Ctrl Z my lewe. Cheréne Pienaar
het met een voet, was sy net-net so lank soos haar pa as hy sit.
“Kyk, Pappa, ek kan self!”
“Pa se slim dogtertjie.”
Sy laat gly haar voet van die baksteen, staan op en stap na die bekerrak, soek die beker met die hartjie op. Soveel koppies om van te kies. Nugter alleen weet hoekom ’n gesin van drie twintig koppies moet hê.
Gideon sê altyd hy wens sy ouers was so cool soos haar kunstenaarma.
“Free spirited, yet so calm and collected.”
Terwyl die ketel kook, gee sy drie vinnige treë terug na haar selfoon op die toonbank.
Kom kuier vir my dis hoog tyd. Pa sal alles betaal, Lucky, kom net X
Die hoofletter X is aspris gemaak, besef sy; daar is nie ’n punt na “net” nie.
Sy lek haar duim en vryf ingedagte die selfoon se middelknoppie skoon. Om haar ma gelukkig te sien en te sorg dat Elsa oukei is, was haar enigste doelwitte die laaste paar jaar. Sy het gesorg dat geen onderwyser of maatskaplike tannie kon intree nie.
“Dit gaan goed! Ons is almal oukei,” het sy nuuskieriges verseker.
Wat om ná matriek te doen is tans die grootste issue. Haar moed sak in haar skoene elke keer wanneer die tema opduik, veral noudat daar net ’n paar dae oor is voor die eindeksamen.
Moet sy ’n rugsak pak, haar ma en suster hier los en gaan uitvind wie die mens is wat homself haar pa noem?
Só torring die vrae aan haar totdat ’n mossie se getjirp die nuwe dag aankondig.
Met Kitty Purry, hulle oorgewig gemmerkat, op haar maag sluimer sy uiteindelik in op die rusbank in die sitkamer terwyl E! Entertainment saggies op die agtergrond speel.
Die jasmyn net buite die venster se soet talm nog in haar neus toe iets naby haar gesig haar wakker maak. Afgesien van die flou glimlag op haar ma se gesig, merk sy dadelik die knoop tussen haar wenkbroue.
“Môre, Ma,” gaap sy.
Haar oë flits weer na haar ma en dan na die TV. ’n Brandmaer model op ’n rooi tapyt staan en maak geselsies met ’n kameraman.
Haar ma gooi haar hare oor haar skouer en buk af om haar op die voorkop te soen. “Môre, Carla.”
Lucky asem in. Eerder nou as nooit.
“Pa het my geWhatsApp. Hy wil hê ek moet kom kuier.”
Die keep tussen haar ma se wenkbroue verdiep. ’n Lang stilte volg.
“In Barcelona? Oor my dooie liggaam.” Haar ma draai om kombuis toe.
Kitty Purry spring verontwaardig van Lucky se bors af.
“Dis my lewe, Ma.”
“Jy dink tog nie … Jy neem seker nie sy uitnodiging ernstig op nie? Dit beteken net mooi niks!”
Lucky hoor hoe haar ma die bekers en borde in die kaste begin wegpak. Sy sluk hard en hou haar oë op die rooi mat.
“En ek dog ons het besluit jy gaan mariene biologie swot,” gaan haar ma voort. “Jy’t nog altyd daarvan gedroom om in die Kaap te gaan bly. Jy maak ’n groot fout, my kind!”
“Ma, asseblief! Verstaan tog! Om Europa te sien was nog altyd my lewensdroom. Ek kan later swot. En hy is after all my pa en hy wil my daar hê. En ek wil verstaan …” Sy keer die snik net betyds en lig haar ken.
Stilte.
Sy verander die kanaal na MTV. Vou haar arms om ’n sierkussing en maak haar oë styf toe. Vyf dae oor van skool, dan is dit eindeksamen, en daarná kan sy haar vlerke sprei. En ver weg van haar ma vlieg. Maak nie saak wat nie.
Sy staan roerloos onder die stort se water en staar na ’n teël voor haar. Sy sien nie die aangepakte swael om die linkerkantste groef raak nie. Haar skouers ruk toe haar suster uit die bloute agter die toegestoomde glasdeur verskyn. Sy sug geïrriteerd en draai die krane vinnig toe.
“Hoekom het Ma nou weer stilstuipe?”
“Els, Pa het my geWhatsApp.”
“No jokes?”
Haar suster weet alte goed dit gebeur soos in nooit. Dit was nog altyd net bel, verder niks.
“Ek kan jou my foon wys.”
“Wat sê hy? Dit voel of hy eeue terug van hom laat hoor het.”
“Hy wil hê ek moet vir hom gaan kuier.”
“Jy lieg.”
“Gee vir my die handdoek aan.”
“Vir hoe lank? Wanneer? Ná jou eksamen, obviously?”
“Ek dink nog daaroor,” lieg Lucky halfskuldig.
Sy vat die ligpienk handdoek by haar suster en gooi dit om haar skouers. Elsa skuur by haar verby na hul gedeelde klerekas. Terwyl Lucky haar afdroog, kom staan Elsa voor haar.
“Ek ry oor twintig minute,” sê Lucky streng. “Jy kan nie laat wees vandag nie.”
“Barcelona is die geleentheid van ’n leeftyd! Jy wou nog altyd soontoe gaan.”
“Ma dink natuurlik dis ’n crap idee.”
“Hallo! Sy het nie ’n sê nie, skool is verby. En jy kan nie vir altyd na ons kyk nie.”
Lucky vryf haar hare ’n paar sekondes langer as wat nodig is, bly vir die handdoek wat haar gesig verberg. Die trane prik in haar oë.
“Toe, toe, Els, roer jou!”
Lucky gooi die handdoek op haar bed neer en kyk na haar weerkaatsing in die spieël binne die kasdeur. Sy neem ’n tree nader, kyk verby die Hello Kitty-plakker met die skeurtjie net bo die kat se strikkie na haar gesig.
Vir die eerste keer is die spatseltjies ligbruin sproete weerskante van haar neus vir haar semi-aanvaarbaar. Juffrou Rodgers het eenkeer gesê sy het sagte oë. Waddehel beteken dit? Almal sê net altyd hoe ’n valie sy is. Boonop het sy swart hare met ’n kink terwyl almal ghd om reguit hare te hê.
Sy knoop haar navy skoolrok toe, sug toe sy aan skool dink. Juffrou Van der Berg het haar eendag stip in die oë gekyk en reguit gevra hoekom sy altyd so ernstig lyk.
“Jy is so jonk. Jy moet die lewe geniét.”
Daarmee het sy seker bedoel: Kry tog in vadersnaam net ’n lewe! Plein Jane word aangemoedig om interessant en pret te wees. Boring Lucky sonder enige luck.
“Kom, Els!” Sy gryp haar tas en draf voordeur toe.
Nadat sy vir Elsa by haar yuppieskool afgelaai het, mik die Volla na Heuwelsig waar Hoërskool Langeberg is. Die lug is wolkloos. Soos Lucky met Dan Pienaar-rylaan langs ry, flits haar oë oor die huise met die groot grasperke sonder om dit werklik raak te sien. Gideon sê dis ou huise wat so lyk.
In Nettletonstraat sit meneer Griessel se vrou hurkend en peuter aan ’n sproeierkop. Onder haar breërandhoed verander haar gesig in ’n wye glimlag toe sy die ligblou Volla gewaar. Sy laat sak die sproeier en waai wild met haar regterhand.
Dis ’n klein ritueel tussen hulle, maar vanoggend bly Lucky voor haar kyk met beide hande op die stuurwiel. Sy trap die petrolpedaal ’n bietjie dieper in sodat die breërandhoed vinnig kleiner word in die truspieëltjie. Sy is moeg vir almal se simpatieke kyke en die praatjies agter haar rug.
“My ma het nie meer ’n drankprobleem nie! En hierdie gewaaiery is sommer simpel!” wil sy in die vrou se rigting skree.
Hulle is almal so blerrie eenders, man, probeer sy haarself oortuig terwyl skuldgevoel in haar opstoot. “On-ge-skík,” sou Elsa nou sê.
Môre sal sy ordentlik waai, neem Lucky haar voor.
Sy parkeer naby die skool se ingang en klap Lama se deur agter haar toe. Hanke wag vir haar buite Batman se klas.