Om Amelie se tafel. Elsa Winckler
sê Amelie sag oor haar selfoon vir Natalie.
Sy deel die kamer met een van die ander drie vroue en sukkel om aan die slaap te raak. Ná drie jaar op haar eentjie, is dit moeilik om aan te pas by iemand anders se geluide in die nag.
Haar sweetpaktop is die enigste ding wat sy in die donker raak vat en sy trek dit vinnig bo-oor haar pajamatop aan en glip haar voete in ’n paar plakkies.
Buite is dit heerlik afgekoel. Dis volmaan en die veld lê helder voor haar. Sy stap vinnig tot op die punt van die stoep.
“Jy nog daar?” vra sy oor die foon.
“Ja, hoe gaan dit? Ek is al so nuuskierig,” sê Natalie.
“Aaargh, moenie vra nie. Dis erger as wat ek verwag het.” Amelie probeer nie eers haar frustrasie wegsteek nie. Sy kan die mure uitklim.
“Nou wat is so erg?” lag Natalie.
“Groepies. Jy weet hoe haat ek dit om in ’n groepie ingedeel te word. Haat dit!” kners sy die woorde uit.
Natalie giggel. “Dis mos maar nodig wanneer daar ’n groot groep mense is. Wat moes julle doen?”
“’n Bleddie toring bou. Kan jy dit oorvertel? Grootmense, almal met ten minste een graad, moet soos ’n kindertuinklas op die grond sit en ’n toring bou.”
Natalie lag so hard dat Amelie die foon ’n ent van haar oor af moet hou. “Dis nie snaaks nie. En Chris wil aanmekaar by my weet waarmee ek besig is. Ek het my so vererg.”
“Chris? Wie’s Chris?” vra Natalie.
Amelie hap in die lug. Die man is so op haar brein, sy praat nou al hardop oor hom. “Die … die aanbieder, die spanbouleier, wat jy hom ook al wil noem.”
“En? Hoe lyk hy?”
“Wat het dit met enigiets uit te waai?” vra Amelie, spyt dat sy iets gesê het oor die vent.
“Dan kan jy mos maar vir my sê,” hou Natalie aan.
Amelie sug. Soos sy vir Natalie ken, sal sy kerm totdat sy elke stukkie detail uit haar gewurg het. “Bruin hare, bruin oë.”
“Ag nee, kom nou, dit kan enige man op straat wees. Ek soek meer detail. Is hy kort? Lank? Gespierd? Boudjies? Toe, toe, vertel.”
“Natalie, seriously? Ek wil regtig nie verder oor die vent praat nie. Ek moet nog ’n hele bleddie naweek na al sy twak luister.”
“Oeee, die man werk jou op, klink dit vir my. Nou is ek eers nuuskierig, vertel …”
Iets beweeg langs haar en Amelie draai haar kop. Arms gevou, ’n breë glimlag duidelik sigbaar op sy gesig, staan Chris langs haar op die stoep.
“Ek moet gaan, ek bel jou môre,” sê Amelie en sny die oproep af. Wat het die vent gehoor?
“Ek …” begin sy, maar hy skud sy kop laggend.
“Ek het gehoor. Ek is die vent wat twak praat. Die een na wie jy nog ’n hele bleddie naweek moet luister.”
Amelie lig haar ken. “Ek is hier onder protes.”
Hy steek sy hand uit en laat sy vingers teen haar wang afgly. Dieselfde warm gevoel wat sy die eerste keer gekry het toe sy aan hom raak, pols deur haar. Sy ruk haar kop weg.
“Stadig, meisiekind,” glimlag hy en vat haar een hand in syne.
Sy probeer dit loswoel, maar hy hou stewiger vas.
“Los my uit,” byt sy uit, amper in trane. Wat sukkel hy so met haar? Hy hou stywer vas.
“Glo my, ek probeer,” sê hy en toe sy opkyk, is die glimlag weg.
Sy raak stil. Die lug om hulle word swaar. Sy sukkel om asem te haal.
Sy oë sak af en gly oor haar. Verbouereerd trek sy die pante van haar sweetpakbaadjie teen mekaar.
Met ’n amper moedelose lag vou sy hande oor haar skouers. “Dit help nie,” sê hy. “Ek het klaar gesien.”
“Wat gesien?” vra sy vies, ontsteld en opgewerk. Sy beur weg, maar sy hande hou haar stewig vas.
“Presies,” sê hy stadig, “hoe koud jy kry.”
Amelie trek haar asem diep in en vou die sweetpakbaadjie nog stywer om haar vas.
Hy skud weer sy kop. “Ek kan nog altyd jou bene sien,” sê hy en kyk af.
Met ’n ruk pluk sy haar los uit sy greep en stap so vinnig soos sy kan terug na die skuifdeure. Van hierdie man moet sy ver weg bly.
“Lekker slaap,” roep hy agter haar aan, maar sy maak die deur so gou moontlik agter haar toe.
Chris staar nog ’n paar minute na die toe deur voordat hy besef waar hy is en hoe dit kan lyk vir enigeen wat daar verby kom.
Kopskuddend stap hy terug na die huisie wat hy met Joe en een van die ander afdelingshoofde deel. Hy het gesukkel om aan die slaap te raak en het buitekant toe gestap sonder ’n definitiewe idee van waarnatoe hy wil gaan.
Amelie. Wat sou die meisiekind laat tick? Vir die eerste keer sukkel hy om iemand op te som. Op die oomblik is sy ’n enigma. Die toringbousessie het hom wel ’n paar dinge van haar geleer. Sy gooi nie tou op nie, sy is innoverend, sy hou aan planne maak al het al die ander al moed opgegee. En sy doen dinge op haar eentjie. Sy vra nie hulp nie. Tog was sy die een wat eerste besef het almal moet eerder saamwerk. En op haar stil, teruggetrokke manier het sy almal oortuig.
Hy was so besig om aan haar te dink dat hy toe hy hom kom kry, by die huis is waar hy weet Amelie slaap. En sy staan op die stoep in haar pajamas. Altans, hy neem aan dis wat die styfpassende toppie en baie kort broekie is wat sy aanhet.
Dit was nie ’n wilsbesluit om oor haar wang te streel nie, maar daar naby aan haar, met haar geur wat oor hom spoel en die volmaan wat bokant die koppe uitloer – wat die aansporing ook al was – het sy hand sonder enige opdrag van sy brein uitgereik en aan haar geraak.
En hy kon sien sy reageer op sy aanraking. Bliksem. Hy stap vinniger sodat die afstand tussen hom en haar groter kan word. Al word hy hoe oud, sal hy nooit die stywe puntjies teen die spierwit van haar T-hemp vergeet nie.
O, help. Gaan ons nou wragtig vroteier speel? Amelie probeer haar deurmekaar gedagtes bymekaar hark. Sy het ure lank gesukkel om aan die slaap te raak en toe sy uiteindelik wel slaap, was haar stomende drome so grafies dat sy weer wakker geskrik het.
’n Paar sterk mansarms was styf om haar gevou. Sy het nooit ’n gesig in haar drome gesien nie, maar die bene wat verstrengel was met hare, is syne. Chris s’n. Dit was hý. Die manslyf het gevoel soos syne, geruik soos syne.
Haar asem slaan weg. En hoe op aarde weet sy dit alles? Sy het naby die man gestaan en hy het net met sy vingerpunte aan haar geraak. Hoe sal sy miskien weet hoe sy lyf voel?
Amelie wonder vir ’n oomblik of sy nie maar net vinnig kan omdraai en verdwyn nie, maar dan is Joe langs haar.
“Die man het oulike idees, of wat sê jy, Amelie?” lag hy.
Sy glimlag flou.
“Kom sit hier by ons, Amelie,” roep haar kamermaat van die naweek en wink haar nader.
Amelie stap nader. Louna is eintlik heel nice, het sy agtergekom. Hulle het vanoggend lekker gesels oor alles en nog wat. Dis nou nie asof hulle skielik beste maatjies is nie, maar sy hou van haar. Amelie glimlag. Natalie sal so bly wees sy het uiteindelik met iemand van die werk gepraat.
“Môre, almal,” hoor sy Chris se stem, maar sy kyk doelbewus nie op nie. Sy hou haar oë op haar gevoude hande. Haar hart het al klaar begin ronddans.
“Voordat ons verder gaan, net die res van die program,” sê hy. “Ons gaan vanoggend nog twee aktiwiteite hier in die saal doen. Julle het dan ’n bietjie vrye tyd voordat ons mekaar weer teen vieruur vanmiddag hier kry. Ons gaan teen skemer uitry om na die diere te kyk: hier