Om Amelie se tafel. Elsa Winckler
is bly om te hoor jy doen nog die spanbousessies,” sê sy pa. “Die personeel by die skool praat steeds oor die een wat jy verlede jaar met ons gedoen het. Jy sal onthou hoe skepties ek daaroor was, maar nou beveel ek jou sessies vir ander skoolhoofde aan. Dit het gemoedere gekalmeer en mense laat saamwerk vir die eerste keer in jare. Beslis die geld en tyd werd.”
“Ek het bietjie afgeskaal. Dis baie tydrowend en my praktyk hou my andersins so besig, maar ’n pel het my aanbeveel en ek wou nie nee sê nie. En,” glimlag hy toe hy weer aan die girl dink wat hy twee keer binne soveel dae gesien het, “dit klink uitdagend.”
“Kyk, daar is dit weer!” roep Nicola uit en wys ’n vinger in sy rigting. “Kyk daai smile, Ma. Ek sê vir julle: daar is ’n meisiekind iewers in die prentjie. Toe, bieg nou maar en vertel.”
Chris vryf oor sy gesig en lag net. “Ek weet nie waarvan jy praat nie. Die probleem is glo ’n nuwe aanstelling wat nie by die res inpas nie. Die CEO hoop die sessie sal daarmee kan help.”
René sit vorentoe. “En die nuwe aanstelling is ’n girl?”
“Hoe het jy gew…” begin hy voordat hy besef hy het netjies in die strik getrap.
Tot sy frustrasie bars almal uit van die lag. Hy gaan nooit die einde hiervan hoor nie.
“Nou verstaan ek hoekom jy die kans om te gaan duik eenkant toe skuif vir ’n werksessie,” lag Neethling. “’n Vroumens. Moes dit geweet het.”
Chris gooi sy arms in die lug. “Ek …”
“Hoe lyk sy?” vra sy ma, opgewonde.
“Kleur hare? Lank? Kort?” vra Nicola.
“Mooi bene?” vra Neil en René stamp verontwaardig aan hom.
“Sexy?” vra Neethling met ’n breë glimlag.
“Los die man uit,” sê sy pa met sy skoolhoofstem en almal bedaar. “Jy sal haar maar huis toe moet bring, seun,” glimlag hy voordat hy die onderwerp verander.
Chris lag net. Hy het lankal besef dis die maklikste verweer in sy groot gesin. Almal begin eet. Hy kyk om die tafel. Hoe sal die kwaai enetjie hier inpas? Hy verstik amper in sy kos, teug gou aan sy wyn.
“Vertel ons of jy iets gehoor het van die Nederlandse universiteit wat wil hê jy moet weer daar kom klasgee. Is dit vir drie maande soos verlede jaar?”
“Dié keer wil hulle hê ek moet vir ’n hele akademiese jaar kom, wat beteken ek moet teen Oktober daar inval. Hier is genoeg mense wat die praktyk aan die gang kan hou, en dit sal my tyd gee om my boek klaar te maak. Ek oorweeg dit ernstig.”
“Klink vir my asof jy klaar besluit het?” sê-vra sy pa.
Chris knik. “Ek dink so. Ek laat weet hulle môre.”
“Jy gaan darem seker Kersfees huis toe kom?” vra sy ma, ’n frons tussen haar wenkbroue.
Chris lag. “Dit sal ’n voorvereiste vir die aanstelling wees, Ma. Jou Kerstafel mis ek vir niks in die wêreld nie.”
Die spierwit tafeldoek oor die lang tafel hang tot op die grond. Bosse pienk en wit rose is al langs die middel in groot koper-en-glashouers geplaas. Die porselein is fyn, die messegoed silwer, die servette groot en van lap. Bakke kos staan op ’n sytafel en die geur van skaapboud, gebraaide aartappels en stowepatats hang in die lug. In ’n langwerpige bak is dun-dun boontjies bedek met okkerneute en in ’n diep glasbak lê lae aarbeie tussen papawersaad en ’n hemelse sousie.
Die mense om die tafel lag, ander skep kos in; die kinders kruip onder die tafeldoek weg en jaag mekaar om die groot pekanneutboom wat sy skaduwee oor die tafel gooi. En met sy rug na haar toe, sit ’n man met bruin hare wat laag in sy nek omkrul. Haar man.
Amelie lag en wil nader stap. Maar haar voete is swaar en sy kan nie beweeg nie. Sy wil na die mense roep en maak haar mond oop, maar geen klank kom uit nie. Sy steek haar hand uit. Miskien kan sy net aan die prentjie vat.
Maar toe, soos altyd, is die tafel en die mense weg en staan die boom alleen en kaal op die werf.
Amelie skrik wakker en vee die trane van haar wange af. Sy skuif teen die kussings op en klik haar tong. Op agt en twintig weet sy tog dis net ’n droom. Sy het so lank laas dié droom gedroom. Hoekom nou weer?
Sy kan vandag verstaan hoekom sy dit as kind gereeld in die weeshuis gedroom het. Om so skielik sonder haar pa en ma te moes regkom, was traumaties en die droom was ’n manier om die skok van hulle onverwagse dood te verwerk. En ja, sy het seker die lang, lui Sondagmiddagetes saam met haar ma en pa se vriende gemis.
Snaaks genoeg het sy nooit van die ongeluk self gedroom nie. Sy onthou die oorverdowende slag van metaal en glas so goed; sy onthou die lang, lang stilte daarna totdat mense by die wrak opgedaag het. Maar haar onderbewussyn het haar nog altyd net toegelaat om van hierdie prentjie van haar verlies te droom.
Maar liewe aarde, hoekom nou weer? En die man? Dis die eerste keer dat sy die figuur langs die lang tafel in haar droom opmerk. Sy frons. Dit was so werklik. Dis tog nie asof daar op die oomblik ’n man in haar lewe is nie. Of dat sy ’n behoefte aan een het nie. Inteendeel.
Ná Jan se bos lelies is dit vir haar duidelik dat sy nie die soort meisie is wat deur ouens verstaan word nie. En dis beter so. ’n Hart kan net soveel seer in ’n leeftyd verwerk en hare is bietjie vuisvoos na alles wat met haar gebeur het. Wat ’n man met lang krulhare in haar drome soek, is ’n misterie.
Sy skuif af teen die kussings en haar oë word swaar. En die kinders? Was daar die vorige kere kinders? En ken sy nie die man met die lang krulhare nie?
4
Amelie klim uit Joe se groot 4x4-affêre. Dit het vir haar gevoel hulle bereik nooit hulle eindbestemming nie. Haar hande bewe ligweg en sy druk hulle onder haar armholtes in. Die ander drie wat saam met Joe gery het, het nog nie opgehou praat nie en babbel steeds oor allerhande onbenullighede. En dít na amper vyf ure. Liewe aarde. Sy het haar oë toegemaak en gelukkig het niemand haar gepla nie, anders het sy sweerlik al iets gesê wat sy nie moes nie.
Maar die aanvanklike angstigheid oor die rit het verdwyn. Miskien omdat dit Joe was wat bestuur het, of omdat die ander vroue so aanhoudend gepraat het, sy weet nie.
Die son sit laag en loer nog net so effens bokant die koppe uit. Dit het langer geduur om hier te kom as wat sy gedink het. Almal het gereed vir die naweek by die kantoor opgedaag en net tot twaalfuur gewerk. Toe was dit ’n geskarrel oor wie waar ry. Joe en drie van die ander afdelingshoofde het hulle rygoed beskikbaar gestel, een van die min dinge waaroor sy dankbaar is. Want as sy self moes bestuur … ’n Rilling gly langs haar ruggraat af en sy vou haar arms om haarself.
Iemand het genoem dat hulle ’n bedryfsielkundige gekry het om die sessies aan te bied. Dit maak regtig nie vir haar saak of ’n bobbejaan die sessie gaan aanbied nie; sy wens nou net hy wil opdaag sodat hulle kan begin. Al waarna sy uitsien, is om veilig terug in haar plekkie te wees. Haar frustrasievlakke is hemelhoog: sy het haar tande seker al stomp gekners.
Dis die begin van April en die ergste hitte van die somer is verby, maar die dae is nog warm. Hopelik is hier iewers ’n rivier of swembad waarin hulle kan afkoel. Ag vrek, sy’t haar swembroek vergeet, onthou sy nou en sug.
Die voertuie waarin die ander gery het, hou langs hulle stil. Joe wink die mense nader.
“Ek gaan gou kyk of Chris al hier is …” begin hy, maar die gebrul van ’n motorfiets wat nader kom, maak dit moeilik om te hoor wat hy sê.
Chris? Is dit wat Joe gesê het? Almal draai in die rigting van die geraas. Die ryer wuif in hulle rigting, hou stil, klim af en haal sy helm af. Hy kam sy vingers deur bruin hare wat laag in sy nek krul. Nog voordat hy omdraai na hulle toe, sak Amelie se hart in haar skoene. Dis die vent wat haar voor Joe se kantoor dopgehou het en wat later in die gym was. Sy kry net mooi die horries as hy die aanbieder is.
Joe stap laggend na die motorfiets toe en slaan met sy hand daarop. “Chris.