Ctrl Z my lewe. Cheréne Pienaar
sy haar kamerlig afsit, gaan staan Lucky voor die foto van haar en haar pa. Sy kyk lank daarna.
Dit was die laaste keer wat sy hom gesien het.
Hoofstuk 2
Lucky moet haar bene drie of vier keer skuif voordat sy haar sit kry. Die ry stoeltjies by die OR Tambo-lughawe is so hard soos die finale bye-sê wat sy oral om haar sien.
Elsa se kop rus op haar skouer terwyl sy vir oulaas deur haar WhatsApp-boodskappe gaan. Haar ore bly gespits vir wanneer British Airways die instapnommer op haar kaartjie aankondig.
“Ek gaan dit mis om ’n smart phone te hê,” sê sy.
Elsa se kop roer op haar skouer. “Jy weet nie wat ’n smart phone is nie. BlackBerry is going down, down, down.”
“Ja, ja …”
Sy kan voel hoe haar suster se wang in ’n glimlag vertrek. Dit gaan ’n moeilike koebaai wees.
Liftoff in 3, 2, 1 … Kan nie meer wag om Barcelona te ontdek nie! tik sy haar nuwe status op Facebook in. Vir ’n slag kan sy ook met ’n check-in spog. Sy sien hoe Hanke haar oë vir dié status rol. Haar emo-vriendin rebelleer teen alle vorme van sosiale media, al skyn haar liggie altyd groen op Facebook.
Lucky voel weer vir die boarding pass in haar handsak se sysakkie. Dis presies waar dit twee minute gelede was. Sy laat sak haar kop teen Elsa s’n en kyk oor die blink teëls van die vertreksaal.
Haar gedagtes gaan terug na hul matriekuitslae. Hanke se vier A’s was g’n verrassing nie. Gideon “all B’s”, en sy weet nie of sy moet vrede maak met haar drie B’s, vier C’s en een D nie.
Heeltemal goed genoeg en gebalanseerd, was Gideon se kommentaar op haar uitslae.
Sy kan sien hy is online, maar huiwer om ’n boodskap te stuur. Nie lus om haar boesempel te groet nie. Bang sy kry ’n ander mens as sy wie-weet-wanneer terugkom. Sy hoor gereeld dat skoolvriendskappe gou oorwaai as varsity jou eers tref. Sy sal nie verander nie. Feite. Sy asem diep in. Saterdag 4 Maart, sê haar foon. Alles voel so onwerklik.
Met al haar afwesige dae vroeër die jaar toe haar ma in die rehabilitasiesentrum was, het die ekstra klasse tog gehelp. Maar sy het geweet sy gaan nie wegstap met ’n rits onderskeidings nie. Eintlik het sy net nie meer omgegee nie. Háár grootste prestasie van die jaar was om die front van normaliteit voor te hou. En dit het haar uitgemergel. As iemand moes weet dat sy alleen na haar suster gekyk het, was daar perde.
Haar ma kom aangestap van die ladies af, die maskarastrepe nou weg. Met haar handsak oor haar skouer gehaak, lig sy haar ken teen die huil. Haar swart rok sit mooi aan haar lyf en haar rooi lippe vang die oog. Haar ma was nog altyd vir Lucky ’n mooi vrou … striking, soos hulle sê. Dis so jammer dat die effek van die drank haar gesig effens harder laat lyk, dat dit soveel jare gesteel het. Die helder base-ligte van die lughawe help ook nie.
Lucky trek die ritssluiter van haar handsak toe.
“Cheers, G-Man, sien jou op die flip side.” Sy sit haar foon met ’n swaar hart af en gee dit vir haar ma.
“Attention, all passengers. We are now boarding Flight 498 at Gate 14 …”
Lucky se ribbes pyn al; haar ma se greep dreig om wreed te raak. Sy voel skielik angstig, ’n drang om los te skeur. Sy wriemel in die omhelsing en haar ma gee uiteindelik skiet.
“Onthou om vir Kitty kos te gee,” herinner sy haar ma vir oulaas. “En moenie vergeet om die budget uit te werk nie. Ek kan dit ook van my laptop af doen die eerste ruk, maar Els weet nou hoe dit werk … Sluit élke aand die voordeur, moenie die vensters ooplos nie … En Ma mis nie een groepterapie nie. Nie één nie. Els sal vir my sê as Ma een gemis het. En kyk asseblief mooi na mekaar!”
Elsa se lip bewe. Nou is daar geen keer aan die trane nie.
“Jy gaan oukei wees, Els. Ek belowe.” Lucky gooi haar arms om haar snikkende suster. Haar lyfie voel so klein soos die aand voor haar eerste skooldag toe sy so gehuil het omdat sy bang was vir wat voorlê.
“Hier.”
Elsa druk ’n blikkie in Lucky se hand. Sy kyk af en sien dis vol kougom. Haar hart pyn; sy weet dis haar kleinsus se gunstelingblikkie.
“Ai, Els …” begin sy, maar sy ruk haarself net betyds reg. “Oukei, dis dit. ’n Laaste group hug.”
Hulle hou mekaar styf vas. Lucky baklei teen die knop wat nou dik in haar keel sit toe sy omdraai en wegstap.
“Lucky! Net ’n laaste ding,” sê haar ma.
Sy kyk vraend terug na hulle.
“Eintlik twee. Jou pa was nog altyd baie lief vir jou. Onthou dit, asseblief.”
“Ja, Ma.” Lucky druk haar arm deur die ander band van haar rugsak en draai na die instappunt.
“En moenie ophou droom nie, my kind. Die lewe is kosbaar.”
Sy knik net met ’n vinnige glimlag voordat sy sekuriteit bereik en haar handbagasie deur die tonnel stoot. Sy sal dit nooit hardop sê nie, maar die groter wordende gaping tussen haar en haar ma is met elke tree vreesaanjaend en heerlik tegelyk. Asof sy op die kruin van ’n hoë berg stap en nie presies weet hoe sy daar gekom het nie.
Sy tel tot tien en kyk om. Elsa waai met ’n hartseer glimlag terwyl haar ma se gesig in ’n tissue verdwyn.
“Hulle gaan oukei wees … Hulle gaan heeltemal oukei wees,” mompel Lucky en begin drafstap. Die lang tonnel na die vliegtuig hou aan en aan. Haar swaar tas is nou iewers in die reusevliegtuig se maag, Facebook en Instagram is dood en in haar ma se handsak.
Sy sien al hoe haar pa aan die einde van die tonnel vir haar wag.
Was ’n hoody, jeans en sneakers die regte keuse vir ’n ontmoeting ná veertien jaar? Haar hande begin sweet van angs.
Die lugwaardin aan die einde van die tonnel se warm glimlag vang haar onkant. Sy glimlag terug en oorhandig die kaartjie wat effens klam geraak het tussen haar vingers.
“Row E5, love. Just follow the lights down the aisle.”
“Okay, thanks,” sê sy en vat die geskeurde kaartjie by die lugwaardin.
Sy kry haar sit in die middel van die ry en gespe haar vas. Die man in die sitplek langs haar gooi ’n pil in sy mond en sy kop buig agteroor soos hy die botteltjie Valpré Still leeg sluk. Hy maak sy oë toe. ’n Paar minute later snork hy skaamteloos, met sy kop wat eenkant toe val.
Lucky skud haar kop. Waarom sal enige iemand iets van hierdie trip wil vergeet?
Die laaste passasiers kom ingestap. Kyk links en regs op soek na hul sitpleknommers. Jong meisies, mans in netjiese pakke, ’n groep Sjinese en ’n mollige vrou met ’n kind aan die hand. ’n Gesin bondel in die gangetjie, pak hul handbagasie in die bagasierak bokant Lucky en skuif by die ry voor haar in.
Sy bly vroetel met haar hare sodat haar hande besig kan bly. Sy maak haar hare los en weer vas, steek ’n paar knippies in om die los stukkies in toom te hou.
“Welcome to British Airways …” kom ’n vrou se stem oor die klankstelsel.
Vir die eerste keer merk Lucky die luidrugtige Britse paartjie wat aan haar linkerkant sit. Sy sit haar oorfone op, al weet sy nie hoe om klank daaruit te kry nie.
Ná ’n kwartier se gepeuter kry sy die klein TV-skerm voor haar aan en die klank stroom deur. Gideon het gesê hulle wys al die flieks wat nou by die teaters wys, maar ’n parfuumadvertensie word onderbreek en die liggies bo hulle gaan af.
Sulke tyd.
Haar vingers klem om die handvatsels. Met toegeknypte oë tel sy tot tien. Die Boeing mik op en op. Haar maag voel of dit bollemakiesie slaan. Die suisgeluid word al harder. Die ekstase kielie haar, sy glimlag toe-oë. Op en op gaan hulle totdat sy na haar asem snak.
’n Uur nadat hulle