Annelize Morgan Omnibus 5. Annelize Morgan
die reling by Nicole. Die hoofmas tref hom teen die kop en sy sien hoe hy verslap.
Hy is bewusteloos, besef sy verskrik en dink nie verder aan die storm en die gevaar op die dek nie. Sy tel haar romp op en klim die laaste trappies uit na bo. ’n Groot golf breek oor die dek en spoel die bewustelose Da Silva na die reling. Met ’n skok besef sy dat hy oor die dek gaan gly en van die skip sal afval. Dan strompel sy teen die sterk wind uit. Sy hoor vaagweg hoe die matrose op haar skreeu, maar sy slaan geen ag daarop nie. Sy druk haarself teen die reling vas en toe die golf terugwas, kom dit met só ’n mag dat dit haar byna oor die reling saamneem.
Da Silva kom stadig by van die water wat oor hom spoel en hy gryp na iets om sy vaart te stuit … maar daar is niks. Die water spoel hom terug na die oseaan en hy is magteloos om iets daaraan te doen. Dan spoel hy teen iemand vas en worstel hy om sy bedwelmde verstand weer in werking te kry.
Nicole skop met haar voete teen die reling terwyl sy Da Silva se arm beetkry. Sy bly so sit totdat die water by hulle verby is en haar arms voel asof hulle uit hulle potjies geskeur word. Dan is die golf verby en kan sy haar aandag aan Da Silva gee.
Hy kom stadig orent en steier na die voorkasteel. Dan kyk hy terug na waar sy nog teen die reling sit … moeg van die inspanning om hom van ’n gewisse dood te red.
3
Hy strompel nader om haar orent te help en saam soek hulle die skuiling van die voorkasteel op. Die reën stort onophoudelik op hulle neer terwyl die matrose rem aan die seile om hulle in posisie te hou. Die nat seile kan nie maklik in die wind skeur nie en dus is daar nie gevaar dat die matrose ook oor die kant gewas sal word nie. Hulle hang drie aan elke tou terwyl die wind en reën teen hulle waai en die golwe elke keer dreig om hulle van die dek af te spoel.
Da Silva sit sy arm om Nicole en lei haar na die trapingang van die ruim. Hulle kan nie praat as gevolg van die hewigheid van die storm nie en sy doen woordeloos soos wat hy beduie.
Toe sy eindelik in haar kajuit terug is, begin sy haar verklee. Sy is tot op haar vel nat en kry baie koud. Die gerol van die skip bemoeilik haar bewegings, maar uiteindelik is sy aangetrek en keer die warmte stadig na haar ledemate terug. Sy hang ’n dik woltjalie om haar skouers.
Deur die patryspoort kan sy net die woedende, kolkende grys see sien. Elke nou en dan spat die punt van ’n golf oor die dik glas. Sy wonder hoe die mans op die dek vaar en sidder by die herinnering aan haar waaghalsigheid. Sy kon haar eie lewe verloor het in haar poging om Da Silva te red en sy het geen verklaring hoekom sy dit gedoen het nie. Sy kon hom net so laat gaan het en dan sou die bemanning ’n ander kaptein gekies het. Tog weet sy dat sy dit nie sou gedoen het nie. Sy sou nooit kon staan en toekyk hoedat hy oor die kant gespoel word sonder om iets daaraan te doen nie. In hierdie woeste storm sou hulle hom nooit weer gesien het nie.
Uur na uur veg die matrose om die skip op koers te hou, maar eindelik gee hulle die stryd gewonne. Die dek is nou een groot gemors van toue en stukke hout en ander rommel. Hulle keer uitgeput terug na die stuurkajuit. Daar bly hulle ’n ruk lank half verkluim en beraadslaag wat hulle nou moet doen. Die vrag het die stuur bemoeilik, maar omdat daar nou geen stuur meer is nie, is dit beter dat die vrag aan boord bly. Dit hou die skip stabiel. Daarsonder kon dit hulpeloos in die see rondgedobber het en bes moontlik omgekeer het.
Teen laatmiddag begin die storm geleidelik bedaar en met sononder reën dit nog net hard. Dit word gou donker omdat die son nie skyn nie. Matrose word op die dek op wag geplaas terwyl die ander gaan rus. Later sal hulle afgelos word en eers die volgende oggend sal hulle hulle posisie probeer bepaal en na die naaste hawe vaar om die skade te laat herstel.
Teen vroegaand is daar ’n klop aan haar kajuitdeur en omdat sy nog ten volle geklee is, aarsel Nicole nie om die persoon in te nooi nie. Sy kyk verskrik op toe Da Silva inkom. Hy het droë klere aangetrek en sy hare weer netjies agter in sy nek met ’n strik vasgebind.
“Ek het u kom bedank dat u my lewe gered het, señorita.”
Sy kom haastig orent.
“Ek sou dit vir ’n ander ook gedoen het, monsieur.”
Hy glimlag effens.
“Natuurlik. Ek is niks verskillend van my matrose nie.” Hy kyk ondersoekend na haar. “Hoekom het u dit gedoen?”
Sy aarsel voordat sy antwoord: “Omdat ek lewendig in die Kaap wil aankom, monsieur. ’n Nuwe kaptein sou dalk minder suksesvol gewees het.”
Hy glimlag sardonies.
“Is dit waaraan u gedink het toe u u lewe gewaag het?”
“Ek het aan niks gedink nie. Ek weet buitendien nie wat my besiel het om dit te doen nie.”
“U is nie heeltemal so ongeërg as wat u wil voorkom nie, señorita.” Sy kan die uitdrukking in sy oë nie verklaar nie. “Ek het nog nooit soveel respek of agting gehad vir die fyn dametjies van die Franse hof nie.”
“Dit het ek al agtergekom, monsieur. U verag my en die mense van wie ek afstam.”
Hy skud sy kop stadig.
“Ek oordeel mense nie op hulle afkoms nie.”
Sy kyk vinnig, ondersoekend na hom.
“Dit was altyd my eie beleid, monsieur.”
“Teen môremiddag behoort ons ’n hawe te bereik en ek sal graag dat u môreaand ete saam met my in my kajuit geniet. Dis die beste wat ek onder die omstandighede kan doen om te vergoed.”
Sy kyk agterdogtig na hom.
“Sal ons alleen wees?”
Hy glimlag geamuseerd.
“Ek maak nie ’n gewoonte daarvan om mense in my kajuit te nooi nie. Pedro sal ook daar wees as dit u sal gerusstel.”
Sy glimlag.
“Dit sal, monsieur, en ek neem die uitnodiging met graagte aan.”
Toe hy uit is, gaan Nicole met ’n verwonderde uitdrukking op haar gesig sit. Sy vertrou nie die vrede nie, omdat sy weet dat ’n man soos Da Silva nooit sal verander nie. Sy werklike gevoelens sal hy nooit uitblaker aan enige een nie. Hy is iemand wat ’n mens moet soek tussen koue genadeloosheid, afsydigheid, vurige woedes, siniese uitlatings en minagting. Vanaand het hy hom in die moeilike posisie bevind dat hy deur haar van ’n gewisse dood gered is en hy het nie presies geweet hoe om dit te hanteer nie. Hy het nog steeds niks van homself prysgegee nie en sy weet dat hy na dese nie anders sal optree as vantevore nie.
Die volgende dag vaar hulle met behulp van die seile alleen op die oseaan. Die wind het bedaar en net ’n fris bries stuur die kreupel skip na die veiligheid van ’n hawe. Vroegmiddag vaar hulle Sidi Ifni binne. Dis ’n baie klein Spaanse kolonie aan die weskus van Afrika en hulle is gelukkig om dit hoegenaamd te bereik.
Nicole voel of sy oplaas weer kan asem skep toe hulle die ketting met die anker oor die rand van die skip laat afgly tot in die kalm water in die hawe. Die laaste twee dae was ’n nagmerrie.
Pedro kom deel haar mee dat sy en die ander die volgende dag toegelaat sal word om ’n bietjie aan wal te gaan. Sy moet van die geleentheid gebruik maak, omdat die reis nog baie lank gaan duur en daar dalk nie weer so ’n geleentheid sal wees nie.
Nicole klee haar met sorg vir haar ontmoeting die aand met die kaptein. Sy het nog nie weer vir Consuelo of Esmara gesien nie en dit stel haar ietwat gerus. Die twee vroue laat haar baie ongemaklik voel.
Sy dra ’n tabberd van weelderige, dik tafsy in donkerrooi met liggrys kantafwerking. Die hals is modieus laag gesny en ook met kant afgewerk soos die moue en soom. Sy dra nie enige juwele nie omdat sy geen juwele by haar het nie. Haar swart hare kam sy weg van haar voorkop en steek dit met ’n paar sierkamme agter vas sodat die lokke in dik krulle om haar slanke, wit nek hang.
Sy is pas klaar toe Pedro haar kom roep en sy tik haastig ’n bietjie rooswater teen haar nek voordat sy hom volg.
Da Silva se kajuit is ’n bietjie groter as hare, maar nie só groot dat sy dit besonder