Ena Murray Keur 2. Ena Murray
dokter Inaki verskyn in die vuurkring. Ook die professor is baie duidelik beïndruk deur die visioen hier voor hulle. Ook hý lyk verras oor die beeld van ’n vrou met haar swaaiende rooi hare wat tot haar middellyf reik. Net op dokter Inaki se gesig is ’n donker frons. Sy hande is gebal langs sy sye en dis duidelik dat hy net met die grootste selfbeheersing sy waardigheid behou. ’n Bevel klap uit sy mond soos ’n sweepslag.
Voor hul oë verkrummel die meisie tot ’n patetiese bondeltjie en die volgende oomblik verdwyn sy net so vinnig en geheimsinnig as wat sy verskyn het. Dokter Inaki wend hom dadelik tot sy gaste en wink terselfdertyd dat die musiek weer moet begin. Daar is ’n glimlag om sy lippe, maar dit is vir almal duidelik watter inspanning dit van hom verg om vriendelik te wees.
“Ons gaan nou eet. Jammer dat ons so lank besig was. Nog ’n bietjie pynappelsap, mevrou?”
Die skimp is onmiskenbaar. Dokter Inaki wil nie oor die danseres praat nie. Maar terwyl hulle eet, rus sy blik dikwels op Louw waar hy rustig kou asof hy van geen sout of water weet nie, en dan glinster daar iets hards in sy vreemde blou oë. Een keer betrap Pauli die twee mans dat hulle woordeloos na mekaar kyk, en selfs sy kan die vyandige stroom aanvoel wat tussen hulle vloei. Weer voel sy vrees in haar roer. Sy bekyk hul gasheer tersluiks.
Vroeër in die dag het sy gedink hy is ’n baie aantreklike man. Nou vind sy hom byna te gepoleer na haar sin. Sy stem behou in alle omstandighede dieselfde sagte toon. Selfs toe hy die danseres kwaai aangespreek het, het dit op dieselfde toonhoogte gebly. Sy liggaamsbou is skraal en te volmaak om manlik te vertoon. Sy hande, sien sy, is ook skraal en klein, byna soos dié van ’n vrou, en die naels is uiters goed versorg.
Sy maniere wat haar aan die begin so beïndruk het, begin haar effens irriteer. Hy is net te volmaak afgerond om waar te wees, dink sy, so asof al hierdie dinge maar net ’n lagie vernis is wat oor die werklike dokter Inaki geverf is.
Tog het sy werklik geen rede vir dié vermoede nie. Hy is en bly die res van die aand die man wat hy oorspronklik voorgekom het – ’n uiters fyn beskaafde, geleerde man wat in beheer van hierdie verre Suidsee-eiland is.
Uit gesprekke blyk dit dat hy in werklikheid ’n kind van hierdie eiland is wat deur bemiddeling van die Rooms-Katolieke Kerk sy doktersgraad in Amerika kon behaal en toe teruggekeer het na sy mense om leiding aan hulle te gee.
Professor Islinger se verbasing skemer deur in sy stem toe hy laat hoor: “Maar vind u nie dat u ietwat … e … afgesterf het van hierdie eiland en sy mense nie, dokter? Ek sou dink dat u ’n beter toekoms vir uself in Amerika of waar ook al sou kon vind as om terug te keer hierheen.”
Dokter Inaki bly eers ’n oomblik stil voordat hy antwoord: “Hier is ’n bevolking van ongeveer duisend op Paaseiland. Ek is die enigste dokter wat mediese hulp kan verleen, afgesien van ’n paar nonne in ons melaatse-inrigting …”
“Melaatse-inrigting? ”
“Ja, mevrou. Dis die groot vloek van Polinesië: leprose. Dis die wurm wat aan al die prag van die Suidsee knaag.”
Hy wys vlugtig na die eilandbewoners wat vrolik voortgaan met hul fees – hierdie keer met die bloedrooi waatlemoene wat ook op die eiland gekweek word.
“Onder baie van hulle is daar gevalle van melaatsheid. Maar u hoef nie bekommerd te wees nie. Hulle is nie meer aansteeklik nie en word toegelaat om by hul gesinne te bly. Hulle moet net gereeld na die kliniek kom vir toetse. Die … aansteeklike gevalle word in afsondering gehou en deur twee nonne verpleeg. Gelukkig is hulle nie veel nie. Net dertien op die oomblik. Ons het ook ’n hospitaaltjie hier, waar ek in noodgevalle operasies uitvoer.”
Sy blik keer terug na die professor. “Soos u dus sien, professor, kon ek seker geldelik vir my ’n beter toekoms op ’n ander deel van die aardbol geskep het, maar … dit is my mense. Hulle het my nodig. Ek is die enigste mens wat soms tussen hulle en lyding, selfs die dood, staan.
“My werk hier onder my eie mense verskaf vir my meer bevrediging as wat ’n welvarende praktyk êrens anders ooit sou kon bring. Dan is daar ook … ander redes hoekom ek hierheen teruggekeer het … en hoekom ek hier sal bly tot die dag van my dood.”
Sy oë is peinsend op niks in die verte gerig. “Miskien … ja, miskien sal ek tog eendag hier kan weggaan, maar dit sal van … baie dinge afhang. Op die oomblik is daar geen teken dat dit ooit sal gebeur nie.”
Professor Islinger lyk ietwat ongemaklik, al asof hy liggies oor die vingers getik is omdat hy gepraat het van goed waarvan hy niks verstaan nie, en laat verskonend hoor: “Ja, natuurlik, dokter. Daar is meer dinge in die lewe as geldelike welvaart. U verrig ’n grootse taak hier onder u eie mense waarvoor ons net groot bewondering kan hê.”
Dokter Inaki glimlag effens, bring weer sy blik uit die ver-skiet terug. Daar is byna iets soos weemoed in sy sagte stem toe hy laat hoor: “Ek weet nie hoe danig groots my werk hier op Paaseiland is nie, professor. Ek het nog nooit so daaraan gedink nie. Soms is ’n mens nie in jouself in staat tot grootse dinge nie. Omstandighede dwing grootsheid op ’n mens af, en dan word daardie eienskap aan jou toegereken sonder dat jy dit werklik verdien. U het my blykbaar die eerste keer verkeerd verstaan. Ek bly hier en ek werk onder my eie mense omdat ek moet, nie omdat ek wil nie. U is heeltemal reg. Ek het van die eiland afgesterf. Ek is nie meer werklik een van hulle nie. Ek praat ’n ander taal as hulle en my voorvaders.”
Professor Islinger knik simpatiek om die man voor hom aan te moedig.
“Maar ek moet hier bly, sal seker eendag hier sterf, omdat omstandighede grootsheid op my afdwing – nie omdat ek werklik só onselfsugtig en opofferend is nie. As ek môre kon weggaan, sal ek nie tot oormôre toe wag nie. Maar …” Hy trek sy skouers op en glimlag.
Professor Islinger se wenkbroue lig, die vrae duidelik in sy peinsende oë.
“Maar ek verveel u,” swaai dokter Inaki vinnig die gesprek van hom af weg. “Soos ek u reeds netnou gesê het, professor, kan ek u nie tot veel hulp wees met u werk nie. Ek is bevrees dat die ana of familiegrotte die grootste geheim van Paaseiland is, in dié opsig dat nie een familie weet waar die ander familie se ana is nie. Ek twyfel ook of u dit sommer uit die eilandbewoners sal kry. Dit is die één ding waarop elke eilandbewoner baie heilig is.”
Professor Islinger knik. “Wel, ons sal maar probeer. As die eilandbewoners ons nie wil help nie, sal ons maar net eenvoudig self moet begin soek en hoop dat die geluk aan ons kant is.”
’n Fyn glimlaggie lê om dokter Inaki se mond. Louw, wat besonder swygsaam is, kyk skerp daarna.
“Ek hoop vir u onthalwe ook so, professor.”
’n Stilte daal neer oor die geselskap en Pauli, omdat die gasheer blykbaar weer sy goeie luim herwin het en so tegemoetkomend voorkom, besluit om die groot vraag te waag.
“Dokter, wie is die meisie wat netnou hier gedans het? Sy is ongelooflik pragtig. Ek neem aan sy is seker ook maar een van die eilandbewoners, nie waar nie?”
Hy glimlag steeds. Dan skud hy sy kop.
“Ek het geen benul nie. Sy is seker maar een van ons. Op die oomblik is u geselskap al vreemdelinge op die eiland – afgesien natuurlik van die nonne en die Roomse priester.”
Hy staan op as teken dat die geselligheid verby is en dat dit tyd is vir die ekspedisielede om na hul kamp terug te keer.
Dan laat hy hoor toe hulle ander ook op die been is: “Ja, net nog dit, professor. Nie een van die bootsbemanning mag op die eiland ronddwaal sonder my persoonlike toestemming nie. Hulle mag u kamp vrylik besoek, maar die res van die eiland is vir hulle taboe. Ek dink u sal met my saamstem dat ons nie nog ander soorte bloed by dié wat reeds hier vermeng is, nodig het nie. Dan ook mag u geen alkohol, vuurwapens of verdowingsmiddels aan die eilandbewoners gee nie … nie eens om familiegrotte te ontdek nie. Ek hoop nie u voel beledig oor my woorde nie, professor. Dis egter ’n baie streng reël en die man wat dit verbreek, sal geen genade van my ontvang nie.”
“Natuurlik, dokter. Ons begryp volkome. Die bootsbemanning bly op die boot, maar hulle sal seker darem soms aan land wil kom. Ek sal dit egter duidelik