Annelize Morgan Omnibus 5. Annelize Morgan
oor haar klere en daar is weer daardie siniese glimlag om sy mondhoeke. Pedro laat hulle ’n oomblik lank alleen.
“Dit verstom my hoe die Franse dames dit regkry om ten alle tye soos vroue uit die adel te lyk.”
Sy kyk vinnig na hom. Goed, as jy wil oorlog hê, dan kry jy dit, dink sy vies.
“Dis ’n gewoonte en niks meer nie, monsieur. Dit word by ons ingedril van kleintyd af en sulke dinge vergeet ’n mens net nie.”
“U dra geen juwele nie, señorita?”
Sy haal haar skouers liggies op.
“Ek het nie hier by my nie.”
Hy lag sag.
“Miskien moet ons iets daaraan doen … net om die prentjie af te rond,” voeg hy by. Dan draai hy om en trek ’n laaitjie uit ’n tafeltjie uit. Hy haal ’n swart dosie daaruit en sit dit op die tafeltjie neer. “Dis ’n ou familie-erfstuk,” sê hy asof hy met homself praat. “Die enigste van ’n groot skat wat oorgebly het.” Dan maak hy die dosie oop en haal ’n halssnoer daaruit. Vyf groot robyne is kunstig geset in silwer blaartjies.
“Dis pragtig,” sê Nicole onwillekeurig.
Hy hou die juweelstuk op sodat die lanternlig op die diep-rooi robyne speel. Dit vonkel soos goeie rooiwyn, die glans kom diep uit die hart van die stene.
“Dis al wat my moeder aan my gegee het,” sê hy en ’n glimlag speel om sy mondhoeke. “Daar is ’n geheim omtrent hulle wat ek nog nie kon ontrafel nie … Sy is dood voordat sy my kon sê wat dit is.”
“Ek sou dit liewer nie wil dra nie, monsieur.”
“Hulle is baie lank gelede gedra en kom net tot hulle reg aan die hals van ’n mooi vrou.”
Sy staan roerloos terwyl hy die halssnoer om haar nek sit en die knip agter vasmaak. Die ligte aanraking van sy hande stuur ’n warm gloed deur haar. Dit lyk nie asof hy dit agtergekom het nie en hy draai haar om sodat sy met haar gesig na die lig staan. Dan knik hy goedkeurend.
“So moet hulle lyk …”
Nicole wens dat sy ’n spieël gehad het om te sien wat die effek is, maar daar is nie een nie. Tog weet sy dat hulle besonder mooi moet lyk met die dieprooi van haar tabberd om hulle kleur te komplementeer.
“Dit voel verkeerd om hulle te dra, monsieur.”
Hy skud sy kop terwyl hy vir hulle elkeen ’n glas wyn inskink.
“Ek hou hulle al vir jare opgesluit en dit is nie reg nie. Hierdie een keer mag die robyne maar vonkel en miskien ontrafel ek vanaand die raaisel.” Hy gee ’n glas wyn aan haar en nooi haar om te sit in een van die twee leunstoele in die kajuit. Dan lig hy sy glas. “Op die rooi robyn … en op u.”
Sy drink ’n slukkie van haar wyn, maar haar nuuskierigheid is geprikkel deur die raaisel waarvan hy gepraat het.
“Wat is die geheim van die robyne, monsieur?”
Hy haal sy skouers op.
“Ek weet dit nie eens nie. Daar is iets omtrent hulle wat my na die res van die skatte sal lei, maar ek het geen idee wat dit is nie.” Hy glimlag sinies. “Ek het ’n sleutel tot ’n fortuin, maar ek weet nie waar dit pas nie.”
Sy voel-voel met haar vingers na die stene. Dis net ’n halssnoer, mooier as die meeste wat sy al gesien het, maar net nog ’n halssnoer. Wat sou die geheim daaragter wees?
“Waar kom dit vandaan, monsieur?”
“Dis eeue al in my familie. In my oupagrootjie se tyd was daar ’n vete tussen my grootvader en sy broer. My ouers se besittings en huis is afgebrand, en hulle kon slegs die juwele red. Dit op sigself was ’n fortuin werd en hy het dit iewers op een van sy togte oor die oseaan versteek. Hierdie halssnoer het hy teruggebring as sleutel tot die plek waar hy dit begrawe het.”
“Net die halssnoer?”
“Dis al.”
Sy skud haar kop stadig.
“Dit was ’n vreemde ding om te doen. Hy kon ten minste net ’n kaart of iets gelaat het ter verduideliking.”
Hy glimlag.
“Dis wat ek ook gedink het, maar daar is geen kaarte nie.” Hy kyk op toe Pedro met hulle aandete verskyn en dit op die tafel rangskik. Dan laat Pedro hulle weer alleen. “Ons kan maar eet, señorita.”
Terwyl hulle eet, gesels Da Silva oor sy reise en Nicole luister verwonderd. Hy is vanaand anders as wat sy hom leer ken het. Hy is sjarmant en gesels onderhoudend. Sy het verwag dat hulle weer swaarde sou kruis, maar dit lyk tog asof sy die aand terdeë gaan geniet. Sy hou hom onderlangs dop terwyl hy praat. Vanaand het hy die moeite gedoen om sy baadjie aan te trek, maar dit is ook redelik koel buite. Hy lyk soos ’n edelman wat hy in werklikheid ook is en sy verwonder haar oor dié verandering. Sy het hom leer ken as die siniese seekaptein wat taamlik minagtend is teenoor die skoner geslag. Nou is daar geen teken van daardie minagting nie.
Na ete bring Pedro likeurs. Teen hierdie tyd is Nicole al taamlik lighoofdig van die wyn. Sy is nie daaraan gewoond om meer as een glas wyn op ’n keer te drink nie. Sy het egter nie eens agtergekom dat sy meer as een glas gedrink het nie, want Da Silva het telkens net weer haar glas volgemaak. Buitendien het sy die gesprek só geniet dat sy niks opgemerk het nie.
Hy kyk nou ondersoekend na haar toe sy weer in die gemakstoel gaan sit.
“Iets verkeerd, señorita?”
Sy skud haar kop.
“Net ’n bietjie lighoofdig, monsieur.”
Hy lag sag.
“Ek het gewonder hoe u soveel wyn kan drink sonder om iets daarvan oor te kom.”
Sy kyk vinnig op na hom.
“U kon my ten minste gewaarsku het. Ek het nie besef dat ek te veel drink nie.”
“Ek het gedink dat u dit nogal geniet het.”
Sy staan op.
“Miskien is dit tyd dat ek liewer na my kajuit toe gaan.”
Hy kom voor haar staan, ’n spottende uitdrukking op sy gesig.
“So gou al, señorita? Was die aand dan nie aangenaam nie?”
Sy kyk op na hom.
“Ek het dit baie geniet, monsieur, maar …” Sy onthou van die robyne en begin die knip agter losmaak. “Hierdie moet u liewer neem.”
Hy draai haar om sodat hy die knip kan losmaak. Die lighoofdigheid van die wyn het haar weerstand effens geskaad en toe hy haar weer omdraai sodat sy na hom kyk, kan sy nie aan ’n gepaste skerp uitlating dink om hom te keer nie.
Hy lag net sag, buig vooroor en druk sy lippe liggies teen haar slanke nek. Sy verstyf, maar gee nie pad nie. Hy het belowe dat Pedro hier sal wees, maar Pedro was omtrent glad nie hier nie, dink sy. Was dit dalk so beplan? Selfs die feit dat hy haar te veel wyn gegee het? Maar op hierdie oomblik kan dit haar nie skeel nie. Die ligte aanraking van sy lippe stuur ’n soet gevoel deur haar. Sy laat hom toe om sy hande om haar nek te vou en bied geen weerstand toe hy haar op haar mond soen nie. Dan gly sy arms om haar en word sy soene dringender. ’n Lang ruk is Nicole net bewus van haar brandende verlange na hierdie man en dan kom sy skielik tot haar sinne. Sy druk hom van haar af weg en met ’n laaste, verwilderde kyk in sy rigting, draai sy om en vlug uit die kajuit. Agter haar hoor sy hom sag, geamuseerd lag.
In haar kajuit gaan sy bewend op die rand van die slaapbank sit. Wat op aarde het in haar gevaar om so iets toe te laat? Hy het ’n gek van haar gemaak en haar goedkoop laat lyk. Na vanaand sal hy nog minder van haar dink. Sy is kwaad vir haarself omdat sy van beter moes geweet het.
Tog bly die soet gevoel van sy omhelsing haar by en hier waar sy alleen is, kan sy die herinnering vertroetel en koester. Dit bring ’n dromerige uitdrukking in haar oë en sy vee liggies met haar hand