Reënboog van koraal. Ena Murray
dat die man nie die groot verligting op haar gesig kan sien nie. Sy kan haarself nou uitlag oor die nare voorgevoelens wat sy oor hierdie afspraak gekoester het. Beter kon dit nie vir haar verloop het nie. Daar bestaan nou geen gevaar dat sy en die hele bedrogspul ontmasker sal word nie, want hierdie man het Crystelle nog nooit in sy lewe gesien nie. Dan sal dit ook nou baie makliker wees om haar saak te stel en die ring aan die broer te gee om aan Hein te oorhandig.
“As jy my ’n oomblik van jou tyd sal vergun …”
“Sekerlik.”
Hy lei haar na ’n hoekie van die sitkamer en neem regoor haar plaas. ’n Oomblik volg daar ’n stilte waarin hulle mekaar opsommend aankyk. Estelle bestudeer hom met onpersoonlike belangstelling. Sy moet erken dat haar “verloofde” se broer op ’n vreemde manier ’n baie aantreklike man is. Niemand sal hom ’n mooi man noem nie. Daarvoor is sy gesig in te streng lyne saamgevat. Dis sy oë wat ’n mens dadelik tref. Hulle is ’n besonderse blou, amper ’n donkerblou, en uit hulle straal ’n sterk persoonlikheid.
Die verligting in Estelle begin so stadigaan wegsypel en sy twyfel of dit so ’n groot genade is dat Hein nie self opgedaag het nie. Die blou oë wat so sonder huiwering na haar kyk, vertel haar dat sy nie hier met ’n jong, onervare mannetjie te doen het, soos Hein blykbaar nog is nie. Sy reguit blik vertel haar dat dit ’n volwasse man van by die dertig is aan wie geen spek en bone opgedis sal kan word nie. Die reguit, effens geboë neus met die streng mond daaronder verraai dat hy ’n wil en ’n siening van sy eie het. Sy weet sommer intuïtief dat hierdie man nie met hom laat speel nie. Die effense rooi skynsel in die donker hare vertel haar ook dat hy ’n humeur het waarmee sy rekening sal moet hou.
Dis die man wat eerste die stilte verbreek.
“Stel jy belang om te weet wat Hein verhinder het om jul afspraak na te kom?”
Dis asof ’n toon van sarkasme net so wil-wil deurslaan in sy stem, en Estelle voel ’n ligte blos langs haar nek opstoot.
“Natuurlik wil ek graag weet,” sê sy vinnig, amper oorhaastig, en sy sien die donker wenkbroue lig.
“Jy het nie baie gretig gelyk nie.”
Estelle soek na woorde. As sy net kon weet of Hein sy broer in sy vertroue geneem het en of hierdie man weet dat sy die verlowing wil verbreek, dan sal sy weet wat om te antwoord. Sy voel egter glad nie lus om hom daarvan te vertel as hy dit nie weet nie. Skielik voel sy ’n ergernis teenoor haar onbekende “verloofde” in haar opstoot. Vir wat kon hy nie self hierdie afspraak nagekom het nie? Of is hy ook maar van Crystelle se soort wat altyd ander stuur om hul kastaiings uit die vuur te krap? Dan ruk sy haar reg. Sy is nou onredelik. Die bruin oë wat in syne opkyk, is koel en uitdagend.
“Ek is nie ’n mens wat met my gevoelens te koop loop nie, meneer Albrecht. Sou jy meer van my gedink het as ek in trane uitgebars het?”
Die blou oë vernou en dan glimlag hy effens.
“Nee, beslis nie, juffrou. Ek kan emosionele vroumense nie verdra nie.”
En ek, meneer Chris Albrecht, kan weer nie hooghartige, meerderwaardige mansmense verdra nie, dink Estelle swyend. Een ding is baie seker. Sy hou nie van hierdie broer van haar verloofde nie. Sy hoop van harte dat Hein nie baie na hom aard nie.
“Kan ek nou hoor wat Hein makeer?”
“Sekerlik. Hein is tydens ’n duikery deur ’n haai aangeval. Hy was baie ernstig beseer, maar is darem nou weer uit die hospitaal en terug op Inhaca. Die wond aan sy been sal egter nog ’n lang tyd neem om ten volle te genees. Daarom kon hy nie jul afspraak nakom nie.”
“’n … Haai?” Haar ontsteltenis is heeltemal opreg. “Maar wat gaan soek hy dan ook tussen die haaie?” Die woorde kom spontaan oor haar lippe en die man se wenkbroue lig afkeurend.
“Juffrou, dit raak al meer by my ’n sekerheid dat jy en Hein op aarde niks van mekaar af weet nie. Aan jou opmerking van so ewe kan ek aflei dat dit dieselfde met jou gesteld is. Tog het julle kans gesien om verloof te raak.”
Estelle vererg haar op die daad, juis omdat sy so volkome met hom hieroor saamstem. Sy het Crystelle telkemale verwyt dat sy so blindelings aan ’n man gaan verloof raak het van wie sy absoluut niks weet nie, maar dit staan haar nou glad nie aan dat hierdie man daardie feit ook nou teenoor haar noem nie. Hy het niks te doen met sy broer se liefdeslewe nie. Sy steek haar kennetjie uitdagend na vore.
“Dít, dink ek, is my en Hein se saak, meneer Albrecht. En ek het ’n naam. Dis Crystelle.”
Sy stem raak ysig.
“Sou jy dit dink, juffrou? Dit wys maar net weer dat jy niks van jou verloofde af weet nie. Of jy is ’n dame wat baie goed toneel kan speel.”
Estelle knip haar oë vinnig. Sy kyk verward terug in die oë wat nou forsend op haar gerig is.
“Ek begryp nie wat jy bedoel nie. Hoekom sal ek toneelspeel?” Haar stem vertel hom duidelik dat sy haar begin vererg. Die man moet darem nie dink dat hy enigiets vir haar kan sê nie.
“Die tydjie dat ek en Hein mekaar geken het, was te kort om veel besonderhede oor mekaar uit te ruil. Ek sal jou eerlik vertel wat ek van hom weet, en dis baie gering, ek erken dit. Ek weet dat hy op Ilha de Inhaca, ’n eiland naby Maputo, woon. Hulle noem dit sommer net Inhaca. Ek weet ook dat hy ’n ouer broer het, ’n soort … e … seewetenskaplike van beroep. Maar wat dit presies behels, wel, daarvan het ek nie die vaagste benul nie. Dis al.”
“Hoekom het jy aan hom verloof geraak, juffrou?”
“Wel,” en haar blik sak vinnig voor syne, “wel, hoekom raak ’n mens verloof?”
“Dit beantwoord nie my vraag nie, Crystelle.”
Hy noem haar die eerste keer op die voornaam, maar Estelle is skaars bewus daarvan. Al waarvan sy bewus is, is dat hierdie man ’n net om haar trek en vroeër of later gaan hy haar ontmasker. Vroeër of later gaan sy ’n glips maak wat haar bedrog aan die lig gaan bring. Haar senuwees is aan rafels en die hoeveelste keer verwens sy haar suster uit haar hart. Die verdekselse Crystelle!
“Jul optrede is dié van romantiese tieners en tog is nie een van julle twee meer tienderjarig nie. Hein miskien nog in sekere mate, maar nie jy nie. Julle twee is ook net so min dolverlief op mekaar as wat ek op hierdie oomblik dolverlief is. Ek het reeds ’n sterk vermoede hoekom Hein aan jou verloof geraak het.”
Estelle se bruin oë blits nou. Hierdie man se aantygings staan haar glad nie aan nie. Sy het geen benul waarop hy sinspeel nie, maar dat dit beslis nie vleiend vir haar, of liewer vir Crystelle, is nie, is duidelik.
“Terwyl jy nou so alles uitgewerk het, kan jy my vertel hoekom ek aan Hein verloof geraak het?”
“Net soos jy verkies,” is die kalm antwoord. “Al het Hein dit miskien nie self aan jou vertel nie, is jy bewus van die feit dat hy uit ’n baie welgestelde familie kom. Ook, juffie, sal ek my kop op ’n blok lê dat jy bewus is van die feit dat Hein, wanneer hy oor drie jaar vyf en twintig is, ’n aardige sommetjie geld gaan erf. Vir baie meisies van ’n sekere soort sal daardie feit meer as genoeg rede wees om verloof te raak, al weet hulle absoluut niks meer van die man af nie.”
Estelle is ’n oomblik te verslae om te antwoord. Hierdie keer begryp sy die aantyging in sy woorde baie duidelik. Dis net met die grootste wilsinspanning dat sy haar kalmte in so ’n mate behou dat sy kil opmerk: “Met ander woorde, meneer Albrecht, ek is in jou oë ’n fortuinsoeker.” Hy leun effens vooroor.
“Crystelle, beantwoord net hierdie een vraag. Is jy werklik verlief op Hein?”
Estelle besef onmiddellik dat hy haar eindelik in ’n hoek het. Antwoord sy nee op daardie vraag, sal dit ’n erkenning van haar kant wees dat hy gelyk het in sy bewering dat sy aan Hein verloof is om sy erfenis. Dis vir haar heeltemal onmoontlik om ja daarop te antwoord, want sy het gekom om die verlowing te verbreek en Hein se ring terug te gee. Hoe kan sy dan nou teenoor hierdie man beweer dat sy werklik verlief op sy broer is?
Hy sit terug in sy stoel