Reënboog van koraal. Ena Murray
bekommerd oor die ring, dat jy daardie geld gaan verloor? Dan kan ons sommer nou na ’n prokureur gaan en ’n kontrak opstel vir ’n sekere bedrag wat ek jou elke maand moet terugbetaal totdat die bedrag gedek is. Ek rol nie in die geld nie en ek het nie so ’n groot bedrag om jou meteens terug te betaal nie. Maar met ’n kontrak van ’n prokureur behoort jy redelik veilig te wees.”
“Ek het gesê ons vergeet eers van die ring. Ek is nie bang dat ek daardie geld sal verloor nie. Dit is nie dáárvoor dat ek jou op Inhaca wil hê nie.”
“O! Waarvoor dan?”
Hy antwoord nie dadelik nie, en sy kyk hom fronsend aan. “Is dit miskien om Hein van sy verliefdheid te genees? Dink jy dat hy oor sy gevoel sal kom as ons mekaar elke dag sien en mekaar beter leer ken?”
“Miskien.”
“Of is daar ’n ander rede? Wat voer jy in die mou, meneer Albrecht?” vra sy reguit, haar stem vol agterdog.
Hy aarsel nog en dan gee hy toe.
“Jy is tog slimmer as wat ek vermoed het.”
“Dankie.”
“Plesier. Jy het gelyk. Daar is ’n spesifieke rede hoekom ek jou ’n maand lank op Inhaca wil hê … as Hein se verloofde. Daar is niks waaroor jy bekommerd hoef te wees nie. Al wat ek van jou verlang, is om bloot net vir daardie tyd op Inhaca te kom bly as Hein se verloofde. Jy sal nie veel las van hom ondervind nie. Hy voel nog te siek en swak ná die ongeluk. Wanneer die maand verby is, kan jy terugkeer Johannesburg toe soos jy verkies, of, as jy en Hein dan werklik nog kans sien om met hierdie klug voort te gaan, beloof ek om my nie meer in te meng nie.”
Hy leun weer vorentoe en kyk haar stip aan. “Ter vergoeding daarvoor, kan ons vergeet dat daar ooit ’n verloofring van derduisende rande in jou besit was.”
“Jy bedoel … jy is bereid om my te betaal om ’n maand lank te gaan vakansie hou?” stamel sy verbyster.
“As jy dit so wil stel, ja, dis waarop dit neerkom.”
“Maar hoekom? Dit moet ’n belangrike rede wees om soveel werd te wees.”
Hy huiwer weer effens voordat hy haar vas in die oë kyk.
“Goed. Ek sal heeltemal oop kaarte met jou speel. Sowat twee jaar gelede het Hein ’n vreeslike kalwerliefde vir ’n sekere vroumens ontwikkel. Die feit dat dié vrou heelwat ouer as hy was en boonop getroud, het haar net interessanter vir hom gemaak. Hierdie vrou en haar man kom nou weer ’n maand lank op Inhaca by my kuier. Hulle was die vorige eienaars van die hotel op die eiland. Ek is bang dat daar ’n herhaling gaan wees van die vorige keer. Die feit dat Hein so skielik aan jou verloof geraak het, laat my sterk twyfel aan sy danige liefde. Ek is byna honderd persent seker dat hy nie dolverlief op jou is nie. Die blitsverlowing laat my vermoed dat hy ook vir dieselfde ding bang is en dat hy hierdie vrou nog nie uit sy sisteem het nie.”
Sy oë kyk haar weer stip aan en sy stem klink afgemete: “Dis absoluut noodsaaklik dat jy ook op Inhaca moet wees wanneer Hilda en James Turner daar kuier.”
Estelle kyk hom fronsend aan.
“Ek moet eintlik daar wees om Hein teen ’n ander vrou te beskerm.”
“Eintlik meer teen homself. Ek weet dat jy nie juis veel sal kan doen as Hein weer ’n gek van hom wil maak nie. Maar tog sal net die blote feit dat sy verloofde onder dieselfde dak is, hom miskien daarvan weerhou om te belaglik op te tree. Daar sal jy natuurlik baie kan help. As jy sorg dat hy nie die geleentheid kry om alleen met Hilda te wees nie, kan dit baie help.”
“Hoe ’n soort mens is dié Hilda?”
“’n Uiters aantreklike vrou, dié soort vrou op wie mans maklik verlief raak en kop verloor. Hein is nog baie jonk en ’n mens kan hom seker nie te veel verkwalik dat hy deur haar beïndruk is nie. Die feit bly egter dat sy getroud is met my beste vriend. Daar mag nie weer ’n tweede keer wees nie, Crystelle.”
Sy stem klink baie beslis. “James is ná daardie tyd weens ’n ongeluk verlam. Daarom het hulle die hotel op Inhaca verkoop. Hy was die afgelope twee jaar by elke moontlike spesialis, maar blykbaar kan daar niks vir hom gedoen word nie. Hulle kom nou eers ’n maand lank by my kuier en sal dan maar gedurende hierdie tyd besluit wat hulle gaan doen. James het genoeg moeilikheid gehad en ek gaan nie toelaat dat my broer verder daartoe bydra nie, en dáárin moet jy my help.”
Estelle luister belangstellend. Maar die rol wat Chris verwag sy moet vertolk, staan haar glad nie aan nie. Sy wil geensins deel uitmaak van hierdie intrige nie en nog minder is sy bereid om haar vir so iets te laat gebruik. Sy gaan nie toelaat dat sy by sulke dinge ingesleep word nie. Vir geen fortuin nie.
“Hoekom stuur jy nie liewer vir Hein weg nie? Dit gaan jou minder kos om hom ’n maand lank te laat vakansie hou op ’n ander plek en dan sien hy die vrou glad nie,” stel sy voor, maar hy skud dadelik sy kop.
“Nee. Ek kan hom nie die res van sy lewe elke keer wanneer Hilda naby is met vakansie stuur nie. Dis nie die regte oplossing vir sy probleem nie. Hy moet Hilda uit sy gestel kry. Daarom dat ek aangedring het dat hulle nie in die hotel nie, maar by my in die huis moet kom bly vir die maand. Maar dit sal jóú werk wees om te sorg dat Hein nie die geleentheid kry om sy verliefdheid te voed nie. Wat natuurlik die beste sal wees, is dat Hein gedurende hierdie maand werklik op jou verlief raak, en ek wil jou vra om jou bes te doen om dit te bewerkstellig.”
Estelle se oë rek.
“Nee, werklik! Jy is die onverstaanbaarste man wat ek nog ooit ontmoet het! Jy het so ’n lae dunk van my en tog vra jy my om jou broer op my verlief te maak!”
’n Fyn glimlaggie raak aan sy mondhoeke en sy gesig ontspan ’n oomblik.
“Ek sien kans om van jou ontslae te raak as dit moet. Ek het jou ook reeds my woord gegee dat ek my nie sal inmeng as jy en Hein werklik ná die maand voel om met jul planne voort te gaan nie. Sal ons maar sê: jy is die minste van twee euwels!”
“Baie dankie, meneer Albrecht. Jy sê die vriendelikste dinge!”
Hy lag saggies.
“Ek is maar net heeltemal eerlik met jou sodat ons twee presies weet waar ons met mekaar staan.”
“Ek weet nie of ek jou eerlikheid so vreeslik waardeer nie. Ek is egter bevrees ek sal jou moet teleurstel. Ek sien nie kans vir wat jy van my verwag nie.”
Sy gesig versober onmiddellik, raak weer streng en ongenaakbaar.
“Ek dink nie jy durf weier nie. Ek dink nie jy kan dit bekostig nie.”
“Wat bedoel jy?” vra sy vinnig, onrustig.
“Ek weet natuurlik nie hoe suksesvol jou sjarmeskool in die stad is nie, maar ’n fortuintjie is baie geld vir elke werkende meisie.”
Estelle verbleek effens. Hy het natuurlik heeltemal gelyk. As sy maar die inkomste gehad het wat Crystelle uit die sjarmeskool maak, kon sy miskien nog ’n plan gemaak het. Maar die feit bly dat sy ’n blote salaristrekker is. Sy sal nêrens soveel geld te leen kry nie. Sy wend ’n desperate poging aan.
“Maar ek het jou mos gesê ek is bereid om jou maandeliks terug te betaal.”
Hy skud sy kop.
“Nee, Crystelle. Ek is jammer, maar ek is nie bereid om daardie aanbod te aanvaar nie. Óf jy is bereid om saam na Inhaca te gaan, en ek skeld jou dan die koste van die ring vry, óf jy bring onmiddellik die ring of die geld te voorskyn.”
“Jy is ’n afperser,” bars sy los, nou byna in trane. Sy besef dat hy haar geheel en al in ’n hoek het. Indien sy weier om sy voorstel van ’n vakansie op Inhaca te aanvaar, en hy moet ’n saak maak in verband met die ring wat weg is, sal alles op die lappe kom. Haar en Crystelle se bedrogspeletjie sal dadelik aan die lig kom, daar sal ’n vreeslike bohaai van gemaak word, veral as die pers van so ’n sappige nuusbrokkie moet hoor, en les bes, Dawid sal beslis hiervan te hore kom. Crystelle se huwelik sal moontlik daarmee heen wees. Die beste ding om te doen,