Ena Murray Keur 2. Ena Murray
vir die ekspedisie beskikbaar gestel is. Op die romp pryk in swierige letters De Afrikaansche Galei – ter verering van sy naamgenoot waarmee die Hollander Roggeveen in 1722 op Paassondag Paaseiland ontdek het.
Benewens die treiler se bemanning, is dit net professor Islinger wat bygekom het. Dié kort, fris en vriendelike man in sy middeljare het met ’n glinstering in sy oë met die bekendstelling van Louw se vrou opgemerk: “Ek kan begryp hoekom jy verkies dat jou vrou jou op ekspedisies vergesel, Louw. Ek sal ook nie so ’n pragtige mensie maande lank alleen agterlaat nie.”
Pauli het hom met ’n soetsuur glimlaggie aangekyk en dit liewer nie gewaag om in haar man se rigting te kyk nie. Van daardie oomblik af het sy geweet dat sy ’n vriend in Keith Islinger het. As jy na hom kyk, sou jy nooit sê dat hy ’n wêreldbekende wetenskaplike is nie. Maar dan, alle werklik gróót mense lyk nie beroemd nie. Hulle het nie nodig om op uiterlike vertoon staat te maak om hul grootheid te toon nie.
Vanaf Panama vaar die boot suidwes en doen baie vlugtig by die eilandgroep Galápagos aan, want die eindbestemming lê ver, duisende kilometers ver, in die hart van die Stille Oseaan by Te Pitoo te Henua – die Nawel van die Wêreld, soos die eerste bewoners van Paaseiland dit gedoop het. En nog steeds, ná eeue, bly dit ’n misterie vir die wetenskaplikes van die twintigste eeu.
Gedurende die seereis kry Pauli genoeg tyd om teen wil en dank meer van hul eindbestemming te wete te kom. Die lang gesprekke waarmee die tyd verwyl word, draai noodwendig net om Paaseiland, sy geskiedenis en sy misterie. Algaande begin die vreemde name en woorde, eers so betekenisloos, al bekender word en verstaan sy meer as wat sy self, en so ook die geleerdes aan boord, sou kon raai.
Toe Paaseiland eindelik uit die blougroen deining van die Stille Oseaan voor hulle opdoem, is hy amper soos ’n ou bekende vir haar. Sy weet dat hierdie stukkie aarde die toneel was van bloedige oorloë; eweneens van briljante vakmanskap. Dit was die bakermat van een van die oudste beskawings in Polinesië, en meer nog, van ’n beskawing eksklusief tot hierdie eiland beperk.
En die geheimenisse van sy verlede lê opgesluit in sy hiëroglieftablette, die rongo-rongo, wat geen hedendaagse geleerde nog ooit kon ontsyfer nie.
Dis ook die enigste plek op aarde wat bewaak word deur wagte soos die moai – mensbeelde van sowat een en twintig meter hoog uit soliede lawarots gekap en wat nou soos sfinkse die geheim van die eiland se roemryke verlede verswyg.
3
Paaseiland met sy uitgewerkte kraters wat eens, eeue gelede, die lawavuur uit sy dieptes uitgespuug het en waarvan die vulkaanrots, wat soos ’n beskermende muur rondom die eiland lê, die enigste getuie is; met sy deinende, boomlose vlaktes en heuwels van voedsame gras waarop sowat veertig duisend skape wei. Die eiland word nou as een groot skaapplaas vir die Chileense Vloot geadministreer en ontvang net een keer per jaar besoek van ’n boot wat die nodige proviand en ander noodsaaklikhede na die eiland bring, en terselfdertyd die jaarlikse opbrengs van wol en surplusvleis wegneem.
Paaseiland – die land van Hotu Matua, die aartsvader van hierdie klein beskawing. Dis die plek waar legende en feit so ineengestrengel is dat die een nie van die ander te onderskei is nie; eiland van die aku-aku, die bose geeste, en die mana wat jou op bonatuurlike wyse daarteen beskerm; eiland van die moai wat met veragting in hul blinde oë neerstaar vanaf hul ahu, of platforms, op die klein mensies wat die eeue se sand van hulle af weggegrawe het om nog steeds meer geheimenisse te ontdek. Dis ook die eiland van die ana, die grotte en grafkelders wat onder die groen, deinende gras en die vulkaanrotse lê, in sy uitgediende kraters, en verberg in die hoë rotspieke aan die kus; en waarna hulle kom soek het van die ander kant van die aardbol af.
Dis of Pauli meteens ’n ligte siddering deur haar voel terwyl De Afrikaansche Galei versigtig sy pad baan na die rotsagtige kusstrook voor hulle … en dis of sy in die skemerlig van ’n sterwende Polinesiese dag kan aanvoel dat die blinde oë van die moai hulle dophou – veragtend, vyandig …
Die vier mense by die skipreling is stil terwyl die manjifieke pieke van Paaseiland soos ’n al groter wordende swart kolos voor hulle werklikheid word. Die toneel lyk asof dit ’n snit uit die een of ander fantasierolprent is, en nie ’n werklike stukkie aarde wat vadems diep onder die golwe aan dieselfde bodem vasgewortel is as die groot vastelande nie. ’n Los stukkie onwerklikheid op ’n aardbol wat al ’n groot deel van sy bekoring moes prysgee ter wille van oorbevolking en ontwikkeling.
“Ons sal maar vannag hier voor anker lê en môre aan land gaan. Hier is nie ’n hawe nie en die kus is baie gevaarlik,” laat professor Islinger hoor.
Pauli merk op, haar oë soekend: “Ek sien geen mens nie. Daar is geen teken van lewe nie.”
“Aan hierdie kant van die eiland bly daar glo nie mense nie,” vertel professor Islinger. “Almal bly saam op ’n klein dorpie, Hangaroa, aan die ander kant.” Hy glimlag. “Ek het spesifiek gevra dat ons aan hierdie kant van die eiland anker gooi, want volgens wat ek gelees en gehoor het, is die bewoners van Paaseiland, hoewel baie goeie mense, ook uitmuntende diewe!”
“Ja, asook geniale swendelaars!” voeg Louw glimlaggend by. “Hulle het die lewe van elke ekspedisielid wat nog ooit hier gekom het, vergal deur heeldag beeldjies en goed aan te dra. Hulle sweer dan hoog en laag dit kom uit ’n familiegrot van só en só oud, en dan wil hulle belaglike pryse daarvoor hê. Al die tyd is dit goed wat hulle sommer flussies self gemaak het. Party van die beeldjies, veral die houtsneewerk, is so kunstig dat net ’n kenner die verskil sal agterkom.” Hy kyk na sy vrou. “Pas dus op, Pauli, dat jy jou nie ’n kat in die sak koop as jy ’n aandenkinkie van Paaseiland huis toe wil neem nie.”
Pauli antwoord nie, maar twyfel sterk of Paaseiland vir haar van soveel belang sal word dat sy ’n aandenking huis toe sal wil neem. Vir haar is hierdie eerskomende paar maande ’n straf, die prys wat sy moet betaal om van haar man geskei te kom. Sy sal maar te dankbaar bly wees wanneer die dag aanbreek waarop hulle weer anker lig om weg te vaar …
Almal gaan daardie aand vroeg slaap. Van die volgende dag af sal die luilekker lewe aan boord van De Afrikaansche Galei verby wees. Môreoggend vroeg moet begin word met die aflaai van al die toerusting en proviand op ’n onvriendelike kus, want soos Thor Heyerdahl het professor Islinger besluit dat dit beter sal wees om liewer nie te naby Hangaroa kamp op te slaan nie. Dan moet hulle die kamp waar hulle die volgende maand of drie sal bly, in orde kry en dan eers sal hulle met mening kan wegspring met die navorsing waarvoor hulle halfpad om die aardbol gereis het. Die boot se ligte word die een na die ander gedoof terwyl Paaseiland ’n enkele swart spikkel in ’n onmeetbare see word.
Hulle slaap egter nie dadelik nie. Buiten die bemanning van die boot, is daar minstens vier mense wat nog ’n hele ruk wakker lê.
Professor Islinger se gedagtes bly ’n rukkie besig met sy verwagtinge van hierdie ekspedisie. Dan keer dit na die ander drie lede van sy span, en ’n ligte frons verskyn tussen sy ruie wenkbroue. Teen hierdie tyd kon hy al agterkom dat alles nie honderd persent pluis is met sy jong kollega se huwelik nie. Hoewel hulle om die ander se onthalwe hul bes gedoen het om gedurende die seereis beleef en vriendelik teenoor mekaar op te tree, was dit vir ’n fyn waarnemer soos die Amerikaanse professor duidelik dat die vriendelikheid gedwonge was en dat daar spanning tussen dié twee heers.
Dan ook, hoewel niemand ooit daarna verwys het nie, was dit baie opmerklik dat man en vrou nie ’n kajuit deel nie. Louw Hattingh se rede, naamlik dat hy saans tot laat besig bly en Pauli dan sal hinder, is stilswyend aanvaar en toe geïgnoreer.
Die professor se frons verdiep. Spanning in so ’n klein geselskappie wat maande lank op ’n klein, haas totaal afgesonderde eilandjie saamgehok is, kan tot allerlei probleme lei. Daarom dat hy altyd so versigtig is oor wie hy in sy geselskap opneem. Selfs die kleinste en onbenulligste dingetjies kan onuithoudbaar irriterend word, humeure laat opvlam en gevoelens wek wat normaalweg skaars die aandag sou getrek het. Want nie net is daar spanning tussen Louw Hattingh en sy mooi jong vrou nie. Daar is ook beslis spanning tussen die twee vroue. Die rede hiervoor is ook nie ’n geheim vir die leier van die ekspedisie nie.
Professor Islinger het opgemerk dat doktor Zelia Meyer haar bes doen om Pauli altyd uit die geselskap