Reënboog van koraal. Ena Murray
in haar lewe is sy so beledig nie en was sy so magteloos om haar teen ’n aantyging te verdedig nie. Dan, skielik, spoel daar ’n groot verligting deur haar. Sy besef dat hierdie man onbewustelik meehelp om haar probleem op te los. Hy is baie duidelik sterk teen die verlowing gekant. Dit pas haar uitstekend. Beter kon dit nie gewees het nie, besef sy. As sy nou haar rol oortuigend speel, kan sy binne die volgende minuut van die gehate verloofring ontslae wees. Dit kan haar regtig nie skeel wat hierdie man van haar dink of wat Hein gaan dink nie. Ná vandag sal sy tog nooit weer kontak met die Albrechts van Inhaca hê nie.
Sy tel haar handsak op, knip dit oop en lê dan die dosie waarin die verloofring is voor hom op die tafel neer.
“Daar is jou broer se ring, meneer Albrecht. Gee dit asseblief aan hom met my komplimente. Ek laat my nie eens vir die Albrecht-miljoene so beledig nie. Goeiedag.”
Toe sy om die tafel stap, is hy ook op sy voete.
“Gaan sit, Crystelle. Ek het nog nie klaar gepraat nie.”
“Maar ek het, meneer Albrecht. Ek het niks meer om met jou te bespreek nie.”
“Maar ek het wel, of verwag jy dat ek moet stilbly wanneer jy ’n leë ringdosie aan my gee?”
Sy staar geskok na die leë ringdosie op sy handpalm. Dis leeg! Dis werklik, wettig leeg! ’n Koue rilling gaan langs haar ruggraat af. Sy het geweet die verdekselse ding sal nog wegraak, en nou het presies gebeur wat sy gevrees het. Sy skud haar kop verdwaas.
“Dit kan nie wees nie! Dit was nog op die lughawe daarin. Ek het gekyk. Ek sweer dit!”
Al haar bravade van ’n oomblik gelede is weg.
“Gaan sit, Crystelle. Ons het nog blykbaar heelwat om te bespreek.”
Sy sak soos in ’n droom weer terug op die stoel en hierdie keer is die bruin oë pleitend.
“Regtig, meneer Albrecht, ek … ek weet nie wat daarvan kon geword het nie.” Hy antwoord nie, sit en kyk haar net strak aan, en sy vervolg bleek: “Nou is ek natuurlik nog ’n dief ook in jou oë!”
Sy stem klink meteens minder kil.
“Ek weet eerlik nie wat om te dink nie. Die feit bly staan dat die ring weg is. Ek kan nie toelaat dat ’n ring van derduisende rande sommer net soek raak nie. Selfs nie eens die Albrecht-miljoene, soos jy dit verkeerdelik genoem het, kan so ’n skade sonder ’n oogknip dra nie.”
“Derduisende rande!” roep sy met groot oë uit en hy frons.
“Dit was die pryskategorie, nie waar nie? Die bedrag wat ek daarvoor moes betaal, was in elk geval ’n syfer met ’n hele paar nulle!” Die donker wenkbroue skiet weer op. “Of waar het jy gedink sal ’n student soveel geld kry om vir ’n ring te betaal? Hein kry eers oor drie jaar volmag oor sy geld, soos ek reeds gesê het. Intussen is hy van my afhanklik. Ek is sy voog. Terloops, hy moet ook eers my toestemming kry voordat hy kan trou, dit wil sê, as hy wil trou voordat hy vyf en twintig is.”
Estelle se kop begin draai. Die skokke volg nou te vinnig op mekaar. Haar senuwees was reeds aan flarde toe sy hier aangekom het. Toe moes sy nog hoor dat sy ’n fortuinsoeker is. Daarna moes sy tot die ontdekking kom dat die waardevolle ring weg is. Dan moes sy hoor hierdie haatlike mansmens het daarvoor betaal, en nou, les bes, hoor sy dat haar “verloofde” ’n jong student is wat geheel en al afhanklik is van sy broer.
Maar Hein Albrecht is op die oomblik van minder belang. Al wat nou by haar spook, is dat sy ’n peperduur ring laat wegraak het en dat hierdie man dit nie daarby gaan laat nie. Waar gaan sy soveel geld kry om hom terug te betaal? Haar stem is hees en haar hande bewe merkbaar.
“Ek weet nie waar die ring is nie. Ek weet regtig nie.”
“Hoekom het jy dit in die dosie gehou? Jy is tog veronderstel om dit aan jou vinger te dra.”
Sy aarsel ’n oomblik. Dan besluit sy dat dit tyd geword het vir die waarheid – of ten minste die halwe waarheid.
“Ek het nie die ring aan my vinger gehad nie, juis omdat ek eintlik hierdie afspraak met Hein gemaak het om ons verlowing te verbreek.”
“Werklik?” Die sarkasme drup uit sy stem. “Regtig, Crystelle Reynders, hoe oud skat jy my?”
“Maar dit is so!” roep sy uit, nou werklik benoud. Dit lyk asof hierdie man die waarheid nog minder sal glo indien sy hom nou alles moet vertel. Hy sal dink dis maar nog een van haar planne om haar uit hierdie penarie los te wikkel. Liewe aarde, maar Crystelle het haar darem in ’n gemors laat beland.
“Goed. Kom ons veronderstel jy praat hierdie keer die waarheid en dat jy werklik gekom het om die verlowing te verbreek. Wat is jou rede? Hoekom wil jy die verlowing verbreek?”
“Omdat … omdat ek … daar is ’n ander man, ek bedoel …”
Weer skiet die donker wenkbroue op en sy stem klink sag, bedrieglik begrypend.
“Ek verstaan. ’n Ryker man as Hein?”
Sy laaste woorde tref die kol.
“Jy het regtig nie ’n hoë dunk van my nie, nè, Chris Albrecht?”
“Kan jy my dit verkwalik, Crystelle Reynders?”
Dan breek die styfgespanne veer binne-in haar. Sy probeer nie meer om haar selfbeheersing te behou nie. Nou het sy darem net mooi genoeg van hierdie man gehad.
“Ek dink jy is die agterdogtigste, bemoeisiekste, meerderwaardigste, haatlikste mansmens wat ek nog ooit die twyfelagtige eer gehad het om mee kennis te maak. Goed dan. Dink wat jy wil. Dit kan my nie skeel nie. Gaan gee my by die eerste die naaste polisiekantoor aan vir diefstal. Dit kan my nog minder skeel.”
Haar uitbarsting het geen uitwerking op hom nie. Hy bly kil en kalm, so senutergend kalm.
“En jy, Crystelle Reynders, is nie net die valsste vroumens met wie ek nog te doen gekry het nie, maar ook die swakste leuenaar. Daar is net so min ’n ander man in jou lewe as wat daar ’n ander vrou in myne is. Jy is net so min op hierdie oomblik ’n verliefde meisie as die man in die maan.”
“O, in hemelsnaam, jy maak my siek met jou alwetendheid! Ek weet nie waaroor jy nou so kerm nie. Jy het vandag hierheen gekom om jou bes te doen om die verlowing te verongeluk. Wel, jy het dit reggekry. Wat meer wil jy hê? Dis wat jy wou gehad het. Waar dit die ring aangaan …”
“Laat ons ’n oomblik van die ring vergeet. Jy verkeer onder ’n wanindruk, Crystelle. Ek het nie hierheen gekom om jou en Hein se verlowing te vernietig nie. Inteendeel. Ek het hierdie afspraak namens Hein nagekom om jou te oorreed om saam met my na Inhaca terug te keer.”
“Wat?”
Hy knik.
“Jy het reg gehoor. Ek wou jou vra om saam met my te kom en ’n rukkie, sê ’n maand, op Inhaca te kom vakansie hou … by my en by Hein. Dit was nie, en is steeds nie my bedoeling om jul verlowing te vernietig nie.”
Estelle sak terug in haar stoel, haar stem gedemp.
“Ek verstaan jou nie, meneer Albrecht. Ek verstaan jou glad nie.”
Die eerste keer is daar ’n beduidenis van ’n glimlag om sy lippe.
“Ek is ’n moeilike mens om te verstaan. Moet dus nie probeer om resultate met die eerste kennismaking te kry nie. Maar miskien sal jy my ná ’n maand onder een dak beter verstaan … en ek vir jou.”
“Jy kan nie regtig ernstig wees nie. Eers beledig jy my soos ek nog nooit beledig is nie. Dan trek jy my uitmekaar. En nou nooi jy my ewe kalm vir ’n vakansie! Is jy heeltemal seker jy is Hein se broer en dat jy van Inhaca af kom?”
Hierdie keer lag hy saggies, blykbaar geamuseer deur haar poging tot sarkasme.
“Ek is werklik Hein se broer en ek kom werklik van Inhaca af en het nie uit ’n gestig ontsnap nie. My uitnodiging is ook heeltemal eg en baie ernstig. Ek nooi jou om ’n maand lank op Inhaca by ons te kom kuier. Ek wil