Reënboog van koraal. Ena Murray
ion>
ENA MURRAY
Reënboog van koraal
Jasmyn
1
“Crystelle, wat gaan die afgelope tyd met jou aan? Ek sou dink dat jy in die sewende hemel van geluk moet rondsweef, maar die afgelope paar dae lyk dit eerder asof jy enige oomblik in trane kan uitbars. Wat makeer, sus? Het jy en Dawid dan so gou ná jul verlowing rusie gemaak?”
“Nee, natuurlik nie, Estelle. Jy … jy verbeel jou sommer hierdie dinge,” antwoord die ander ontwykend, hoewel sy baie goed weet dit sal nie help om haar tweelingsuster ’n rat voor die oë te probeer draai nie. Daarvoor ken en verstaan hulle mekaar te goed.
Estelle kyk haar suster met verskerpte aandag aan. Daar is beslis ’n groot skroef los. Sy ignoreer Crystelle se ontwykende antwoord en sê sag: “Kan ek nie miskien help nie, sus? Ek wil my nie in jou private sake inmeng nie, veral nie as dit iets met jou verloofde te doen het nie, maar ons het nog al die jare geen geheime vir mekaar gehad nie. Ons het mekaar nog altyd gehelp en raad gegee.”
Crystelle roer haar skouers onrustig. “O, asseblief, Estelle, ek sê mos …”
Dan laat haar stem haar in die steek, al asof sy besluit dit sal tog nie help om verder toneel te speel nie. Tot Estelle se grootste ontsteltenis sien sy hoe haar suster se gesig vertrek en dan bars sy in trane uit.
“O, Estelle, ek is in ’n vreeslike gemors.”
Daar is skielik ’n koue beklemming in Estelle se hart. Net die feit dat Crystelle, van alle mense, haar selfbeheersing so verloor, is al onrusbarend genoeg. Maar sy ruk haar gou reg en sê sussend: “Vertel my daarvan. Ek is seker dis nie werklik so erg as wat jy op die oomblik dink nie.”
“Erger kan dit nie wees nie. Ek … ek is al byna van my kop af. Ek kan net aan geen uitweg dink nie.”
Weer volg ’n stortvloed trane en Estelle probeer haarself gerusstel. Crystelle is soms lief om situasies te dramatiseer.
“As jy my net vertel, kan ek miskien aan ’n uitweg dink. Wat is die vreeslike gemors waarna jy verwys?”
“Ek is tegelyk aan twee mans verloof.”
Daar heers ’n oomblik stilte nadat die bom gebars het. Estelle kyk haar ongelowig aan.
“Crystelle! Jy … jy speel seker!”
“Dit is so. Aan Dawid en aan ’n ander man.”
Toe sy steeds die ongeloof op haar suster se gesig sien, spring sy op en hardloop na die spieëltafel. ’n Oomblik later hou sy ’n ringdosie oop na Estelle uit, haar linkerhand waaraan die ring van Dawid van Huyssteen skitter, ook uitgesteek.
“Hier is Dawid se ring en … daardie is die ander man s’n.” Estelle se oë rek groot toe sy die dosie by haar suster neem en met ontsag na die enkele groot steen kyk.
“Hierdie ring moet ’n fortuintjie gekos het. Jou … e … ander verloofde moet goed daarin sit.”
“Ek weet nie. Seker. Ek weet niks van hom af nie. Dit maak ook nie saak nie. Sê my liewer wat ek moet doen.”
Estelle klap die dekseltjie toe en gee die ring terug.
“Ek kan nie verstaan hoekom jy so ’n bohaai oor die saak maak nie. Die oplossing lê tog voor die hand. Jy moet net besluit wie van jou twee verloofdes jy werklik liefhet en die ander een se ring teruggee. Dis al.”
“Dis nie so eenvoudig nie. Daar is … komplikasies.”
“O!” Die kommer laai weer opnuut in Estelle se hart op. “Ek dink jy moet liewer alles van voor af begin vertel, sus. Ek kan net nie begryp hoe dit dan gebeur het dat jy aan die ander man verloof geraak het nie. En wanneer?”
“Dit het alles begin met daardie onlangse rusie tussen my en Dawid. Jy onthou seker nog?” begin Crystelle sugtend en haar suster knik. Ja, sy onthou dit nog baie goed.
Hoewel Dawid duidelik baie verlief op haar suster is, is hy nogtans nie ’n man wat hom sal laat domineer deur die vrou wat hy liefhet nie. Hy het ook baie vaste idees omtrent ’n huwelik en die plek van die vrou in die huwelik. Crystelle is een van die besturende direktrises van ’n groot en bekende sjarmeskool in die stad, ’n beroepsvrou in murg en been. Sy het beslis nie met Dawid saamgestem dat sy ná hul huwelik van haar beroep moet afstand doen om tuis te gaan sit en kos kook en kinders grootmaak nie. ’n Geweldige rusie het gevolg, waarna Crystelle haar tasse gepak en met ’n maand verlof na Maputo vertrek het, smoorkwaad en vasberade om nie aan hierdie Victoriaanse gril van hom toe te gee nie. Die verhouding tussen hulle was blykbaar finaal van die baan.
“Jy weet ek is hier weg met die gedagte dat alles tussen my en Dawid finaal verbreek is. Ek was verbitter en kwaad en seergemaak. En toe ontmoet ek iemand wat in dieselfde hotel as ek tuis was.”
Crystelle lyk skuldig en ontwyk haar suster se beskuldigende oë.
“Al verskoning wat ek kan aanvoer, is dat ek destyds nie myself was nie. Ek wou my sommer wreek op al wat mansmens was. En toe hierdie man duidelik toon dat hy in my belangstel, het ek … Ek het regtig nie bedoel dat dit moes hand uitruk nie, sus.”
“Maar dit het, nè?”
“Ja,” erken sy skuldig. “Om die waarheid te sê, weet ek self nie hoe dit gebeur het dat ’n verlowing ter sprake gekom het nie, maar … toe ek my kom kry, was ek klaar verloof aan die man. Ek weet nie wat my besiel het nie. Ek ken hom nie eens nie!”
“Ek weet wat jou besiel het,” antwoord haar suster ontevrede. “Jy het goed geweet hoe ’n diep steek dit vir Dawid sal wees as hy moet hoor dat jy met ’n verloofring aan jou vinger van die vakansie af teruggekeer het.”
Crystelle se trane vloei weer.
“Ja, dis seker so,” erken sy. “Dit klink nou so gemeen.”
“Dit was gemeen – nie net teenoor Dawid nie, maar ook teenoor daardie ander man,” laat haar suster reguit hoor. Maar dan versag haar stem weer. “Wat het verder gebeur?”
“Die dag toe ek terugkeer van my vakansie, het Dawid my op die stasie ingewag. Ek was so oorstelp van vreugde om hom te sien dat ek totaal van die ander man se verloofring aan my vinger vergeet het. Ek was al in Dawid se arms toe dit my van die ring byval en ek het dit gou agter sy rug in my handsak laat glip. Ek wou hom eerlikwaar van die verlowing vertel het, maar nadat hy my vertel het dat hy die oorsese beurs gewen het en dat ons oor ’n maand moet trou as ek saam met hom wil gaan, het ek … net nie meer die moed gehad nie. Ek was te bang dat daar weer iets tussen ons twee skeef sou loop. Ek en Dawid is dadelik weer verloof, soos jy weet, en ons trou oor twee weke. Maar intussen sit ek nog met Hein Albrecht se ring!”
“Maar hoekom het jy nie sommer dadelik sy ring teruggestuur nie, Crystelle?” vra Estelle ietwat ongeduldig.
“Ek wou, maar het toe besluit om eers aan hom te skryf. Soos jy self opgemerk het, moet dit ’n baie duur ring wees. Ek is bang dit raak dalk verlore oor die pos. Ek het toe eers vir hom geskryf en gesê ek wil ons verlowing beëindig, en hom toe gevra hy moet my laat weet langs watter weg dit die veiligste sal wees om sy ring aan hom terug te besorg. Ek het aan die begin van die week sy antwoord ontvang. Hy … weier om ons verlowing te verbreek en sy ring terug te neem.”
“Wat?”
“Ja. Hy skryf hy weier om so ’n persoonlike saak per brief af te handel. Hy dring daarop aan dat ons mekaar moet ontmoet en die saak persoonlik uitpraat.”
“Hm. Wel, ou suster, hoe gouer jy hom ontmoet en sy ring teruggee, hoe beter. Die tydjie word kort.”
“Maar ek kan dit nie doen nie, ek bedoel, hom êrens gaan ontmoet nie! Daar is geen tyd nie. Die res van hierdie week het ek en Dawid elke dag afsprake. Ons paspoorte moet in orde kom, dis afskeidspartytjies en dies meer. Eerskomende naweek gaan ons sy ouers haal en volgende week weet jy hoe dol dit sal gaan met al die voorbereidings vir ons huwelik en die reis. Daar is net nie ’n enkele oop oomblik nie. O, Estelle, wat moet ek doen?” roep haar suster ontsteld uit.
Estelle frons.
“Wel,