Die geheim van Rust der Vrede. Annelize Morgan
grasie. Sy is lank en blond en keurig geklee. Sy het nog nooit enige tekort in haar lewe geken nie en is gruwelik deur haar ouers bederf. Teen die tyd dat haar pa se inkomste begin kwyn het, was sy veilig met Alfred Benson getroud. Op die oomblik is haar gedagtes egter donker en vol frustrasie.
“So ’n suinige ou vrek,” dink sy ergerlik toe sy met die trap na bo gaan. Wanneer Cornelius van Wyngaardt in ’n spandabele bui is, koop hy rond en bont klere en motors en juwele vir sy dogter Suzanne. Hy het nog nooit ’n enkele pennie aan sy versukkelde familielede gegee nie.
Engela kyk Eunice agterna toe sy die vertrek verlaat. Sy het die hele aand nog byna geen woord gepraat nie. Niemand doen die moeite om met haar te gesels nie, behalwe Alfred Benson. Hy hou nie van die Van Wyngaardts nie, en sy word nie deur hulle aanvaar nie. Dit maak hulle nogal bondgenote.
Philip sluit onverwags by haar aan. Sy wil eers padgee, maar hy keer haar.
“Waarheen is jy so haastig op pad, skone prinses?”
Sy frons onseker. “Wat is dit nou met jóú, Philip?”
Hy lag. “Niks. Ek verbaas my maar net oor hoe mooi jy geword het in die agt jaar wat ek jou nie gesien het nie. Toe was jy ’n langbeenmeisiekind met stywe vlegsels en ’n lelike sproetneus. Ek het nog nooit van sproete gehou nie.”
Sy staar hom agterdogtig aan. “Jou suster sal nie daarvan hou dat jy met my praat nie.”
Hy grinnik. “My suster het geen sê oor my nie. Eunice sal dit nie waag om my oor enigiets te betig nie.”
Engela draai weg. “Ek het ongelukkig nie daardie voorreg nie. Sy sal mý die skuld gee dat ek met jóú gesels het.”
Hy kyk nuuskierig na haar. “Hoekom laat jy toe dat hulle jou rondstamp?”
Sy kyk vinnig terug na hom. “Omdat ek nie teen hulle kan baklei nie.”
“Nou goed dan,” sê hy. “As Eunice soveel as een woord met jou praat, sal ek haar dreig dat ek Alfred gaan vertel dat sy duisend pond op ’n wedren verloor het.”
Engela knip haar oë ongelowig.
“Duisend pond!”
Hy hou sy vinger voor sy mond.
“Sjjjjt! Ek wil nie hê dat almal dit moet weet nie! Dis my geheime wapen teen haar. Sy kan deksels geniepsig raak as sy die dag daarvoor lus het, maar vandat ek van haar dobbelskuld uitgevind het, laat sy my met rus.”
Engela skud haar kop stadig. “Hoe meer dae, hoe meer korrupsie. Julle is voorwaar ’n vreemde spulletjie bymekaar.”
Hy lag ongedwonge. “Jy is een van ons, al wil nie jy of ons dit erken nie. Jy is ’n Van Wyngaardt en moet dit nooit vergeet nie.”
Haar geelbruin oë vertroebel. “Ek wens ek kon van julle almal vergeet. Dis net tant Sophia vir wie ek enigsins omgee.”
Hy lyk opsetlik teleurgesteld.
“Ag nee, en wat dan van my? Ek het jou mos niks gemaak nie?”
Sy glimlag effens. “Nog nie.”
Hy beskou haar ondersoekend.
“Dit klink na ’n dreigement.”
Engela kyk ’n lang ruk swyend na hom. Dan sê sy stadig: “Julle het my geleer om altyd op my hoede te wees, altyd agterdogtig en om nooit iemand te vertrou nie.”
“Eina!” sê Philip en trek ’n gesig. “Dit was ’n lae hou!”
Eunice kom weer ingestap, en haar blik val op Engela en haar jonger broer wat skynbaar hulle gesprek geniet. Vasberade stap sy na hulle toe om ’n einde aan hierdie ongehoorde toedrag van sake te maak.
Philip kyk op en sien die uitdrukking op haar gesig. Hy grinnik egter onbekommerd en vryf net sy duim en voorvinger betekenisvol teen mekaar.
Eunice gaan staan verbaas. Sy haat dit dat Philip hierdie houvas op haar het. Hy doen deesdae net wat hy wil, en sy kan geen woord praat nie. As hy vir Alfred gaan vertel van haar dobbelskuld, gaan die herrie los wees. Alfred sal haar dit nooit vergewe nie. Dan draai sy woedend om en gaan by haar man staan.
Philip grinnik tevrede.
“Sien jy? Sy is so bang vir my soos die duiwel vir ’n slypsteen.”
Engela lag verlig.
“Ek het vir ’n oomblik gevrees dat ons ’n lelike klein relletjie gaan hê. Hulle verdra my net omdat tant Sophia my hierheen genooi het. Ek sien die afkeer en minagting in hulle oë, en selfs wanneer hulle nie na my kyk nie, weet en voel ek wat hulle dink.”
Philip glimlag. “Ek is bly dat jy my nie meer as een van hulle reken nie.”
Sy kyk vinnig na hom en frons liggies.
“Hoekom doen jy dit? Ek bedoel, hoekom doen jy hoegenaamd die moeite om jouself bloot te stel aan kritiek? Jy kon my mos ook maar geïgnoreer het soos die ander.”
Hy skud sy kop stadig.
“Ek dink nie ek is regtig een van hulle nie. Die Van Wyngaardts is ’n vreemde lot, of het jy dit nog nie agtergekom nie?” Sy blik dwaal na die portrette van sy stoere voorvaders. “Ou Cornelius Lodewyk van Wyngaardt was skynbaar ’n regte ou korrelkop. Maar dit is iets wat ons van die meeste Van Wyngaardts kan sê.”
Engela glimlag. “Jy sal tant Sophia skok as jy so iets voor haar sê.”
Hy lag opgewek.
“Tant Sophia is die laaste een om deur die Van Wyngaardts geskok te word. Sy ken hulle te goed, en sy is taamlik sinies in haar opinie van hulle.”
Engela glimlag net en dink aan haar eie pa. Sy het hom nooit geken nie. Sy was maar skaars drie jaar oud toe hy verdwyn het, en nou is sy al twee-en-twintig. Haar moeder hoop nog altyd dat hy sal terugkom, maar sy self glo dit nie meer nie. Hy is óf dood óf hy wou nooit terugkom nie.
Philip bekyk die meisie voor hom ongemerk. Engela is nie mooi nie, maar sy het die soort gesig wat ’n mens nie maklik vergeet nie. Om die waarheid te sê, sy is die ewebeeld van haar ouma Engela wat lankal reeds oorlede is. Sy het dieselfde aristokratiese neus, breë mond en groot, geelbruin oë. Haar swart hare, wat sy in sagte krulle om haar gesig dra, versag haar gelaatstrekke. Sy het nie die klassieke skoonheid van Eunice of die engelagtige skoonheid van Suzanne nie, en tog sal sy die een wees na wie ’n mens twee keer sal kyk.
Die eetkamertafel is feestelik gedek toe hulle aansit vir ete. Die familie wat teenwoordig is, vul skaars die helfte van die twaalf voet lange stinkhouttafel.
Sophia gaan op haar plek aan die bopunt van die tafel sit.
Cornelius kyk suur na haar.
“Dis ’n familiebyeenkoms, Sophia,” sê hy grimmig. “Jy behoort nie die plek van die hoof van die huis in te neem nie.”
Sy kyk liefies na hom, maar haar oë is soos skerp naalde op hom gerig.
“As die eienares van Rust der Vrede is dit my voorreg, my liewe broer. Ek ís die eersgeborene, weet jy?”
Cornelius gaan langs Suzanne sit.
“Maar jy bly ’n vroumens,” brom hy hardnekkig.
Sophia ignoreer hom en lui die klokkie sodat die bediende die kos kan inbring.
Suzanne leun oor na haar pa.
“Moenie tant Sophia so kwaad maak nie, Pappa. Na haar dood moet Rust der Vrede ’n nuwe baas kry en ek sal nie daarvan hou dat sy ons oor die hoof sien net omdat Pappa gedurig met haar rusie maak nie.”
Hy sug diep. “Die huis kom mý toe en sy weet dit.”
Philip het die vinnige woordewisseling aangehoor en nou glimlag hy.
“En om watter rede, oom Cornelius? Ek is die enigste man van die derde geslag wat nog die Van Wyngaardt-naam dra. Ek is die enigste een wat ’n Van Wyngaardt-erfgenaam kan voortbring.”