in hare kyk. “Nee, jammer, maar ek onthou jou vriendin nie régtig nie.” Alex praat met Mandie, maar hy kyk na Amber en hou sy hand uit. Amber se hand verdwyn in syne. “Hallo, Amber, dis gaaf om jou te ontmoet.”
Groot fout. Sy moes nie haar hand uitgesteek het nie. Die aanraking van Alex se harde, warm hand teen haar sagte, kaal vel laat dit voel asof al haar senuweepunte aan die brand slaan.
Amber trek haar hand gou uit Alex se stewige greep. “Hallo . . . aangenaam.” Sy kry dit net-net reg om te glimlag asof niks gebeur het nie. Alex kyk steeds na haar. Sy is skoon verlig toe Mandie praat en hy wegkyk.
“Ag nee mán, Alex! Amber is my boesemvriendin van laerskooldae af; hoe op aarde is dit moontlik dat jy haar nie kan onthou nie?”
Kobus sit ’n arm om Amber se skouers en trek haar nader. “En deesdae is ek so gelukkig om haar as au pair vir Lindie en Dewan te hê.” Sy arm val weg.
Amber glimlag. Sy’s al gewoond aan die Van Edens – dis net hoe hulle is, warm en liefdevol.
Alex se oë gly langsaam oor Amber se gesig asof hy iets probeer uitpluis, maar dan kyk hy uiteindelik weer na Mandie toe sy teen sy arm klap.
“Amber is amazing, Alex. Jy moet sien hoe handle sy daai woelige kids van Kobus.”
“Nee, maar dis goed om te weet die kinders is bedags in goeie hande.”
Sy stem is steeds vir Amber mooi. Haar oë glip af na sy ferm mond en toe onthou sy wat ’n matriekmeisie eendag in ’n groep ander meisies oor Alex gesê het. “Oe, julle, Zelma sê Alexander van Eden is ’n awesome kisser!”
Amber laat sak haar oë toe ’n eienaardige gevoel langs haar ruggraat af kriewel. Sy voel ’n aantrekking, soos ’n styf gespande snaar tussen haar en Alex. Benoud kyk sy anderpad en sien hoe ’n meisie met lang blonde hare heupswaaiend tussen die gaste deur na hulle aangestap kom. Sy kom haak by Kobus in.
“Het jy my gemis?” Haar stemtoon is laag.
Kobus glimlag stilswyend af na die meisie. Sy druk haar wang teen sy boarm vas en kyk uitlokkend na hom. Amber glimlag. Mm, dan kuier Kobus saans by dié blonde skoonheid?
“Amber,