Wag-'n-bietjie-liefde. Susan Pienaar

Wag-'n-bietjie-liefde - Susan Pienaar


Скачать книгу
Doreen laat haar oë stadig oor Amber gly terwyl sy Kobus se arm liefderyk streel.

      “Doreen is ’n ou flame van Kobus.” Mandie frons. “Maar het jy dan nie twee of drie jaar by ’n kliniek iewers in Potchefstroom gewerk nie?”

      Doreen knik. “Ek het, ja, maar soos jy kan sien, is ek terug.”

      “Dis darem skielik. Ek bedoel, niemand weet eens dat jy en Kobus weer ’n item is nie.” Mandie praat sag.

      Doreen se glimlag bereik nie haar ligblou oë nie. “Ek ís darem nou eers twee weke terug.”

      Kobus glimlag. “Ons het besluit om ons verhouding weer ’n kans te gee.”

      Doreen kyk reguit na Mandie. “En wie het kon raai dat die ou flame ná jare weer soos ’n pas aangesteekte vlam tussen ons gaan brand?”

      Onwillekeurig kyk Amber na Alex. Die vriendelike glinstering in sy oë is vervang deur kilheid terwyl hy vlugtig na Doreen en Kobus kyk. Is Alex dalkies verlief op Doreen? Nee wat, sy is nou regtig verspot. Hy’t Doreen seker ook vandag eers ontmoet.

      Amber sien tannie Sophia tussen die gaste en besluit om met haar te gaan gesels. Sy stap tussen die mense deur en lag innerlik. Mandie is duidelik ontsteld omdat Kobus en Doreen al die tyd in ’n verhouding is terwyl sy gehoop het sy wat Amber is en Kobus raak verlief. Mandie was nou effens ongeskik, maar dis hoe haar vriendin is, sy wil altyd tot op die murg en been van alles deurdring.

      Voor Amber by tannie Sophia kan uitkom, klingel ’n lepel teen ’n glas. “Pa gaan nou eers sy speech maak,” sê Kobus agter Amber.

      Amber kyk om, reg in Alex se oë. Sy draai weg, opnuut bewus van hoe onrustig haar simpel hart klop.

      2

      Met die heerlike ete agter die rug en ná die gaste wat nie naby familie is nie hulle ry gekry het, sit Amber en Paul en Doreen saam met die Van Eden-gesin op rusbanke in die woonvertrek en gesels.

      Lindie en Dewan speel in die miniatuurparkie agter in die erf, dus kan Amber heerlik ontspan terwyl sy na die gesprek om haar luister. Sy weet Alex was destyds ’n briljante ingenieurstudent, maar sy lei uit die geselsery af dat hy so ’n bietjie van ’n big shot daar oorkant was betreffende die konstruksie van manjifieke brûe en wolkekrabbers. Indrukwekkend! Alex praat nie oor homself nie. Dis Kobus wat vrae vra, Alex wat kortweg antwoord en oom Jakobus, wat ’n afgetrede ingenieur is, wat dan verduidelik wat sekere projekte behels.

      Amber sien tannie Sophia knik vir oom Jakobus en hy maak hom reg om te praat. “Ek en julle ma het gewonder of julle jongklomp nie vir ’n paar dae Zebula toe wil gaan nie. Ek het gebel, en die huis is van Maandag af die hele week tot Sondag toe nie aan gaste uitverhuur nie.” Hy kyk na Alex. “Dit behoort ’n lekker wegkomkans vir jou te wees voordat jy begin werk. Kobus was ook lank laas daar.” Hy kyk beurtelings na Amber, Paul en Doreen. “Zebula is mos ’n wêreldgehalte gholflandgoed met ’n spa binne-in ’n reservaat. Dit lê anderkant Bela-Bela. Die huis is groot genoeg vir julle almal.”

      Mandie vat dadelik vlam. “Wow! Dit gaan so lekker wees. Wat sê jy, Paul, jy’t mos nie volgende week iets aan nie? Dis skoolvakansie en ons gaan mos eers die daaropvolgende week by jou ouers op die plaas kuier.”

      Paul glimlag vir die ouer mense. “Dankie, oom, tannie.” En aan Mandie: “Natuurlik gaan ek saam, maar ons moet nog tot Dinsdagmiddag by die skool wees.”

      “Ag nee, julle,” sê Mandie toe almal stil is. “Hoekom moet julle eers daaroor sit en dink? Toe nou, dit gaan lekker wees.”

      Alex knik. “Pa is reg, ek was donkiejare laas op Zebula. ’n Paar dae van niksdoen sal lekker wees, maar ek sal nie voor Woensdagoggend kan wegkom nie. Ek moet eers ’n paar dinge by die kantoor afhandel.”

      Kobus kyk na Amber, dan terug na sy ouers. “Maar wat van my spannetjie, Ma?”

      Tannie Sophia glimlag. “Ek en julle pa het klaar daaraan gedink. Dis mos nou vakansie, ons kyk dus graag na die kinders terwyl julle weg is.”

      “Wel, as Ma baie seker is . . .?” begin Kobus.

      Tannie Sophia tik hom op ’n hand. “Ag, nonsens met jou. Ons het mos darem al in die verlede die kinders by ons ingevat. Letsho sal haar dogter bring om bedags na hulle te help kyk. En buitendien wil ons graag hê Amber moet saamgaan. Sy is nog maar kort terug in die land en moes dadelik by jou inspring. Sy het ’n bietjie bederf broodnodig.”

      Amber vries. O gats, nee, al wil sy hóé graag saamgaan, moet sy liewer ligloop. Haar wilde reaksies en gedagtes van vroeër het haar gewaarsku om dubbel versigtig te wees en eerder so ver moontlik van Alex af weg te bly. Amber glimlag, skud dan haar kop.

      “Dis gaaf van tannie-hulle om my saam te nooi, maar ek belowe ek sal liewer bedags sowel as snags mooi na die kinders kyk as Kobus wil saamgaan.”

      “Nonsens, Amber, jy gaan saam.” Tannie Sophia kyk verskonend na Kobus. “As jou werk dit te moeilik maak om weg te gaan bly die kinders steeds by my en Pa. En Amber? Jy gaan beslis saam met wie ook al almal Zebula toe kan gaan.”

      Amber maak haar mond oop, bedink haar dan. Hoe kan sy tannie Sophia se uitnodiging nou van die hand wys sonder om ondankbaar voor te kom? Ag nou ja, dis net ’n paar dae, sy sal oukei wees. Hulle gaan mos darem ’n hele klomp saam wees.

      Dis reeds vyfuur toe Amber later dieselfde dag in die erf van haar ouerhuis parkeer en uitklim. Sy haal haar tas uit en kyk na die pastorie terwyl sy aanstap voordeur toe. Die nuwe predikant het sy eie huis, daarom is daar ná haar pa se begrafnis tydens ’n gemeentevergadering eenparig gestem dat haar ma die huis teen ’n billike bedrag kan huur.

      Haar ma wag haar op die voorstoep in. Sy glimlag en druk aan haar goudblonde hare. “Jinne, my kind, ek het net bekommerd begin raak. Ek wag en wag en al wat kom, is jy.”

      Amber soengroet haar ma. “Die gedoente by Mandie-hulle het langer geduur as wat ek gedink het dit sal.” Sy stap agter haar ma aan kombuis toe. “Ek kon seker gebel het. Sorry, Ma.”

      Haar ma vat aan die ketel. “Is jy lus vir tee?”

      “Dit sal lekker wees, maar sit Ma, dan maak ek vir ons.” Amber begin aanstap. “Ek vat net eers my tas kamer toe, en dan moet ek badkamer toe.”

      “Ek kook solank water,” roep haar ma.

      Amber was hande en onwillekeurig gryp haar gedagtes terug na die middag wat verby is. Ná hulle ooreengekom het oor die vakansietjie by Zebula, het amper almal saam met die kinders in die verhitte swembad gebaljaar. Amber maak haar hande droog en glimlag skeef.

      En daar sit Doreen toe so ewe hoog en droog saam met tannie Sophia-hulle onder ’n boom.

      Amber het sommer in een van Mandie se kortbroeke en ’n T-hemp geswem, maar Doreen het botweg geweier om iets van Mandie aan te trek.

      “Doreen is bang sy gaan soos die natgereënde hoender lyk wat sy is,” het Mandie vir Amber gefluister, en voortgegaan: “Kan jy dink hoe sy gaan lyk wanneer al daai polyfilla van haar gesig begin afsmelt?”

      Amber het niks gesê nie. Mandie sal haar wel een of ander tyd vertel hoekom sy nie ooghare vir Doreen het nie.

      Amber vryf room in haar hande in en stap solank kombuis toe. Alex se beeld doem voor haar op. Hy’t die kinders toertjies in die water laat doen – hulle laat duik en gevang. Maar toe sy agterkom sy kyk nou meer na hom as na die kinders, het sy liewer uitgeklim, afgedroog en loop aantrek.

      “Was dit toe net jy en die familie by die Van Edens?” vra haar ma toe hulle ’n rukkie later in die TV-kamer tee drink.

      “Daar was omtrent ’n spul vreemde mense, vriende van Alex en van sy ouers.” Amber lag. “Ma kon my omtik met ’n veer, so verbaas was ek om Kobus se vriendin, Doreen, te ontmoet. Ek dog sy’s ’n model of so iets, want sy’s regtig mooi. En toe moet ek hoor sy’s ’n teater­suster.”

      “Nou wat doen Doreen om soos ’n model te lyk?”


Скачать книгу